Menu terloops
In Lysie-lysie [5 Sep 2025]

‘Suidooster’: 10 mans oor 10 jaar… Nou lui die trouklokke vir Bianca!


Dit lyk asof die ‘Suidooster-karakter’ wie se hart al die meeste gebreek is –  jip, dis Bianca (Simone Biscomb) – uiteindelik haar gelukkige einde gaan kry nadat Siya (Gantane Kusch) haar gevra het om te trou. Maar dit was ’n lang, tranerige, pad tot hier, jong!

‘Suidooster’: 10 mans oor 10 jaar… Nou lui die trouklokke vir Bianca!

Suidooster se Bianca (Simone Biscomb) het ’n slegte geskiedenis as dit by haar liefdeslewe kom. Sedert Suidooster in 2015 begin het, is haar hart al deur tien mans gebreek. Maar haar geluk het oënskynlik uiteindelik gedraai, want Siya (Gantane Kusch) het haar gevra om te trou!

Volgens Simone het die mans in Bianca se lewe nie altyd gesien wat hulle in Bianca het nie, want sy het haarself nooit eerste in ’n verhouding gestel nie. 

“Sy voel ondergeskik in ’n verhouding en omdat sy ’n aangenome kind is, voel sy dalk altyd ’n bietjie soos ’n buitestaander,” vertel sy vir Terloops. “Boonop het haar aanneemouers haar in watte toegedraai om haar teen die seer van die lewe te beskerm, min wetende dat dit haar sou benadeel wat verhoudings betref.”

By vanjaar se Suidooster Stormsterk-konsert by die Suidoosterfees, is onthul dat Bianca nog iewers hierdie jaar wel die liefde van haar lewe gaan vind en met een van haar ekse gaan trou. Daar is gesinspeel dat dit Riaan, Siya of Aiden gaan wees, maar nou weet ons uiteindelik dat sy die toekomstige mev. Thuli gaan wees. 

Hier is ’n terugblik van Bianca se (mislukte) verhoudings:

1

Derick (Gregory Kriek)

Suidooster, Bianca liefde

Bianca se eerste verhoudingstorielyn was met Derick. Hy was ’n psigopaat wat sy eie ma vermoor het en toe Bianca begin snuf in die neus kry, het hy haar ook van kant probeer maak. 

2

Stefan (Gideon Lombard)

Stefan, wat Oos Wes se sjef en eienaar was, en Bianca het ’n kortstondige fling gehad. ’n Aand van passie het ’n onbeplande swangerskap tot gevolg gehad en Stella is gebore. 

3

Jerome (Danny Ross)

Suidooster, Bianca liefde

Bianca en Jerome se verhouding was ’n onverwagse wending in die sepie want dié twee het soos dag en nag verskil. Dit het tog gelyk of hulle dalk hierdie verhouding gaan maak werk, maar dit het op ’n hartseer noot geëindig met Jerome se dood aan ’n aneurisme. Dit was weens die inwendige beserings wat hy opgedoen het in ’n motorongeluk wat amper ook Mymoena (Jill Levenberg) se lewe geëis het. 

4

Lloyd (Ruben Engel)

Suidooster, Bianca liefde

Ná Jerome se dood het Bianca deur ’n baie traumatiese tyd gegaan. Nie net was sy in pyn oor die verlies van die liefde van haar lewe nie, maar sy was ook ’n nuwe ma. Sy was dus kwesbaar vir die sjarmante en aantreklike Lloyd. Hy het haar weer soos ’n prinses laat voel. Maar hy het egter ’n donker kant as dwelmverslaafde gehad en voor kykers hul oë kon uitvee, was Bianca aan pille verslaaf. 

5

Siya (Gantane Kusch)

Suidooster, Bianca liefde

Siya het vir Bianca in haar stryd teen haar verslawing ondersteun. Dít het uiteindelik op ’n romanse vir die twee uitgeloop. Hy het egter aan sy gevoelens vir haar begin twyfel – veral toe dit blyk dat Danni (Vashti Prins) eintlik die een is wat sy hart laat warm klop en hy Bianca met haar verneuk het. 

Maar daar het intussen baie water in die see geloop. Siya en Danni is uitmekaar en hy en Bianca het mekaar weer vroeër vanjaar gevind. En nou… trouklokke!

6

Lukas (Louw Venter)

Lukas was ’n doodgoeie middeljarige man wie se huwelik op die rotse was. Sy lewe het om sy seuntjie, wat saam met Stella op skool was, gedraai. Hy en Bianca was beide enkelouers wat baie seer in vorige verhoudings gekry het. Sy vervreemde vrou, Robin (Vicky Davis), het egter alles in haar vermoë gedoen om hul liefdespad vol duwweltjies te saai. Dit het tot gevolg gehad dat Lucas en Bianca se paaie moes skei. 

7

Dirk (Evan Hengst) 

Suidooster, Bianca liefde

Die mees omstrede verhouding wat Bianca gehad het, was met Dirk. Nie net was sy wrede ma, Esther (Marion Holm), by orgaanhandel betrokke nie, maar Dirk het boonop vir Bianca in opdrag van sy ma gyselaar gehou. Ná baie water in die see geloop het, het hulle egter op mekaar verlief geraak. Dit was ’n verrassende wending toe hulle besluit om oor die tou te trap. Voordat hulle tydens hul troue vir mekaar die ja-woord kon gee, het ’n sluipmoordenaar amok gesaai en per ongeluk vir AB (Cedwyn Joel) in plaas van Dirk doodgeskiet. 

8

Aiden (Theodore Jantjies) 

Met Aiden se aankoms in Ruiterbosch het dié oulike apteker gou Bianca se oog gevang. Aanvanklik het dit gelyk of hulle ’n perfekte paartjie sou maak, maar dit het weldra duidelik geword dat hulle nie heeltemal op dieselfde bladsy is nie. Aiden het oop kaarte met Bianca gespeel en erken dat hy nie haar gevoelens deel nie. 

9

Riaan (Daniel Coetzee)

Suidooster, Bianca liefde

Kate (Annelisa Weiland) se aantreklike seun, Riaan, was die volgende man wat Bianca se hart sou breek. Vir die tweede keer het ’n man se vervreemde vrou gesorg dat haar verhouding skipbreuk lei. Dit blyk toe dat Riaan al die tyd getroud was! Hoewel sy huwelik wel op die rotse was, het hy vir niemand daarvan vertel nie, want sy eks, Hanli (Celeste Loots), wou hom nie sy vryheid gun nie. Hy verneuk egter vir Bianca met Hanli. Dít het weer groot hartseer vir haar tot gevolg. 

10

Mason (Sean van Noordwyk)

Suidooster, Bianca liefde

Nog ’n ander glyjakkals wat Bianca se hart onlangs gebreek het, was die dokter Mason. Hy het gou Bianca se voete onder haar uitgeslaan, maar eintlik het hy ’n dubbele lewe gelei. Én hy is toe boonop al die tyd getroud. 


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies