Reënboogrant is geïnspireer deur Louise van Niekerk se topverkoperboeke vir jong volwassenes wat in die negentigerjare gepubliseer is. Dié tienerreeks, wat vandeesweek met twee episodes op Showmax première het, speel in Tshwane af en draai om die Brink-gesin. Minke Marais en Mila de Villiers (Wyfie) vertolk die graad 10-susters Shani en Sunette, met Paul Strydom (Spooksoeker) as hul ouer broer, Dolf, ’n matriekleerder en die skool se hoofseun.
Diepe Waters se Righard van Jaarsveld en Johnny Potsanyane tel ook onder die tienerspelers. Die Safta- en Silwerskerm-wenner Desiré Gardner (Magda Louw) is die hoofskrywer, met André Velts aan die hoof van die regiespan en Sonvelt Media as vervaardigers.
Minke vertel dat dit die storie se universele aanslag is wat haar veral meevoer. “Wat my opgewonde maak, is hoe dié storie ’n klomp verskillende generasies dien. Mense van my ma se ouderdom het destyds die boeke gelees en liefgehad, maar só ook het ek ’n vriendin wat die boeke gelees het, en haar jonger suster het ook die boeke gelees. Dit maak my opgewonde om te weet dit is ’n storie wat baie mense reeds liefhet, met karakters wat sommige mense al vir baie lank volg. Dit is besonders lekker om te kan sê ons is nou die gesigte van hierdie geliefde storie,” sê Minke.
Ontmoet vir Shani
“Ek en André (Velts, regisseur) het al voorheen saamgewerk, en dís in daai tyd wat hy my van Reënboogrant vertel het, en gesê het hy dink daar is ’n rol vir my,” vertel Minke oor hoe haar reis as Shani begin het. “Ek het aanvanklik nie veel van haar geweet nie. Al wat hy gesê het is, ‘Sy’s blond’,” vertel sy laggend. Sedertdien het hulle al lang, lang gesprekke oor Shani gehad.
“Ek het so ’n karakterbybel waarin ek al my notas van al die tekste maak, en die eerste ding wat ek oor haar geskryf het, was, ‘Sy’s anders,’ vertel sy dan.
“Maar ek kan myself steeds heeltemal met haar vereenselwig. Die groot ding van haar, is dat sy ’n dromer is. Dis een van haar grootste eienskappe. Sy’s soos Sandra Prinsloo se karakter in Siener in die Suburbs, Tiemie. Tiemie het mos gesê, ‘Ek wil van geweet wees.’ En dít is 100% Shani se ding. Sy wil van geweet wees; sy wil groter wees; sy wil droom; sy wil dinge bereik in haar lewe eerder as om in Reënboogrant te bly. En dít is wat my tot die karakter gelok het, want ek is ook baie soos dit: ook ’n dromer, wil alles in my vermoë doen om my drome te bereik.”
Minke voeg by: “Die vraag wat ek altyd vir myself vra as ek in Shani ingaan of die tekste analiseer, is, ‘Tot watter uiterstes sal jy gaan om jou droom te bereik?’ Haar drome is die grootste drywer van Shani se besluite en optrede.
Oor hoe sy hoop kykers vir Shani sal ervaar, sê Minke dat hoewel sy hoop dat hulle van haar sal hou, is Shani ook onvoorspelbaar – soos mense maar is… “Sy doen dinge wat ’n mens nie aldag verstaan nie. ’n Mens dink jy ken vir Shani, maar dan doen sy iets… Dis deels omdat sy sulke reusagtige drome het, maar ook bloot omdat sy jonk is en sy dink nie noodwendig aan die gevolge van haar keuses nie. Sy weet nog nie noodwendig van die lelik van die wêreld nie,” sê sy.
Sy hoop dus dat kykers Shani se menslikheid, haar feilbaarheid, sal raaksien. En só ook haar onskuld. “Ek hoop mense sien dit in haar raak want ons almal maak maar foute en ek hoop kykers gee vir haar grasie.”
Terug skool toe
Sy het wel aanvanklik gesukkel om vatplek aan Shani te kry, deel Minke. “Maar ek het toe besef ek weet presies wie sy is, nie omdat ons noodwendig dieselfde ervarings gehad het nie, maar omdat ons almal deur hierdie spektrum van menslike emosies gaan. Ek was ook 16, ek het ook al hierdie vrae gehad en bietjie dom besluite gemaak en dom goed aangevang… Ons almal was al dáár.”

Om haarself weer as 16-jarige te verbeel was ook toe nie so moeilik nie, verklap sy. Sy was vinnig om haarself in haar herinneringe te verdiep. “Toe ek die skooluniform aantrek… Ek was ’n baie besige tiener op hoërskool gewees en ek onthou die gevoel van die baadjie en die skoolskoene. En toe ek daai eerste keer Shani se skoolskoene en baadjie aantrek en ek stap stel toe, het ek presies dieselfde gevoel as toe ek op hoërskool was,” vertel sy laggend. “Maar dis lekker. Dis opwindend om hierdie rolle te kan speel op die ouderdom van 23.”
Van mimiek tot drama
Dit was juis op hoërskool toe die toneelgogga gebyt het.
“Ek was verskriklik skaam as kind, so my ouers het my toe ingeskryf by ’n tipe selfvertroue-skool toe ek vyf jaar oud was,” vertel Minke. “Ek het al meer selfvertroue gekry. Ek het in laerskool met mimiek begin en dit tot in matriek gedoen! Mimiek was vir my verskriklik rustig, ek kon met net my gesig en bewegings speel. Ek dink dít was een van die grootste goed wat my tot die kunste gelok het.
“Maar in hoërskool het die toneelgogga regtig begin byt, want toe het ek vir die eerste keer van die ATKV-Tienertoneelkompetisie gehoor en daaraan begin deelneem. Fun fact: Ek het sommer my eerste soen op die toneelverhoog – tydens ’n oudisie in graad 10 – gehad. Gelukkig het ek toe die rol gekry! Maar die produksie het nie verder as die streeksfinaal van die ATKV gevorder nie, en my hart was gebreek. Dít was die eerste keer wat ek post-production blues gevoel het. Ek onthou my pa het nog voor een van die optredes gesê, ‘Minke, as jy nie op jou wiskunde-punte gaan fokus nie, gaan ek nou vir hulle se jy onttrek uit die produksie,’ en ek was verskrik!” onthou sy laggend.
“Ek wou net drama doen, net perform.”
Sy het toe later drama gaan swot, ’n agent gekry en klein rolle begin losslaan. En toe kom Mooiweer en warm en die film, Nuwejaar. Sy het ook verlede jaar aan ’n ander reeks saam met Sonvelt Media geskiet.
Eers vriende, nou ‘sussies’
Dit was tydens haar studentejare dat sy vir Mila ontmoet het en die twee het gou vriende geword. Iets wat Minke voel sterk in hul guns tel om die sustersband en -verhoudings tussen hul karakters geloofwaardig uit te beeld.
“Ek en Mila ken mekaar baie goed. Ek het haar dadelik gebel toe ek hoor ons het albei ons rolle gekry. En toe het ons besluit om tydens verfilming saam te bly omdat ons albei van die Kaap af moes kom. Ons het op universiteit ontmoet, en ek dink dit tel in ons guns dat ons mekaar so lank en goed ken. Daai chemie maak dat ons gemaklik met mekaar op skerm is,” verduidelik sy.

“Ons het ook baie gesels; ons is albei kletsers! Ons was veral aan die begin vir mekaar ’n klankbord,” voeg sy by.
Oor Shani en Sunette se verhouding sê Minke: “Alles in die lewe is maar oor verhoudings. Ek het ’n sussie van my eie, en daai mededingendheid tussen susters tree in sonder dat jy dit eens besef. Dieselfde met hul broer, Dolf, en jonger sussie, Marietjie. Daar word goed gesê soos, ‘Wie is die gunsteling?’, ‘Wie’s die mooiste?’, sulke goeters. Dit klink amper oppervlakkig, maar dis goed wat jy moet hanteer as jy sibbe het.
Waardevolle, wonderlike leerskool
Sy kan vir ure en ure en dae lank praat oor “hoe ongelooflik André is,” vertel sy oor haar ervaring op stel met dié gesoute en gesiene regisseur. “Hy het ’n buitengewone vermoë om sy regiestyl vir elke akteur aan te pas – hy ontmoet jou waar jy is.
“As ek voel ek moet ’n gesprek met hom hê oor hoekom my karakter iets doen, dan gaan hy daai gesprek met my hê. As jy eerder iemand is wat een woord as ’n nota nodig het, dan gaan hy dit vir jou gee. Hy weet presies hoe elke akteur werk en pas by elkeen se behoeftes aan. En ek het nog nooit iemand soos hy ontmoet nie; hy is so ongelooflik. Ek vertrou hom met my lewe. So as hy vir my sê dat hy gelukkig is met die skoot, dan wéét ek hy bedoel dit en ek is op my gemak.”
Reënboogrant is vir haar ook ’n uiters waardevolle leerskool, vertel Minke. “Ek het so baie geleer. Om altyd vrae te vra as ’n mens onseker is. Om nooit skaam te wees oor jou proses nie. Ek was vir baie lank skaam om te gaan, ‘Hierdie is my notas, is dit reg?’ Om risks te vat. Dít is die lekkerste deel en waar die beste skote van jou karakter uitkom, as jy kan speel in die oomblik. Dit is wat ek baie waardeer. Om die spasie gegun te word om iets te probeer al werk dit glad nie uit nie. Net om ’n kans te waag en te kyk wat kan gebeur…”
Dubbelepisodes van Reënboogrant word elke Woensdag tot en met 11 Junie 2025 op Showmax beskikbaar gestel. Rëenboogrant word ook vanaf Vrydag, 17 Januarie 2025, op kykNET (DStv-kanaal 101) en DStv Stream uitgesaai, maar met slegs een nuwe episode per week.