Dié lys is ’n verkorte blik op van my gunsteling TV-reekse vanjaar.
Shōgun, Disney+
FX se verwerking van James Clavell se epiese historiese roman oor ’n burgeroorlog in feodale 17de eeuse Japan, is ’n onberispelike voorbeeld van hoe allerbelangrik ’n storie se oogpunt is. Dié reeks se eerste seisoen word wyd beskou as die beste reeks van 2024 (indien nie die afgelope paar jaar nie…), en hoewel die $200 miljoen-begroting sekerlik gehelp het, is dit die meesterlik-kunstig vertelling en meevoerende vertolkings wat dit ’n ware openbaring gemaak het.
Die reeks het 18 Emmy-toekennings vanjaar gewen – ’n rekord – en die groenlig is reeds vir die volgende twee seisoene gegee, ten spyte daarvan dat die boek amper reeds in sy geheel in die eerste seisoen deur Rachel Kondo and Justin Marks verwerk en vervat is.
Maar oral word daar geskryf en gepraat oor hoe “verrassend” Shōgun se sukses is – deels omdat dit merendeels in Japannees (met onderskrifte) vertel word, maar ook omdat die oogpunt kultureel outentiek is, eerder as wat waserige Westerse lense as vensters vir die storie ingespan word. Dalk is dit omdat ons in Suid-Afrika self ’n bloeitydperk met storievertel op TV beleef en die waarde van diversiteit in stories – gepaardgaande met die waarde van om daardie stories sélf vanuit die oorsprongsoogpunt te vertel – omarm, maar dit ontsenu nogtans dat “Hollywood” so onkant gevang is deur die die reeks se sukses. Selfs ná die kwalitatiewe en kwantitatiewe sukses van stories soos Crazy Rich Asians, Black-ish en Barbie is dit asof die feit dat die krag en mag van diverse verteenwoordiging net nie wil/kan deurdring nie. Le sigh.
Nietemin, dié drama volg drie hoofkarakters: Toranaga (Hiroyuki Sanada), ’n heer wat aan sy kwynende politieke invloed probeer vasklou, John Blackthorne (Cosmo Jarvis), ’n Engelse matroos wat skipbreuk op Japan se kus gely het, en Mariko (die onverbeterlike Anna Sawai), ’n vertaler in Toranaga se diens. Dié drie se kruisende verhale bied alles en nog meer vir elke tipe kyker – dit is werklik epies – met alles van ’n Game of Thrones-agtige mengsel van politieke intrige en geweld, tot ’n liefdesdriekhoek.
Soos TIME se resensie lui, “FX se Shōgun is ’n ware meesterstuk.
Industry S3, Showmax
Ek bieg, ek was wel ’n laatkommer wat dié drama betref, deels omdat dit dikwels met Succession vergelyk is. Tematies het dit ook baie te sê oor die barbaarsheid van die wêreld se finansiële instellings en stelsels. Só ook oor die Engelse klassestelsel se bepalende en selfs tragiese invloed op mag- en beheersisteme.
Maar dié drama uit die HBO-stal se derde seisoen is ook eintlik iets heeltemal anders. Dis soos die Times se Camilla Long daaroor skryf: “Die skryfwerk, die toneelspel, die pure malende verlatenheid en nihilisme daarvan — dit is verskriklik verslawend.”
Industry vertel oor ’n groep jong gradueerdes wat teen mekaar meeding vir van die gesogte, en baie beperkte voltydse posisies by Pierpont, ’n top-beleggingsbank in Londen. Die storie se rykheid is natuurlik in dié karakters se stories – en veral wat hulle sal doen om suksesvol te wees – te vinde. Nuwe karakters soos dié van Game of Thrones se Kit Harrington help om die derde seisoen die reeks se beste nog te maak. Een wat jou hygend blerrie beslis aangryp. En ja, die vierde seisoen is op pad.
Somebody Somewhere, Showmax
In teenstelling met Shōgun se reuse-begroting en die grootsheid van die vertelling, is daar HBO se Somebody Somewhere, een van die “kleinste” reekse op televisie oor die afgelope paar jaar. Dis Seinfeld–esque in dat daar byna nooit enigiets gebeur nie – behalwe dat daar heeltyd iets gebeur. En dís waar Somebody Somewhere se grootsheid gewortel is. Bridget Everett se Sam was uit die staanspoor iemand wat onmiskenbaar herkenbaar en alledaags is. Dalk net dele van dié sonderlinge karakter; of dalk als van haar.
In die derde en laaste seisoen sukkel Sam met stagnasie – of altans, dís hoe sy voel, asof sy in modder vassit terwyl almal in haar lewe iets aan die gang het, vorentoe beweeg. Klink bekend, nè? Soos in die vorige seisoene verdiep die vertellers die kyker in die banale, eerder as om Sam se uitdagings as ’n sielkundige ontknopingsoefening te beskou. Ons is uitgenooi om in the thick of it te kom sit, tyd saam met die karakters te spandeer en die details van hul lewens te verken, eerder as om van ’n afstand te vereenselwig. Soos Sam is ons almal ’n ewige work in progress en dís eintlik ’n lekkerte. Die altesame 21 episodes van die reeks voel te min vir iets wat so empaties pragtig – en broodnodig – is.
Nobody Wants This, Netflix
Romantiese komedies op TV is ’n bedreigde spesie wat genres op dié medium betref. Nobody Wants This is as sulks amper asof jy ’n swartrenoster in die stadskom te siene kry: heeltemal onverwags, maar so, so welkom.
