Menu terloops
In Lysie-lysie [8 Jan 2025]

Sepies in 2025: 7 storielyne wat ons vanjaar wil sien


Met ’n nuwe jaar wat voorlê, is daar die opwinding van vars drama, onverwagte kinkels, en onvergeetlike oomblikke wat in ons plaaslike sepies wag. Van liefdesdriehoeke tot onverwagte sterftes – die moontlikhede is legio! Tarren-Lee Habelgaarn het ’n wenslysie saamgestel van storielyne wat sy hoop vanjaar in ‘Suidooster’, ‘Binnelanders’, ‘Skemergrond’ en ‘Diepe Waters’ sal uitspeel.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies in 2025: 7 storielyne wat ons vanjaar wil sien

Ons plaaslike sepies vind altyd ’n manier om ons vasgenael voor ons skerms te hou en ek weet 2025 gaan geen uitsondering wees nie. Of dit nou karaktergroei is, families wat mekaar weer vind, of verrassende nuwe verhoudings – hier is my wenslysie van die storielyne wat ek hoop ons sepieskrywers vanjaar sal opdis.

1

Karma vir Christine 

Ons almal weet Christine (Devonecia Swartz) soek Everlasting, die blommeplaas in Skemergrond, met ’n seer hart. Soos met alle skurke in ons telenovelas weet ons teen dié tyd weet dat sy een of ander tyd sekerlik die plaas gaan kry. Goeie mense word mos altyd gestraf terwyl die skurke floreer…

Sepies, Skemergrond
Ons kan maar net hoop karma kom kry vir Christine (Devonecia Swartz) beet… Foto: Skermgreep

Wat vir my lekker sal wees, is as sy dan later met die een of ander seldsame genetiese siekte gediagnoseer word en dan die plaas moet teruggee om haar lewe te red. Aangesien haar enigste biologiese suster ’n Louw is, sal Christine ongelukkig diep in Hazel (Carmen Maarman) se oë moet kyk vir vergifnis en haar dan smeek om haar lewe te red. Hazel het al lankal nie ooghare vir Christine nie, so sy sal hierdie kinkel geniet en ek nog meer! As die staatmaker van die familie sal Hazel natuurlik eers vir Christine ’n dokument laat teken om te sê die plaas behoort nou weer aan die Louw-familie en dan sal sy seker instem om vir haar beenmurg of wat ook al dit is wat sy nodig het, te skenk. We can dream! 

2

‘Skemergrond’ á la ‘Law & Order’

Wat Beeno (Duncan Johnson) aan Gloria (Hunter Plaatjies) doen, is nie reg nie! Sy verdien haar gelukkige einde met ’n opregte gentleman soos Kevin (Gershwin Mias). Selfs goeie meisies en karakters doen dinge buite hul karakter wanneer hulle te veel gedruk word. Gloria is naby breekpunt en ek weet nie hoe dinge gaan uitwerk nie, maar ek hoop dat daar iewers in hierdie storielyn ’n epiese takedown is. Wie hou dan nie van ’n wraak-storielyn nie! Ek hoop dat Gloria vir Kevin in haar vertroue neem en dat dié twee dan saam met al die blommeverkopers en Ruan (Dann-Jaques Mouton) ’n groot undercover sting operation teen Beeno loods wat sy hele empire laat verkrummel. Hulle kan sommer daai slegte vriend van Gloria se broer ook vasvang. Sonder hom in die prentjie staan Gloria se familie ’n beter kans.

Sepies, Skemergrond
Ai, wat gaan van Gloria (Hunter Plaatjies) word? Foto: Skermgreep
3

Die volgende groot sepieliefde?

Daar is altyd soveel drama in Binnelanders en arme Uys (Gerald Steyn) is al bang dat hy alleen gaan oud word. Ek hoop dat Karen (Luandri Reynders) iewers sal terugkom en haar below deck yachty vir Uys sal los. Hul verhouding het kykers heeltemal onkant gevang, maar ek het bankvas agter hulle gestaan. Ek dink hierdie kon een van die groot sepie-liefdesverhale wees en ek is nog nie oor hierdie liefdesstorie nie. 

