Menu terloops
In Onderhoude [10 Sep 2024]

Elani Dekker oor hoe ‘Die Bloedhonde’ tot lewensverandering lei


Aanvanklik het Elani Dekker nie gedink sy sou die rol van Katrien in ‘Die Bloedhonde’ kon vertolk nie, maar uiteindelik sou dié hoofrol ’n lewensveranderende leerskool vir haar wees.

Deur Rozanne Els

Stroom nou 'Die Bloedhonde'

Elani Dekker oor hoe ‘Die Bloedhonde’ tot lewensverandering lei
Kyk lokprent

Showmax se nuwe Afrikaanse speelfilm, Die Bloedhonde, vertel die verhaal van Katrien (Elani Dekker) wat snuf in die neus kry ná ’n raaiselagtige dood in die vakansieoord waar sy saam met haar gesin uitspan.

Katrien se aanvanklike nuuskierigheid ontaard egter in ’n volskaalse speurtog met ’n middeljarige swerwer (Waldemar Schultz; Die byl, Wyfie) as haar enigste bondgenoot. Dinge raak veral gekompliseerd as sy die geliefde plaaslike dominee (Tobie Cronjé; Pronk Primêr, Hans steek die Rubicon oor) begin verdink. 

Oor verskille en veggees

Elani het aanvanklik nie gedink dat sy die rol van Katrien sou kon vertolk nie – volgens Elani is daar diepgaande verskille tussen hulle en sy het getwyfel in haar vermoë om Katrien se gedrewe erns en stywe, ernstie energie te volhou. “Dit was vir my moeilik om uit te pluis hoe om nie my Elani-heid te laat oorneem en net vriendelik en chirpy en rustig te wees as dit nie is hoe Katrien sou reageer nie. Daar was taamlik introspeksie betrokke, maar uiteindelik moes ek laat gaan en vertrou en dit is toe wat my gehelp het om minder druk op myself te sit.” 

Ten spyte van hul verskille kon Elani wél aanklank by dié karakter vind. “Katrien het ’n baie sterk persoonlikheid,” sê sy. “Ek kon baie met haar soeke na die waarheid vereenselwig; met haar wil om nie net ander mense se opinies en gevoelens op te tel en te aanvaar as haar eie nie, maar eerder vir haarself ondersoek in te stel. Maar sy is vir my ook ’n leier, ’n bakleier vir dit waarin sy glo.”

En hoewel daai veggees ’n baie mooi kwaliteit kan wees, meen Elani dit kan jou ook soms té hardkoppig maak. “Ek dink dit is waar ons van mekaar verskil: as sy ’n probleem met iets of iemand het, vat sy dit aan en baklei. As ek, as Elani, ’n probleem het, trek ek eerder terug, maak myself kleiner, en neem meer van ’n selfbeskermende energie aan.

“Dít was vir my eintlik die moeilikste aspek van Katrien as ’n karakter – hoe oop sy met haar woede en haar opinies is. Dis nie hoe ek in my lewe optree nie, so dit was by tye moeilik, maar ook terselfdertyd wonderlik, omdat dit my uit my gemaksone gekry het,” verduidelik Elani.

Die bloedhonde
Elani Dekker en Waldemar Schultz in Die Bloedhonde. Foto: Skermgreep

Van klankbord tot hoofrol

Die Bloedhonde se draaiboekskrywer en regisseur, Stiaan Smith, een van die mede-skeppers van die gewilde komediereeks Hotel, moes mooipraat voordat Elani ingestem het om in Katrien se skoene te klim. Stiaan en Elani het destyds teenoor mekaar in Suid-Afrika se inskrywing vir 2021 se Oscars, Toorbos, gespeel, en vandag is dié twee verloof.

“Stiaan sal vir jou vertel dat hy die rol vir my geskryf het. Dís baie mooi en spesiaal, maar ek het eerlikwaar in my hart nie gedink dat ek hierdie rol gaan speel nie,” sê Elani. “Omdat hy die draaiboek geskryf en die film se regie behartig het, was ek van die begin af betrokke, maar eers net as ’n klankbord vir hom om sy gedagtes in orde te kry.”

Maar toe wat hulle nader aan skiettyd gekom en die rolverdeling moes kies, het Stiaan haar oortuig. “Dit het uiteindelik net reg gevoel dat ek die Katrien-skoene vir ’n rukkie dra omdat ek besef het dat ek so onlosmaaklik deel van die storie en die boodskap van die storie is. Ek dink daar is ’n Katrien in albei van ons,” voeg sy by.

Soos om met jou beste maat te speel

“Dit was soos om saam met jou beste maatjie ’n storie te vertel en te speel en als te doen, behalwe dis in die grootmenswêreld. Dit was so lekker, en so ’n ongelooflike, kosbare ervaring om met iemand te hê,” beskryf Elani die ervaring om saam met Stiaan te werk. Hoewel dit vir hulle ’n uitdaging was, meen Elani dat hulle dit baie goed hanteer het. En hulle het dit boonop ook geniet om te leer hoe om in dié spesifieke dinamiek te kommunikeer en saam te werk. 

“Ek is mal daaroor as ’n mens die geleentheid kry om vas te sit, want dit maak die grond net ryp vir groei en vir ontwikkel en vir nuwe dinge ontdek van jouself en die ander persoon,” sê sy dan. “Ek dink daai benadering was vir ons albei baie waardevol. Om te besef dat ons soms meningsverskille gaan hê en anders oor dinge voel, maar ons gaan kommunikeer en saamspan om daardeur werk. Dit was regtig vir my ’n ongelooflike, besonderse ervaring om saam met hom op stel te wees, asook ons wedersydse vertroue in mekaar. Dit was regtig ’n groot, groot voorreg.” 

Dit was beslis ’n tyd van lesse leer en een staan as ’n hoogtepunt van die projek vir haar uit. “Hierdie projek as ’n geheel het vir my een van die grootste en waardevolste lesse geleer, en dis iets wat Katrien ook tot ’n mate leer: ons almal mag anders dink, en mag die wêreld anders sien. Solank jy nie ander mense antagoniseer en vyande maak van mense wat anders dink of anders as jy is nie, is daar altyd ruimte vir ons om mekaar te ontdek en ’n middeweg te vind.”

Daar is plek vir ons almal. Dis so maklik om dit te sê en hieroor te praat, maar om dit uit te leef, is ’n hele ander storie. Maar hierdie hele projek het my net gedurig herinner en uitgedaag om te laat gaan van my vooropgestelde idees van ander mense en wat ander mense moet of nie moet doen nie, mag of nie mag doen nie, wat ek moet of nie moet doen nie, wat ek mag en nie mag doen nie. Dit het ’n groot lewensverandering vir my meegebring.

Elani Dekker

Veterane op stel

Daar is ’n rits veteraanakteurs wat die skerm met Elani in die fliek deel, maar veral twee staan uit: Waldemar Schultz en Tobie Cronjé.

“Dit was so lekker om saam met Waldemar te speel. Dit was ongelooflik! Ons het besonders baie tonele saam en het dus baie tyd saam spandeer. Waldemar het die wonderlikste energie. Hy is ’n legende en ek het so baie by hom geleer. Hy het my altyd veilig laat voel en gehelp en was net so ’n ongelooflike voorbeeld van iemand wat hul kunsvorm regtig ken, beoefen en omgee oor wat hulle doen.” 

Die Bloedhonde
Tobie Cronjé in Die Bloedhonde. Foto: Skermgreep

Oor “Oom Tobie” sê sy weer: “Hy is die mooiste mens, so saggeaard. Soveel liefde. Katrien het ’n baie sterk vooropgestelde idee van wie sy karakter is en sien hom in ’n baie slegte lig. Dit was vir my amper moeilik om vir Oom Tobie deur haar oë as hierdie donker, bose karakter te sien en met hom te praat asof ek nie die wêreld se respek vir hom het nie. Maar hy het dit net so lekker gemaak. Hy het net die heerlikste entoesiasme om te speel.

“Dis ongelooflik dat hy soveel energie en vreugde bring, selfs wanneer die kameras nie rol nie, en dít het ek nog nie in baie ander akteurs ervaar nie. Hy het ’n speelse toewyding. Hy gee nie om, om oor en oor ’n toneel te speel en te kyk wat ons kan ontdek nie. Ek kan heeldag oor Oom Tobie praat!” sê sy laggend.

Universele boodskap in Afrikaans

Volgens Elani was dit maklik vir haar om byna onmiddellik met elke karakter te kon vereenselwig.

“Ek voel asof ek almal van hulle al iewers in my lewe ontmoet het of ken, en dít is vir my baie spesiaal. Ek weet hierdie mense is régte mense. En ek dink dít is wat Stiaan so goed maak. Hy het die vermoë om waar te neem wat mense doen en dit dan op ’n vermaaklike manier, as ’n eerlike weerspieëling van die samelewing, weer te gee.  Stiaan kry dit so goed reg om stories te vertel wat diepte en waarheid het, maar terselfdertyd ook vermaak en net lekker is om te kyk.”

En in Afrikaans word daar dan ’n universele kernboodskap in Die Bloedhonde vervat: “Om jou vooropgestelde idees te laat gaan. Nie almal dink soos jy nie, en dis okei. Jy hoef nie jou waarheid te onderdruk om by ander mense in te pas nie, maar jy hoef ook nie jou waarheid op ander mense af te dwing sodat hulle by jou inpas nie. 

“Ek hoop die film laat mense dink en gesels met vriende en familie, veral as hulle van die verhoudingsdinamikas op die skerm herken. 

“Dit is soms rêrig moeilik as jy iemand is wat so ’n bietjie van ’n buitestaander is, of wat ander perspektiewe oor die wêreld en oor die lewe het as die mense naaste aan jou. Maar ek het geleer dat eerder as om jouself af te sluit of aggressief te raak, hoef jy nie soos hulle te dink nie, en hulle ook nie soos jy nie.

“Daar is plek vir ons almal. Dis so maklik om dit te sê en hieroor te praat, maar om dit uit te leef, is ’n hele ander storie. Maar hierdie hele projek het my net gedurig herinner en uitgedaag om te laat gaan van my vooropgestelde idees van ander mense en wat ander mense moet of nie moet doen nie, mag of nie mag doen nie, wat ek moet of nie moet doen nie, wat ek mag en nie mag doen nie. Dit het ’n groot lewensverandering vir my meegebring.” 


Kyk Die Bloedhonde nou op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies