Showmax se nuwe dokumentêre reeks, Steinheist, het reeds ’n vasgenaelde gehoor. Buiten Eskom, is Steinhoff waarskynlik een van die enigste ander plaaslike maatskappye waaroor elke Suid-Afrikaner ’n opinie het.
Dis een van daardie handjievol besighede met ’n storie wat so bisar geraak het, dat dit buite die ruim van die sakewêreld aandag getrek het. En baie. Dít dan deels omdat pensioenfondse miljoene rande in dié besigheid belê het. Dus is belanghebbendes én belangstellendes uit allerlei oorde saamgetrek. Maar ook omdat Steinhoff interessante sakebelange en persoonlikhede saamgebring het. Só het dit dan die tipe storie geword waaroor jy ’n opinie rondom die braaivleisvuur kan hê… Selfs sonder om werklik veel van die storie agter die storie te weet.
’n Skandaal ryp vir TV
Teen dié tyd behoort meeste mense wel te weet dat Steinhoff in 2017 bykans oornag in ’n skandaal gedompel is. ’n Ondersoek oor beweerde bedrog binne dié multinasionale meubelmaatskappy het meer as 90% van sy aandeelwaarde uitgewis. Die deel van die storie wat dalk wél nie so wyd bekend is nie, is wie daarby betrokke was en die detail van hoe die skandaal ontvou het.
Steinheist verduidelik oor drie episodes nie net hoe slinks Markus Jooste, Steinhoff se voormalige hoof, vermoedelik was nie. Dit probeer ook uitwys hoe ander hulself blindgestaar het vir etlike rooi vlae. Soos dié rondom kammatransaksies wat deur fluitjieblasers uitgewys is – en uiteindelik tot die maatskappy se ineenstorting gelei het.
Die dokumentêr is gegrond op die Financial Mail joernalis Rob Rose se gelyknamige boek. Die dokkie neem die kyker saam Duitsland toe vir ’n onderhoud met Bruno Steinhoff, die man wat Steinhoff oorspronklik begin het. Rose neem jou ook verder saam op sy joernalistieke tog soos hy poog om te vas te stel hoe Jooste vir Bruno – en soveel ander – ’n rat voor die oë kon draai.
Jooste en Wiese
Ander joernaliste sluit by Rose aan om meer lig op Jooste se verlede te werp. Die skrywer van The Stellenbosch Mafia, Pieter du Toit, verduidelik byvoorbeeld hoe die Stellenbosse boys, en spesifiek die alombekende Maties-koshuis, Wilgenhof, ’n rol kon speel in die tipe invloed wat Jooste gehad het. Een van die sakemagte waarop hy waarskynlik die grootste invloed gehad het, was op Christo Wiese.
Wiese, wat beter bekend is as ’n voormalige rykste Suid-Afrikaner, word beskryf as een van Jooste se grootste enablers. Hy was Steinhoff se grootste individuele aandeelhouer, en het weggekyk toe ’n fluitjieblaser ongeruimdhede in die maatskappy se finansiële state aan hom uitgewys het. Wiese is ’n gesoute sakeman. Nogtans was hy oortuig dat Jooste die enigste man was aan wie hy sy wynplaas, Lanzerac, en sy besigheid, die reusagtige Pepkor, kon toevertrou.
Die redes hiervoor, waaroor Rose vir Wiese dan uitvra, is die beste deel van Steinheist. Dit verklap nie net hoe dié 81-jarige entrepreneur sakebesluite maak nie, maar ook hoe Wiese oor sy verhouding met geld dink.
Doelbewuste vertelling
Kykers sal moontlik verward raak met die manier waarop Steinheist die tydsverloop van die Steinhoff-storie hanteer, maar dit is doelbewus só uiteengesit. Daar is ’n geweldige hoeveelheid inligting wat die vervaardigers oor drie episodes probeer weergee. Die anderste hantering van die chronologie is deels om dié inhoud meer verteerbaar te maak en die kyker ingekatrol te hou. Tog – dis dalk nie genoeg om kykers te oortuig om verder as die eerste episode te kyk kyk nie.
Die enigste ander negatiewe kritiek is die gebruik van onoorspronklike beeldmateriaal om oordaad en weelde te illustreer. Diamante wat uit die lug uit val; vinnige karre; weelderige huise. Dis iets wat Amerikaanse dokumentêre reekse dikwels gebruik. Dit kon hier wel op ’n meer oorspronklike – en meer plaaslike-toepaslike – manier benader kon word.
Leen by Hollywood
Steinheist gaan leen ook by Hollywood op ander maniere in sy aanslag.
Soortgelyk aan The Big Short, word ’n ekstra storieverteller in die dokumentêr gebring om ingewikkelde finansiële konsepte aan die kyker te verduidelik. Die sakejoernalis Fifi Peters pop elke nou en dan in om te verduidelik hoe Jooste byvoorbeeld finansiële reëls omseil het sonder dat kenners dit noodwendig kon raaksien. Sy bring ’n tipe gesofistikeerdheid en gravitas wat van Steinheist voorgeskrewe materiaal maak vir elke universiteitsklas oor sakejoernalistiek.
Dis duidelik dat die vervaardigers van Steinheist lank en hard nagedink het oor hoe hulle die Steinhoff-storie moet vertel sonder om jou te vlak te kyk, te veel te verveel of te min inligting weer te gee.