Menu terloops
In Silwerskermfees [4 Aug 2024]

‘Die bloedhonde’ ’n raaiselprent met heerlike rolverdeling, humor


In die whodunnit komedie-drama, ‘Die bloedhonde’, skuif die bekroonde akteur Stiaan Smith agter die skerms in as dié Silwerskermfees-speelfilm se skrywer en regisseur.

Deur Herman Eloff
‘Die bloedhonde’ ’n raaiselprent met heerlike rolverdeling, humor
Kyk lokprent

Die veelsydige en Safta-bekroonde Stiaan Smith het al rolle in gewilde Afrikaanse flieks soos Sy klink soos lente, Toorbos en Meisies wat fluit vertolk, terwyl hy ook as draaiboekskrywer aan reekse soos Hotel en Getroud met rugby gewerk het. In die komedie-drama Die bloedhonde is hy egter volkome agter die skerms as dié film se draaiboekskrywer en regisseur, terwyl die rolverdeling ’n heerlike versameling akteurs insluit, waaronder Elani Dekker (Toorbos, Vaselinetjie), Waldemar Schultz (Die Byl, Wyfie), Tobie Cronjé (Pronk Primêr, Hans steek die Rubicon oor) en Anrich Herbst (Plan B, Egoli).

Die bloedhonde is die verhaal van Katrien (Dekker) wat snuf in die neus kry ná ’n raaiselagtige dood in die vakansieoord waar sy saam met haar gesin uitspan. Katrien se aanvanklike nuuskierigheid ontaard egter in ’n volskaalse speurtog wanneer sy die geliefde plaaslike dominee van vuilspel begin verdink. Met slegs ’n middeljarige swerwer (Schultz) as bondgenoot, werp Katrien alles in die stryd om geregtigheid te laat geskied.

Herman Eloff het met Stiaan oor dié speelfilm gesels.

Wat is die storie agter die film se titel?

“Alhoewel die storie hoofsaaklik ’n karaktergedrewe coming-of-age-storie is, het ek daarvan gehou dat die titel ook leun na die raaisel- en aksie-elemente van die vertelling. Die idee van ’n bloedhond bring ook die gevoel van ’n obsessiewe bittereinder na vore, wat vereenselwig met Katrien se geestestoestand soos wat sy hierdie uitdaging aanpak om haar familie verkeerd te bewys.”

Was daar enige films of filmmakers wat jou werk op Die bloedhonde geïnspireer het?

“Greta Gerwig (Barbie, Little Women) is nog altyd vir my baie inspirerend met haar vermoë om outentieke karakters en komplekse temas saam te vleg op ’n manier wat aangrypend én kommersieel is. Veral haar 2017-film, Lady Bird, was gereeld in my agterkop.

“Die manier hoe Todd Phillips (War Dogs en The Hangover-trilogie) oor storie en regie praat, het ook vir my baie beteken. Sy werk op Joker was ’n wonderlike voorbeeld van hoe kreatief ’n mens met karakterstudies kan wees.

“Quentin Tarantino (Pulp Fiction, Reservoir Dogs) is dalk ’n cliché, maar die vrymoedigheid en passie waarmee hy stories vertel, tesame met die gemak en selfvertroue om te weet wanneer dit oukei is om die die reëls te verbreek, maak hom ’n goeie voorbeeld vir enige filmmaker.

“Ander karaktergedrewe films soos The Way Way Back, Little Miss Sunshine en Manchester by the Sea bied ook lekker inspirasie.”

Die rolverdeling is uitstekend. Kan jy meer oor die oudisieproses vertel en hoe jy die rolle so nommerpas gevul het?

“Ek stem saam, ons was baie bevoorreg met die rolverdeling. Dit was by tye moelik om te kies, want ons het nie ’n tekort aan goeie akteurs nie. Ek glo een van die belangrikste eienskappe van ’n akteur is die bereidwilligheid om kwesbaar te wees, so dít was ’n goeie rigtingwyser tydens die oudisieproses, maar weereens, grotendeels was ons maar net baie geseënd om te kon kies vanuit ’n baie talentvolle bondel.

“Elani was ook baie vrygewig met haar tyd, en die feit dat ons haar in die vertrek kon hê tydens baie van die ander karakters se oudisies, het definitief ’n groot verskil gemaak.”

Kom ons gesels oor die skietproses. Hoe lank het die verfilming geneem en hoe groot was die span wat betrokke was? Was daar enige hoogtepunte wat uitgestaan het?

“Ons het oor 18 dae verfilm, en die span was omtrent so 30 mense … Ek raai nou kliphard!

“Elani wat vir die eerste keer in haar lewe voor ander mense sing, was definitief ’n hoogtepunt.

“Ek was ook nog nooit op ’n stel waar daar reën ‘gemaak’ word op die skaal wat dit vir hierdie film gedoen is nie, en dít was nogal ’n belewenis. Die tyd wat ek met Tobie Cronjé kon spandeer staan ook uit. Hy is natuurlik ’n juweel van ’n mens en akteur, en ek is baie dankbaar vir die kans om met hom te kon werk.”

Wat was die grootste uitdaging tydens verfilming en hoe het julle dit aangepak?

“Ons moes lank soek vir ’n afgrond in die woud wat afkyk op ’n rivier. Op die ou end moes ons staatmaak op ’n kompromie wat van VFX gebruik maak.

“Daar is ook soms leergeleenthede van ’n meer persoonlike aard: Elani is my verloofde en beste vriend, en dis altyd ’n prettige uitdaging om werk en persoonlike verhoudings te laat saamdans. Maar ek glo as ’n mens bereid is om te kommunikeer en jou ego in check hou, sal dit altyd ’n lonende ervaring wees. Ons is dankbaar om te kan sê dat ons op individuele en verhoudingsvlak nou beter af is as gevolg van dié ervaring.”

Wat hoop jy bly die kyker by nadat hulle die film gekyk het?

“Dalk net ’n ekstra tikkie medelye vir mense wat nie dieselfde as jy glo nie.”


Koop kaartjies vir die 2024 Silwerskermfees op Quicket. Vanjaar se fees loop van 28 tot 31 Augustus 2024.

Lees al ons stories oor die 2024 Silwerskermfees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies