Menu terloops
In Onderhoude [21 Jan 2024]

Erica Wessels oor ‘Donkerbos’: ‘Dis die beste teks wat nog gelees het’


Haar karakter in Nico Scheepers se rillerreeks, ‘Donkerbos’, is wêrelde van haar verwyder, vertel Erica Wessels. En dís juis die tipe uitdaging wat haar as aktrise van kop tot tone laat lekkerkry. Dié Showmax-reeks is nou ook op kykNET beskikbaar.

Deur Rozanne Els

Stroom nou

Erica Wessels oor ‘Donkerbos’: ‘Dis die beste teks wat nog gelees het’
Kyk lokprent

Die premis van Donkerbos is eenvoudig, maar onheilspellend: As slegs die kop van ’n kind in die woude buite die Limpopo-dorpie van Donkerbos gevind word, moet Fanie van Wyk die vreemde saak probeer ontsyfer. Fanie, vertolk deur die bekroonde aktrise Erica Wessels, is ’n briljante speurder, maar die rampspoedige uitkoms van ’n ou saak wat destyds tot haar afdanking gelei het, maak haar huiwerig om by die ondersoek betrokke te raak. Boonop hang haar huwelik aan ’n draadjie. Haar seun, Kallie, is haar rots soos sy die spoke van die verlede probeer ontduik. Met die terugkeer van haar voormalige kollega, Sybrand (Wilhelm van der Walt) en die knaende vrae van ’n nuwe speurder, Tsedza (Sanda Shandu), drom die donker wolke weer bo Fanie se kop saam. 

Wessels is bekend vir haar werk op onder meer Vloeksteen, Dwaalster, Die Boekklub, Warrior, Interrogation Room, Fynskrif en Erfsondes

Die reeks, wat vir Showmax vervaardig is en steeds op dié platform beskikbaar is, is nou ook vanaf 21 Januarie 2024 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) beskikbaar.

terloops het tydens die reeks se verfilming met haar op stel gesels.

Daar is deesdae talle stories met vroue in die hoofrol as ’n flawed protagonis. Hoe het die rol tot jou gespreek?

“Dis fantasties [om só ’n rol te vertolk]. Snaaks genoeg, baie van die rolle wat ek nog altyd gekry het, is nogal daai tipe. Hierdie is net vir my so lekker, want dit het ook fantastiese tekste. But I feel very lucky. Ek wou rerig die rol gehad het. Regtig, egtig, egtig. Dit gebeur min dat jy vir ’n ding oudisie en die rol so graag wil hê. En die rede daarvoor was die tekste. Vir my gaan dit maar altyd oor inhoud en die tekste was net absoluut briljant. Toe ek daai tekste lees, toe is ek net soos, ‘oh my goodness, I want this!’ Die genre en die gevoel, die tekstuur van die ding. So toe ek die rol gekry het, was ek net soos…(lig haar hande na haar bors). Ek wou ook nog altyd met Nico [Scheepers, skrywer en regisseur] gewerk het.”

Donkerbos Erica Wessels Jacques Bessenger
Erica Wessels en Jacques Bessenger in Donkerbos. Foto: Verskaf/Showmax

Jy verwys na die teks – is daar iets spesifiek wat dit dan só treffend maak?

“Die teks is so goed geskryf. Dis regtig die beste ding wat ek al ooit in Afrikaans gelees het. Maar dit is ontsettend donker. Dit is ook die donkerste ding wat ek al ooit gedoen het. Daai is ’n interessant kombinasie. Donker is nie altyd almal se cup of tea nie, maar goeie inhoud is. Tog, die donker gedeelte daarvan maak my glad nie bang nie. Hierdie gedeelte van die wêreld en lewe ís donker. Hierdie gedeelte van die wêreld – of jy dit nou wil glo of nie – dit bestaan. It is real and it is very dark

“Wat ek die meeste van die teks gehou het, is nie net dat dit donker is of die ongelooflike karakters en pragtige storielyn nie… Wat vir my baie interessant was, is dat dit ’n riller is, maar tog het ek so emosioneel geraak. Ek het verskriklik gehuil terwyl ek die tekste gelees het. Ek het vir myself gevra hoekom ek dan só huil. Wat is dit van Nico se skryfstyl of teks wat my so laat huil? En toe besef ek net, sometimes you can’t pinpoint it. Ek dink wel dit is deels omdat dit oor kinders gaan, kinders wat seerkry, en ek is ’n ma. Kinders is die kwesbaarste in ons gemeenskappe.”

