Menu terloops
In Gons [26 Sep 2024]

Gewilde ‘Spooksoeker’-boeke word Afrikaanse TV-reeks op Showmax


Rico Immelman, ’n 17-jarige graad 11-leerder aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp in Gauteng, het sy eerste hoofrol in ’n TV-reeks losgeslaan as ene Warno Alberts in die Showmax-tienerreeks, ‘Spooksoeker’.

Gewilde ‘Spooksoeker’-boeke word Afrikaanse TV-reeks op Showmax

Die aankondiging kom soos Rico die 60ste ATKV-Tienertoneelkompetisie vandeesweek bywoon. Dié Afrikaanse hoërskoolkompetisie vind in Kaapstad plaas. 

Rico is een van die finaliste van die ATKV-DigiToneel-kompetisie, waarin hoërskoolleerders die geleentheid kry om hul spel vir die kamera te ontwikkel deur nuutgeskrewe monoloë te verfilm.

As deel van ATKV-DigiToneel verskyn Rico ook in die vierde seisoen van die ATKV se realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, wat vanaf middel-Oktober op DStv (VIA, kanaal 147 en DStv Stream) uitgesaai word.

‘Ek wou nog altyd net op die verhoog wees’

“Ek het nog altyd aan eisteddfods deelgeneem – om die waarheid te sê, ek het aan elke moontlike ding deelgeneem, en ek wou nog altyd, so lank as wat ek kan onthou, net op die verhoog wees,” vertel Rico. Hy het in graad 6 by ’n toneelagentskap, Talent-ETC, aangesluit, en het reeds in David Kau se The First Last Tour, die Silwerskermfees-kortfilm Bennie Bingo, die kykNET Storiefilm Die Fantastiese Verdwyning Van Charlie Prins, én as die jong Kalla in 7de Laan verskyn.

Spooksoeker
Rico Immelman as Warno Alberts in Showmax se TV-verwerking van Spooksoeker. Foto: Skermgreep

Rico is by verlede jaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie as beste akteur benoem, met sy produksie wat die top-vyf gehaal het. In Spooksoeker vertolk hy die hoofrol teenoor Paul Strydom, wat Warno se ouer broer, Ziaan, vertolk. Paul, wat verlede jaar aan die Hoërskool Parel Vallei gematrikuleer het en nou 19 is, het toe met die louere as beste akteur weggestap.

Sterre voor én agter die kameras

Rico en Paul word deur ’n groot rolverdeling ondersteun wat talle Safta- en Silwerskermtoekenning-wenners insluit – sommige as spoke… 

“Dis mense van wie ek gedroom het om mee saam te werk, mense wat ek as ’n klein seuntjie op TV gekyk het en gesê het, ‘Jissie, ek wil eendag saam met haar werk…’ ”

Hy gebruik Izel Bezuidenhout as ’n voorbeeld. “Ek het Agent 2000 gekyk toe dit uitkom; ek dink ek was so 11 jaar oud, in graad 5. So op Spooksoeker het ek letterlik teenoor my childhood crush gespeel!” sê hy. 

Die Starscape Motion Pictures-produksiespan het ’n ewe sterbelaaide reeks agter die kamera saamgestel, insluitend regisseur Jan-Hendrik Burger (Edik van Nantes), SXSW Zeiss Cinematography Award-wenner Jorrie van der Walt (Gaia), Safta-bekroonde komponis Daniel Eppel (Steinheist), en Safta-wenners Franci van den Heeven (Fynskrif, Die Byl) en Pippa Heimann (Suidooster) vir onderskeidelik die produksie- en kostuumontwerp. 

Ek sou sê ek is net soos Warno. Ek gee baie om vir die mense om my en ek probeer altyd die regte ding doen, maar soms slaan die lewe jou om en jy sukkel om weer op te staan.

Rico Immelman

Die VFX (visuele effekte) word deur Fox and Wizard behartig, met dié span wat deur Jonathan Alenskas gelei word. Alenskas is vir ’n Visual Effects Society-toekenning vir sy werk op Warrior benoem. Hy het al op reekse soos Plan BThe Gilded Age, The Marvelous Mrs. Maisel, asook die fliek Blue Jean, wat die gehoortoekenning by die Venice-filmfees gewen het, gewerk. 

Die omvang van die produksie het vir Rico verras, veral wat die waagtoertjies betref. “Ons het mense gehad wat van brûe afspring; ek het dit glad nie verwag nie,” sê Rico. “Ook net die kwaliteit van die verfilming en die produksiespan se werk, hoe almal so goed saamwerk. Ek was stomgeslaan.”

‘Ek is nes Warno’

Rico kon maklik met sy karakter vereenselwig. “Warno is iemand wat baie omgee vir die mense om hom. Hy is regtig bang om hulle seer te maak – emosioneel of fisiek. Deur die reeks wil baie mense Warno seermaak, maar hy wil net almal om hom beskerm. Maar die manier waarop hy dit probeer doen, plaas eintlik almal in meer gevaar. Dus, deur te doen wat hy dink reg is, en wat hy dink sy familie en vriende sal beskerm, maak hy soms die situasie erger,” vertel hy oor sy eerste TV-hoofrol.

“Ek sou sê ek is net soos Warno. Ek gee baie om vir die mense om my en ek probeer altyd die regte ding doen, maar soms slaan die lewe jou om en jy sukkel om weer op te staan. Maar ’n goeie waarde wat Warno het, is dat, maak nie saak hoeveel keer hy platgeslaan word nie, hy gee nie moed op nie. In die middel van die seisoen is daar ’n gedeelte waar Warno regtig amper tou opgooi en hy nie weet wat om volgende te doen nie, maar dan klim hy net weer op die perd. En ek voel dit is ’n goeie waarde wat ek ook in my lewe kan implementeer.”

Terug in die skoolbanke – vir nou

Met Spooksoeker vir eers afgehandel, is Rico se fokus om sy skoolwerk in te haal. Toe hy gevra word oor sy toekomstige doelwitte, sê hy: “Eerstens gaan ek net matriek klaarmaak!”

Spooksoeker sal egter nie Rico se laaste hoofrol wees nie. “Ek wil beslis in die bedryf bly, meer werk en meer magic op die verhoog en voor die kamera skep,” sê Rico, wat aan die begin van die jaar nog in sy ouderdomsgroep by die wêreldkampioenskappe vir dubbele mini-trampoliengimnastiek meegeding het. “Ek weet nog nie of ek wil studeer nie. Maar ek weet ek wil vir altyd voor ’n kamera en op die verhoog wees.”


Spooksoeker sal na verwagting in Desember 2024 op Showmax bekendgestel word.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies