Menu terloops
In Onderhoude [3 Jul 2023]

Erns neem ‘Elders’ Frankryk toe, ‘gedryf om dié tipe stories te vertel’


Erns Grundling vertel oor die nuutste seisoen van die ‘Elders’-reeks. Dié keer word Frankryk verken.

Kyk nou

Erns neem ‘Elders’ Frankryk toe, ‘gedryf om dié tipe stories te vertel’
Kyk lokprent

Erns Grundling se voete het hom al sedert 2018 se eerste Elders-reeks, ver paaie laat loop – in Suid-Afrika én in die buiteland. Vier jaar gelede, met die Rugbywêreldbekertoernooi in Japan, het Erns dié land voor die tyd besoek en kykers ’n voorsmakie gegee van die land waar die Springbokke uiteindelik die toernooi op 2 November 2019 gewen het.

Vanjaar is dit weer tyd vir die Rugbywêreldbekertoernooi wat op 8 September in Stade de France in Saint-Denis, noord van Parys, afskop. En weer gaan Elders vir ons ’n voorsmakie van die gasheerland gee. Erns en die Elders-span het van einde Maart tot vroeg Mei vanjaar Frankryk besoek. Vir die nuwe seisoen gee die reeks nie net ’n nadere blik op die rugbytoernooi nie – hulle het ook met Suid-Afrikaners wat in Frankryk woon – insluitend ’n klompie rugbyspelers – gesels. Van die land se mooiste plekke word besoek, insluitend die Via Podiensis Camino-roete. Natuurlik word daar lekker Frans geëet en gedrink. 

Vanjaar se reeks verskil van verlede jaar se Elders (op Showmax beskikbaar) toe Erns die Pelgrimstog van Hoop se Tuinroete tussen Uniondale en Mosselbaai gestap het. Hoewel Erns in vyf episodes van Elders: Frankryk die Via Podiensis Camino-roete stap, en ook in ander episodes die Le Chemin de Nietzsche stap en gedeeltelik die spore van die Franse Hugenote volg, reis hy ook met ’n Toyota-voertuig tussen dorpe en stede. Die reeks het dus ’n sterk leefstylfokus juis omdat die Franse kos en kultuur so baie bied. Hy kuier ook verskeie bekende gaste. Hieronder tel die sjef en TV-aanbieder Erik le Roux in Nantes, en die geliefde skrywer Marita van der Vyver in die sprokiesmooi dorp Sarlat-la-Canéda.

Die Via Podiensis is Frankryk se gewildste Camino-roete. Erns het verskeie dae op hierdie roete gestap en daar is vyf episodes in Elders: Frankryk waar kykers meer oor hierdie wonderlike pelgrimstog kan uitvind. Hier is Erns op die einde van sy eerste stapdag, by die prentjiemooi Saint-Privat-d'Allier.
Die Via Podiensis is Frankryk se gewildste Camino-roete. Erns het verskeie dae op hierdie roete gestap en daar is vyf episodes in Elders: Frankryk waar kykers meer oor hierdie wonderlike pelgrimstog kan uitvind. Hier is Erns op die einde van sy eerste stapdag, by die prentjiemooi Saint-Privat-d’Allier. Foto: Verskaf

terloops het ’n vinnige vyf vrae aan Erns gerig: 

Wat was vir jou ’n besonderse oomblik tydens die verfilming van Elders Frankryk

“Dit was baie spesiaal toe ek by die groot katedraal in Le Puy-en-Velay die Camino-roete in Frankryk begin het. Dit was die eerste keer sedert September 2017 dat ek saam met ’n kameraspan op die Camino in Europa was. In die eerste seisoen van Elders, wat in Januarie 2018 uitgesaai is, het ek die Camino in Spanje gestap. Om vyf jaar later weer hierdie antieke roete te kon dokumenteer tydens Elders se sesde seisoen was ’n groot voorreg… En op ’n manier ’n terugkeer na die reeks se wortels.” 

Soos jy ook (in die voorskou) uitwys – Frankryk is die land wat wêreldwyd die meeste besoek word. Wat, volgens jou, maak dié land so aanloklik as ’n reisbestemming?

“Daar is soveel wat in Frankryk se guns tel. Om mee te begin, die sentrale ligging in Europa. Maar ook die antieke kultuur en ryk geskiedenis. Dan het die land ook soveel diversiteit wat natuurskoon en landskappe betref. Ek is so bly ons kan in Elders: Frankryk die land se verskeidenheid deel: van die Franse Riviera by die Middellandse See tot die Franse Alpe, die wonderlike platteland, indrukwekkende stede, die pragtige hawestad La Rochelle langs die Atlantiese Oseaan, die sprokiesmooi dorpie Sarlat-la-Canéda, en soveel meer. Ons het 25 dorpe en stede tydens ons reis deur Frankryk besoek en almal kry lugtyd op televisie.” 

Is daar iets of iemand wat jy graag vir kykers wou wys dié seisoen wat julle nie kon bybring nie?

“Ek wou baie graag met die digter, skilder en skrywer Breyten Breytenbach in Parys ’n onderhoud gevoer het. Dit was helaas nie moontlik nie. Maar ek is super tevrede met die inhoud in al 13 episodes.” 

Dinge verloop mos nie altyd glad nie… Het daar enige uitdagings of verrassings tydens die verfilming in Frankryk (of dalk selfs in post-produksie) opgeduik waaroor jy nou lekker kan lag, maar wat toe dit gebeur het nie baie snaaks was nie?

“Ek weet nie of ek ooit lekker hieroor sal lag nie, maar ons het ’n noue ontkoming gehad buite die prentjiemooi dorpie Chamonix, toe ons voertuig op ’n yspad gegly het ná swaar sneeu. Wat dit vreesaanjaend gemaak het, was dat die voertuig voor ons ook gegly het. Ons was byna in ’n botsing naby ’n taamlike hoë afgrond betrokke. Gelukkig het ons een kameraman wat bestuur het baie mooi kopgehou en was almal ongedeerd. 

“Die ander ‘verrassing’ – as ek dit so kon noem – was toe ek vir die eerste keer in ses seisoene siek geraak het tydens die produksie. Ek het die laaste vyf episodes met ’n slordige griep aangepak, wat later by bronchitis gaan draai het. Maar, ag wat. Soos ’n voormalige baas vir my byna 20 jaar gelede gesê het: ‘Dit bou karakter, Erns, dit bou karakter’.” 

Julle is nou reeds ’n hele paar seisoene in met die Elders-reeks. Wat dryf jou om hierdie tipe stories te vertel? En wat maak daai vertelling steeds so lekker?

“Die woorde van wyle Mary Oliver se gedig “Instructions for living a life” sal my lewenslank dryf om hierdie tipe stories te vertel: ‘Pay attention. Be astonished. Tell about it.’ En wat dit steeds so lekker maak, is die fantastiese span van Bonanza Films wat nou reeds vyf seisoene van Elders saam met my verfilm het. Om saam met die hulle te reis, soveel nuwe dinge te ervaar en onsself oor ’n mik te werk, bly vir my die lekkerste spansport.” 


Elders: Frankryk begin op Maandag 3 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn). Ook op Catch Up. Die eerste vyf seisoene van Elders is op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies