Menu terloops
In Onderhoude [20 Jan 2024]

Leandie du Randt oor ‘Donkerbos’-rol: Voorreg om feilbare en ‘real’ Pattie te speel


Haar rol as Pattie in Nico Scheepers se rillerreeks, ‘Donkerbos’ het vir haar geleer om meer empatie met mense se omstandighede te hê, vertel die aktrise Leandie du Randt: “Jy weet nie waardeur iemand gaan as jy nie in hul skoene stap nie.” Dié Showmax-reeks is nou ook op kykNET beskikbaar.

Deur Rozanne Els

Stroom aanlyn

Leandie du Randt oor ‘Donkerbos’-rol: Voorreg om feilbare en ‘real’ Pattie te speel
Kyk lokprent

In die Afrikaanse rillerreeks, Donkerbos, is die karakter Pattie Steenkamp een wat al die land deurreis het, maar nooit te lank op een plek bly nie. ’n Streep verkeerde mans en verkeerde besluite volg haar soos ’n skaduwee. Donkerbos is haar tuisdorp en dís hierheen na waar sy met haar klein dogtertjie terugkeer om veilige hawe te soek. Pattie word deur die aktrise Leandie du Randt vertolk. Sy is bekend vir haar werk op Meisies wat Fluit, Binnelanders, Hunting Emma, Thys en Trix, Klein Karoo en Klein Karoo 2.

Donkerbos draai om ’n senutergende moordraaisel wat begin met die ontdekking van die liggame van ses kinders in ’n verlate woud in die klein dorpie van Donkerbos in Limpopo.

Die reeks, wat vir Showmax vervaardig is en steeds op dié platform beskikbaar is, is nou ook vanaf 21 Januarie 2024 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) beskikbaar.

terloops het met Leandie op die stel van Donkerbos – op ’n dag wat sy ’n hele lot huiltonele moes skiet – gesels.

Vertel ’n bietjie meer oor die karakter wat jy vertolk, Pattie?

“Pattie Steenkamp. Dis die eerste keer wat ek so ’n rol speel. Sy is een van die slagoffer-ma’s wie se dogtertjie vermoor word en haar seun is al vir ’n jaar vermis. Die reeks wys haar hele reis van hoe sy nou haar dogtertjie ook verloor. Sy het nooit ’n (veilige) hawe nie, sy weet nie wie die pa van haar kind is nie. Sy probeer net oorleef. Iewers langs die pad het sy haar self-worth verloor en sy het maar net aangehou, omdat sy moet. Dis ’n slippery slope, jy weet?

“Maar ek dink nie sy besef sy lyk so sleg soos wat sy doen nie. Sy sal te veel blou eye shadow aansit en dan vir haar dogtertjie sê, ‘lyk mamma nie mooi nie?’ So sy probeer, op haar manier. Sy sien nie wat ander mense sien nie. Maar dan is die vraag ook, lyk sy rêrig sleg?… Net omdat sy nie lyk soos die voorbladmodelle nie?”

Wat het hierdie rol vir jou in die groter prentjie van jou toneelspeel-loopbaan beteken?

Leandie du Randt
Leandie du Randt as Pattie Steenkamp in Donkerbos. Foto: Verskaf/Showmax

“Dis vir my lekker om in hierdie tipe rol te beweeg. Ek sê nog altyd dat ek soveel moontlik variasie wil hê met die karakters wat ek speel. Vir ’n lang ruk is ek net ge-cast as die blonde meisie, die poppie, of dalk die romantic lead. Maar om te kan speel waar jou hare vuil is, jou klere lyk suf, jy’s ’n real personI would love to branch into that more. En ek hoop dat mense, en veral regisseurs, my meer in daai tipe rolle sal begin sien. Dikwels maak hulle (regisseurs) dieselfde fout as kykers en dink aan jou as ’n karakter wat jy reeds gespeel het.

Dis nogal ironies dat daai stereotipering reeds op die kreatiewe skeppingsvlak gebeur en nie net vanuit mense se sitkamers nie.

“Ja, hulle (regisseurs, skeppers, vervaardigers) stereotipeer jou 100%. En hulle is die storievertellers, so hulle moet juis weet hoe onwaar dit is! Die publiek is veral skuldig daaraan. Net omdat ek motiveringspraatjies doen, en my pa ’n dominee is, beteken nie ek is ’n engel nie. En ek het nog nooit myself uitgegee om een te wees nie. You guys put that on me. So dit is vir my lekker om ’n bietjie wild te wees [in my rolle] en goed te doen waar ek mense ’n bietjie skok.”  

Soos met Pattie?

“Ek dink mense gaan definitief verras wees. Ek gaan seker ’n paar hate comments kry want mense dink dikwels jy is jou karakter. Dit gebeur veral as ek rolle speel waarin ek moet vloek. Ek het byvoorbeeld vir Meisies wat Fluit baie negatiewe kommentaar gekry oor ‘hoekom vloek jy so baie?!’ Maar hulle [dieselfde kykers] kyk ander goed met ander aktrises wat dieselfde doen en rep nie ’n woord daaroor nie. Ek dink soms is Afrikaanse kykers hypocrites, maar ek wil hulle uitdaag om hierdie reeks te kyk en regtig hulself in te leef en te weet hiérdie is die regte wêreld. Ons is net bang om dit te besef. Ons is bang om eerlik na die wêreld te kyk. Daar is regtig mense wat so lewe en ons moet hulle respekteer en empatie hê.”

Pattie is sekerlik een van die egste karakters in die reeks – tog karakters soos Pattie word dikwels nie goed ingekleur nie. Hoekom is dit belangrik om iemand so real soos Pattie uit te beeld?

“Ons het nie die voorreg om dieper in haar karakter te delf nie. Sy is ’n bykarakter. Haar storie word nie in-diepte vertel nie. Ek kry meer die geleentheid om net oomblikke van haar storie te vertel en dis altyd moeilik. In elke toneel, in elke episode moet ek heeltyd vir myself ’n backstory gaan skryf. Maar dit bly belangrik (om die karakter volrond te vertolk). Daar is baie mense wat soos sy lewe.

“Daar is mense wat met haar gaan identifiseer en ek vra myself waar ek met sulke mense kan grace hê. Waar kan ek respek hê vir hulle en konteks kry voordat ’n mens oordeel fel en dink daar’s fout met hulle? Dalk is daar eerder fout met ons. Dis presies dit. Dis hoekom ek dit love om karakters te speel wat so anders as ek is. Jy kry die voorreg om iemand anders se lewe te betree sonder die real-life circumstances and repercussions. En dit het my nog net in my lewe gehelp om as ’n mens meer grace te hê deur verskillende tipe mense te vertolk. 

“Ek dink dis ’n wereld wat die meeste van ons samelewing bang is om te sien en om voor te kyk. Tog, enersyds wil ons dit sien, want dit laat ons beter oor onsself voel. Pattie gaan dalk nie vir iemand wat ook in sulke omstandighede grootgeword het sleg lyk nie. Hulle gaan trots wees op haar because she’s making it work. Ongeag hoe. Sy vind tog ’n plek vir haar en haar dogter om te bly.”

Wat het jy van Pattie geleer?

Leandie du Randt
In ’n poging om haar vermiste kind op te spoor, stem Pattie (Leandie du Randt) in tot ’n TV-onderhoud. Foto: Verskaf/Showmax

“Ek dink wat ek van Pattie neem, is dat sy verskriklik lief is vir haar kinders. Baie van die goed wat sy al gedoen het, is vir haar kinders. Sy doen ’n onderhoud met Mariaan (Nicola Hanekom, wat ’n joernalis speel) want sy het gehoop mense sien haar seuntjie is vermis en dat die media kan help om druk op die polisie te plaas om harder na die kinders te soek.

“Alles wat sy doen – dit kan soms soos swak besluite van buite af lyk, maar jy weet nie noodwendig hoekom sy dit doen nie. Dit kom altyd, en ek dink dit is so vir enige ma, uit ’n plek van liefde en desperaatheid om daai kind te beskerm. En ma’s doen dit partykeer ten koste van hulself. Pattie het tien teen een al baie keer seks gehad vir geld en vir kos vir haar kind. En daar’s ’n rede hoekom sy dit doen – want dis al hoe sy kan oorleef. So, om Pattie te vertolk het my baie meer respek gegee om mense se stories te hoor en hulle nie net te oordeel en te sê, ‘wel, ek sal nooit so ’n ma wees nie,’ of ‘ek sal nooit dit doen nie’. Jy weet nie waardeur iemand gaan as jy nie in hul skoene stap nie.”

Watter eienskappe van jouself kon jy andersyds weer na Pattie bring? 

“Ek dink wat ek van myself na Pattie bring, is ’n kwesbaarheid, maar ook om nie terug te staan vir wie jy is nie. Pattie vloek. Sy sê ’n ding soos dit is. Sy staan op vir haarself. Sy hanteer die polisieman dieselfde as die ryk tannie en dieselfde as iemand wat saam met haar rook of wat langs haar sit. En dis iets wat ek as Leandie ook probeer doen. Ek het dit al van skool af gedoen. Ek het saam met die skyfskiet-ouens gesit en gesels in die klas en dan later met die poppies hokkie gespeel. Ek probeer altyd mense dieselfde hanteer en so oop en eerlik wees as wat ek kan en nie vals wees nie. Ek haat valsheid. En Pattie is glad nie ’n fake mens nie. What you see is what you get. No pretense.”

Was dit moeilik om Pattie te vertolk?

Ek huil omtrent in elke toneel. Dis nogal uitdagend, veral as jy nie regtig voel jy’s op daardie emosionele vlak nie en dan moet jy teruggaan na ’n plek toe waar jy toegang tot daardie emosies het. Daar’s altyd ’n tear stick wat jou kan help, maar as jy nie die emosie agter dit voel nie, dan kom dit nie. Jy moet jouself op daardie punt kry. 

“Ek probeer om as Leandie wat Pattie speel iets eg maak. Waarvoor ek baie dankbaar is, is dat elke keer wat ek op stel moet huil, dien dit as ’n katalisator [om my emosies te laat gaan]. Dit gee vir jou ’n geleentheid om te huil en jouself te vra, ‘o, shit, hoekom is ek so emosioneel as ek dit of dit sê? Is dit dalk iets waaroor ek lanklaas gepraat het? Of iets wat ek moet revisit?’ So dit is eintlik ’n positiewe ding om so in touch te wees met ons emosies.

“Ons akteurs kry gereeld die geleentheid om bewus te word van ons emosies, maar dan lê die verantwoordelikheid by jou om die huiswerk te gaan doen en seker te maak jy kyk na jouself en dat jy oraait is.”

Hoe was dit om met Nico Scheepers (die reeks se skrywer en regisseur) te werk?

“Dis die eerste keer wat ek met Nico werk, maar ek drink altyd wyn op feeste saam met hom en bewonder sy werk as ek sy toneelstukke gaan kyk. Dit was defintief vir my ’n emmerskoplysie-item gewees om met hom te werk.

“As meer van ’n filmaktrise, het ek altyd gevoel die teatermense sal my nooit cast nie, want ek is nie rerig ’n teateraktrise nie. So dit was vir my ongelooflik dat ek toe die rol gekry het, dat hulle in my glo. Dis vir my rerig ’n lekker ding om saam met hom te werk en te sien hoe anders hy as ander regisseurs is.

“Hy het nie ’n ego nie. Hy is rustig, en hy hou van collaborate. He will allow you to do the scene like you had in mind and then he will challenge you. En dis nie dat hy sê jy’s verkeerd nie – hy wil dit beter maak. Hy wil jou en jou karakter beter laat lyk. Hy sal altwee opsies vat en hy sal kyk wat werk die beste. Dis nie dat een verkeerd is nie. Dit gaan net oor ’n anderste keuse wat hy maak. Dis net ’n variasie. En dit help my om as aktrise te groei.”

Jy het al voorheen op ’n Showmax-projek gewerk (op Meisies wat Fluit). Wat dink jy is die impak van die tipe stories wat Showmax wil vertel?

“Hierdie tipe stories wat op Showmax is, soos Meisies wat Fluit, soos Donkerbos, dis ware fokken stories. Ek was self deur ’n egskeiding, so vir my om daai storie op Showmax te kon vertel (met Meisies wat Fluit), het beteken dat mense in my ouderdomsgroep wat ook jonk geskei is, dit kon kyk en daarmee aanklank vind. En dit was die beste ding. In plaas daarvan dat ek oordeel gekry het, was daar mense my ouderdom wat kon aanklank vind en wat gesê het ‘dankie dat jy die storie vertel, dankie dat ek voel ek is nie alleen nie’. And that’s why I love my work.

Ek weet hoe ek voel as ek ’n fliek kyk wat my inspireer of as daar ’n karakter is wat swaarkry. Soms leer jy iets uit hoe die karakter geskryf is en dan leer jy iets as ’n mens. Met alles wat ek doen, nog altyd in my lewe, sê ek my grootste visie is dat die Here moet besluit watter medium die meeste gebruik moet word.

“Of ek act, of my praatjies doen, of skryf of ’n besigheid oopmaak – ek wil hê mense moet vreugde daaruit put. Ek wil hê mense moet geïnspireerd voel om hulself te wees. Om veilig te voel om net jouself te wees, want niemand kan ’n beter jy as jy wees nie.”


Donkerbos se eerste episode word op 21 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET uitgesaai. Daarna sal nuwe episodes weekliks op Sondae beskikbaar wees om te stroom. Die reeks is ook steeds op Showmax beskikbaar.


Let wel: Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel is in November 2022 gepubliseer en is aangepas vir die reeks se bekendstelling op kykNET in Januarie 2024.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies