In die 13de episode van die huidige reeks van kykNET se maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou, was die skoen aan die ander voet toe die boere hul gekose pasmaats se familie en vriende moes ontmoet. So ook het Rudi H, die boerbokboer van Windsorton, by Lizelle (57) gaan aanklop en haar mense ontmoet.
Rudi H was beïndruk met haar familie en vriende en het gesê hy sal baie graag weer verder wil kuier en meer van haar mense ontmoet. En ook vir Lizelle as “agtermekaar” beskryf.
Maar dinge het bietjie anders uitgedraai sedertdien.
Lizelle gesels
Die 57-jarige Bosvelder van daar iewers tussen Northam en Dwaalboom beskryf haarself as ’n introvert van nature. Sy het in 1992 haar man in Brits ontmoet en die twee het drie jaar later voor die kansel gestaan. Hy het ongelukkig in 2013 gesterf en sy moes enkelouer wees vir haar seun (toe 11) en dogter (toe in gr. 11).
In 2017 het sy weer iemand ontmoet, maar hul paaie het in 2019 geskei – en tot nou toe was daar nie weer iemand op die horison nie. 2019 was nie ’n maklike jaar vir Lizelle nie. Sy is met kanker gediagnoseer en moes chemoterapie ontvang. Vandag kan sy met dankbaarheid noem dat sy gesond en kankervry is.

Lizelle het ’n nasionale diploma in skoonheidstegnologie, en is die afgelope 23 jaar kniediep in die gasvryheidsbedryf. Die loopbaan het begin met hul gastehuis op die plaas, gevolg deur ’n paar jaar in Melville waar sy die familiegastehuis in 7de Laan (nie die sepie-laan nie!) bestuur het terwyl haar seun op laerskool was. Maar die Bosveld het geroep en dis waar sy die afgelope sewe jaar weer woel en werskaf.
Wat het jou gemotiveer om vir Boer soek ’n vrou in te skryf, en hoe het jou vriende en familie daarop reageer?
“Ek het op 10 November verlede jaar Rudi H se bekendstellingsvideo op YouTube gesien terwyl ek eintlik op soek was na nuus oor die vorige seisoen se deelnemers om uit te vind hoe dit met die boere en hul pasmaats gaan.
“Rudi H se uiterlike was vir my aantreklik en ek het emosionele aanklank gevind by sy woorde. Ek het gevoel ons het baie in gemeen: impulsief, familie is vir ons belangrik (dit sluit natuurlik die honde in) en hoe hy as enkelouer funksioneer. Sy stoute skaam glimlag was vir my die finale spyker in die kis.
“Ek dink dit was omstreeks 10:00 die aand toe ek my eerste brief aan hom begin skryf het. Toe kry ek koue voete… Op 15 November het ek wel ’n tweede brief geskryf en met spoed my pakkie bymekaar gekry. Dit was nogal stresvol want my pakkie het op die nippertjie by Boer soek ’n vrou aangekom.
“Dit was aanvanklik net my ma en my kinders wat hiervan geweet het. Ek het wel later vir my seun gesê ek neem nie meer deel nie, want my mense sukkel maar om dinge geheim te hou. My dogter het haar bedenkinge gehad oor die proses, nie oor Rudi H nie. Sy is baie beskermend teenoor my en het gevoel ek stel myself bloot op ’n openbare platform. As ek nou terugkyk, was die publiek se reaksie woes en wreed. Dank die Here ek weet wie ek is. Ek besef almal hou nie van almal nie. En alhoewel dit ’n werklikheidsreeks is, was die mense daarbuite baie geniepsig.”
Wat dink jy in jou brief wat jy aan Rudi geskryf het, het die deurslag gegee tot waar hy jou gekies het – eers vir die blitsafsprake en toe saam plaas toe? Het jy dit verwag?
“Ek het werklik nie gedink hy gaan my as een van sy top-10 kies nie, juis vanweë my ouderdom – ek is ’n maand ouer as hy. Volgens my verkies mans gewoonlik dames 10 tot 15 jaar jonger as hulself.

“Tydens die blitsafsprake by Doolhof [die wynlandgoed naby Kaapstad] het ek gevoel ek staan dalk ’n kans, maar ek aanvaar nooit iets as vanselfsprekend nie. Dit was vir my ’n skok toe hy sy drie gekies het vir die plaasbesoek. Ek het toe reeds gevoel daar was ’n konneksie tussen ons en dat ek ’n goeie kans sou staan. Maar ek het gedink hy sou eerder vir Joey en Marianne, of Ella, saam met my kies. Joey was vir my ’n definitiewe keuse – en ek het gedink sy sou sy finale keuse as pasmaat wees.
“Van my kant af het ek myself baie weerloos gelaat deur werklik eerlik te wees van die eerste brief af. Ek dink hy het my aanvaar omdat ek weet wie ek is, wat ek wil hê in ’n verhouding en waarna ek soek in ’n maat. En ook wat ek bereid is om te bied in ’n verhouding.
“Ek dink hy het ook aanklank gevind by die eensaamheid wat ek gemeld het en dat daar terselfdertyd die vrees is om jou onafhanklikheid op ons gevorderde ouderdom prys te gee.”
Dit het van meet af aan gelyk of jou emosies baie na aan die oppervlak leef – hoe het jy dit hanteer tydens jou tyd op Boer soek ’n vrou?
“Die aktiwiteite, onderhoude en my mede-pasmaats het emosioneel ’n groot impak op my gehad. Ek is baie sensitief rondom emosionele energie, hetsy positief of negatief, en my reaksie daarop is om óf te blom óf ’n kaktus te word.
“Ek huil wanneer ek aangedaan voel en ook wanneer ek iets besonders diep ervaar. Maar ek was deurentyd net myself – wat jy sien, is wat jy kry. Ek verkies harmonie en vrede want negatiwiteit krap my om. En as dit gebeur, funksioneer ek nie goed op emosionele vlak nie. Ek is ook nie ’n moeilikheidmaker nie en ek haat konfrontasie. Maar as jy lank genoeg aan my torring, verander ek in ’n kaktus. Ja, ek is maar ’n sielsmens.
“Daar was gemengde emosies en emosionele energie rondom ons van dag een af. My kamermaat is tydens die blitsafsprake uitgestem, en ek is ingestem… Dan was daar die situasie toe ons vyf saam met Rudi H gekuier het. Ek het vir hom ’n vraag gevra wat een van die ander potensiële pasmaats eintlik gesê het sy wou vra. Sy was baie ongelukkig daaroor.
“Tydens die wynproe het ek té sterk leiding geneem en dit het die vier dames ook verder omgekrap. Wel, ons is met wyn om ’n tafel geplaas sonder ’n sommelier om die wynproe te lei – en ek het ingespring.
“Ek ervaar net dinge ongelooflik intens en het baie empatie – emosies en trane lê maar vlak.”
Wat was vir jou die lekkerste, en ook die onaangenaamste, oomblik op Rudi se plaas?
“Vir my was die onaangenaamste oomblik die valse beskuldiging oor die kamer-episode. [Kykers sal onthou dat Paola in die sewende episode vir Lizelle daarvan beskuldig het dat sy haar die oggend uit Rudi H se kamer sien glip het.]
“Die lekkerste oomblik was elke aand se nagsoen…”
Steek daar enige waarheid daarin dat jy na bewering Rudi se video rondom 70 keer gekyk het?
“Nee, glad nie. Ek weet nie waar Ella aan 72 keer kom nie. Ek dink ek het dit duisende kere gekyk!”
Jy het Rudi aan jou binnesirkel en jou hart bekend gestel. Hoe het dit gevoel toe daar besluit is dat hy nie dieselfde konneksie met jou voel nie? Was julle op dieselfde bladsy daaroor?
“Natuurlik was daar teleurstelling, maar my hart is egter nie gebreek nie. As sielsmens het ek dit as verwerping ervaar, maar as geesmens weet ek dat God in beheer was. Ek was nie heeltemal op sý bladsy nie, maar ek het wel gevoel ons moes die vakansieweek saam doen en dan soos grootmense vir mekaar sê ons gaan nie die pad verder saam stap nie.
“Maar ek het wel sy besluit respekteer.” [In die 14de episode het Rudi H met Lenmarie opgedaag, iemand wat aanvanklik onder sy top-10 keuses was. Lees ook ons onderhoud met Lenmarie.]

Het jy enigiets nuuts van jouself geleer tydens Boer soek ’n vrou?
“Die grootste les wat ek geleer het, is dat my temperament se sterkste punte ook my swakste punte kan wees. En dat ek onwetend mense aanstoot kan gee. Per definisie is ek nou seker dat ek ’n chloriese temperament het.” [Chloriese temperament in kort: Prikkelbaar, doelgerig, kan maklik onredelike of oormatige woede ervaar.]
Het jy enige boodskap vir potensiële pasmaats wat vir die volgende seisoen gaan inskryf?
“Bid oor die saak voordat jy deelneem. Jy moet bereid wees om jou lewe vir ’n rukkie op die agterplaat te sit. Jy moet weet wie jy is, waarna jy soek en wat jy iemand kan bied. Die proses is wat jy daarvan maak. Weet net, God weet die beste en as jy nie gekies word nie, dan is dit nie die Plan nie.
“Jou waarde as vrou word nie deur die boer bepaal nie en nog minder deur Facebook-kommentare van mense. Dit is wel ’n werklikheidsreeks, maar maak seker jy het pret en wees ook maar ’n bietjie tong-in-die-kies by tye. Dit kan dalk jou feëverhaal word, alhoewel ek dink dis onwaarskynlik.”
Gaan jy opgee om liefde te soek of is daar reeds iemand wat ’n vonkel in jou oë bring?
“Ek het reeds iemand wat vir ’n vonkel in my oë sorg. Sy naam is Markus de Beer en hy is nou al amper ses maande oud. Dis my kleinseun en ek het so baie, baie liefde vir hom. Sonder grappies, ek gaan nie verder soek nie. Ek dink my sielsmaat is al oorlede.”
Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.