Menu terloops
In TV [17 Feb 2026]

Dit kook op TV! 10+ plaaslike kosprogramme om op DStv en Showmax te kyk


Ons is maar net mense, ons dink met ons pense… En daar is wraggies baie plaaslike kosprogramme waarin lipafleklekker geregte opgedis word.

Deur Watkykjy en Redaksie
Dit kook op TV! 10+ plaaslike kosprogramme om op DStv en Showmax te kyk

Neem asseblief kennis dat dié kosprogramme se beskikbaarheid kan verander. Dié artikel word deurlopend aangepas soos uitsaaibesonderhede aangekondig word en/of verander.


Kos vorm die wêreld oor deel van mense se kulturele diversiteit. Omdat Suid-Afrika self so diverse land is, het ons nogal ’n veelsydige palet wat deel van ons land se identiteit uitmaak. Kyk, ons laaik van ’n happie kos. Ons bak en brou, kook en braai en, as ons oorpresteerders is, groei, soek, vang of jag ons soms ook. Van ons oumas se oumagrootjies het ons lipafleklekker-wenresepte geërf, en as ons die gode wil uitdaag, pas ons soms dié resepte aan. 

As die kwessie van ’n ander land se kultuur in ’n casual gesprek tussen vriende (wat humble brag oor hulle onlangse reistogte) opkom, kan ek jou amper waarborg dat jy vinnig ’n spys-en-drank-konneksie kan maak.       

Dit is dus geen openbaring dat die Kook en Geniet digby die twee miljoen kopieë verkoop het sedert die eerste uitgawe in 1951 nie. Tegnologie soos die internet en TV het ook ’n reuse-impak gehad op hoe ons kos en kookkuns benader en beywer. Jy kan deesdae letterlik resepte van kenners en kokkedore op  jou skootrekenaar volg terwyl jy die hele kombuis breek. Of, net vir sommerso ontspanning, kan jy ’n celeb chef se tegnieke deur osmose inneem vanuit die gemak van jou nes van Oros, aartappelskyfies en KitKats op die rusbank.  

Vir laasgenoemde aktiwititeit, het ons het ’n lys van die beste plaaslike kosprogramme op Showmax en DStv saamgestel. Lekker kyk! 

Realiteitstelevisie is groot 

Masterchef Australia is die groot pappa van mededingende kookprogramme wat die TV-sluise in 2009 oopgemaak het. Die Suid-Afrikaanse weergawe, MasterChef SA, het nou al ’n paar verskillende TV-tuistes gehad, met die nuutste seisoen wat vanaf Sondag 22 Februarie 2026 om 18:00 op e.tv uitsaai. Die beoordelaars vir die sesde seisoen is Zola Nene, Justine Drake en Katlego Mlambo.

MasterChef SA S6
Stilte voor die storm… Hier is al die deelnemers aan die sesde seisoen van MasterChef SA wat vanaf Sondag 22 Februarie om 18:00 op e.tv uitsaai. Foto’s: Verskaf

Kook in Afrikaans

Afrikaans het nie vir lank buite die kombuis gestaan en wag nie.

Kokkedoor vuur en vlam
Op Kokkedoor Vuur en Vlam word deelnemers se braaivernuf getoets.

Kokkedoor is sekerlik dié bekendste realiteitskookprogram in Afrikaans. Hierin word Suid-Afrika se beste sjef, op die trant van die Masterchef-formaat, gesoek. Die program was só ’n groot treffer dat dit gelei het tot ’n spin-off, Koekedoor, om die land se beste en veelsydigste amatuerbakkers op te spoor. Uit dié aflewering het Koekedoortjie (op Showmax beskikbaar), waarin jong bakkers tussen die ouderdom van nege en 13 jaar, deelgeneem het. ’n Gewilde bydrae wat deel van die Kokkedoor-franchise vorm, is Kokkedoor Vuur & Vlam. Hierin moet deelnemers sake in die kombuis met hul braai-talente uitspook. Beide seisoen 1 en seisoen 2 is op Showmax beskikbaar.

In Kokkedoor se volgende gedaante, Kokkedoor: Son & see, verskuif die fokus van kompetisie in die kombuis na herkenbare mensestories wat emosiebelaaide herinneringe uit verskillende generasies oproep. Dié reeks is nog op Catch Up beskikbaar.

Kokkedoor
Vir die tiende Kokkedoor-seisoen, Kokkedoor: Son en see, is daar twee nuwe beoordelaars, die gerekende koskenners Herman Lensing en Yolani Abrahams.

Natuurlik moet daar ook gebraai word en Suid-Afrika se gunstelingtydverdryf is nou ’n sosiale eksperiment op televisie. In Kom Ons Braai (seisoene 11 tot 16 is op Showmax) moet drie paartjies – wat mekaar glad nie ken nie – by mekaar braai. Daar gebeur baie om die vuur, en ons praat nog nie eers van die kos nie!

Is jy dalk lus vir ’n weergawe van Kitchen Nightmares maar sonder Gordon Ramsey en sy vuil bek? Supersjef Bertus Basson en sy span help om restaurante en gesinskosondernemings wat In Die Sop is, weer op die been te bring. Die eerste drie seisoene van dié reeks is op Showmax beskikbaar. Dié reeks trek egter ’n nuwe baadjie vir die vierde aflewering aan met ’n nuwe aanbieder, asook die fokus wat verskuif van restaurante na gastehuise in en om Kaapstad, in Gauteng en langs die N1-roete. Seisoen 4 sal na verwagting later in 2026 op kykNET uitgesaai word.

In My ma kook beter as joune (seisoene 1 en 2 is op Showmax), aangebied word deur Early B, ding twee spanne vir ’n kontantprys teen mekaar mee. Die spanne bestaan uit ’n ma wat haar plek in ’n kombuis kan volstaan en een van haar kinders wat glad nie kan kook nie.

Voel goed, eet goed

Sekere TV-persooonlikhede het nou maar net ’n manier om meer intiem met die kyker te connect. Wat veral goed werk, is die nostalgiese inslag.    

Nataniël is ’n absolute feesmaal op sy eie. Dis kos met persoonlikheid. GROOT persoonlikheid. Terwyl Ek Wag is by verre een van ons gunsteling Afrikaanse kookprogramme. Hierin droom Nataniël heerlike disse op wat deur sy Frans-Hugenote-erfenis geïnspireer is. Dít terwyl hy die hedendaagse invloed van sy voorvaders op landbou, wyn en kookkuns in Suid-Afrika ondersoek. 

Kook en rits rond

Min van ons het ’n geldjie om gereeld oorsee te galavant, so ons moet kulinêre fantasieë maar uitleef deur dié wat dit wel kan doen en vir ons netjies verpak en voorsit. 

Op pad met my potjie
Vir Joalette de Villiers was die tweede seisoen van Op pad met my potjie nie net ’n kulinêre reis nie, maar ook ’n persoonlike ontdekkingsreis.

Wie is Jan Scannell? Dis Jan Braai, man! Hy neem ons op ’n onvergeetlike braaitoer regoor Suid-Afrika in Jan Braai vir Erfenis. Veertig braaie in veertig unieke Suid-Afrikaanse erfenisliggings. Hy stel ook sy braaitalente in die reeks Jan Braai: Weskus ten toon.

In Op pad met my potjieneem die kosliefhebber Joalette de Villiers kykers op ’n toer deur Namibië. Daar ontdek sy in elke episode nuwe geheime van dié land se kookkuns… Met ’n driebeenpot in haar hand. “Die reeks wys al die plekke wat Joalette besoek vanuit die perspektief van die plaaslike inwoners. Die eerste seisoen is op Showmax beskikbaar. Die tweede seisoen is onlangs op kykNET uitgesaai en is nog vir ’n rukkie op DStv Catch Up beskikbaar.

Honger vir nog?

Dié reekse word nie tans uitgesaai nie… MAAR ons is optimisties dat van dié kos- en kookprogramme eersdaags weer beskikbaar sal wees. Ons hou duime vir die volgende:

  • In Kookpunt daag sjefs en aanbieders Yolani Abrahams en Chris Erasmus weekliks drie sjefs uit om deur drie disse voor te sit wat uit lukrake bestanddele opgetower word. 
  • In ’n soortgelyke program, Aansit, ding spanne van drie mee om ’n benydenswaardige kontantprys te wen. Elke span moet ’n driegangmaaltyd om die hoofbeoordelaar en supersjef, Reuben Riffel, uit die veld te slaan. 
  • Laat die Potte Prut sien hoe drie spanne meeding om die beste potjiekos te maak voordat die horlosie hulle inhaal.
  • Die grapmaker van die gewilde TV-program, Maak ’n Las, Nico Nel, kan behoorlik ’n storie vertel. In Nico Nel Kook en Vertel verken hy die geheime van ons land se beste bestanddele en resepte.
  • Die Nataniël Tafel laat jou besef nie almal kan kos maak soos Nataniël nie… En dat hy meer is as ’n dramaturg, skrywer, satirikus, komponis, sanger, skoonheidskundige en digter. En dis reeds ’n mondvol.
  • Dan is daar ook ’n eiesoortige kitskosreis wat kykers saam met Gerhard Steyn en Alvin Bruinders kan vat in Konings van Kitskos. Die VIA-reeks reis dié vriende die land heen om die lekkerste kitskos te proe.
  • Die VIA-reeks Herman en die Ladies, het ’n pragtige aanslag. Daarin bederf die bekroonde sjef en kosskrywer, Herman Lensing, vir tien vroue – wat elkeen ’n stryd teen borskanker gevoer het – met heerlike gebak in die Pink Lady-kombuis terwyl hulle gesels oor die soet en suur van die lewe. Die reeks is ook ’n viering van elk se merkwaardige gees en storie.
  • In Skep nog op VIA nooi die tuiskok René de Wit bekende koskenners om saam met haar te kook. Die kinkel is dat sy oorskietgeregte of -bestanddele inspan om ’n splinternuwe gereg op te tower. Só wys René vir kykers hoe om oorskiet in geurige disse te omskep. Daarmee saam word die verpakking ook in nuwe items omskep eerder as wat dit in die asblik beland. Onder die koskenners wat saamkuier tel Marinda Engelbrecht, Isabella Niehaus, Ina Paarman en Carmen Niehaus.
  • Kampkos is darem sekerlik binne meeste van ons se bereik? John-Henry Opperman en Beáte Olwagen wys vir ons hoe om in die buitelug te bak en braai. Hulle nooi ook interessante gaste om met hul buitelug-vaardighede te kom spog en hul beste kampkosresepte met ons te deel.       
  • Bekroonde Afrikaanse auteur, Marita Van Der Vyver, woon al reeds meer as twee dekades lank in Frankryk. In Marita Kook Frans besoek sy die suide van Frankryk en deel die streek se kos, asook haar eie kulinêre avonture en ervarings. Haar topverkoperboek, Dinge Van ’n Kind, is in ’n TV-reeks omskep wat jy op Showmax kan kyk.
  • Suid-Afrika se eerste Michelin-ster-sjef, Jan-Hendrik van der Westhuizen, neem ons saam na sy restaurantkombuise, reise deur Europa en aan’t huis in Suid-Afrika terwyl hy sy kosgeheime met ons deel in Jan.
  • Ná sowat 25 kookboeke het Carmen Niehaus ’n nuwe koers op die kassie met die kosprogram Lekker en goed ingeslaan. Om gesonder te eet, is een van Carmen se prioriteite en vorm deel van die reeks se aanslag. Sy stel kykers ook aan van die land se mees geliefde en gewildste glanspersoonlikhede bekend. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies