Hier is van terloops se beste onderhoude van 2025 (in geen spesifieke volgorde):
Cole Wessels oor ‘Suidooster’ se Tino: ‘As ek een mens hoop gee, het ek my werk gedoen’
“As ek terugdink aan wat dit vir my sou beteken het om ’n karakter soos Tino op die skerm te sien toe ek nog op skool en geboelie was, en onseker was of dit oukei is om myself te wees, dan weet ek hierdie karakter bied hoop. Hoop vir queer kinders en mense van alle ouderdomme wat soms twyfel of daar ’n plek vir hulle in die wêreld is. Ek wil vir mense die kans gee om hulself in Tino te sien en te besef daar ís ’n wêreld vir hulle. ’n Wêreld waar hulle vriende kan hê, ’n werk, tot die samelewing kan bydra, hul gesinne kan onderhou… Dít is wat hierdie rol vir my beteken.”
Carmen Maarman oor vroue se stories op die skerm, kwesbaarheid, en haar nuwe hoofstuk in ‘Skemergrond’
“Daar is iets so kragtig aan hoe vroue se stories oor die jare verander het. Toe ek jonger was, sou ek sekere karakters heeltemal anders gespeel het. Nou is ek meer geïnteresseerd daarin om vroue as multi-dimensioneel te wys, want dit is wie ons is. Ons is sterk, ja, maar ons is ook menslik. En vir my maak daardie menslikheid, daardie lae, deesdae soveel meer saak.”
Minke Marais oor ‘Reënboogrant’ se Shani: ‘Sy wil van geweet wees’
“…Ek kan myself steeds heeltemal met haar vereenselwig. Die groot ding van haar, is dat sy ’n dromer is. Dis een van haar grootste eienskappe. Sy’s soos Sandra Prinsloo se karakter in Siener in die Suburbs, Tiemie. Tiemie het mos gesê, ‘Ek wil van geweet wees.’ En dít is 100% Shani se ding. Sy wil van geweet wees; sy wil groter wees; sy wil droom; sy wil dinge bereik in haar lewe eerder as om in Reënboogrant te bly. En dít is wat my tot die karakter gelok het, want ek is ook baie soos dit: ook ’n dromer, wil alles in my vermoë doen om my drome te bereik.”
Angelique Pretorius oor ‘Spoorloos’, skep in Afrikaans, en ‘lewensveranderende dinge om die draai’
“Daar is ’n gesegde wat sê, ‘If you’re talented, Hollywood will find you’, maar dis nie altyd so maklik nie. En terselfdertyd kan jy nie kla nie, want jy’t dit aan jouself gedoen. Jy het dit self gekies. Maar, nes ’n diamant wat sterker en mooier word onder druk, kan ’n mens met die regte benadering ongelooflik baie groei en leer deur moeilike tye. Veral as jy buite jou gemaksone is.
“Wat ék geleer het, is geduld, deursettingsvermoë, hoe om my gedagtes en gevoelens te bemeester, hoe om my gesondheid ’n prioriteit te maak en om te besef hoe sterk en dapper ek eintlik is. Ek dink die belangrikste is dat ek oor my imposter syndrome gekom het. Nou voel ek dat ek, net soos enigiemand anders, hier mág wees. Ek het my passie en vaardighede in ander fasette van filmmaak ontdek en verfyn en besef ek mag my stories vertel. Om eerlik te wees voel ek soos ’n upgraded weergawe van myself: Angie 2.0.”
Aktrise Kay Smith oor dapper vroue, selfwaarde en haar nuwe rol op ‘Suidooster’
“Jy moet ’n morele kompas hê. Ken jou skaduwee en maak dit jou vriend. As jy jouself ken, kan niemand anders vir jou sê wie jy is nie. Gee jouself toestemming om enigiets te wees.”
‘Mense gaan óf mal daaroor wees, óf dit haat’, sê stoute ‘Khaki Fever’ se regisseur
“Die aard van die film het natuurlik beteken dat baie akteurs uit die staanspoor nie wou oudisie nie. Ek dink as dit my eerste film was, sou my gevoelens seergemaak gewees het, maar ek was eerder dankbaar daarvoor omdat dit die ruimte geskep het vir ander akteurs wat dalk nou ’n groot oomblik in hul loopbaan gaan beleef.”
Reandi Grey: ’n Stem vir vroue, op én agter die skerm
“Ek is verskriklik lief vir vroue. Ek glo ons is gemaak van ’n spesiale stukkie lap. Ons is warriors én sag, sterk met empatie. Dis wat vroue uniek maak.”
Wenner Hirome vertel: ‘Die brug’ is ’n ‘weerspieëling van my lewe’
“Jou verlede bepaal nie wie jy is nie. Jou keuse is wat jy daaromtrent gaan doen. Jy kan steeds opstaan, doen dit met integriteit en geloof. En wanneer jy val, val regop en lig jou ken, en ken jou lig . . .”
Laura-Lee Mostert: die vrou agter ‘Binnelanders’ se chaoskoningin, Amor
“Party mense kry vinnig hul kans, of dit nou oor hul voorkoms, tydsberekening of netwerk is. My pad het anders gelyk. Maar ek’s dankbaar vir wat ek oor die jare geleer het. Dit laat my hierdie oomblik nog meer waardeer.”
Op stel met ‘Recipes for Love and Murder’ se Tannie Maria
“Daar is so baie mooi daarin, veral die natuurskoon, die kos, die mense – alles wat dit so eg Suid-Afrikaans maak. Die storie was vir my so pragtig; iets wat ek self sou geniet om te kyk, waarskynlik op ’n reënerige Sondagmiddag in Ierland. Maar ek het ook gedink dat dit iets is wat ek saam met kinders of my ma kan kyk, so ek was oortuig daarvan dat dit een van daai reekse is wat net aan en aan en aan kan gaan.
“Dis soms so ’n bietjie soos Miss Marple (Agatha Christie’s Marple). Soms is dit ’n bietjie soos Vera. Ander kere weer soos Julia. Maar dit het sy eie spesiale gevoel en toon. Ek het glad nie getwyfel dat daar ’n tweede seisoen sou wees nie. En ja, ek is redelik seker dat daar ook ’n derde en vierde seisoen gaan wees.”
‘Ek dink my sielsmaat is al oorlede,‘ sê ‘Boer soek ’n vrou’ se Lizelle
“Bid oor die saak voordat jy deelneem. Jy moet bereid wees om jou lewe vir ’n rukkie op die agterplaat te sit. Jy moet weet wie jy is, waarna jy soek en wat jy iemand kan bied. Die proses is wat jy daarvan maak. Weet net, God weet die beste en as jy nie gekies word nie, dan is dit nie die Plan nie.
“Jou waarde as vrou word nie deur die boer bepaal nie en nog minder deur Facebook-kommentare van mense. Dit is wel ’n werklikheidsreeks, maar maak seker jy het pret en wees ook maar ’n bietjie tong-in-die-kies by tye. Dit kan dalk jou feëverhaal word, alhoewel ek dink dis onwaarskynlik.”
Gys en Zelda se romantiese wipwarit in ‘Diepe Waters’
Justin Strydom: “As ek hierdie storielyn tien jaar terug moes aanpak, sou ek waarskynlik net gefokus het op hoe mooi en passievol die verhouding is. Nou, met ’n bietjie meer lewensbagasie, sien ek die fynere lae – die bagasie, die teleurstellings, die onbeantwoorde vrae. Dit is nie net ’n ‘liefde oorwin alles’-storie nie; dit is ’n liefde is ingewikkeld en mens mors soms dinge op storie. Ek voel beslis meer gemaklik nou as wat ek as jong akteur sou gevoel het. Ek weet hoe om die emosie eerliker te speel en nie net vir die drama nie.”
Sandi Schultz: “Ek het nog altyd volgehou as jy nie empatie met jou karakter kan hê nie, moet jy nie daai karakter speel nie. As jy die karakter gaan oordeel sal jy nie outentiek in hul skoene kan staan nie. Ek het al baie met Zelda se keuses gesukkel, maar ek moes die waarheid in haar aksies vind en glo in haar waarheid. Ek het empatie vir haar en ek is bly dat ek haar sagter kant en diep pyn kan wys. Ek is seker ek vertolk haar nou anders as wat ek sou, want as akteurs vertolk ons maar eintlik ons eie lewenservaringe deur karakters. Oor die afgelope tien jaar voel dit asof ek ’n hele ander lewe gelewe het sedert ek 40 geword het. En alles wat ’n mens ervaar en deurmaak, gee jou meer om mee te speel as akteur.”
Van ‘Arendsvlei’ se Saartjie tot ‘Skemergrond’ se Gloria – Hunter Plaatjies se reis van kwesbaarheid en krag
“Ek ken ’n paar regte Glorias – vroue wat hulself altyd tweede stel vir hul families of in verhoudings vasgevang is waaruit hulle nie kan ontsnap nie. Ek wou hul stories vertel.”
‘Reënboogrant’ se Sunette ’n droomrol vir Mila de Villiers
“Sunette is ’n droomrol vir my. Ek het nooit gedink dat ek my gunsteling-karakter van my gunsteling-jeugboekreeks sal speel nie!”
‘Ek kan nie glo wat ons reggekry het nie’: Dís hoe die visuele wêreld van ‘Niggies’ geskep is
“Ná ek die teks vir Niggies gelees het, het ek sterk daaroor gevoel dat ons dit justice moet doen. So ons het almal nogal baklei daarvoor, of dit nou vir ’n bietjie meer geld, of moeite en tyd was. Ek dink almal wat betrokke was, het net gevoel ons kan nie kortpaaie vat met hierdie een nie. Dít kom alles van Jaco af, want hy vat nie kortpaaie nie. Sy werk het altyd ’n Europese gevoel, veral in terme van die gevoel wat die kinematograwe moet skep. Hy push almal om altyd net so ’n bietjie beter te wees en al het jy dan die beperkings van geld of tyd, dwing dit jou om slimmer te dink. Binne sekere beperkings, word daar kreatiwiteit gekweek. As dinge te maklik is, het jy eintlik al die stryd verloor.”
Rolanda Marais oor hoe ‘Die nuusmakers’ haar siening van joernaliste verander het: ‘Absolute waardering vir hul werk’
“(Joernalistiek) is soos acting. Jy’s gebore om dit te doen. Jy moet dit doen anders is jy nie gelukkig met jouself nie. En baie selde word jy betaal wat jy verdien. Jy moet ’n absolute passie daarvoor hê.”
Khadija Heeger: Die vele gesigte van ’n matriarg
Jy hoef nie geboorte te gee om ’n ma vir iemand te wees nie. Daar is mense wat op soveel maniere mother – in vriendskappe, in werksplekke en in gemeenskappe. My geskiedenis het vir my ’n ander perspektief van moederskap gegee.
Van Leeroy in ‘Arendsvlei’ tot dr. Joe in ‘Binnelanders’: Roberto Kyle se nuwe hoofstuk in die stad van Goud
Elke karakter wat ek vertolk, is gegrond in iemand wat ek ken – ’n oom, ’n tannie of iemand uit my gemeenskap. Representation maak saak, en dit is hoe ek ’n stem gee aan dié wat nie die geleenthede gehad het wat ons vandag het nie.