Menu terloops
In TV [15 Jan 2026]

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien


Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n ‘Game of Thrones’ spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Deur Rozanne Els
Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Nes ons gedink het dat 2025 se TV-jaar effens flou sou eindig, verskyn die romantiese drama Heated Rivalry op die toneel. Maar hoewel dit met ’n onmiddellike en ongekende impak raakgevat het, was dit darem nie die enigste meeslepende kykstof oor die afgelope jaar nie (lees ook ons wrap-up van 2025 se beste reekse). Ná ’n tydelik lull weens die skrywerstakings, is die TV-skedule vir 2026 reeds voller as 2025 – en ja, dit was gelukkig ’n gesukkel om te besluit wat om by dié lys in te sluit, want daar is heerlik baie stories om oor opgewonde te raak. 

Hiermee dan ’n (onvolledige) gids oor TV-reekse waarna kykers kan uitsien.

1

Heated Rivalry S1 

Plaaslike uitsaaibesonderhede: Nog onbekend

Enigiemand met ’n VPN en/of ’n matige kennis van hoe Google Search en stroomdienste werk, het teen die tyd dié fenomenale en grensverskuiwende reeks verorber – ongeag die feit dat dit nog nie amptelik plaaslik beskikbaar is nie. En ja, verorber, want só ’n storie is nie net een om te kyk nie – daarvoor is die chemie en absolute tasbare yearning tussen die mansyshokkiespelers Ilya Rozanov (Connor Storrie) en Shane Hollander (Hudson Williams) te allesoorheersend.

Die reeks is vir die Kanadese stroomdiens Crave vervaardig, en dis toe gou deur HBO Max vir verspreiding in die VSA bekom. Met sy debuut in Kanada is die ses episodes vir 30 miljoen minute gekyk en hierdie week is dit verby die 600 miljoen minute-kerf net in die VSA… In Rusland – waar dit soos hier nie amptelik beskikbaar is nie – het dit ook rekordkykertalle inkatrol. Daar is drie seisoene (wat volg op die drie boeke deur Rachel Reid waarop dit gegrond is – Heated Rivalry, The Long Game en Unrivaled) van dié smeulende reeks beplan. En julle, sjoe. Kry ’n waaier, belê in lugverkoeling, sit ’n yspak op jou voorkop – dinge raak… vurig. 

2

The Pitt S2 

Plaaslike uitsaaibesonderhede:  Nog onbekend, ná verwagting op M-Net en Showmax, soos met S1.

Die tweede seisoen van een van die grootste TV-treffers van 2025 (en die afgelope klompie jare) het reeds vroeg vandeesmaand in die VSA begin uitsaai, met die reeks én sy ster Noah Wyle wat die een toekenning ná die ander opraap. Á la Kiefer Sutherland se 24 van ouds, verteenwoordig een uurlange episode ’n werklike uur van dr. Michael “Robby” Robinavitch se uitmergelende skof by die Pittsburgh Trauma-hospitaal. As jy nog nie die eerste seisoen gekyk het nie, kry dit onder oë, want hierdie mediese drama is sonder ’n gelyke. Soos David Sims van The Atlantic skryf: “Dit is reeds sonder twyfel die beste voorbeeld van die genre in meer as ’n generasie.”

3

Industry S4

Plaaslike uitsaaibesonderhede:  Nog onbekend, ná verwagting op Showmax, soos met die vorige drie seisoene.

Industry is as ’n reeks soos ’n mens se senuweestelsel in fight or flightIt’s a lot. En ook waarlik briljant in hoe dié eintlike riller as drama opgedis word. 

Ná die warrelwind van die derde seisoen, beweeg ons in die nuwe uittog weg van reeksskeppers Mickey Down en Konrad Kay se seks- en dwelm-aangedrewe drukkoker-omgewing van Pierpoint, maar bly steeds gesetel in die wêreld van finansies, rugstekery, korrupsie, en leuens soos die verskillende spelers mekaar probeer uitoorlê in hul korporatiewe magspeletjies.  

4

Bridgerton S4

TV-reekse, Bridgerton
Luke Thompson as Benedict Bridgerton en Yerin Ha as Sophie Baek. Foto: Liam Daniel/Netflix

Plaaslike uitsaaibesonderhede: Die eerste helfte van die seisoen word 29 Januarie 2026 op Netflix vrygestel, met die tweede deel wat vanaf 26 Februarie 2026 beskikbaar is. 

Die vierde seisoen is Aspoestertjie-agtig van aard en vertel oor Benedict (Luke Thompson) se verliefde hart. Ons het hom oor die vorige seisoene – en van Julia Quinn se boeke – leer ken as ’n man wat geen drome van trou of ’n gesin koester nie. Dan, by ’n maskerbal, is daar tog ’n nooi wat sy hart vinniger laat klop. Maar hoe gaan hy haar ware identiteit ontdek? En wat gaan hy doen as hy uitvind dat sy nie deel van sy gesin se high society-sirkels is nie? 

5

Half Man

Plaaslike uitsaaibesonderhede: Nog onbekend.

Onthou julle 2024 se TV-fenomeen Baby Reindeer? Wel, Half Man is Richard Gadd, die skepper, skrywer, en ster van die bekroonde Baby Reindeer, se tweede televisieprojek. Dié BBC en HBO-koproduksie speel in Glasgow af met Gadd en die ongelooflike veelsydige Jamie Bell (Billy Elliot, All of Us Strangers) as hoofspelers. Die storie volg dié twee se lewens oor die verloop van 40 jaar, met ’n reünie wat ná etlike jare se vervreemding volg. Meer weet ons nie, want Gadd en kie hou nog hul kaartjie baie styf teen die bors. Dalk juis omdat die verwagtinge so hemelshoog is…

6

How to Get to Heaven from Belfast

How to Get to Heaven from Belfast
Sinead Keenan as Robyn Winters, Caoilfhionn Dunne as Dara Friel, en Roisin Gallagher as Saoirse Shaw in How To Get To Heaven From Belfast. Foto: Christopher Barr/Netflix

Plaaslike uitsaaibesonderhede:  Na verwagting vanaf Februarie 2026 op Netflix. 

Die TV-skepper Lisa McGee se komediereeks Derry Girls is een van die snaakste, wonderlikste en aardigste komedies wat nog vir TV geskep is. So nuus van iets nuut vanuit McGee se kreatiewe siel is soos salf vir ’n samelewing wat baie lag, baie nodig het. Soos met Derry Girls is dié reeks ook gesentreer om die vriendskap tussen vroue – die keer in hul dertigs – met ’n riller-element wat vreeslik eie aan McGee se humorsin is. Die storie volg vriendinne Saoirse, Robyn and Dara, wat ná die dood van ’n ou skoolmaat op ’n skaterlag-avontuur vertrek soos hulle die raaisel van haar moord probeer oplos. 

7

East of Eden

Plaaslike uitsaaibesonderhede: Netflix, datum nog onbekend.

Meer as 70 jaar sedert haar oupa die 1955-filmweergawe van John Steinbeck se gelyknamige baanbreker-boek (en waarna Steinbeck self as sy magnum opus verwys het) geregisseer het, het Zoe Kazan (Revolutionary Road, The Big Sick) ’n beperkte TV-reeks van dié storie geskep. Die destydse fliek het vir James Dean as sy ster gehad; in Kazan se weergawe is dit Florence Pugh wat die karakter Cathy Ames vertolk, met Christopher Abbott as Adam Trask. Die storie vervat ’n epiese saga tussen twee families en speel deels as ’n anderste herverbeelding van die Bybel-storie oor Kain en Abel uit. 

8

The Testaments

Chase Infiniti in The Testaments. Foto: Disney+

Plaaslike uitsaaibesonderhede: Die reeks word in April op Hulu in Amerika vrygestel en sal na verwagting plaaslik op Disney+ beskikbaar wees. 

The Testaments is die vervolgverhaal van Margaret Atwood se The Handmaid’s Tale en is nou, soos daardie onrusbare vertelling, ook vir televisie verwerk. The Handmaid’s Tale, waarin Elisabeth Moss se June ’n absolute kragtoer was en die reeks op ’n vreesaanjaende wyse hedendaagse realiteite gereflekteer het, het verlede jaar ná ses seisoene afgesluit. The Testaments tel die storiedrade ’n klompie jare later op, met One Battle After Another se Chase Infiniti as June se dogter, Agnes, en Ann Dowd wat haar rol as Aunt Lydia hervat.

9

Euphoria S3

Plaaslike uitsaaibesonderhede: Die reeks word in April op HBO in Amerika vrygestel. Na verwagting sal dit plaaslik op Showmax en/of M-Net beskikbaar wees. 

Dis vier jaar sedert die tweede seisoen van Euphoria vrygestel is en die wag was nie vir geen rede nie. Daar was die skrywerstakings, die dood Angus Cloud (hy het die rol van Fezco vertolk) en natuurlik ook die moeilike skedules, want kyk, dié rolverdeling het sedert die eerste seisoen sterre geword. Groot Sterre. En Groot Sterre is mos besig. Die nuwe seisoen begin dus met ’n noodsaaklike tydsprong –karakters soos Rue (Zendaya), Cassie (Sydney Sweeney), Nate (Jacob Elordi) en Jules (Hunter Schafer) is nou lankal nie meer hoërskoolkinders nie, en die grootmenswêreld kan maar wreed en misluk wees…

10

Margo’s Got Money Troubles

Michelle Pfeiffer en Elle Fanning in Margo’s Got Money Troubles. Foto: Verskaf

Plaaslike uitsaaibesonderhede: Vanaf 15 April 2026 op Apple TV. 

Die TV-skepper David E. Kelly (Ally McBeal, Big Little Lies, The Lincoln Lawyer) se Margo’s Got Money Troubles is die TV-verwerking van Rufi Thorpe se gelyknamige 2024-roman. Elle Fanning verolk Margo Millet wat, nadat sy ’n affair met haar professor het en swanger raak, haarself tot OnlyFans wend om kop bo water te hou. Dis omtrent ’n bohaai. Ook in die rolverdeling is Nick Offerman as Margo se pa en Michelle Pfeiffer as haar ma.  

Kyk ook uit vir:

  • Die agtste en heel laaste seisoen van Outlander. Klippe in Skotland gaan nooit weer dieselfde wees nie. #iykyk (Plaaslik sal dit op M-Net uitsaai, maar ’n datum is nog nie vasgemaak nie.)
  • Nog ’n dag, nog ’n Yellowstone spin-off. Hulle kan maar nou ophou, maar hulle gaan nie. Y: Marshals begin in Maart in Amerika uitsaai (plaaslik vanaf April op M-Net en Showmax beskikbaar) en is maar net een van ’n klompie Yellowstone spin-offs wat vir 2026 beplan word, waaronder The Madison (met Michelle Pfeiffer) en The Dutton Ranch.  
  • Die sielkundige riller Imperfect Women is gegrond op Araminta Hall se gelyknamige boek en het drie groot name wat die spel lei. Elisabeth Moss, Kerry Washington en Kate Mara speel drie beste vriende wie se hegte vriendskap en lewens deur ’n misdaad – en die ondersoek wat daarop volg – verpletter word. Vanaf 18 Maart 2026 op Apple TV.
Imperfect Women, TV-reekse
Elisabeth Moss, Kerry Washington en Kate Mara in Imperfect Women. Foto: Verskaf
SCARPETTA, TV-REEKSE
Nicole Kidman vertolk die hoofrol in die TV-verwerking van Patricia Cornwell se Kay Scarpetta-boekreeks. Foto: Verskaf
  • Patricia Cornwell se Kay Scarpetta-boeke is die grondslag vir Prime Video (vanaf 11 Maart 2026) se Scarpetta. Nicole Kidman vertolk die naamrol as ’n forensiese patoloog wat op misdadigers jag maak. Ook in die rolverdeling is die altyd-briljante Bobby Cannavale en Jamie Lee Curtis.
  • 16 lang jare sedert Scrubs gegroet het, keer Bill Lawrence se koddige mediese komedie-sitkom terug vir nog ’n rondte. Was daar voor of ná die reeks al ooit só ’n lieflike bromance as dié tussen JD (Zach Braff) en Turk (Donald Faison)? 
  • Bill Lawrence is besig, want buiten die nuwe seisoen van Scrubs en nog ’n nuwe seisoen van Shrinking, loods hy wraggies nog ’n komedie, Rooster. Die HBO Max-reeks het vir Steve Carell in die hoofrol as ’n skrywer en Charly Clive as sy dogter met hul gekompliseerde verhouding wat as voer vir die storielyn dien.
  • Nog ’n goue oue – in ’n heel, heel ander genre – keer ook terug. Buffy the Vampire Slayer: New Sunnydale is vir Hulu vervaardig en sal na verwagting plaaslik op Disney+ beskikbaar wees. Die loodsepisode se regie is deur Hamnet se Chloé Zhao (ek weet… wat?) met Ryan Kiera Armstrong as die nuwe vampierslagter, hoewel Sarah Michelle Gellar wel as die geliefde gatskopper Buffy Summers terugkeer.
  • The Comeback S3 is op HBO se skedule vir een of ander tyd vanjaar, en ek kan nie wag vir dié grensverskuiwende satiriese mokumentêre reeks – met Lisa Kudrow in die hoofrol – om weer sy eens in ’n dekade-verskyning te maak nie. Dié keer sien ons hoe die aktrise Valerie Cherish (Kudrow) haar by die rolverdeling van ’n nuwe sitkom – wat geheel en al deur AI geskryf is – aansluit. The stuff of nightmares. En soos net dié reeks kan regkry.
  • Guy Ritchie – wat mos reeds welbekend met die wêreld van Sherlock Holmes is – is die regisseur en uitvoerende vervaardiger van Young Sherlock, ’n nuwe reeks wat die oorsprongsverhaal van dié enigmatiese karakter ondersoek. Sherlock word deur die akteur wat in die After-flieks naam gemaak het, Hero Fiennes Tiffen, vertolk. Colin Firth, Joseph Fiennes, Donál Finn en Max Irons maak ook deel van die rolverdeling uit. Vanaf 4 Maart op Prime Video.
  • Die eerste seisoen van Lee Sung Jin en Netflix se Beef het kykers die wêreld oor voor hul skerms vasgepen. Wow. Wow. Wow. Met die tweede uittog is daar ’n hele nuwe onderonsie en ’n hele nuwe rolverdeling wat onder andere vir Oscar Isaac en Carey Mulligan insluit.
  • HBO se A Knight of the Seven Kingdoms is ’n Game of Thronesprequel, en verwerk van George R.R. Martin se Tales of Dunk en Egg-kortverhale. Dit speel sowat ’n 100 jaar voor die gebeure in Game  of Thrones af en vertel oor die avonture van Ser Duncan the Tall (“Dunk”) en Prince Aegon Targaryen (“Egg”), oor die verloop van ses halfuur-lange episodes.
TV-reekse, Young Sherlock
Hero Fiennes Tiffin in Young Sherlock. Foto: Daniel Smith/Prime Video

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies