Menu terloops
Editor's Pick of the Month
In Redakteurskeuse [1 Jan 2025]

Redakteurskeuse vir Januarie 2025


Wat om te kyk: Die briljante ‘Severance’ keer terug vir sy tweede uittog, ‘Die Byl’ se span maak weer jag op reeksmoordenaars, en die Wilde Weste is bloedbedrup in ‘American Primeval’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Januarie 2025

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Januarie 2025.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

The Day of the Jackal

Redakteurskeuse, Wat om te kyk
Eddie Redmayne as The Jackal. Foto: Showmax

Vanaf Maandag, 13 Januarie 2025 om 20:30, op Showmax beskikbaar om te stroom. 

The Day of the Jackal het reeds verlede jaar in Amerika en ander lande uitgesaai en so het dit dan op etlike “beste TV-reekse van 2024”-lyste beland. Veral Eddie Redmayne is vir sy meeslepende toneelspel uitgesonder met ’n konsensus onder talle resensente dat dié rillerreeks vir hulle aan die toprillers van ouds herinner.

Die Britse TV-verwerking van Frederick Forsyth se gelyknamige 1971-boek volg lank ná destydse filmpogings. Maar in televisieformaat is die storievertellers tien episodes gegun en kon hulle só dit in ’n hedendaagse konteks herverbeel. Die basiese premis is wel dieselfde – ’n kat-en-muis-speletjie soos ’n Britse intelligensiebeampte (Lashana Lynch)  jag maak op ’n sluipmoordenaar (Redmayne), slegs bekend as The Jackal. 

Die reeks is reeds vir ’n tweede seisoen hernu met Variety wat dit as ’n “asemnemende avontuur tot die laaste” bestempel. 

Die Byl S6

Weeklikse episodes vanaf Dinsdag, 14 Januarie 2025, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). 

In dié seisoen van die Afrikaanse misdaaddrama Die Byl is daar ’n genadelose moordmasjien wat vasberade is om vir Byl en sy speurderspan hel op aarde te gee. 

Byl (Waldemar Schultz) lei steeds die eenheid wat op reeksmoordernaars jag maak. Hy word ondersteun deur die speurders Juan (Marvin Lee Beukes) en Lena (Lika Berning), die regskenner Nicki (Milan Murray), en Jo (Amalia Uys), ’n voormalige sluipmoordenaar wat nou as wapenkenner ingespan word. Kapt. William Miller (Tyrone Keogh) is ’n profileerder, en dr. Anton Fourie (Marcel van Heerden) is ’n patoloog.

Daar is ook ’n paar nuwe karakters in dié seisoen. Eliaan Slee (Melissa Willering) is klein en tengerig maar hiperintelligent. Dr. Elize Opperman (Roeline Daneel) is ’n ambisieuse wetenskaplike. En Daniël Weyers (Sherman Pharo) is ’n oud-polisieman en dr. Opperman se handlanger.

Ander karakters wat weer deel van die intrige is, sluit in Benjamin Vlok (Danny Ross), die webontwikkelaar Stephen (Sean van Noordwyk) en kapt. Tarina Spies (Ronel Stander). Van die bekende gesigte in die nuwe seisoen is Melanie du Bois, Hannes van Wyk, en Antoinette Louw.

Severance S2

Vanaf Vrydag, 17 Januarie 2025, op Apple TV+ beskikbaar om te stroom. 

Net minder as drie jaar sedert die briljante wetenskapfiksiereeks, Severance, sy debuut op Apple TV+ gemaak het, keer dié bekroonde en geloofde storie terug vir ’n tweede seisoen. In Severance se eerste seisoen, wat 17 Emmy-benoemings ontvang het, het ons ’n groep werknemers aan ’n korporasie ontmoet wat tot ’n eksperimentele “severance”-prosedure ingestem het. Mark Scout (Adam Scott) is een van dié werkers wie se sogenaamde “werk-geheue” chirurgies van sy herinneringe van sy persoonlike lewe geskei is. In die tweede seisoen vind Mark en sy vriende meer uit oor die gevolge van rondspeel met dié versperring.

Severance se ryk tematiese (en visuele) aanbieding gryp jou aan die strot soos dit veel meer vrae opper as wat dit antwoorde bied. As kyker word jy dikwels vasgevang in die grysareas van moraliteit en konsepte soos vrye wil wat die storie uitbeeld. As ’n geheel is die reeks ’n besonderse thought experiment, met fantastiese toneelspel deur onder andere Scott, John Turturro, en Patricia Arquette, en regie deur Ben Stiller en Aoife McArdle. 

American Primeval

Redakteurskeuse
Preston Mota as Devin Rowell, Taylor Kitsch as Isaac, en Betty Gilpin as Sara Rowell in American Primeval. Foto: Matt Kennedy/Netflix

Netflix se nuwe Western-reeks wys ’n woeste, wrede en wilde Amerikaanse Weste in 1857. ’n Heel ander aanslag as Yellowstone en sy spin-offs. Dié reeks, bestaande uit ses episodes, se regie is deur een van my gunsteling-skeppers, Peter Berg (Friday Night Lights), met die draaiboek deur die The Revenant se Mark L. Smit. Onder die rolverdeling tel Taylor Kitsch (Painkiller, True Detective, Friday Night Lights) en Betty Gilpin (GLOW, Gaslit, Mrs. Davis). 

Gilpin vertolk Sara, ’n ma wat saam met haar jong seun haar man probeer opspoor. Maar die tog is verraderlik en bloedbedrup – vrou-alleen gaan sy dit nie maak nie. Maar dan kruis hul paaie met Isaac (Kitsch) wat onderneem om hulle veilig te hou soos hulle die Wilde Weste deurkruis. 

Elders: Ligtoringroete

Weeklikse episodes vanaf Maandag, 6 Januarie 2025, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream).

Die stapper en skrywer Erns Grundling keer terug na die kassie met die sewende seisoen van sy Safta-bekroonde leefstylreeks Elders. In die nuwe seisoen, Elders: Ligtoringroete, stap Erns die nuwe Ligtoringroete tussen die ikoniese ligtorings van Mosselbaai en Kaap Agulhas. Die roete is sowat 340 km lank. Erns en die span van Bonanza Films het sowat ’n maand op die roete spandeer en geskiet.

Nog voorstelle: 

On Call, vanaf 9 Januarie 2025 op Prime Video. Dié grinterige polisiedrama speel met ’n mengsel van beeldmateriaal (waaronder van bodycams en dash-cams) om die harde alledaagsheid van polisiebeamptes se werk uit te beeld. Die storie volg die veteraanbeampte, Traci Harmon (Troian Bellisario, Pretty Little Liars), soos sy haar nuwe rookie partner, Alex Diaz (Brandon Larracuente, The Good Doctor), probeer touwys maak. Ook in die rolverdeling tel Lori Loughlin (Fuller House) en Eriq La Salle (Chicago PD). 

Redakteurskeuse On Call Januarie 2025 Wat om te kyk
Troian Bellisario as Traci Harmon en Brandon Larracuente as Alex Diaz in On Call. Foto: Erin Simkin/Prime Video

Don’t Die: The Man Who Wants to Live Forever, vanaf 1 Januarie 2025 op Netflix. Dié bondige dokumentêre film (dit strek oor 88 minute) vertel oor Bryan Johnson, ’n man wat oor die afgelope paar jaar telkens die nuusblaaie gehaal het met sy pogings om – soos die titel lui – die dood te omseil. Of minstens die natuurlike gang van sake (ouer word) wesenlik te vertraag. Buiten ’n blik op die dikwels vreemde, soms absurde, praktyke en gebruike wat Johnson toepas om ewig jonk te bly, bied die filmmaker Chris Smith (Fyre, 100 Foot Wave) ook meer insig tot die impak van hoe Johnson se lewensmissie diegene rondom hom affekteer. 

The Night Agent S2, vanaf 23 Januarie 2025, op Netflix. Dié aksiereeks is gegrond op die boek deur Matthew Quirk. In die eerste seisoen het ons die jong FBI-agent Peter Sutherland ontmoet. Saam het ons naels gekou toe hy sy eie bas moes red toe hy by ’n regeringskomplot betrek is. Die tweede seisoen sien hoe Peter, nou ’n volwaardige lid van die geheime Night Action-taakspan, vir selfs meer vuiste – en koeëls – moet koes. 

Redakteurskeuse Wat om te kyk The Night Agent
Gabriel Basso as die FBI-agent Peter Sutherland in The Night Agent. Foto: Netflix

Die Ondernemers, weeklikse episodes vanaf 7 Januarie om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Dié Showmax-reeks word nou ook op kykNET uitgesaai. Die reeks volg drie begrafnisondernemers: Candice Austin, eienaar van Goodall & Bourne Funeral Undertakers, Jano van der Berg van Van der Berg Funeral Services en die voormalige Stormers-rugbyspeler Ramone Samuels, hoof van SamWill Funeral Services, wat hy saam met sy broer, die Springbok-rugbyspeler Damian Willemse, besit.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies