Dié lys Afrikaanse flieks is maar net ’n druppel in die emmer van al die Afrikaanse stories wat nog vir ’n rukkie op Showmax beskikbaar is voordat dié plaaslike stroomdiens sluit. (Die presiese sluitingsdatum is nog onbekend.)
Hier is ons keur van vollengte Afrikaanse speelfilms wat jy nog op Showmax kan kyk.
Khaki Fever

In Khaki Fever daag ’n groep wildbewaarders mekaar uit om te sien wie die meeste toeriste in ’n seisoen in die bed kan kry, met die wenner wat al die fooitjies inpalm. Dis nou as hulle nie eers uitgevang en afgedank word nie…
Dié oorspronklike Showmax-film het sy première by ’n uitverkoopte Silwerskermfees-vertoning gehad, met Francois Jacobs wat die Silwerskermtoekenning vir beste byspeler gewen het nadat die fliek agt benoemings ingepalm het.
Lees ook ons onderhoud met Christopher Jaftha, wat die hoofrol van Daniel vertollk, en kuier saam agter die skerms op die stel van dié fliek.
Gebokste Liefde

In die romantiese komedie Gebokste Liefde vertolk die Safta-wenner Tarryn Wyngaard ene Suma-Lee, ’n geskeide enkelma met haas nimmereindige slegte geluk. Eers verloor Suma-Lee haar werk, en dan vind sy uit haar eksman Dries (Roche Killian van Plaasjapie) staan op trou… Met ’n model (Emma van Heyn van Eksie Perfeksie en Matilda en Matthys). Mos elke vrou se droom vir haar eks. Ja-nee, Tarryn Wyngaard se karakter in Showmax se nuwe Afrikaanse romkom, Gebokste Liefde, het beslis meer leed as liefde op haar kerfstok… En haar woede en frustrasie begin eet aan haar. Something’s gotta give. Sy begin dan met bokslesse om van die opgestopte emosies ontslae te raak, maar die vonke spat sommer vinnig tussen Suma-Lee en haar afrigter, Clive (Jandre le Roux). Dis net jammer sy lewe is net so deurmekaar as hare…
In die rolprent Finding Optel soek die 16-jarige amateur-speurder Claire Abrahams na ’n hond wat in die buurt weggeraak het. Dit lei onverwags tot die oopkrap van ou wonde wanneer sy ook op leidrade afkom oor haar ouer broer se verdwyning.
Die film is deur die broer-en-suster-duo Mikayla en Jesse Brown geregisseer, met Mikayla wat ook die draaiboek geskryf het en die hoofrol van Claire vertolk. Blended Films, onder meer bekend vir die pragfilm Hier.Na., is die vervaardigers.
Die rolverdeling is een om van te droom. Mikayla, as opkomende ster, word ondersteun deur onder andere Oscar Petersen (Vloeksteen, Kantlyn), Zenobia Kloppers (The Wheel of Time, Spinners, Fiela se Kind) as Auntie Doreen, Rodney Goliath en Sherman Pharo (albei van Arendsvlei), Maurice Carpede en Euodia Samson (albei van Summertide), Elton Landrew (Spinners, Carissa), en Omar Adams (Barakat).
Hans steek die Rubicon oor is gegrond op die topverkoperroman en gewilde radiodrama deur Rudie van Rensburg. Dis ’n aksie-avontuur oor die hardkoppige 90-jarige Hans (Pierre van Pletzen), wat deur sy vervreemde dogter Karla (wat in die buiteland woon), in ’n ouetehuis gestop word. Hans skop egter kliphard daarteen en lei ’n ouetehuisopstand teen die drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder (Nicola Hanekom). Dis ’n komedie vir die hele gesin oor oudword op jou eie terme.
Regie deur Corné van Rooyen. Ook in die rolverdeling tel Tobie Cronjé, June van Merch, Sandra Prinsloo, Danny Ross en Diaan Lawrenson.
Die Bloedhonde

In dié whodunnit komedie-drama skuif die bekroonde akteur Stiaan Smith agter die skerms in as dié Silwerskermfees-speelfilm se skrywer en regisseur.
Die rolverdeling sluit ’n heerlike versameling akteurs in, waaronder Elani Dekker (Toorbos, Vaselinetjie), Waldemar Schultz (Die Byl, Wyfie), Tobie Cronjé (Pronk Primêr, Hans steek die Rubicon oor) en Anrich Herbst (Plan B, Egoli).
Die Bloedhonde is die verhaal van Katrien (Dekker) wat snuf in die neus kry ná ’n raaiselagtige dood in die vakansieoord waar sy saam met haar gesin uitspan. Katrien se aanvanklike nuuskierigheid ontaard egter in ’n volskaalse speurtog wanneer sy die geliefde plaaslike dominee van vuilspel begin verdink. Met slegs ’n middeljarige swerwer (Schultz) as bondgenoot, werp Katrien alles in die stryd om geregtigheid te laat geskied.
Eksie Perfeksie
In dié raunchcom vertolk Pietie Beyers (Pronk Primêr, Die Onderonsie, Getroud met Rugby) die rol van André, wat by sy nuwe meisie intrek sonder dat hulle mekaar rêrig ken. Dan vind hy uit dat sy steeds vriende met al haar eks-kêrels is… André is geïntimideer deur hul teenwoordigheid, maar besluit om nietemin dié lot te bevriend… Net om te ontdek dat al Dalene se verhoudings dieselfde patroon volg.
Ook met Emma van Heyn, Bobby van Jaarsveld, Cindy Swanepoel en Maude Sandham in die rolverdeling.
Matilda & Matthys

Matilda is ’n jong vrygees met groot ambisies vir haar loopbaan as skrywer, maar weier om tot die nukke van die liefde in te gee. Matthys is ’n tech entrepreneur wat die lewe deur die lens van suiwer data beskou. As hulle albei uitgedaag word om dieper te delf – Matilda om ’n beter skrywer te word en Matthys om meer data vir sy dating app in te samel – gaan dié onwaarskynlike duo op ’n rits fake dates. Maar dis nie lank nie of harte raak verward…
Emma van Heyn is heerlik as Matilda, en geniet ’n heerlike on-screen chemie met Adrian Steyn as Matthys. Bibi Slippers is die draaiboekskrywer en regisseur.
Beurtkrag draai om Jasper (Ivan Botha) en Fransie (Donnalee Roberts) wat uit die staanspoor baie verskil, maar saam intrek en té veel flapperende rooi vlae doelbewus ignoreer. (Klink bekend, nè?) As beurtkrag hulle onverwags op die eerste aand in hul nuwe huis tref, probeer hulle die beste van die donker situasie maak. Hulle dans. Hulle raak dronk op die idee van liefde. Hulle onthou … maar saam met die onthou word die verkeerde boks oopgemaak en ontspoor die aand. Swaar bagasie word uitgepak en hulle word gekonfronteer met die swaar en donker verlede wat hulle saamdra.
’n Tyd van Waterpere
’n Tyd van Waterpere vertel oor ’n 15-jarige seun, Dirk, wat ná sy ma in ’n motorongeluk sterf, by sy oupa moet gaan bly. Dirk se ma en sy oupa was van mekaar vervreem, so dié twee is wildvreemdelinge, maar met dié dat sy oupa sy enigste oorblywende familielid is, moet Dirk op sy plaas gaan woon.
Sonvelt Media het in 2024 die Safta-toekenning vir beste TV-fliek vir ’n Tyd van Waterpere gewen.
Wesens
As ’n vreemde vlieende voorwerp in 1967 in die middel van die Karoo se nêrens beland, stel vier lede van die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste ondersoek in. Soos die agente die raaiselagtige verskynsel ondersoek, neem een van hulle koers in op ’n persoonlike ontdekkingsreis. Dit bring lewensveranderende gevolge mee.
In Meisies wat Fluit het Henk (Stiaan Smith) en Sofia (Leandi du Randt) té vinnig verlief geraak, té vinnig getrou en nou staan hulle net so vinnig op skei. Maar pas ná hul egskeiding gefinaliseer is, beland hulle saam in die bed… En nogal vir die eerste keer in meer as ’n jaar. Hulle kon nie hul huwelik laat werk nie, maar miskien is ’n anderste soort verhouding nommerpas?
Vir altyd

Die aand voor Nina se troue daag Hugo, the one that got away, weer in haar lewe op. Maar dan word Nina voor die altaar ge-drop… Met ’n gebroke hart, haar drome verpletter, en ’n enorme hangover word sy op die vliegtuig wakker met Hugo aan haar sy. In plaas van haar runaway groom, spandeer sy en Hugo haar “wittebrood” in Mauritius saam. Met Donnalee Roberts en Ivan Botha in die hoofrolle.
Herleef
As Victor noodgedwonge by ’n eienaardige spa begin werk, ontdek hy dat nuwe maniere om die lewe te onthou en aan te pak, groter risiko’s inhou as wat hy ooit kon dink. Met Righard van Jaarsveld en Augusta Zietsman. Regie deur André Velts.
Toorbos
Dalene Matthee se gelyknamige boek is deur die regisseur René van Rooyen en haar man, Corné, verwerk. Matthee se romanse speel af in die 1930s teen die agtergrond van die laaste bewoners van die Knysnabos wat vir die denneplantasies moet padgee. Dit draai om die liefdesverhaal tussen Karoliena, ’n veel ouer dorpsman, en die bos in haar bloed.
Die veteraanakteur Arnold Vosloo, en die jong akteur Alex van Dyk is te sien in hierdie fliek wat gegrond is op die grusame moord op Deon en Christel Steenkamp en hul tienerdogter Marthella op hul plaas buite Griekwastad. Die draaiboek is deur die bekroonde skrywer Tertius Kapp en Jozua Malherbe is die regisseur. Die joernalis Jacques Steenkamp se boek oor die moorde, The Griekwastad Murders: The Crime that Shook South Afrika, is as die grondslag gebruik. Ook in die rolverdeling is Rolanda Marais, Deon Lotz, Jane de Wet, Crystal-Donna Roberts en Jody Abrahams.
Die weermag in die vorige bedeling was ’n ongenaakbare plek vir enige jong man. Hulle is in die diepkant ingegooi en het dikwels met die harde kant van manlikheid te doen gehad. Hoe groter jou spiere, hoe beter. Hoe weliger jou baard, hoe beter. Hoe harder jy kon wees met iemand wat nie so manlik soos jy is nie, hoe beter. Dit is juis die probleem vir Johan Niemand (Schalk Bezuidenhout) wat verkies om soos die 1980’s pop-ikoon Boy George aan te trek eerder as om die vyand op die grens te gaan veg.
Swirl
Tarren-Lee Habelgaarn skryf oor Swirl: “Swirl maak lig van die belangrike verhouding tussen ’n vrou en haar hare en hoe almal altyd ’n opinie oor iemand se hare het. Hierdie komedie is nie net skreeusnaaks nie, maar het die baie belangrike boodskap dat hare in baie gemeenskappe, maar veral op die Kaapse Vlakte, baie meer as net hare is. Chanelle Davids, Vinette Ebrahim, Ilse Klink en Shaleen Surtie-Richards lewer uitstekende toneelspel. Dit is ’n komedie met diepte oor familie, gemeenskap en die feit dat mense daarop geregtig is om hul hare te dra nes hulle kies, sonder enige judgement. This movie is about being unapologetically you!“
Barakat
Barakat vertel die storie van ’n weduwee, gespeel deur veteraan-aktrise Vinette Ebrahim, wat die vrede tussen haar vier seuns Zunaid (Joey Rasdien), Zaid (Mortimer Williams), Yaseen (Keeno Lee Hector) en Nur (Danny Ross) moet bewaar as hulle terugkeer na hul gesinshuis vir Eid-ul-Fitr. Hul tuiskoms vind twee jaar ná die dood van hul pa plaas en met groot verandering in haar lewe, is dit meer as net ’n gesellige kuier met haar seuns.
Kaalgat Karel
Kaalgat Karel, vertel die verhaal van Karel Venter (vertolk deur skreeusnaakse Francois Jacobs), ’n kaalnaeler, wat verlief raak op die sagte en beeldskone paramedikus, Rita (vertolk deur Christia Visser) nadat ’n kaalnaelsessie skeefloop. Maar daar is een probleem: sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in sy bedrywighede nie.
Tarren-Lee Habelgaarn beskryf dit só: “Dis ’n fliek met sjarme, romanse, onverwagse vriendskap en baie pret. Dit het ’n eenvoudige storielyn met een doelwit: om gehore te laat lag. Met al die moeilike tye wat mense tans beleef en die pandemie wat swaar op mense se harte lê, is hierdie net ’n klassieke komedie wat tussen die wêrelde van Leon Schuster en Adam Sandler sy plekkie vind.”
Stiekyt

’n Akteur (Paul du Toit met ’n fantastiese vertolking) wat in die geheim by ’n sukkelende fopdosserklub werk, moet veg vir die behoud van sy huwelik nadat sy vrou (Cintaine Schutte) hom daar betrap. Hy moet ook die optrede van sy lewe gee om agterdog oor die dood van sy kollega uit die weg te ruim…
Dié briljante fliek, wat sy debuut by die 2022 Silwerskermfees gemaak het, se regie is deur Etienne Fourie. Onder die spelers in die rolverdeling tel ook Illse Roos, Jacques Bessenger, Albert Pretorius en Carla Smith.
Horisonne

Dié sielkundige riller storie wentel om Melissa (Elma Postma), ’n sielkundige wat by ’n psigiatriese hospitaal werk. Haar traumatiese geraamtes donner heeltemal uit die kas uit as sy hoor haar eks staan aan die hoof van ’n sogenaamde mindfullness-oord. Sy kry dadelik snuf in die neus. Haar eks, Melchior van Staden (Chris Chameleon), het haar immers geestelik gemartel. En nou lyk dit asof hy jong mans en vroue brainwash om sy wense uit te voer. Dan leer sy boonop dat haar 18-jarige dogter – wat sy as jong tiener gehad en laat aanneem het – is in Melchior se kultus-web vasgevang. Sy sal enigiets doen om haar dogter te red.
Soos Pynappel op Pizza
Die stand-up-komediante Schalk Bezuidenhout en Kate Pinchuck pak hul eerste hoofrolle in ’n romantiese komedie aan in Showmax se Soos Pynappel op Pizza. Die storie draai om hul karakters – Waldo en Becca – se ontmoeting by ’n gekke enkellopende toevlugsoord in die berge, waar die noodlot hulle dan in die een absurde scenario ná die ander laat beland. Só word hulle gedwing om hul opinies oor die liefde te heroorweeg.
Vlugtig draai om die jong akteur, Simon Berg (Arno Greeff), wie se lewe ’n onverwagse wending neem as hy deel van die rolverdeling vir ’n herverbeelde Rooikappie-produksie word. Dit kom as ’n gulde geleentheid voor – die regie is immers deur sy se rolmodel, die befaamde teatermaker Andreas Vog. Maar dit blyk gou dat Andreas nie jou gemiddelde regisseur is nie en Simon loop onder die sadistiese Andreas se onortodokse metodes deur. Dis net sy medester, Chantel Opperman (Jane de Wet), wat hom bemoedig om voort te stoei.
Kwilsilwer, die vintage Ford Granada in Die Kwiksilwers, is nie sommer enige motor nie. Hy’s soos ’n tydskapsule vir Elsabe Marais (Lida Botha) se herinneringe aan haar oorlede man, wat gereeld saam met haar avonture in dié motor aangepak het.
Saam met drie bejaarde vriendinne onderneem die koppige Elsabe ’n reis deur die Karoo om ’n meteorietstorting in Sutherland te beleef. Die res van die onwaarskynlike viertal is Anna (June van Merch), Elsabe se inmengerige buurvrou; die flambojante Mienkie (Susanne Beyers) en teruggetrokke Katie (Theresa Sedras). Hulle moet binne drie dae by Sutherland uitkom vir die meteorietstorting terwyl hulle ook Elsabe se oorbeskermende seun Wikus (Jacques Bessenger) probeer ontduik…
Fiela se Kind is ’n baken in die plaaslike kulturele landskap. Die bekroonde skrywer Dalene Matthee se gelyknamige boek is in 1986 gepubliseer en sedertdien is die storie vir die verhoog en vir die grootskerm aangepas. Die 1988-fliek is deur Katinka Heyns geregisseer, met Shaleen Surtie-Richards, André Rossouw, Lida Botha en Dawid Minnaar by die rolverdeling ingesluit.
In ’n hervertelling vir die silwerdoek in 2019 het Zenobia Kloppers by Surtie-Richards oorgeneem as ma Fiela Komoetie wat ’n verlore wit seuntjie in die Knysna-bos vind. Fiela, ’n bruin vrou, maak hom groot as Benjamin Komoetie (Luca Bornman) maar dan word hy uit Fiela se arms geruk en “huis toe geneem.”
Dis ’n roerende verhaal met gut-punch-vertolkings; die trane val, die harte skeur. Die wêreld kan swaar en bitter lelik wees, maar liefde oorwin.
Dié roerende drama is gegrond op bekroonde skrywer Dana Snyman se eenmanstuk Die klaagliedere van ds. Tienie Benade. Die gevierde veteraanakteur Frank Opperman het, soos in die film, ook die titelkarakter vertolk.
Sallas de Jager is die regisseur van dié vertelling oor ’n dominee wat sukkel om kop (en hart) bo water te hou midde die dalende bywoningsyfers in sy gemeente en sy struwelinge oor waar hy inpas in ’n moderne samelewing.
Ook onder die rolverdeling tel spelers soos Deon Lotz en Henriëtta Gryffenberg.
Vaselinetjie is gegrond op die gelyknamige jeugroman deur Anoeshka von Meck en die fliekweergawe is ewe kragtig. Die storie draai om ’n wit dogtertjie, Vaselinetjie, wat deur haar bruin ouma en oupa op ’n klein dorpie grootgemaak word. Sy word egter uit dié huis en hul sorg geruk as die staat uitvind hulle is nie biologiese familie nie. Vaselinetjie word dan verplaas na ’n nuwe, rowwe, genadelose weeskind-wêreld in Johannesburg.
Marguerite van Eeden vertolk die naamrol.
Troues is veronderstel om ’n viering van die liefde te wees, maar hierdie fliek kyk daarna uit ’n ander hoek: om te doen wat reg vir jóú is.
Die aand van die bruilof is ’n waas wanneer die gaste wakker word. Hulle het te veel gedrink, te hard partytjie gehou en hulle probeer onthou wat by die onthaal gebeur het en hoekom. En dis nie net een of twee persone nie. Dis almal van die bruid en die bruidegom tot die kelnerin wat droom van ’n nuwe lewe elders.
Daar is so hier en daar humor, maar dié prent delf dieper en vra die vrae wat so baie mense oor die huwelik (dalk te laat) vra.
In die styl van flieks soos Love Actually en Valentine’s Day ontvou die liefdesverhale van ses verskillende paartjies aan die oewer van die Mooirivier in Potchefstroom.
Daar is ʼn spul bekende en gewilde akteurs in die fliek waaronder die sanger Heinz Winckler, Tim Theron, Milan Murray, Anel Alezander, Anne Hirsch en Leandie du Randt. Die bekroonde René van Rooyen is die skrywer en regisseur.
Eerste liefde, tweede liefdes en liefde tussen gesinslede is maar net sommige van die vorme van die liefde wat ondersoek word. Dit was boonop die eerste ensemble-fliek in Afrikaans en is ʼn bewys dat die liefde wen.
Hierdie Afrikaanse rolprent is as The Harvesters internasionaal vrygestel en het groot lof ontvang.
Dit vertel die verhaal van ’n jong man wat voel asof hy vir sy ma se liefde moet meeding as sy familie ’n weeskind aanneem.