Vertel vir my van jou karakter, Fanie. Hoe het jy jouself met dié karakter vereenselwig, al dan nie?

“Ek dink Fanie is net so anders as ek. Ja, báie, báie anders as ek. Sy kom van ’n ander wêreld af, en ek is gaande daaroor om sulke karakters – wat heeltemal anders as ek is – aan te pak. Dit laat my toe om ’n hele nuwe wêreld binne iemand anders te ontdek, which is what I love and why I act! (lag). Vir een of ander rede word ek altyd gecast as ’n Valk, of ’n polisievrou (lag) maar ek is eintlik die teenoorgestelde van die karakters wat ek vertolk. My pelle wat my goed ken, lag hulle gatte af, want ek is eintlik baie feminine en ek sou byvoorbeeld nooit ’n vuurwapen koop nie. Ek’s ’n empath. Ek’s sag-sag-sag-sag, maar sterk.

“Maar wat ek die meeste van Fanie hou, is hoe sy geskryf is, en hoe ’n mens daai boots kan vol maak. En Nico gee vir ’n mens geweldig baie ruimte [om dit te doen]. Ek dink sy is ’n groot karakter, sy is geweldig goed in wat sy doen. Sy is sterk en abrupt en moeilik, maar sy dwing respek af. Sy is eintlik ’n ongelooflike goeie mens, maar onder hierdie brash, hard exterior of getting shit done. Ek’s mal oor haar.” 

Erica Wessels
Erica Wessels sê Nico Scheepers se Donkerbos-teks is die beste wat sy nog gelees het. Foto: Verskaf/Showmax

Wat sou jy sê is haar primêre dryfkrag?

“Ek dink sy haat ongeregtigheid. Haar groot, eintlik grootste, begeerte is om ongeregtigheid tot niet te maak. She’s moved by that.” 

Weens die aard van die reeks se inhoud, kan ek my indink dat verfilming ’n tol kon eis. Buiten die emosionele lading, watter ander uitdagings het opgeduik?

“Die donker van die storie het my nie banggemaak nie, maar daar is altyd uitdagings, veral om te besluit oor waar om ’n karakter te plaas. Dit is geweldig uiteenlopend. Jy moet uitpluis waar jy ’n karakter in ’n toneel in terme van die konteks van hierdie vreeslike donker dinge moet plaas. Hoe sterk maak jy die karakter? Hoe kwesbaar? Wanneer ruil dit? Dit is moeilik om te verduidelik; dis groter prentjie goed.

“Daar is natuurlik ook geweldig baie uitdagings om iets wat eintlik as ’n boek geskryf is, op ’n TV-reeks se begroting te skiet.” 

Die rillerdrama-genre is baie gewild onder kykers die wêreld oor. Wat dink jy dra by tot daardie gewildheid?

“Ek dink mense word aangetrek tot goeie skryfwerk en goeie vertellings. As jy ’n donker storie gaan skep, maar dit is nie goed geskryf nie, gaan niemand dit kyk nie. Dit móét goed geskryf wees. Die rede hoekom, byvoorbeeld Ozark of Stranger Things so goed doen, is omdat dit so goed geskryf is. Ek dink dus nie dis noodwendig iets van die genre as sulks nie. Mense volg goeie skryfwerk, mense wil uitgedaag word, of dit nou komedie, riller of ’n romanse is.”

Wat van Donkerbos sal meeste tot kykers spreek?

“Ek dink die storie is ongelooflik duidelik. Die plot is ongelooflik duidelik. Ek dink as iets ingewikkeld of genuanseerd is, is dit vanweë die karakters, bloot omdat mense so uiteenlopend is. Mense is nie nét goed of nét sleg nie. Dis baie morsig. En juis daarom dink ek sal kykers daarby aanklank kan vind.”


Donkerbos se eerste episode word op 21 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET uitgesaai. Daarna sal nuwe episodes weekliks op Sondae beskikbaar wees om te stroom. Die reeks is ook steeds op Showmax beskikbaar.


Let wel: Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel is in November 2022 gepubliseer en is aangepas vir die reeks se bekendstelling op kykNET in Januarie 2024.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies