Menu terloops
In Wat om te kyk [23 Mei 2022]

‘Tiaan Proe’: Selfs ’n bang Jan in die kombuis kan lipafleklekker kos maak


Lipafleklekker-geregte, maar glad nie moeilik om voor te berei nie. Dís die premis van die kookprogram, ‘Tiaan Proe’.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

‘Tiaan Proe’: Selfs ’n bang Jan in die kombuis kan lipafleklekker kos maak

Jy ken hom dalk as ’n TV-aanbieder en die wenner van die eerste seisoen van kykNET se gewilde Kokkedoor-realiteitsreeks, maar Tiaan Langenegger is al langer as tien jaar ’n professionele sjef met verskeie kookboeke wat al die lig gesien het. Hy is terug op die kassie met sy eie Jamie Oliver-styl kookprogram, Tiaan Proe.

Elkeen van die 13 episodes het sy eie identiteit en tema soos trooskos, kinderhappies en maklike weeksaandetes met alles van viskoekies tot Sondagtafelkos. 

Die bestanddele is bekend en die resepte vinnig en maklik. Tog het elke dis ’n storie en ’n twist. Debonairs gebruik dalk ’n cheese griller in hul kors vir hul bekende crammed crust pizza, maar Tiaan gebruik visvingers wat heerlik in ’n air fryer goud gebraai is. Pesto word dan by dié pizza gevoeg vir ’n twist op dié twist.

Jy wonder dalk hoekom jy nog ’n kookprogram by jou kyklys moet voeg. Wel, vandag is kookprogramme wat geselsprogramme in die laat-90s en vroeë 2000s was – ’n uitnodiging om deel van ’n gesprek te wees; by iets ingesluit te word. Of, met kos ter sprake, ’n uitnodiging om saam aan tafel te sit. Verskillende tafels met verskillende formate en style – so ook Tiaan Proe.

Maklik én modern

Tiaan Proe visgebak
Lipafleklekker-geregte, maar glad nie moeilik om voor te berei nie. Dís die premis van die kookprogram, Tiaan Proe. Foto: Verskaf

Die geregte in Tiaan Proe word pragtig en modern voorgesit, maar die kos is glad nie intimiderend nie. Hy is bewus dat die lewe gejaagd is, sê Tiaan. Sy nuwe program is dus juis daarop gemik om kykers se lewens makliker te maak. Elke resep het net ’n handjie vol bestanddele en kan vinnig aanmekaar geslaan word.

Tiaan sê trots dat al die resepte op die program kos is wat maklik genoeg is vir enigiemand om te maak. As jy reeds ’n bobaas-kok is, of meeste van die kookwerk by die huis doen, sal dit jou weer opgewonde maak om tyd in die kombuis te bestee.

 “Selfs mense wat nie goed is in die kombuis nie, sal hierdie resepte kan maak. Hierdie program is ’n manier om mense weer opgewonde te kry oor kosmaak en die kombuis,” vertel hy.

Tiaan het ’n paar interessante syfers en feite met terloops gedeel om vir ons ’n beter idee te gee van wat agter die skerms in sy TV-kombuis plaasvind.

Hoe gemaak as jy “bang” is vir die kombuis?

“Geduld is jou beste vriend in die kombuis, veral wanneer dit by bak kom. Maak seker jy lees die resep twee keer voor jy begin en maak al die bestanddele bymekaar voordat jy begin. Verhit die oond en geniet jou tyd in die kombuis.”

Hoeveel kameras word gebruik om Tiaan Proe te verfilm?

“Daar is altyd drie kameras in die kombuis.”

Hoeveel ure se beeldmateriaal word geskiet om een 22 minuut lange episode te vervaardig?

“Elke episode het tussen vyf tot ses ure se beeldmateriaal wat ons redigeer. Daar is altesaam omtrent 80 ure se beeldmateriaal vir die 13 episodes.”

Hoe lank neem dit om ’n episode te redigeer?

“’n Volle episode neem ongeveer vier werksdae. Twee volle dae word       gebruik om ’n episode te redigeer en nog twee dae met rondtes van veranderinge, klank wat bygevoeg word en terugvoering van die regisseur, voordat die finale produk aan die kanaal gestuur word. Mené Meyer is die redakteur en Tamryn Volschenk meng die klank vir Tiaan Proe. Die intro-musiek is deur die bekroonde Kyle Shepherd gekomponeer.”  

Hoeveel botter is gesmelt?

“Baie! Daar is omtrent 50 blokke botter gebruik in seisoen een.”

Hoeveel kookolie het julle vir seisoen een gebruik?

“Ons het eintlik nie soveel gebruik nie, ons het net vier liter gebruik.”

Hoeveel uie het jy opgekap?

“Ons het omtrent 5kg se uie opgekap.” 

Wat was jou drie gunsteling kombuis gadgets hierdie seisoen?

“’n Mikrovliegtuig-rasper, ’n klitser en ’n staafmenger.”

Tiaan Proe wys Dinsdae-aande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Stroom dit ook op DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies