Ná hy sy hart en siel in Arendsvlei geploeg het as akteur, dialoogafrigter en later regisseur, het Roberto Kyle homself by ’n kruispad bevind.
Dié storieverteller was uitgeput deur die intensiteit van sy jare op dié baanbrekende kykNET&kie-telenovela. Ná al die jare wat hy sy karakter, Leeroy, se reis help vorm het, was hy gereed om die pause-knoppie te druk. Maar wat toe gebeur het, was egter nie ’n blaaskans nie – dit was ’n deurbraak.

“Ek was in daardie stadium so geestelik en fisiek moeg,” sê Roberto oor sy laaste Arendsvlei-hoofstuk. “Ek het gedink ek sal dalk die land moet verlaat, miskien ’n blaaskans in Kanada neem. Maar soos die Here, of die universe, dit wou hê, het Kanada na my toe gekom met die verfilming van Clickbait: Unfollowed (’n fliek van die internasionale stroomdiens, Tubi).”
Dís tipies van hoe Roberto sy lewe en loopbaan met doelgerigtheid, gebed en geloof benader. “Elke groot mylpaal wat ek al behaal het, veral in my loopbaan, het presies gebeur soos wat ek daarvoor gebid het,” verduidelik hy.
“Met Binnelanders het ek gebid dat as ek ooit van Arendsvlei wegbeweeg, dit vir die regte rol, op die regte show sou wees.”
En dit is presies wat gebeur het. Toe die gordyn op Arendsvlei sak, was Roberto reeds in gesprek met die Binnelanders-span, en kort daarna het hy die rol van dr. Joe Olivier losgeslaan.
Regte rol, regte show
Die trek van Kaapstad na Johannesburg, en van een geliefde karakter na ’n ander, was g’n klein taak nie. Maar vir Roberto was dit ’n roeping. “Ek het geweet as ek ooit na Joburg sou trek, sou dit vir die regte rol wees,” benadruk hy.
“Ek was nie noodwendig op soek na ’n karakter wat die teenoorgestelde van Leeroy is nie. Ek wou net hê dit moes groter wees as wat ek al gedoen het en ek voel dit was die regte skuif.”
Roberto het sy lewe in tasse gepak en Milnerton se seelug en Tafelberg-uitsig verruil vir die pers jakarandabome en donderende energie van die Stad van Goud.
“Ek moes gewoond raak aan die intense donderstorms,” lag hy. “Maar Johannesburg se skoonheid slaan steeds my asem weg.”
Goed geoliede masjien
Om by die ikoniese Stark Studios (waar Binnelanders geskiet word) te werk, is beide ’n voorreg en ’n groot aanpassing, voeg hy by. “Binnelanders is ‘n goed geoliede masjien. Die standaard is ongelooflik hoog en die pas is vinnig, maar ek geniet dit baie.”
As iemand wat uit die wêreld van telenovelas kom, moes Roberto aanpas by die tegniese verskille van ’n sepie. “Met telenovelas het jy meer ruimte – jy werk op verskillende locations en jy kan meer asem tussen tonele skep,” sê hy. “Sepies word meestal op vaste stelle geskiet, wat dit ’n baie gestruktureerde omgewing maak.”
Elke karakter wat ek vertolk, is gegrond in iemand wat ek ken – ’n oom, ’n tannie of iemand uit my gemeenskap. Representation maak saak, en dit is hoe ek ’n stem gee aan dié wat nie die geleenthede gehad het wat ons vandag het nie.
Roberto Kyle
Nog ’n aanpassing was die hantering van draaiboeke. “In ’n telenovela het jy dikwels ’n bietjie meer vryheid om ’n woord of sin te verander sodat dit by die karakter pas. Maar in sepies moet jy strenger wees, nie omdat hulle nie wil hê die woorde moet verander nie, maar omdat soveel mense op daardie spesifieke woord staatmaak om hul werk te kan doen. Een verandering in die teks kan die tydsberekening van ’n cue of kamera-hoek heeltemal uitgooi.”
‘Regtig, Joe?!’
Roberto is dankbaar vir die kreatiewe vryheid wat Binnelanders vir hom met sy karakter gegee het. “Hulle het my met Joe vertrou. Ek kon voorstelle maak vir dialoogaanpassings op grond van dialek of karakter,” sê hy.

“As ’n bruin man wou ek hê Joe moes outentiek klink, nie te Kaapstad nie, nie te Joburg nie, maar ’n goeie mengsel wat baie van ons verteenwoordig. Joe is so ’n genuine ou. Hy gee baie om vir die mense om hom, soms tot sy eie nadeel. Ek is lief vir hom, maar soms wil ek hom net skud en sê, ‘Regtig, Joe?!’”
Egtheid was nog altyd die hartklop van Roberto se werk. Of hy nou ’n queer tiener vertolk wat worstel met identiteit soos in Arendsvlei, of ’n jong dokter met ’n omgeehart in Binnelanders, Roberto poog altyd om die mense wat hom gevorm het, te eer.
“Elke karakter wat ek vertolk, is gegrond in iemand wat ek ken – ’n oom, ’n tannie of iemand uit my gemeenskap. Representation maak saak, en dit is hoe ek ’n stem gee aan dié wat nie die geleenthede gehad het wat ons vandag het nie.”
Die regte mense
Op 32 meen Roberto die kring mense om hom het kleiner, tog sterker geword. “Die groep wat ek naby hou, is baie tight. Ek twyfel nooit aan hul bedoelings, hul ondersteuning of hul gebede vir my nie. En ek’s baie dankbaar daarvoor.”
Hy bly diep verbind aan sy familie en Kaapse wortels, maar het betekenis in Gauteng se nuwe pas gevind. “Ek mis natuurlik die huis en my mense, maar ek het ’n goeie ritme hier in Joburg gevind. En die verhoudings wat ek met kollegas opgebou het, het die oorgang soveel makliker gemaak.”
Akteur, regisseur… storieverteller
Al is sy fokus nou stewig op sy toneelspel in Binnelanders, is Roberto nog lank nie klaar met regie nie. “Mense vra my altyd of ek nou ’n regisseur of ’n akteur is. My antwoord is eenvoudig: ek is ’n storieverteller. Of ek nou agter die skerms, op die verhoog, of voor die kamera is – as ek ’n storie kan vertel, leef ek my droom uit.”
En vir Roberto is geloof die lig op sy pad. “Om geestelik in lyn te wees, help my om my keuses te navigeer,” sê hy. “As dit die regte skuif op die regte tyd is, sal dit vir my gebeur.”
Soos hy die volgende fase van sy reis betree, is Roberto Kyle meer as gereed om alle geleenthede en uitdagings aan te pak.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Episodes van die vorige seisoen van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 22:00 op kykNET&kie. (DStv-kanaal 145) uitgesaai, met herhalings van dié episode om 01:00 die volgende dag. Daar is ook ’n omnibus van die week se episodes op ’n Saterdag om 10:30.
Seisoene 8-13 van Binnelanders is op Showmax beskikbaar. Die huidige seisoen is nie beskikbaar op die plaaslike weergawe van dié diens nie.