Nobody Wants This kruip selfs dieper in millennials se harte met die terugkeer van Adam Brody as dié generasie se droom-boyfriend – eers as Seth Cohen in The OC sowat 20 jaar terug en nou as “Hot Rabbi” Noah. Brody, die ultimate boy next door, speel hier teenoor Kristen Bell se Joanne, ’n podcaster wat, buiten ’n heerlike tasbare chemie en gedeelde slim-lawwe humorsin, wêrelde van dié Joodse rabbi verskil. Veral met dié dat sy nie Joods is nie…
Hoewel die konteks waarin dit afspeel hiper-spesifiek is, is die komedie daarvan universeel met veral die vertelling en uitbeelding van dating en die klein jakkalsies in verhoudings wat treffend in die “this is real life”-kol is. Die storielyne is deurspek met ’n earnestness waarvoor té veel komedies allergies geword het. Maar hier word daardie opregtheid met beide erns en speelsheid uitgebeeld – dis ’n moeilike balans om te handhaaf maar in Bell en Brody se hande lyk dit soos ’n moeitelose strewe. ’n Meer nommerpas romantiese duo as dié was daar nie vanjaar op die skerm nie.
Baby Reindeer, Netflix
Richard Gadd se TV-verwerking van sy gelyknamige eenmanstuk is ’n uitmergelende en genuanseerde blik op die kompleksiteite van menswees. In dié dramareeks, bestaande uit ’n skamele, maar sonderlinge treffende sewe episodes, vertolk Gadd, ’n komediant, ’n fiktiewe weergawe van homself, Donny Dunn. Met die afstand wat Donny as karakter vir hom gun, kan Gadd effens asemskep. Maar net effe. Wat dié is immers sy storie – die reeks is op Gadd se eie lewe gegrond, en sy ervaring van teistering deur sy vroulike agtervolger wat sy lewe onherroeplik verander het.
Die storie begin waar hy vir ene Martha (uitstekend vertolk deur Jessica Gunning) ontmoet by die kroeg waar hy as sukkelende komediant gwerk het. Die koppie tee wat hy as troos vir haar maak, lei egter tot ’n absurde drie jaar se opophoudelike teistering waarin Martha meer as 41 000 e-posse en honderde ure se stemboodskappe stuur. Sy agtervolg hom oral en later is sy ook op sy ouers se spoor. Soos die storie vorder, is hy ook in troebel emosionele water as diepgesetelde sielkundige trauma uit sy verlede kom klop. Mettertyd is alles in sy lewe aan skerwe.
Gadd vertel die storie met ’n deernis en eerlikheid wat die wrede skaduwee van trauma in oënskou bring, veral hoe dit wat met ons gebeur ons besluite en reaksies beïnvloed. Dit doen ook ’n beroep op ons om nie die messiness van menswees uit die oog moet verloor nie. Dis ’n hartverskeurdende psigologiese reis wat tot die hoogste hoogtes geneem word deur beide Gadd en Gunning se spel, maar ook Gadd se skryfwerk wat dit regkry om soveel herkenbare innerlike wroeging en veldslagte in woorde om te sit. Dis soos om ’n siel te vertaal – haas onmoontlik, maar hy kry dit reg.
A Man on the Inside, Netflix
Die briljante Mike Schur, skepper van reekse soos The Good Place, Brooklyn Nine-Nine en Parks & Recreation, het met sy TV-verwerking van ’n Oscar-benoemde dokumentêr ’n onwaarskynlike, maar geheel en al hartverwarmende komedie geskep.
A Man on the Inside, wat ook sien hoe hy weer met The Good Place se Ted Danson kreatiewe kragte saamspan, is gegrond op The Mole Agent. Daarin is vertel hoe ’n afgetrede Chileense man ’n private speurder gehelp het om die mishandeling van bejaardes in ’n ouetehuis te ontbloot.
In A Man on the Inside ontmoet ons vir Danson as Charles, ’n allenige wewenaar wat sukkel om sy dae vol te maak totdat hy werk kry as ’n undercover agent vir ’n private speurder wat die diefstal van ’n duur halssnoer by ’n luukse aftreeoord ondersoek. Die stakes kom dalk aanvanklik ligter voor met dié dat Schur die mishandeling in die ware verhaal met diefstal vervang het, maar dit keer hom egter nie om die emosionele reis in hoër rat (en hoër soos die storie verloop) te sit nie.
Met Charles as die liefbare protagonis, word temas oor die lewe, verlies, rou, die ewigdurendheid van verganklikheid en die impermanence van alles met innige opregtheid hanteer. Selfs in die hartseerste dele van dié storie, is daar ’n lag met elke traan. Die rolverdeling, met akteurs soos Brooklyn Nine-Nine se Stephanie Beatriz, Stephen McKinley Henderson en Sally Struthers, maak van dié sitkom ’n soete vreugde om te kyk. Dis ook reeds vir nog ’n seisoen hernu, wraggies goeie nuus.
En eervolle vermelding aan…
- Rivals, Disney+
- Fantasmas, Showmax
- Shrinking S2, Apple TV+
- Fallout, Prime Video
- The Penguin, HBO/Showmax
- Hacks S3, HBO/Showmax
- One Day, Netflix
- Presumed Innocent, Netflix
- The Bear S3, Disney+/Hulu
- Only Murders in the Building S4, Disney+/Hulu
- True Detective: Night Country, HBO/Showmax
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →