Let wel: Dié artikel word gereeld bygewerk soos nuwe Afrikaanse reekse en sepies aanlyn beskikbaar word.
Reekse
Die Byl S1-4
Speurder Piet van der Bijl (Waldimar Schultz) en sy span maak jag op reeksmoordenaars in die briljante, senutergende misdaaddrama Die Byl.
Die reeks is geskoei op die ware loopbaan van sekerlik die bekendste speurder in Suid-Afrika, Piet Byleveld.
Kyk die nuutste seisoen op DStv of DStv Online. Kyk seisoen 1-3 op Showmax.
Nêrens, Noord-Kaap
Drie vervreemde broers vind die kronkelpad terug na hul ouerplaas in die dorre Noord-Kaap, Nêrens, waar hulle die geheime, hartseer en waarheid oor hul ma se dood moet aanspreek om uiteindelik heling te vind.
Die storie is gegrond op die gelyknamige verhoogstuk deur Nico Scheepers wat in 2017 sy debuut gemaak het. Dit is sedertdien wyd geloof en Scheepers se omskepping van sy hartroerende verhaal na ’n TV-reeks is iets meesterlik. (Lees Riëtte van der Wat se onderhoud met Scheepers hier.)
Kyk op Showmax.
Slot
’n Briljante psigiater ontwikkel ’n dwelm wat pasiënte se onderbewussyn kan binnedring.
Kyk op Showmax.
Alles Malan
Alles Malan, wat deur Red Letter Day Pictures vervaardig is, begin as ’n tipiese homecoming-verhaal as Frik, sy vrou, Tessa, hul tienerdogter en aangenome seun uit Engeland na tuisbodem in die Paarl terugkeer. Dis nie ’n…sal ons sê…maklike aanpassing vir enigiemand nie.
Kyk op Showmax.
Projek Dina
Drie speurders word in Projek Dina vir ’n nuwe taakmag gekies om sake oor vermiste mense op te los. Die reeks is op ware gebeure gegrond.
Die tweede seisoen is vanaf 1 Maart 2022 op DStv en DStv Online. Kyk die vorige seisoen op Showmax.
Skemerdans
’n Neo-noir moordraaisel speel af op die Kaapse Vlakte in die Oasis Jazz Club, die middelpunt van ’n magstryd tussen twee broers, ’n weduwee en ’n misdaadsindikaat.
Skemerdans ontvou oor 13 episodes met Kaapse jazz en die stad se ewe eiesoortige Engels-Afrikaans-geselstaal. Kyk dit op Showmax.
Kompleks
Twee tieners ontmoet en alles verander in Kompleks, ’n drama in die styl van reekse uit die 90’s soos Dawson’s Creek.
Kyk op Showmax.
Hotel S1-5
Die Fransen Hotel was eens die klein fiktiewe dorpie van Fransenburg in Mpumalanga se trots. Daar het intussen baie verkeerd geloop en die hotel is nou sub-sub-standaard. Maar die middeljarige hotelbestuurder en sy vreemde versameling van quirky personeellede probeer steeds om die hotel se deure oop te hou.
Dié skreeusnaakse sitkom is deur Bennie Fourie geskep en die rolverdeling sluit onder andere vir die grapjas Schalk Bezuidenhout, Beer Adriaanse, Mila Guy en De Klerk Oelofse in.
Kyk die nuutste seisoen op DStv of DStv Online. Kyk die vorige seisoene op Showmax.
Troukoors
In Showmax se eerste oorspronklike romkom speel Getroud met Rugby se Ilse-Lee van Niekerk ’n borrelende, altyd-glimlaggende trouebeplanner wat tussendeur ander se liefdesvieringe self ook ’n pasmaat soek.
Kyk op Showmax.
Fynskrif S1-3
Al drie seisoene van dié regsdrama, geskep deur Louis Pretorius en Albert Snyman, is nou op Showmax.
Siende Blind S1
Lena Schoeman (Liezl de Kock) stel misdaadprofiele oor reeksmoordenaars vir die polisie saam, maar dan blyk dit die grootste gevaar is dalk tuis…
Kyk Siende Blind se eerste seisoen op Showmax.
4 Mure
4 Mure handel oor die Hotel 4M se nuuskierige skoonmaker, kelner en ontvangspersoon, Marcelina (Lida Botha). In elke episode word daar by die hotel se nuwe gaste gespook – Kamer 7 is waar die euwels afspeel, met die stories wat tussen die hede en verlede spring.
Kyk dit op Showmax.
Die Boekklub S1-3
Armand Aucamp vertolk die rol van ’n stadsjapie-skrywer, Tom Niemand, wat ná die dood van sy ouma (wat hy gedink het, is reeds dood…) ’n draai in haar tuisdorpie op die platteland, Merweville, reis. Hier ontmoet hy ’n eklektiese groep mense wat sy lewe onherroepbaar verander. Al drie seisoene is op Showmax beskikbaar.
Ekstra Medium
In ’n poging om van sy probleme (insluitend ’n egskeiding) te vergeet, maak Bertie (Wilhelm van der Walt) ’n cocktail bar oop. Met sy laaste sente ook nog. Lewenskrisis of briljante idee? In ieder geval word die plek vinnig ’n bymekaarkomplek vir vriende, familie en vreemdelinge.
Spoorloos
Twee mense word dood in ’n babadogtertjie se ouerhuis aangetref. Beide die oppasser en die baba het spoorloos verdwyn. Wat het daardie nag gebeur? Wie het die ouers vermoor? Waar is die dogtertjie? Dis met dié raaisels wat Spoorloos 3: Steynhof begin.
Die agt episodes van Spoorloos 3: Steynhof volg dieselfde draad as die vorige Spoorloos-seisoene: Dit speel af in ’n plattelandse gemeenskap en die verlede se geheime ontketen ’n drama in die hede. In hierdie seisoen is dit bietjie anders omdat dit nie ’n dorp in rep en roer is nie, maar die mense van Steynhof, ’n spogplaas.
Die rolverdeling van Spoorloos 3 sluit onder andere is Stiaan Smith (Hotel), Jane de Wet (Griekwastad), Brent Vermeulen (Die Stropers), Vinette Ebrahim (Skemerdans), en Kim Cloete (Fynskrif) in.
Stroom al drie seisoene nou op Showmax.
Sepies
Suidooster
Suidooster draai om die mense van ’n klein winkel- en sakesentrum in Ruiterbosch, ’n fiktiewe Kaapse voorstad waar verskillende gesinne in mekaar se lief en leed deel.
Kyk op DStv, DStv Online of Showmax.
Arendsvlei
Arendsvlei is ’n telenovela wat draai om die leerders, hul ouers, en die onderwysers van die Hoërskool Arendsvlei op die Kaapse Vlakte.
Kyk op DStv, DStv Online of Showmax.
Getroud met Rugby
Ná 14 jaar kom die gewilde kykNET-sepie, Getroud met Rugby, in September 2022 tot ’n einde.
Rugby is big business in die regte wêreld én in showbiz – maar in Getroud met Rugby gaan dit oor veel meer as 80 minute se lynstane en losgemale op die veld.
Dié gewilde sepie was aanvanklik ’n dramareeks wat deur Deon Opperman en Hanli Rolfes vervaardig is.
Die eerste episode is op 7 April 2009 uitgesaai. Ná vyf seisoene is die reeks, wat draai om die hardnekkige Stryders-rugbyspan, in ’n sepie omskep .
Kyk op DStv en DStv Online, of al die seisoene op Showmax. Kyk ook die oorspronklike Getroud met Rugby-dramareeks wat die sepie voorafgegaan het op Showmax.
Binnelanders
Dis al amper twee dekades sedert sepievrate aan die mediese personeel van die Binneland-kliniek bekendgestel is. Kykers verorber steeds met ywerigheid die sepie se nimmereindige hoogdrama. Dis eintlik werklik besonders dat daar ooit tyd is om enige werk gedoen te kry met al die drama en skandale wat sonder ophou afspeel. Maar dit is mos hoe ’n goeie sepie moet wees, natuurlik…
Kyk op DStv, DStv Online of Showmax.