In die nuwe Afrikaanse Showmax-fliek, Die Bloedhonde, vertolk die geliefde veteraanakteur Tobie Cronjé ’n dominee wat (snak na asem!) van moord verdink word… Altans deur die jonge Katrien (Elani Dekker) wat snuf in die neus kry ná ’n raaiselagtige dood in die vakansieoord waar sy saam met haar gesin uitspan.
Die Bloedhonde is die speelfilmdebuut van skrywer-regisseur Stiaan Smith, ook die Safta-bekroonde medeskepper van Hotel. Die film is deur Nagvlug Films vervaardig – dieselfde span wat ook vir gevierde reekse soos Donkerbos en Nêrens, Noord-Kaap, verantwoordelik was.
Ons het met Tobie oor dié Showmax Original, wat News24 as “ ’n aweregse whodunnit wat jou aan die raai sal hou” in hul vierster-resensie bestempel, gesels.
Hoe het by Die Bloedhonde betrokke geraak?
“Stiaan Smith (die draaiboekskrywer en regisseur) het die teks vir my gestuur, en ek het gedink hy stuur dit net vir my om te lees. Ek was so beïndruk daarmee. Sjoe, hy is ’n goeie skrywer. As hy nou rêrig sy kop daarop sit. Ek was mal oor die teks en dit was vir my wonderlik hoe hy die komedie en sulke donker drama vermeng het. En toe sê hy vir my dat ek betrokke moet wees en ek het ingestem om hom te help met die draaiboek en sulke goeters. Toe sê hy, ’Nee, jy moet die dominee speel!’ Toe het ek ’n bietjie geskrik, want, ja, ek het al vele kere in my loopbaan ’n dominee gespeel maar dit was nou nie só ene nie. Hierdie dominee word van moord verdink. So dit was vir my nogal moeilik, maar ’n wonderlike ervaring.”
Jy is so ’n ervare akteur, dis eintlik besonders as daar dan nog ’n rol is wat jou kan verras of verbaas?
“Ons akteurs is so gelukkig, want deur ons hele loopbaan kan jy aanhou leer. Met elke nuwe rol leer jy iets, jy doen iets wat jy nog nie voorheen gedoen het nie.
“Ek dink as jy net jou kop en jou oë oophou, is daar altyd iets nuuts. Daar’s altyd spesifieke maniere om ’n rol te vertolk. Ek dink dis baie maklik vir ’n akteur om ’n rol in ’n teks te lees op ’n baie geykte manier, dat dit soortvan alledaags oorkom. Maar my kop is so dat ek iets anders daarvan wil maak. Nou weet ek nie of dit met hierdie dominee gebeur het nie, ek is nogal senuweeagtig vir die reaksie (lag). Sjoe!”
Ek is nog steeds mal oor die bedryf. Dit gee my hoendervel!
Tobie Cronjé
Hoe het jy die karakter ingekleur?
“Hy kan nie skuldig lyk aan die begin nie, so ek kon hom nie skuldig speel nie, maar daar moet genoeg rede vir Katrien wees om hom te verdink. Dít was regtig vir my moeilik, nogal problematies. Ek het ’n paar slapelose nagte gehad. So die inkleur het gegaan oor die feit dat hy effe té vriendelik is en dat hy sy donker kant wegsteek. Oe! Dis moeilik om daaroor te praat sonder om die storie weg te gee!”
Wat was jou ervaring van Stiaan se regiestyl?
“Dit was vir my baie interessant gewees, want dit was vir my baie anders as enigiemand met wie ek al gewerk het. Hy het ’n spesfieke styl wat hy in speel en hy is ’n baie goeie akteur en hy verwag daardie kwaliteit van almal en daai presiesheid.
“Dít was vir my lekker, want dit was vir my ’n uitdaging. Ek het dit geniet om 100% te probeer verstaan wat in sy kop aangaan. Dít is maar altyd ’n akteur se dilemma, want jy lees die teks en dan maak jy prentjies op en as jy op stel kom, is die prentjies heeltemal anders en dan moet jy vinnig daarby aanpas. Dit was ’n bietjie so vir my want ek het die draaiboek heeltemal anders gelees, maar daar is altyd klomp maniere om ’n draaiboek te lees.
“Wat nou lekker is, is dat my lewe is die afgelope tyd vol voorlesings is op byvoorbeeld RSG, en ek toer ook op die oomblik rond met voorlesings wat ek van Hans Gee vir Herklaas Horings van Rudi van Rensburg doen. En elke persoon wat luister in die gehoor of op die radio maak sy eie prentjies, maar ’n filmmaker maak baie spesifieke prentjies. Hulle kan nie net min of meer ’n ding sê nie, en dit maak dit baie moeiliker en ook meer beperkend en uitdagend.”
Wat is jou indrukke van ons plaaslike filmbedryf op die oomblik?
“Ek is nog steeds mal oor die bedryf. Tydens Covid was daar so min werk en ek het gedink ek moet maar aftree, dis nie meer lekker nie. Maar toe het Hans steek die Rubicon Oor (wat in 2023 by die Silwerskermfees première het) gekom en toe kom Die bloedhonde. En toe besef ek net ek is nog steeds baie mal daaroor. Dit gee my hoendervel! (lag) Maar ek moet erken, dit kom in vlae, daar is maerder tye ook.”
Elani het vertel oor hoe lekker dit was om saam met jou en Waldemar Schultz (in die rol van Jasper) die skerm te deel en veral hoe sy die geleentheid kon gebruik om by albei van julle, as veterane in die bedryf, te leer. Sien jy jouself as ’n mentor?
“Ek het die ander dag met iemand gepraat oor hoe my loopbaan nou loop, want ’n mens se energie raak minder. Ek dink nie ek sal weer ’n verhoogproduksie doen nie, nie toneelstukke in elk geval nie, dit vat te veel energie van A tot Z. Maar steeds films, en miskien kleiner goedjies. En toe het iemand vir my gevra of ek nooit ’n onderwyser wou wees nie. Toe dink ek, ja, ek sal baie graag.
“Vir ’n groot deel van my loopbaan was klugte my voorland en ek was baie mal daaroor. ’n Klug werk so presies soos ’n horlosie; dit moet net reg gedoen word. En ek het so lank daaraan gewerk dat ek baie geleer het en ek sal dit baie graag aan ander mense wil oordra.”
Is daar ’n hoogtepunt van die projek wat vir jou uitstaan? Of iets besonder wat jy geleer het?
“Dis altyd meer die tegniese goed wat vir my uitstaan. Omdat die tegnologie so baie verander, leer ek baie meer oor tegniek. Stiaan was ook gelukkig ongelooflik geduldig. Daar was ellelange probleme gewees met lug, en lig, en klank en vliegtuie wat oorvlieg en dan kan ons nie dit skiet nie en dan is daar ’n wolk voor die son… Jitte! En hy was net so geduldig en hy kon vinnig alternatiewe planne maak. Ek besef hoe belangrik daardie vermoëns op ’n produksie is. Dit was vir my wonderlike leerproses.”
Wat hoop jy bly kykers by nadat hulle die film gekyk het?
“Dit is vir my wonderlik dat ons as Afrikaners nog vir onsself kan lag. Wat my so aangetrek het na die teks was dat dit ’n vreeslike Afrikaanse familie is in ’n Afrikaanse opset. Hulle gaan elke Kersfees na hierdie kampterrein, dis braai en bier en tente. Ek dink dis wat Elani se karakter, Katrien, net mooi gatvol gemaak het! (lag) Sy kon net nie meer nie! En dis fantasties hoe haar ouers dit dan hanteer. Dis so Afrikaans, en snaaks. En ek hoop maar mense leer dat ons as ’n nasie altyd vir onsself moet lag. Al word ’n situasie ernstig – soos dit in die fliek ook gebeur – moet ons steeds ons tonge stewig in ons kieste hou. Lag is altyd die beste medisyne.”