Menu terloops
In Gons [24 Nov 2025]

‘Die Kantoor’: 7 dinge wat jy van nuwe Afrikaanse komedie moet weet


‘Die Kantoor’, die Suid-Afrikaanse weergawe van die veelbekroonde ‘The Office’, word tans verfilm en sal in Januarie op die kassie wees.  

‘Die Kantoor’: 7 dinge wat jy van nuwe Afrikaanse komedie moet weet

Dis nou al meer as twee dekades sedert die eerste episode van Ricky Gervais en Stephen Merchant se oorspronklike Britse weergawe van The Office in Julie 2001 uitgesaai is. Hoewel dié weergawe steeds as die crème de la crème van sitkoms beskou word, het dit net twee seisoene gehad. Daarenteen het die Amerikaanse weergawe veel langer op die kassie geboer. Steve Carell het in laasgenoemde vir jare die hoofrol vertolk. Oor nege seisoene heen het die reeks etlike benoemings ontvang, insluitend 42 Emmy-benoemings waarvan dit vyf beeldjies opgeraap het. 

Die druk is dus hoog om van die plaaslike weergawe – wat hoofsaaklik in Afrikaans is – ’n sukses te maak. Die reeks word deur Rapid Blue, deel van BBC Studios, vir Showmax vervaardig. 

Hier is sewe dinge wat jy moet weet voordat die reeks begin uitsaai: 

1

Die Safta- en Silwerskermwenner Bennie Fourie is die reeks se hoofskrywer en regisseur. Bennie is welbekend vir sy werk in die mockumentary-genre waarvan The Office deel is. Hy is onder meer die medeskepper van Hotel en vertolk die rol van Baltus in Magda Louw.

2

Die rolverdeling is ’n indrukwekkende ensemble. Dit sluit Albert Pretorius, Schalk Bezuidenhout, Lida Botha, Carl Beukes, Ilse Oppelt, Daniah de Villiers, Mehboob Bawa, Sipumziwe Lucwaba en Gert du Plessis in. 

Die kantoor
Albert Pretorius vertolk die rol van die kantoorbestuurder Flip in Die Kantoor. Foto’s: Verskaf
3

Die Suid-Afrikaanse weergawe van The Office is die 14de verwerking van dié formaat. Pole, Frankryk, Kanada en Australië tel onder van die ander lande wat al hul eie weergawes gemaak het. 

4

Volgens Bennie is dit nou die ideale tyd vir Die Kantoor om die lig te sien. “Dit is ’n groot eer om die program te kan maak,” sê Bennie. “Toe ons destyds met Hotel begin het, was dit (The Office) die tipe reeks wat ons wou naboots. Ek dink nie ons was toe gereed om dit te maak nie. Maar ná 10 jaar van speel met die mokumentêr-genre, is nou die ideale tyd vir ons om dit te doen. Alles het regtig in plek geval, en ons is baie opgewonde.”

5

Die Kantoor is nie bloot ’n Afrikaanse vertaling van The Office nie – dit is herverbeel vir ’n plaaslike konteks. Die kantoor-omgewing is dus verander na ’n maatskappy wat in polonie spesialiseer, Deluxe Processed Meats, eerder as die papierverskaffer, Dunder Miffler Paper Company, van die oorspronklike storie. 

6

Showmax se eerste oorspronklike reeks, Tali’s Wedding Diary, was ook ’n mokumentêr. Met Die Kantoor keer dié stroomdiens dus terug na hul wortels. 

7

Daar sal weekliks elke Sondag een episode op kykNET uitgesaai word, terwyl twee episodes op Dinsdae op Showmax vrygestel sal word. Die eerste episode van Die Kantoor word Sondag 18 Januarie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai met die eerste twee episodes wat Dinsdag 20 Januarie op Showmax beskikbaar sal wees.  


Kyk solank al nege seisoene van die Amerikaanse The Office op Showmax

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer
Sien alle opsies