Menu terloops
In Recaps & Resensies [3 Jun 2025]

‘Die nuusmakers’: ’n Besielende blik op menslikheid


‘Die nuusmakers’, kykNET se nuwe Afrikaanse dramareeks, is ’n imponerende fiktiewe blik op die wêreld van plaaslike TV-nuusskepping wat met haas versmorende nabyskote, sekure tydsberekening, en ’n rolverdeling wat voluit speel, ’n dimensie van vergete menslikheid verlig. 

Deur Rozanne Els

Kyk nou

‘Die nuusmakers’: ’n Besielende blik op menslikheid

Tydens ’n stelbesoek vroeër vanjaar, klink daar naderhand ’n refrein op soos die een na die ander akteur vertel hoe hulle nooit besef het hoe swaar die halssnoer van objektiwiteit om die nek van ’n joernalis lê nie. Dat die emosielose stemtoon en gesigsuitdrukking nie ’n teken van gevoelloosheid is nie; eerder ’n vereiste vir hulle om nuus – goed of sleg – aan die gehoor weer te gee. Dat die ervaring van daardie nuus vir ’n wyle in stasis in jou liggaam dobber; jou innerlikheid in stilswye totdat ‘cut!’ uitgeroep word. Totdat die koerant sak. Totdat dit tyd is vir die weer. Totdat jy in jou kar klim. Totdat jy by die huis kom. Soms, om eerlik te wees, voel dit effens kens. Is jy dan nou twee mense? Of net twee helfdes wat nooit regtig gelyk heel mag wees nie?

Die eerste paar episodes van Die nuusmakers (daar is drie vir dié resensie beskikbaar gestel) klim in dié tweestryd in. Eintlik – reeds in die eerste paar minute van die loodsepisode word die praktiese en emosionele implikasies van dié verwagtinge klinkklaar as die nuusleser Adri Joubert se wêreld tydens die regstreekse nuusbulletin in duie stort. Maar, as die brug tussen haar kollega, Karla, se verslaggewing direk van ’n ongelukstoneel af en die nuuskyker, klou Adri aan die onverbiddellike begrensing van haar rooi lipstiffie, die kamera, die ligte, die regisseur in haar oor, die verantwoordelikheid teenoor die kyker. 

Die nuusmakers eerste blik
Rolanda Marais as die nuusleser Adri Joubert. Foto: Verskaf

Rolanda Marais se Adri is met nuans voortgebring; in haar spel heers daar deurgaans ’n intimiteit waarvan die tekstuur verander soos sy deur haar eie fases van rou en menswees beweeg. Mak en gemaklik móét eenvoudig plekmaak vir vuur en yster, maar, genadiglik, speel Marais vir Adri so meervlakkig as kan kom. As wat eg en werklik is. Dis ’n rol wat baie vereis: sy is in bykans elke toneel en selfs in die agtergrond kleur sy tot in die hoeke in. Boonop ry sy – storiegewys – wipplank.

Dié drama, met regie deur Recipes for Love and Murder se Karen Jeynes en Marvin-Lee Beukes (Kelders van Geheime), is ryk aan raaisels. Só kry kykers eintlik nog insig oor wat dit verg om ’n verslaggewer te wees. Daar’s baie hurry up and wait. Baie delf, baie vrae, baie navorsing, baie speurwerk, baie jag, baie doodloopstrate en nuwe leidrade. En dís lank voordat jy woorde of beelde aanmekaar begin sit. As sulks is Die nuusmakers ook ryk aan storie. Dis te danke aan ’n lot skrywers, gelei deur Jeynes en wat die talente van onder andere Ludwig Binge, Jozua Malherbe en Hélène Truter insluit, wat uit ’n vol kruik van ervaring en verbeelding tap. 

Die storielyne skep ruimte vir karakters om – hoe groot of klein hul rol – indruk te maak terwyl Marais as boeiende anker die spil bly waarom hul vertolkings draai. 

Nuusmakers
Brendan Daniels in Die nuusmakers. Foto: Verskaf

As Johan, Adri se jare lange vriend en baas by die nuuskanaal Almal Afrikaans en die Nuus om 7-bulletin, is Brendan Daniels die held wat elke joernalis wat al “herstrukturering” van die nuuskantoor moes deurgaan (who are we even kidding, dis elke liewe een van ons) voor wens. Met die aankoms van Melanie (Lea Vivier), ’n sakekonsultant wat die lewensvatbaarheid van die kanaal ondersoek, word die bloeddruk opgejaag, soos sy, glimlaggend en met die soetste stem, om haar “werkerbytjies” zoem. Net ’n idioot sal nie besef daai gemanikuurde naels is nie vlymskerp geslyp nie. 

