Hoewel Melchior van Staden (Chris Chameleon) homself as ’n mindfulness-redder voordoen, weet Melissa (Postma) van beter. Melchior se Horisonne-oord blyk oënskynlik ’n plek van sielsrus en bevryding te wees maar sy sien die rooi vlaggies van ver af wapper – hierdie is ’n kultus met Melchior as profeet en jong mans en vroue, die af-vlerke van die samelewing, as dissipels wat sy elke asemteug aanbid.
Dinge raak meer ingewikkeld as Melissa vir Adri (Deoudoné Van der Merwe), die dogter wat sy as tiener gehad en laat aanneem het, onder Melchior se wakende oog by Horisonne vind.
Melissa is egter nie net Melchior se obsessie nie – Alwyn (Wessel Pretorius), ’n psiogaat en beweerde reeksmoordenaar, is een van haar pasiënte by die Noordlig Psigiatriese Kliniek, en sy belangstelling lê nie vlak soos hy met sy traak-my-nie-agtige houding voorgee nie.
terloops het met Elma oor Horisonne, vanaf Vrydag, 2 Junie 2023 op Showmax, en haar rol as Melissa gesels.
Wat het jou genoop om die rol van Melissa te aanvaar?
“Ek kon reeds in die oudisie-toneel voel dat hierdie ’n lekker karakter is. Die manier hoe die dialoog tussen haar en Alwyn vir die toneel geskryf is, het my ook gevang. Dít was net heerlik om te speel.
“Sy is sterk, sy het ’n vonkel in die oog, interessant, donker verlede, laat nie oor haar loop nie… Maar daar is sekere teer puntjies waaraan jy nie moet karring nie. En natuurlik, toe ek hoor wie in die rolverdeling is – Chris, Wessel, Deoudoné – was dit maklik om die rol te aanvaar.
“Ek het al voorheen saam met André Velts (regisseur) gewerk en ek het dit baie geniet. Hy het ’n manier om my te help om nie die vanselfsprekende roete van vertolking te aanvaar of te doen nie, maar om iets anders te probeer. Ek het hom ten volle in die proses vertrou.”
Sy is slim en selfversekerd in soveel opsigte, maar dan is daar altyd haar geskiedenis en seer wat weggesteek word; wat die wêreld nie moet sien nie. Is ons almal nie maar tot ’n mate so nie? Wat ander sien, is nie die volle prentjie nie, behalwe as hulle jou baie goed ken. Soms is dit nodig om weg te steek vir selfbehoud.
Elma Postma
Wat is jou karakter se dryfkrag? Haar raison d’etre?
“Sy is iemand wat al baie ervaring van teleurstelling en afbreking het – maar ook van herrys uit moeilike omstandighede. Sy het haarself al verskeie kere gered, maar dit keer nie dat dié trauma herroep kan word nie, en dit verseker nie dat sy weet hoe om elke situasie te hanteer nie – veral as sy met nuwe informasie gekonfronteer word as sy by Horisonne opdaag.
“Haar dryfkrag is seker haar strewe om nooit weer vasgevang te word in ’n situasie waar sy psigies en fisiek mishandel word nie, maar ook om die foute van die verlede reg te stel. Om haar dogter se vergifnis te kry en om seker te maak dat Melchior se mag, invloed en manipulasie afgebreek word.”
Is daar spesifieke kenmerke of elemente van Melissa se mens-wees en psige wat jou gefasineer het? Of waarby jy persoonlik kon aanklank vind?
“Met al haar emosionele bagasie, het sy nog steeds ’n sin vir humor. Die menslike psige, en die gedrag van byvoorbeeld Alwyn en die ander pasiente, fasineer daag haar uit. Hy (Alwyn) daag haar uit, maar sy doen dieselfde met hom.
“Sy is slim en selfversekerd in soveel opsigte, maar dan is daar altyd haar geskiedenis en seer wat weggesteek word; wat die wêreld nie moet sien nie. Is ons almal nie maar tot ’n mate so nie? Wat ander sien, is nie die volle prentjie nie, behalwe as hulle jou baie goed ken. Soms is dit nodig om weg te steek vir selfbehoud.
“Ek kan nie presies vaspen hoekom ek soveel aanklank gevind het by die karakter nie, maar ek het geweet sy gaan beslis nie vervelig wees nie.”
Melissa is heerlik kompleks, ’n vulnerable badass, sou ek sê. Hoe het jy gemaak om daardie kompleksiteit in jou vertolking weer te gee? Daardie balans tussen haar seer en haar fight te vind?
“Ek dink ek is op daardie ouderdom wat ek kan se dis ’n kombinasie van om in detail deur die teks, subteks, die storielyn, verhoudings, verlede, en die betekenis van die storie te werk. Maar ek kan ook werk met my eie lewenservaring.
“Vulnerable badass is nogal ’n beskrywing waaraan ek nie voorheen gedink het nie, maar ja, miskien is ek ook een. Ek is dankbaar vir ’n teks deur Wessel Pretorius, wat soveel geleentheid gegee het vir hierdie karakter om verskeie vlakke van kompleksiteit te besit.”
Wat staan vir jou uit van jou mede-spelers, hul karakters en hul vertolkings?
“Ons het die film in sewe dae – plus een ekstra as gevolg van reën op die sewende dag! – geskiet. (Ons het) bitter hard gewerk, soms 12 uur aanmekaar. Elke iedere akteur, medespeler, die ekstras, het met hul hele hart op stel opgedaag, elke dag. Almal was voorbereid en het geweet wat van hul karakter verwag word, en het saamgewerk om die storie as ’n span te vertel.
“André het presies geweet hoe hy hierdie storie wil vertel en dit deurgaans duidelik oorgedra. Dit het gemaak dat almal op dieselfde bladsy was.
“Ons het soms vir ure nie elektrisiteit op stel gehad nie, maar almal was positief en het hul humorsin behou.
“Ek dink die locations en dekor, beligting, gimering, kostuums, alles agter die skerms, het ’n ongelooflike groot rol gespeel. As mense kon sien hoe hard ’n crew werk, sal hulle dit nie glo nie. En ek het die grootste bewondering vir die hele span. Om ’n fliek te skiet, hang beslis nie net van die akteurs af nie.”
Horisonne is vanaf Vrydag, 2 Junie 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.