Menu terloops
In Onderhoude [15 Des 2025]

Lieflike ‘Die Kwiksilwers’ wys jy’s nooit te oud vir enigiets nie


In ‘Die Kwiksilwers’, nou op Showmax beskikbaar, onderneem vier bejaarde vriendinne ’n skreeusnaakse reis deur die Karoo om ’n meteorietstorting te beleef. Jordy Sank, regisseur en mede-draaiboekskrywer van dié Afrikaanse fliek, vertel meer oor dié speelfilm en sy ongelooflike rolverdeling.

Deur Riëtte van der Wat
Lieflike ‘Die Kwiksilwers’ wys jy’s nooit te oud vir enigiets nie
Kyk lokprent

Kwilsilwer, die vintage Ford Granada in Die Kwiksilwers, is nie sommer enige motor nie. Hy’s soos ’n tydskapsule vir Elsabe Marais (Lida Botha) se herinneringe aan haar oorlede man, wat gereeld saam met haar avonture in dié motor aangepak het.

Saam met drie bejaarde vriendinne onderneem die koppige Elsabe ’n reis deur die Karoo om ’n meteorietstorting in Sutherland te beleef. Die res van die onwaarskynlike viertal is Anna (June van Merch), Elsabe se inmengerige buurvrou; die flambojante Mienkie (Susanne Beyers) en teruggetrokke Katie (Theresa Sedras). Hulle moet binne drie dae by Sutherland uitkom terwyl hulle Elsabe se oorbeskermende seun Wikus (Jacques Bessenger) probeer ontduik.

Die Kwiksilwers, wat sy debuut by 2024 se Silwerskermfees gemaak het en ook in Mei vanjaar (2025) sy plaaslike kringloopdebuut gemaak het, is vanaf Maandag 15 Desember 2025 op Showmax beskikbaar.

Draaiboekskrywers Jordy Sank, Gabriella Blumberg en Marista van Eeden wys met dié film dat die ouderdom g’n rede is om te gaan lê nie en Jordy het met Riëtte van der Wat oor sy aanslag tot fliekmaak gesels.

Hoe het die storie van Die Kwiksilwers ontstaan?

“Ouer mense inspireer my nog altyd. Toe ek die dokumentêr I am here gemaak het, het ek noue kontak gehad met ’n amper 100-jarige oorlewende van die Holocaust. Dit klink dalk vreemd, maar dié bejaarde vrou, Ella Blumenthal, het my as jong man ingespuit met nuwe lewenslus!

“Twee jaar gelede het Sanktuary Films Leemtes & leegheid (A Void) vir die Silwerskermfees gemaak. Dis ’n kortfliek oor ’n vrou wie se man sterf. Ons het toe vir die eerste keer saam met Lida Botha gewerk en dit was soveel pret, ons wou nog ’n projek saam met haar skep.

“Na aanleiding van Leemtes & leegheid en die manier waarop ons verlies en rou daarin ondersoek het, kyk Die Kwiksilwers ook na verlies, maar uit ’n meer komiese hoek. Die fliek wys ook jy is nooit te oud om te lééf nie; óf om nuwe lewenslus te kry nie.”

Jy het saam met ’n paar legendariese aktrises gewerk vir dié projek. Vertel van dié ervaring.

Die Kwiksilwers
Die indrukwekkende rolverdeling sluit Susanne Beyers, Lida Botha, June van Merch en Theresa Sedras in. Foto’s: Verskaf/Roy Harris Photography

“Lida Botha is in haar laat tagtigs, maar sy was die mees energieke persoon op stel! Al die vroue, ook June, Susanne en Nadine, het soveel bygedra tot die drama én die komedie. Ons het hulle baie laat ad lib en hulle het heen en weer geïmproviseer. Dit is waar baie van die fliek se humor vandaan kom.

“Die aktrises het vir soveel van die fliek se persoonlikheid en vreugde gesorg en gewys mens is nooit te oud om iets nuuts te leer en nuwe ervarings te hê nie.”

Die vier vrouekarakters ervaar almal ook heelwat persoonlike groei in die storielyn, nie waar nie?

“Vir Elsabe (Botha) gaan dit oor groei en vriendskap. Anna (Van Merch), die hoof ‘frenemy’, leer om haar vriende toe te laat om hul eie lewens te leef en minder van ’n beheervraat te wees. Mienkie (Beyers) met haar vrye gees, leer om ander mense meer in ag te neem. Katie (Sedras) se karakter, wat eintlik die mees gereserveerde een van hulle is, leer om te laat gaan en so bietjie te leef …”

Silwerskermtoekennings, Die Kwiksilwers, Silwerskermfees
June van Merch in Die Kwiksilwers.

Dis nou al jou en Sanktuary Films se derde projek vir die Silwerskermfees. Wat trek jou, as Engelse regisseur, tot Afrikaanse stories en karakters aan?

“Ons het Leemtes & leegheid en Volle bors vir die Silwerskermfees gedoen en die verhoudings wat ons gebou het danksy dié projekte, het organies gegroei.

“Dis snaaks, want op skool was Afrikaans nie juis my sterkpunt nie. Maar deur dié kortflieks, en nou die vollengte rolprent in Afrikaans te doen, het ek ’n liefde vir die taal ontwikkel. Terwyl ons die onderskrifte geskryf het, het ek gevind mens kan net nie die gevoel so goed in Engels vasvang soos in Afrikaans nie. Ek is mal oor die taal!

“Marista van Eeden is ’n baie belangrike stuk van die legkaart. Terwyl ek nie Afrikaanssprekend is nie en ook nie die kultuur intiem ken nie, kon Marista nuanse en diepte byvoeg tot die draaiboek op ’n manier wat ek nie sou kon nie.

“Maar ongeag ons taal en kultuur, moet ons almal die dood en verlies hanteer. En vriendskap is universeel.

“Ek vind ouer-word ook fassinerend, want dis iets waarvan nie een van ons kan ontsnap nie. Ons sê dikwels vir mekaar, ‘die tyd vlieg’, en skielik is ons ouer.”

Die films wat ek maak, moet ʼn inspirerende boodskap oordra. Opbouend en heartfelt. Ek is nie een van daai rolprentmakers wat flieks net vir aksie of vermaak wil maak nie. Ek wil inspireer en aanraak. As dit mense iets laat voel, bereik ek my missie.

Jordy Sank

Hoe het julle die tema van die verlies van ’n lewensmaat komies gemaak, sonder om die diepte en erns te verloor?

“Dit was ’n stilistiese besluit met die skryfproses en iets waarvan ons dus baie bewus was. Dit is die tipe flieks wat ons by Sanktuary Films maak. Dit kom neer op die aktrises wat so beeldskoon op daardie fyn lyn tussen komedie en klug gebalanseer het. Hulle het dit so goed gedra en dit in die proses maklik gemaak vir ons.”

Die Kwiksilwers
Saam met drie bejaarde vriendinne onderneem die koppige Elsabe (Lida Botha) ’n reis deur die Karoo in Kwilsilwer, ’n vintage Ford Granada, om ’n meteorietstorting in Sutherland te beleef.

Dis ʼn road trip-fliek ook en die Karoo-landskap en die langpad, het ʼn belangrike ‘karakter’ geword?

“Ons het op afgeleë plaas, sowat ʼn uur weg van Willowmore in die Oos-Kaap, geskiet. Die omstandighede was uitmergelend. Dit was baie warm en stowwerig; ʼn uur van die naaste dorp af; daar was niks selfoonsein nie en die uitdagings was dus enorm.

“Maar hierdie tannies gaan van die gemak van hul alledaagse, cooped up lewens, na die middel van nêrens, waar enigiets kan gebeur en beleef hulle grootste avontuur.”

Watter regisseurs inspireer jou en jou aanslag tot fliekmaak?

“Steven Spielberg is vir my een van die top-filmmakers. ’n Ander een, wat na my mening heeltemal onderskat word, is Robert Zemeckis, die regisseur van Forrest Gump, een van my gunsteling-flieks. Dís die tipe stories wat ek wil vertel.

“Die films wat ek maak, moet ʼn inspirerende boodskap oordra. Opbouend en heartfelt. Ek is nie een van daai rolprentmakers wat flieks net vir aksie of vermaak wil maak nie. Ek wil inspireer en aanraak. As dit mense iets laat voel, bereik ek my missie. In Suid-Afrika het ons soveel baie belangrike stories om te vertel met dié tipe boodskappe.”


Hierdie artikel het oorspronklik op 28 Julie 2024 verskyn voor die fliek se Silwerskermfees-première. Die artikel is aangepas met inligting oor die fliek se uitsaaibesonderhede op Showmax. Die Kwiksilwers is vanaf Maandag 15 Desember op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer
Sien alle opsies