In die eerste rondomtalie tonele van Hartklop, kykNET se nuwe Afrikaanse hospitaaldrama, is dit asof die kyker saam met Johannesburg wakker word.
Skote van probeer regmaak wat verbrou is, van vriende wat mekaar oplaai vir werk, van first day nerves en bloederige spoeg, ontvou voor die kyker soos ’n boek se harde band wat ongehinderd oopval, terwyl die eerste blaaie net effens té styf is om moeiteloos te blaai. Aanvanklik verg dit vingers wat moet mooipraat met die papier – saggies – om verder te vorder. Maar dit kom. Later word dié wissel van een toneel na ’n ander, een karakter na ’n ander, een storiedraad na ’n ander, ligter. Meer natuurlik. Meer realisties.
Meer as ’n Afrikaanse Grey’s Anatomy
Met Hartklop het kykNET, skrywer-skepper Zoë Laband (The Girl from St. Agnes) en die regisseurs Harold Hölscher en Christo Davids, veel meer as ’n Afrikaanse Grey’s Anatomy geskep. Daar is wél, in die eerste paar episodes wat die media voor die reeks se debuut kon kyk, ’n paar voorspelbare plotpunte en ongemaklike toneelspel. Tog, dít is sekerlik onafwendbaar met die gebruik van ’n procedural-formaat. Dit wil sê episodes wat min of meer dieselfde resep volg: ’n Mediese geval van een of ander aard, dokters wat soek vir antwoorde terselfdertyd as wat hulle deur ’n persoonlike drama of innerlike wroeging geteister word, ’n operasie of twee, ’n noue ontkoming óf toetrede na die hiernamaals, en ’n tikkie harde realiteit.
’n Staatsopleidingshospitaal soos dié het baie, baie harde realiteite en uitdagings en dié word mildelik by die storielyn gevoeg. Só word Hartklop eerder meer soos New Amsterdam. Daarin word die lot van diegene wat nie private mediese sorg kan bekostig nie, ook voorop geplaas word.
Moeilike ewewig
Daar is wel ’n delikate balans tussen die mediese storielyne en die persoonlike intriges van die hospitaal se personeel wat deurentyd dreig om net-net te veel na die een of die ander kant gerig te wees. Dít voel egter meer soos groeipyne eerder as ’n inherente of onoorbrugbare gebrek van die reeks as geheel, deels omdat die struktuur wel goed uitgebou is.
Wat wél pla, is die vertellingsritme. Dit spring rond soos ’n frenetiese bloeddruk wat teen Max Verstappen-spoed die hoogte inskiet voordat dit ewe vinnig val en dan eers ’n slakkepas aanneem in ’n poging om ’n tipe van tempo-ewewig daar te stel.
In dié mengsel van hospitaal- en persoonlike stories is dit egter veral die kinematografie, die toneelspel van ’n paar besonderse akteurs en Dawie de Jager se soundscape wat dit regkry om beide die storie te anker én dit deurentyd vorentoe te dryf.
Uitblinkers
Die rolverdeling as ’n geheel (minstens in die eerste twee episodes) is nie heeltemal divers – of realisties – genoeg vir die staatshospitaal-konteks waarin dit afspeel nie. Uit die lot hoofspelers is dit veral Leandie du Randt as dr. Jolene Joubert en Oros Mampofu as dr. Fezile Nodada wat met ’n ongelooflike chemie jou aandag eien.
Du Randt, wie se rol in Showmax se rillerreeks Donkerbos haar toegelaat het om met pynlike emosionele diepte te speel, is hier ’n straight shooter. Sy skroom nie om haar disillusionment oor die mediese stelsel met Fezile, haar nuwe intern, te deel nie. Terselfdertyd, so teer en gatvol as wat sy blyk te wees, is daar vroeg tekens dat daar trauma in haar sluimer. Wonde met rofies wat te gereeld oopgekrap word. Sy maak grappies wat dalk glad nie grappies is nie. Sy beweeg met die angstigheid – en moegheid – van iemand wat wag vir haar wêreld, altans dit wat daarvan oor is, om te finaal te implode.
Van Simoné Pretorius se karakter, dr. Elani Breytenbach, wil ’n mens nie hou nie. Elani is entitled en irriterend. Sy lees soos Grey’s Anatomy se April Kepner-karakter in haar eerste paar seisoene voordat sy haar nonsens laat staan het. Die toneelspel is egter foutloos. Pretorius skat en speel net reg om Elani genoegsaam dwarstrekkig, maar ook herkenbaar vir die kyker te maak. Sy’s of jy of iemand wat jy ken.
Terwyl akteurs soos Dawid Minnaar, Jacques Bessenger en Renate Stuurman se spel ook dividende lewer, is daar egter ’n paar ander spelers wat stram en ongemaklik lees.
Mensestories
Wat die kinematografie betref, is die eindproduk visueel puik. Daar’s ’n blou-grys (kleur)toon wat die beeldmateriaal vasgespe aan die mistroostige realiteit van hierdie godsverlate staatshospitaal. Dit dien ook om die oomblikke van levity op ’n besonderse wyse te laat uitstaan. Die skote is skoon, dinamies, en só belig dat die kyker in die hospitaal, in die operasiesaal, gedompel word.
Ek hoop tog vir meer nabyheid in die kamerawerk om byvoorbeeld die onvoorspelbaarheid van menslike reaksies, en menswees, nog beter vas te vang. Hospitale – baie soos lughawens – is immers waar ons mense op hul rouste sien. Met die hospitaal as agtergrond is ’n groot deel van die vertelling dus reeds gedoen. Dis die mensestories wat daarin afspeel – en waarop ons so ’n besonderse blik kry – wat die reeks verder verryk. Dalk is dit vreugde wat dan deurskemer. Dalk seer. Definitief menswees.
Hartklop begin op Dinsdag, 18 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.