4

’n Dramatiese exit vir At en Gretha

Wie het nou gedink dat At (Hans Strydom) op sy oudag van skurk na kwesbare oupa sal verander! Wel, dit is wat die regte vrou aan ’n man kan doen. Al het hul huwelik as ’n cover-up begin, het Gretha (Rika Sennett) die sagter kant van At uitgebring. Nou haal hul sondes en tyd hulle in en lyk dit asof Gretha se tyd nie meer lank is nie. Enige iets kan in sepies gebeur, wie weet… dalk ontwikkel Ella (Marlee van der Merwe) en Rian (Erik Holm) ’n geneesmiddel wat Gretha se lewe red en hul albei miljoenêrs maak.

Sepies, Binnelanders
At (Hans Strydom) se skurk-hart is deur liefde vermurwe… Foto: Skermgreep

Maar as dít nie gebeur nie, sal dit so romanties wees om ons eie Notebook-storielyn te hê. Een waarin Gretha tog vir haar operasie gaan, maar dit werk nie en haar brein en geheue word wel aangetas soos wat sy gevrees het. Sy raak al hoe swakker met At aan haar sy en wanneer die einde kom, sterf hulle langs mekaar in die bed in hul privaatkamer in Binneland. In ’n emosionele toneel ontdek Conrad (Hykie Berg) sy pa en stiefma wat so stil in hul slaap, hand in hand, in hul geliefde Binneland gesterf het. Die hele hospitaal maak ’n erewag vir hulle, terwyl hulle saam op die bed deur die hospitaal se gange weggeneem word. 

5

Troue-tyd

Ek weet regtig nie meer of daar enige kinkels oor is vir Diepe Waters nie, want 2024 was darem ’n rowwe jaar vir dié klomp. Ek dink dit is tyd vir ’n bietjie goeie nuus in Boskruin. Ek dink dit sal lekker wees as Jacques (Werner Coetser) ná al sy hartseer en mislukte verhoudings met Theresa (Mandi Baard) trou. Boskruin het weer ’n troue nodig en nadat Anja (Reandi Grey) en Sanet (Nadia Valvekens) se troues toe nie plaasgevind het nie, is ons hoop op Theresa. Maar sy het nog ’n paar geheime wat moet uitkom… So dalk is 2025 eerder Zelda (Sandi Schultz) se jaar? Maar ek weet nie so mooi van haar en Gys (Justin Strydom) nie. Dit is net te goed om waar te wees – hierdie vrede laat my ongemaklik voel. 

Sepies, Diepe Waters
Is dit Zelda (Sandi Schultz) se beurt vir trouklokke? Foto: Skermgreep
6

Tweede kanse en wonderwerke

So gepraat van troues en gelukkige eindes, dit sal vir my ’n fees wees as Siya (Gantane Kusch) en Angie (Char Carrie) se verhouding uitwerk. Albei is diep seergemaak en het lank vir ’n tweede kans op geluk gewag. Hul troue sal vet pret wees en met dié dat enigiets in sepies moontlik is, kan daar dalk selfs ’n baba-Thuli in 2025 wees. Hul liefde kan dalk so kragtig wees dat dit Siya se liggaam genees en vir hul ’n wonderwerk-baba gee. 

7

Nuwe (bose) bloed

Nazeem (Irvine van der Merwe) en Bridgette (Denise Newman) se vendetta teen mekaar raak nou vervelig! Ons kort nuwe bloed in Suidooster en iemand wat Nazeem soos ’n engel laat lyk. Dalk iemand uit hul verlede, dalk iemand nuuts wat almal om die bos lei… Maar beslis iemand wat dinge in Ruiterbosch kom omdol en vir Nazeem laat bewe.

Suidooster, sepies
Suidooster kort ’n skurk wat Nazeem (Irvine van der Merwe) soos ’n engel laat lyk! Foto: Skermgreep

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies