’n “Oddball”. ’n Dikwels taktlose, haas obsessiewe “oddball”. Dís ’n vereenvoudigde opsomming van sy karakter Zander Marais in die dramareeks, Projek Dina; tog, gee die akteur Laudo Liebenberg te kenne, ook gepas.
Met die aanvang van die derde seisoen van dié kykNET-reeks (die eerste twee seisoene is beskikbaar op Showmax om te binge) ontmoet kykers vir Zander as die nuwe hoof van die polisie se Projek Dina-taakspan. Met die voormalige hoof, Deon (Tim Theron), landuit, is Zander nou aan die stuur van dié span wat sake oor vermiste mense ondersoek.
Wêreld van raaisels
Uit die staanspoor is daar wrywing tussen Zander en die ander spanlede – en nie net oor hy (uiters deeglike) huiswerk oor Ronel (Chanelle de Jager), Lux (Chumani Pan) en Charlie (Kay Smith) se professionele – en persoonlike – lewens gedoen het nie. Zander is immers ’n buitestander en deel nie in die band wat die res oor jare van saamwerk gevorm het nie. Dís egter hoe Zander dit verkies, vertel Laudo oor sy karakter.
Sy bedside manner is net so effe off-kilter, sê hy. Zander beleef die wêreld as ’n legkaart wat hy aanmekaar moet sit. Én as hy eers obsessief oor ’n saak is, word finesse ’n onbelangrike luuksheid.
“Die uitdaging vir Zander is altyd eerder om die saak op te los, as wat hy oor mense se gevoelens gaan bekommer. Hy is ’n moeilike mens om te lees en hy vryf heelparty mense verkeerd op.”
Van DAM na Projek Dina in 48 uur
Laudo was pas klaar met verfilming op die stel van DAM se tweede seisoen (ook op Showmax) toe hy aan Projek Dina begin werk het. Hy het slegs twee dae gehad om vir Zander se bot, monotoon-aard voor te berei. Maar, vertel Laudo, sy karakter se afgestompte karakter het die oorgang van een karakter – en een stel na ’n ander – makliker gemaak. Soos Zander, het Laudo die stel as ’n nuweling betree. Met dié dat die res van die akteurs al twee seisoene saamwerk op ’n reeks met rou storielyne wat in realiteit verdiep is, was hy aanvanklik geïntimideerd deur die band wat dié lot reeds gesmee het. Tog, dit was later juis Zander se oddities wat sou help dat beide hy en sy karakter meer organies by die storie en sy vertelling kon inskakel.
“Omdat die karakter klaar ’n oddball is, kon ek speel met daai awkwardness van mense wat hom nie verstaan nie, en hy ook nie vir hulle nie. Ek kon daar ’n bietjie inklim en dit was nogal lekker vir die dinamiek van teenoor mekaar speel.
“Wat dit ook vir my aanvanklik makliker gemaak het, is dat hy redelik monotonous is. Hy is nie ’n verskriklike emosionele mens nie. Niks krap hom regtig om nie, behalwe as hy nie ’n saak kan oplos nie. Dít frustreer hom. Die verlies van beheer, frustreer hom. Dis ook al wanneer ons regtig ’n emosionele kant van hom sien.”
Daarom het Zander ook ferm reëls om te keer dat sy werkslewe met sy persoonlike lewe bots, sê Laudo. Soveel so dat dit ’n tydjie neem voordat sy nuwe kollegas van sy vrou en dogter uitvind. Hy dra immers nie eens ’n trouring nie, wat nog van familiefoto’s op sy lessenaar.
Van reeksmoordenaar na held
“Die feit dat die karakter die onderskeid tussen werk en huis tref, maak dit ook makliker as akteur sodat dit nie so emotionally taxing is nie,” vertel Laudo oor die emosionele impak van die rol.
Die reeks is immers gegrond op ware gebeure met een van Roberta Durrant, die reeks se skepper, se dogters wat jare gelede amper ontvoer is. Elke saak wat die span ondersoek, is ook op werklike plaaslike sake gegrond. Die eerste seisoen het oorhoofs om Ronel se soektog na haar tweelingsuster, Dina, gedraai. Ronel het in die tweede seisoen vir Dina opgespoor, maar in die derde seisoen moet sy baie trauma verwerk. Makliker gesê as gedaan…
“Ek dink Chanelle het baie swaarder (emosioneel) gedra veral weens die wroeging wat sy het as beide Dina en Ronel (sy speel beide rolle) deurgaan. Met Zander het dit eers later ’n bietjie meer tricky gehad.”
Vir ’n slag speel hy ook die good guy, voeg Laudo by.
“In Die Byl, waar ek Adriaan (’n reeksmoordernaar) gespeel het, moes ek na nogal donker plekke gaan vir die karakter. Maar selfs daar kon ek maklik in- en uit-slot omdat die storielyn so ver verwyderd van my (as mens) is.”
Van song tot skerm
Laudo is egter, op ’n heel ander manier, wél sedert die eerste seisoen by die reeks betrokke. Hy het die liedjie wat saam met die eindtitels speel, geskryf en gesing. Dis sekerlik kismet dan, dat hy nou ook op-skerm speel.
Sy deelname aan die reeks, skryf hy grotendeels toe aan die regisseur, Liezl Spies, sê hy dan. Laudo en Liezl het op Die Byl saamgewerk en dit was ook Liezl wat hom gekry het om die eindtitels se snit te sing.
“Ons het gelukkig reeds die gemak van saamwerk en ons het idees rondgegooi oor hoe om die karakter vleis te gee. Sy het my ook opgewonde gemaak met haar opgewondenheid oor hierdie cooky karakter,” vertel hy laggend.
Weeklikse episodes vanaf 9 Mei 2023 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Online). Dié seisoen het Engelse onderskrifte en sal ook op DStv CatchUp beskikbaar wees. Kyk ook die eerste twee seisoene op Showmax.