En Johan is nie ’n idioot nie. Die dinamiek tussen dié twee sou ’n mens veronderstel om erg antagonisties te wees. Tog kom die noodwendige konflik tussen hulle effe mak oor. Daar is dus hopelik meer – en dalk onverwagte – evolusie in dié verhouding om oor die loop van die seisoen uit te speel – veral omdat Lea haar Melanie met ’n presiesheid speel wat elke wenkbrou-lig en mondtrek betekenis gee. 

DIE NUUSMAKERS
Met die aankoms van Melanie (Lea Vivier), ’n sakekonsultant wat die lewensvatbaarheid van die kanaal ondersoek, word die bloeddruk opgejaag. Foto: Verskaf

Die storie kry nog ’n laag met die toetrede van die ambisieuse Kyle, ’n jonger joernalis wat sy merk as aanbieder wil maak. Arno Greeff gee vir Kyle net die regte hoeveelheid schmooze om hom ’n likeable unlikeable-antagonis te maak. Die verskille tussen sy “nuwe” generasie ideale as joernalis staan in skrille kontras met dié van Johan en Adri, wat albei steeds sterk aan joernalistieke waardes soos waarheid, onpartydigheid en gelykheid klou terwyl Kyle sy glimlag in die spieël oefen.

DIE NUUSMAKERS
Die storie kry nog ’n laag met die toetrede van die ambisieuse Kyle (Arno Greeff), ’n jonger joernalis wat sy merk as aanbieder wil maak.

Sy karakter is ’n gedrewe aanhitser van etlike van die storie se veelvuldige temas – ook wat die sosiale “aanvaarbaarheid” van vroue soos hulle ouer word, veral ten opsigte van hul voorkoms, betref. Adri is nie onbewus van Kyle se ambisie nie – en ook nie van haar vervangbaarheid bloot omdat sy plooie het nie. Haar tyd in die grimeerstoel is dikwels meer van ’n gepaai deur haar grimeerkunstenaar, Erica (Martelize Kolver), wat haar sus met banaliteite oor haar steeds jeugdige voorkoms. 

’n Mens kan wraggies boekdele skryf oor die res van die rolverdeling – daar is werklik wonderlike spelers en spel – maar vir Roeline Daneel moet ’n mens uitsonder. As Karla, ’n veldverslaggewer wat alles in haar werk inploeg, is die ommeswaai weg van die tipe rolle waarin ons haar leer ken het, ’n heerlike hoogtepunt. Dis die kleinste van klein goedjies wat van Karla Karla maak, ’n vrou lief vir oogrolle en sarkasme, min bang, en geen tyd vir luiaards of lafaards nie. Daar skuil ’n veelvlakkigheid agter haar gepantserde houding. Tussen Karla en Adri is daar belangrike tematiese tydigheid vir veral werkende vroue; só ontsluit die skrywers legio maniere waarop vroue-kykers kan aanklank vind. 

Die nuusmakers
Roeline Daneel moet vir haar spel as Karla uitgesonder word. Foto: Verskaf

Die oorspronklike musiek deur Edward George King is opsigself ’n karakter. Nooit allesoorheersend nie, maar wel altyd teenwoordig as ’n nougesette en verrykende emosionele pasaangeër.

Een van die skeppers se slimste strategiese skuiwe was om Die nuusmakers nie as ’n plaaslike weergawe van meesterskepper Aaron Sorkin se The Newsroom of die Jennifer Aniston-geleide drama The Morning Show te benader nie. Vir eersgenoemde sou ’n sterker, swaarder teks, met deurgaanse, bewuste kommentaar, hetsy polities, sosiaal of andersyds, nodig wees. Een met grensverskuiwende monoloë wat ruimte skep vir die joernalistieke siel om asem te haal midde die onverbiddelikke vereiste om tog net “objektief” te bly. En dít terwyl die wêreld om jou afbrand. En vir laasgenoemde sou die kil korporatiewe speletjies sonder eufemistiese dubbelsinnigheid, en sonder aanhef gespeel moes word. Die nuusmakers se eerste drie episodes neig meer na daardie binnenshuise vertelling; ’n agter-die-skerms-blik op hoe die nuusbulletin op jou TV geknip en plak word, binne die konteks van die mediabedryf se volgehoue inkrimping.

Oorhoofs, in die groter prentjie, is die reeks, of minstens sy eerste episodes, eerder ’n benadering tot die feilbare fasette van menslikheid. ’n Onverwagse besielende een.


Die nuusmakers saai Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies