Daar’s Zelda in Diepe Waters, die slinkse Nazeem en sjarmante Ian October in Suidooster, die harde At Koster in Binnelanders, die manipulerende Rachel in Arendsvlei, en natuurlik die groot madam van boosheid self; Wendy, of Ingrid, soos ons haar later leer ken het, in Arendsvlei. Maar sedert Skemergrond in Julie 2024 begin het, is daar ’n nuwe naam wat opkom as ons van sepieskurke praat: Christine. Of soos die aktrise Devonecia Swartz haar noem, “Stienie – maar moenie dit vir haar sê nie!”
Christine het die Louws sedert episode een in haar kloue. Haar planne is soos goed-geoliede masjiene vol fyn ingestelde ratte, maar ongelukkig vir haar, haak daardie ratte net nooit heeltemal vas nie. Ten spyte daarvan, is sy een van daardie karakters wat jy nie kan ignoreer nie. Sy is kompleks, met emosionele trauma, en haar sogenaamde soeke na geregtigheid neig meer na ’n blatante wraaktog soos haar slinkse planne, leuens en afpersing keer op keer gestalte neem.
Van Eva na Christine
Dit is juis danksy Devonecia se meesterlike vertolking dat Christine ons vasgenael hou. Vir dié wat haar as die sagte Eva in Arendsvlei leer ken het, was die transformasie van die een na die ander karakter skouspelagtig. Maar tog, sê Devonecia, lê daar diep menslikheid aan die kern van beide karakters. “Eva en Christine, albei vroue wat deur trauma gevorm is, het baie verskillende paaie geloop,” sê sy.
“Eva het ten minste geweet haar broer is daar vir haar, sy het hoop geken. Christine het nooit daardie sekerheid gehad nie. En sonder hoop, het sy leer vertrou op iets anders soos wraak en vergelding.”
Droomrol
Christine is Devonecia se droomrol én haar “groot frustrasie” soos sy laggend erken. Tog is dit juis die kompleksiteit wat haar so aantreklik maak vir ’n aktrise. “Ek het doelbewus nie ander aktrises dopgehou toe ek haar moes bou nie. Ek wou hê die teks moes haar vorm. Maar natuurlik is ek sterk beïnvloed deur groot karakters soos Wendy Newman (Rehane Abrahams, Arendsvlei), Gita McGregor (Jo da Silva, 7de Laan), Cherel de Villiers (Michelle Botes, Isidingo), en Sandra Stutterheim (Heléne Lombard, 7de Laan). Mary-Anne Barlow se Felicity in Legacy was egter vir my die absolute hoogtepunt; ’n meesterklas!”
Sy besef dat kykers soms net die “witch” sien, maar vir haar is Christine veel meer. “Christine word gedryf deur onvergewensgesindheid en ’n gevoel van onreg. Sy wil regmaak wat verkeerd is, maar sy weet nie hoe om te vergewe nie. Dís vir haar ’n teken van swakheid.” En dis daardie binnewerking van die karakter wat Devonecia self ook diep geraak het. “Sy het my soveel van myself geleer. En boonop het sy die stylvolste klerekas!”

Haar gunsteling-toneel tot dusver was ’n lang toneel tussen Christine en haar ma Sonja (vertolk deur Lee-Ann van Rooi). “Om teenoor Lee-Ann van Rooi te speel, was ’n droom wat waar geword het.”
En die ikoniese lag van Christine? “Dis oorspronklik van ’n sneeukoningin-karakter af wat ek in my eerste kinderteaterstuk op universiteit gespeel het. Ek het juis die rol gekry omdat ek so uitspattig kon lag. Ek het nie geweet dis nou ’n ding nie!” sê sy laggend.
Wat wag nog vir die Louws in Christine se kruisvuur? Devonecia gee net een woord: “Woes!”
Ons kyk terug na vyf keer wat Christine jag op die Louws gemaak het:
Die affair met Ronnie
Toe Christine vir Dr. Ronnie (Mario Haupt) met haar slinkse flirting lok, het kerk-anties regoor die land voor hul TV’s geskree. En ek ook! Hoe kon ’n gerespekteerde gemeenskapsdokter so maklik vir Christine se mooi woorde en vals trane val? Gelukkig het Hazel (Carmen Maarman) en Ronnie se liefde alles oorwin – ironies genoeg, het Christine hulle nader aan mekaar gebring.
Die video van Jasmine en JP
Net toe die Louws begin herstel van Jasmine se kopbesering ná ’n ongeluk, lek Christine ’n skokkende video waarin JP (Charlton George) vir Jasmine so hard stoot dat sy val en beseer word. Dit was die begin van ’n afpersingsveldtog en ’n emosionele oorlog tussen Christine en die Louws.
Die kontraklokval
Christine het voorgegee sy wil help, maar in die fynskrif van die kontrak het sy ’n klousule ingesit wat haar die plaas sou gee as die Louws selfs net een maand laat betaal. Sy het herhaaldelik probeer om hulle te kniehalter, maar hierdie familie is sterker as wat sy dink. Met onkruid en kana (letterlik en figuurlik!) het hulle haar planne laat val.
Hazel se biologiese pa
Toe finansiële afpersing nie meer werk nie, gooi Christine ’n bom! Hazel is nie JP se kind nie, maar die liefdeskind van Jasmine en Christine se oorlede pa, Hendrick. Hazel was verpletter, maar die familie het weer hul bande versterk en haar met liefde omring.
Lily se trauma en Amber se pyn
Christine se grootste aanval kom toe sy onthul het dat Lily (Hildegardt Whites) jare gelede deur haar pa se beste vriend, Oom Abel (Noel Oostendorp), verkrag is, en dat Amber (Talia Davis) die kind van daardie geweld is. Amber se wêreld stort in duie, en vir ’n oomblik lyk dit of Christine wen. Maar die waarheid het weer haar mag laat verloor toe liefde en vergifnis die Louws sterker gemaak het.
Wat lê voor?
Christine het nou ontdek dat haar pa vir haar ’n stukkie van Everlasting gelos het, maar haar ma erf alles. Die vraag is nou… Hoe ver sal Christine gaan vir haar deel? En sal daardie begeerte haar uiteindelik breek, of sal dit haar finaal as een van ons mees ikoniese TV-skurke vestig?
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.