In Rosemary’s Hitlist ontvou die allerverskriklike ware verhaal van hoe Nomia Rosemary Ndlovu, ’n voormalige polisiebeampte, ’n reeksmoordenaar geword het.
Sara-Jayne Makwala King van die Kaapse radioprogram Cape Talk beskryf dié oorspronklike Showmax-dokumentêr as een wat jou op die punt van jou stoel gaan hou en jou mond gaan laat oopval.
“Rosemary’s Hitlist is maklik die aangrypendste misdaadverhaal sedert Devilsdorp,” meen sy.
In 2021 is Ndlovu ses keer lewenslange gevangenisstraf opgelê wat gelyklopend uitgedien moet word nadat sy tussen 2012 en 2018 sluipmoorde op haar kêrel en vyf van haar familielede (onder andere haar suster) laat uitvoer het om die voordele van hul lewens- en begrafnispolisse te bekom. Kortom: “killsurance” soos die gonswoord vir dié tipe moord bekendstaan. Meer as R1,4 miljoen is as gevolg van hul sterftes aan Ndlovu uitbetaal. Ndlovu is egter ook ’n verdere 30 jaar gevangenisstraf opgelê: tien jaar elk vir bedrog, die aanhitsing om moord te pleeg en die poging van moord op haar ma, Maria Mushwana, haar suster Joyce, en Joyce se vyf kinders.
Rosemary’s Hitlist is vervaardig deur IdeaCandy, dieselfde maatskappy wat verantwoordelik was vir die sensasionele bekroonde dokkiereeks Devilsdorp. Devilsdorp is ook op ’n ware lewensverhaal gegrond. In die regisseurstoel is Valen’tino Mathibela (The Real Housewives of Durban en Lebo M – Coming Home), met SAFTA-wenner Richard Gregory (Steinheist) as raadgewende regisseur.
Mathibela vertel meer oor hoekom hy die dokkiereeks gemaak het:
Hoekom het die saak jou aangetrek?
“Want dit is ongelooflik. Dis ’n polisiebeampte en sy vermoor haar familie! Ek wou uitvind hoekom ’n moeder, dogter en suster in ’n oortreder verander het terwyl sy in ’n magsposisie was om die teenoorgestelde te doen en eerder haar familie te beskerm. Geld is bloot net nie genoeg rede daarvoor nie.
“Moord self is reeds genoeg om jou bloed te laat stol, maar hierdie was die vernietiging van ’n familie deur een van hul eie. En dit deur ’n polisiebeampte. Die polisie word gesien as beskermers, soortgelyk as wat verwag kan word van moeders en vroue om jou te koester. ’n Polisiebeampte is ’n simbool van beskerming, van veiligheid, van hoop.”
Hoe moeilik was dit om die slagoffers te oortuig om hulle ervarings te deel?
“Baie moeilik! Dit is hierdie mense se lewens wat ter sprake is. Hul vertroue het reeds ’n ernstige knou weg omdat hulle deur ’n geliefde lid van die familie verraai is. Hoe kan hulle dan ’n vreemdeling vertrou Ons moes ’n manier vind om hul vertroue te wen sodat hulle ons as een van hulle kon beskou. Ons het vir hulle gewys ons gee om voordat hulle op kamera verskyn het.”
Was iemand bang om te praat?
“Ja, ten spyte daarvan dat Ndlovu agter tralies is, is mense steeds bang. Toe sy gevonnis is, het sy een van die getuies gedreig deur te sê: ‘Ek sal hierdie Kersfees in die tronk wees, maar volgende jaar is ek uit. Ek gaan terugkom, jy sal sien.’
“Mense is beslis nog bang en ons het van die getuies gehad wat daagliks van plan verander het terwyl ons besig was om ’n spertyd na te jaag. Dit is hoekom ons sommige van die getuies se identiteit moes geheim hou terwyl ons hulle verfilm het. Selfs ek het in ’n stadium oor my eie skouer begin loer as ek op pad iewers heen was…”
Hoe groot was die skuif vir jou van realiteitstelevisie na ware misdaad?
“Dit was ’n massiewe skuif. Die ervaring was emosioneel uitdagend omdat al die slagoffers oomblikke van permanente trauma herleef het. Ons het dit as deel van hul proses absorbeer.
“Hierdie slagoffers kom van ’n baie arm agtergrond; hulle het nie geld vir sielkundiges en terapie nie. Hulle het geen uitlaatklep vir hul emosies gehad nie. Van hulle sê steeds hulle kan nie snags slaap nie.
“Die vlak van armoede wat geskep is deur die uitskakeling van die broodwinners is hartverskeurend. En hoewel die storie opsigself skrikwekkend was, het deernis vir die slagoffers daartoe bygedra dat ek wou sien of ons antwoorde vir hulle en die groter gemeenskap kon vind.”
Wat was vir jou die grootste verrassing tydens die vervaardiging van die dokkiereeks?
“Om Rosemary te kon ontmoet, was die grootste verrassing. Weet jy, sy’s sjarmant; sy’s warm. Sy is indrukwekkend wanneer sy inloop. Almal vestig dadelik hul aandag op haar en dan glimlag sy…
“Die psige van hierdie vrou het my gefassineer, veral omdat sy dit kon regkry om soveel mense ’n rat voor die oë te draai. Ek was ook verbaas oor haar vermoë om haarself van alle verantwoordelikheid van die misdade kwyt te skeld en hoe meesterlik sy haar alibis aangebied het.”
Is daar enigiets deur die dokumentêre reeks blootgelê wat nie in die vrye omgang bekend is nie?
“Sonder om die storie weg te gee, is daar die intrige rondom die duur van Rosemary se modus operandi en hoe ver sy beplan het om dit te voer (wat nie voorheen bekend was nie).”
Wie sou jy as Rosemary inspan as jy ’n fiktiewe ware misdaadramareeks, eerder as ’n dokumentêr, sou maak? En hoekom?
“Beslis die uitsonderlike Vatiswa Ndara (Generations, Muvhango). Dis asof daar ’n verwantskap tussen haar en Rosemary is. Boonop is daar baie sterk fisieke ooreenkomste wat dit ook meer geloofbaar sal maak. Vatiswa se meesterlike gebruik van Xitsonga (Tsonga) sal noodsaaklik wees. Sy kan dit leer.”
Wat maak jou trots oor die finale produk?
“Dit is ’n outentieke weergawe van ’n unieke Suid-Afrikaanse storie waar mense toegelaat word om hulself in hul eie taal uit te druk, iets wat vantevore gereeld opsygeskuif was.
“Ek was ook trots daarop dat ons die slagoffers laat voel het hulle word gesien en gehoor, selfs al het alles wat hulle vertel het nie die finale weergawe gemaak nie. Hulle het hul verligting uitgespreek omdat hulle gevoel het iemand luister deeglik na wat hulle sê, ook dat hulle die vermoë gehad het om te bhodla (om uitlating aan hul pyn te kon gee nadat hulle dit so lank moes dra). Daar is hoop dat genesing kan begin.”
Het die storie jou oor iets persoonlik laat reflekteer?
“Ek het geleer om myself en my geliefdes te beveilig teen uitbuiters van die nuwe verskynsel genaamd killsurance wat vinnig besig is om die waarde van ’n mens se lewe te verminder in ruil vir ’n manier van geldmakery. En dis gewoonlik diegene wat die meeste vertrou word in families. Motiewe moet bevraagteken word.”