Menu terloops
In Recaps & Resensies [19 Jan 2024]

Resensie: Met ‘Donkerbos’ gryp storieverteller Nico Scheepers jou aan strot vas


Verborge geheime, lewelose, koplose kinders in die diepe, donker bos, karakters wat sonder woorde ’n onheilspellende wêreld blootlê – dís die boublokke van Nico Scheepers se uiters aangrypende rillerreeks, ‘Donkerbos’. Die reeks is uiteindelik nou ook op DStv beskikbaar.

Deur André-Pierre du Plessis

Stroom aanlyn

Resensie: Met ‘Donkerbos’ gryp storieverteller Nico Scheepers jou aan strot vas
Kyk lokprent

Aangrypend. Dís Nico Scheepers se rillerreeks, Donkerbos.

Die reeks, wat vir Showmax vervaardig is en steeds op dié platform beskikbaar is, is nou ook vanaf 21 Januarie 2024 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) beskikbaar. Só vergroot die kykerpoel wat deur Scheepers se skepping aan die strot gegryp word.

Want jy kan bloot net daarna kyk – sonder om enigsins te volg wat aangaan, selfs met die volume op nul – en dís wat jy sal ervaar. Asof Scheepers se storie jou met kettings vasboei. Asof jy weet hierdie is jou aandag só werd, wegkyk is nie ’n opsie nie.

Die reeks voel soos iets wat ’n mens op Netflix uit Duitsland of die Skandinawiese lande ontdek. Dié is twee streke wat ’n naam vir hulself gemaak het vir boeiende rillerreekse. Dit herinner aan televisiereekse soos Dark, Netflix se eerste oorspronklike Duitse reeks. Dark het internasionale erkenning ontvang vir ’n soortgelyke komplekse narratief as Donkerbos en draai rondom die verdwyning van ’n kind in ’n bos buite ’n denkbeeldige Duitse dorp.

Wat het gebeur in die donker bos?

Donkerbos speel af in die denkbeeldige dorp Donkerbos in Limpopo. Soos meeste klein dorpies, word hier duisende geheime verberg wat inkommers sukkel om te verstaan. Jy as kyker is hiér die inkommer. Uit die staanspoor probeer jy om van Fanie (’n speurder vertolk deur Erika Wessels) sin te maak.

Fanie het oënskynlik teen haar wil in Donkerbos opgeëindig, maar dis nie onmiddellik duidelik hoekom nie. Terwyl haar man, Jaco (Jacques Bessenger), lyk asof hy reg is om op te gee op hul huwelik, vind Fanie ’n tipe toevlug by haar seun met wie sy die een of ander geheime taal deel. Hy is ook meer besorgd oor sy ma as haar man ná sy laataand ’n oproep van die polisie ontvang.

“Was dit erg?,” vra hy die volgende oggend. “Hulle bel net vir mamma as dit erg is.” Fanie antwoord nie. Want, ja, dit was erg. Fanie ontdek ’n kind se kop wat van die res van sy liggaam losgeskeur is. Saam met die plaaslike polisieman, Wolf (Stian Bam), begin sy die donker bos ­– waarna die dorp vernoem word – deursoek in ’n poging om antwoorde te vind.

Erica Wessels vertolk die hoofrol in Donkerbos. Foto: Verskaf/Showmax
Erica Wessels vertolk die hoofrol in Donkerbos. Foto: Verskaf/Showmax

Teen die einde van die eerste episode, kom Fanie uiteindelik af op ses kinders se liggame. Dit herinner haar hopeloos te veel aan “Pretoria”, verduidelik sy aan haar kaptein (Thoko Ntshinga). “Pretoria” – nog ’n verbloemde verhaal wat ons moet uitpluis… Maar die kaptein dring aan dat sy nie in die verlede moet boer nie. Tog, die verlede is nie maklik om uit die huis te sit nie, al wil sy hoe graag. Sodra die dorp uitvind wat Fanie gevind het – en hoe dit verband hou met ander gebeure in haar verlede – neem hul wantroue in haar én die polisie slegs meer toe.

Terwyl hopeloos te veel televisiereekse deesdae te veel dialoog insluit, het Scheepers die kuns vervolmaak om met ’n enkele klanklose skoot ’n karakter vir die kyker op te som.

André-Pierre du Plessis

Het jy gehoor daar’s ’n nuwe dominee?

Terwyl Jaco vyande maak by die werk met sy kollega Spook (Eben Genis), doen hy egter alles moontlik om buite sy werk in te pas. Hy dwing elke Sondag sy gesin om saam kerk toe te gaan, want “as ons wil deel wees van die gemeenskap, moet ons kerk toe gaan.”

Dis juis by die kerk waar Fanie se ongemak met die dorpsmense deurskemer. ’n Nuwe dominee (vertolk deur Carel Nel) veroorsaak dat sy selfs minder vertroue het in mense se oordeel as van tevore.

Donkerbos is geskryf en geregisseer deur Scheepers wat ook ’n SAFTA-toekenning ontvang het vir sy reeks Nêrens, Noord-Kaap. Met daardie reeks het hy reeds vir ons gewys dat hy karakters kan laat praat sonder om ’n woord te sê. Terwyl hopeloos te veel televisiereekse deesdae te veel dialoog insluit, het Scheepers die kuns vervolmaak om met ’n enkele klanklose skoot ’n karakter vir die kyker op te som. Natuurlik help dit dat Donkerbos ’n sterk rolverdeling insluit, maar die kinematografie in hierdie nuwe Showmax-reeks is iets besonders.

Donkerbos is – buiten die Scheepers se toorwerk – dalk ook die kyk werd bloot om te herinner hoe mooi ons plaaslike landskap is.


Donkerbos se eerste episode word op 21 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET uitgesaai. Daarna sal nuwe episodes weekliks op Sondae beskikbaar wees om te stroom. Die reeks is ook steeds op Showmax beskikbaar.


Let wel: Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel is in November 2022 gepubliseer en is aangepas vir die reeks se bekendstelling op kykNET in Januarie 2024.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies