Khaki Fever première Vrydag 5 September op Showmax. In dié 18SNL-komedie daag ’n groep wildbewaarders mekaar uit om te sien wie die meeste toeriste in ’n seisoen in die bed kan kry, met die wenner wat al die fooitjies inpalm. Dis nou as hulle nie eers uitgevang en afgedank word nie…
Dié oorspronklike Showmax-film het sy première by ’n uitverkoopte Silwerskermfees-vertoning gehad, met Francois Jacobs wat die Silwerskermtoekenning vir beste byspeler gewen het nadat die fliek agt benoemings ingepalm het.
Die Safta-benoemde voormalige Top Billing-aanbieder Christopher Jaftha vertel meer oor sy deurbraak-hoofrol:
Jou karakter, Daniel, stel reg van die begin af die toon vir die fliek. Wat was jou eerste indruk toe jy die draaiboek lees?
“Toe ek dit die eerste keer lees, het ek hardop gelag – iets wat nie dikwels gebeur nie. Daniel het vir my oorgekom as ’n sjarmante, astrante, ietwat belaglike, maar baie liefbare karakter. Maar agter al die grootpratery en maagspiere lê daar ’n kwesbaarheid en dít het my aangegryp. Hy’s spoggerig, maar daar’s diepte.”
Wat dink jy gaan kykers van Daniel dink – veral namate sy lae (en ek bedoel nie net klere nie!) afkom en ons hom beter leer ken?
“Ja, wel, daar’s nie juis baie klere om uit te trek nie, kom ons wees eerlik! Maar ek dink mense gaan ’n eendimensionele himbo verwag en dan verras word. Daniel het eintlik ’n groot hart. Hy’s mededingend en stout, ja, maar hy worstel ook met sy eie onsekerhede. Daardie mengsel van humor en hart maak dit moontlik om met hom te vereenselwig en, hopelik, te onthou.”
Regisseur Brett Michael Innes het al baie gepraat oor improvisasie op stel. Kom dit natuurlik vir jou?
“Improvisasie is een van my gunsteling-dele van die toneelspel. Baie mense ken my nie vir komedierolle nie, maar toe ek jonger was, het ek gedroom daarvan om op Whose Line Is It Anyway? te wees. Improvisasie is waar die ware goud lê.
“Brett het vir ons ongelooflike vryheid op stel gegee, en dit het daardie spontane oomblikke moontlik gemaak wat die tonele verhef. Die hele rolverdeling se komiese tydsberekening was uitstekend, so ons het voortdurend met mekaar geskerts. Dit het ons op ons tone gehou, en ek dink daardie energie wys op die skerm.”
Dit moes ’n baie lekker stel gewees het. Wat het jy van die werksomgewing geniet?
“Jy kan nie so nou met mense werk – en in so min klere – sonder om ’n band te vorm nie! Ek het die balans van professionaliteit en speelsheid geniet. Almal het hul beste gelewer, maar daar was ook ruimte om rond te speel, nuwe dinge te probeer, en onsself nie te ernstig op te neem nie.
“Ook, met daardie natuurskoon in die bos het dit meeste van die tyd nie soos werk gevoel nie. Ek het dit ook waardeer dat ons deel was van iets wat met stereotipes spot, maar terselfdertyd ons Suid-Afrikaanse eiesoortigheid vier. Ons het baie gelag. Baie!”
Daardie broekies is… kort. Was dit ten minste gemaklik? Het jy ekstra oefeninge vir jou beenspiere gedoen?
“Kom ons sê maar net dat ek áltyd my beenoefeninge gedoen het. Daardie broekies laat niks aan die verbeelding oor nie. Dit was… styf. Ek het baie bewus geraak van sonskerm, squats, en, kom ons noem dit “veiligheidsmaatreëls”, wat die broekies betref.”

Hoe was dit om met intimiteitskoördineerders te werk?
“Dit was nie my eerste keer nie, en ek het al voorheen met Émil [Haarhoff] en sy ongelooflike span gewerk. Hulle bring altyd ’n gevoel van veiligheid, professionaliteit en sielkundige bewustheid na die proses, wat help om ’n sterk grondslag vir die werk te lê. ’n Spesiale dankie aan Carla Classen, wat ingespring het toe Émil nie beskikbaar was nie; sy was fantasties. Hulle het deurentyd met my gekommunikeer oor hoe ek voel, en of ek, vir enige rede, dalk ongemaklik voel, selfs ná ’n toneel.
“Die tonele self is baie meer tegnies as wat mense dink. Ná jy verby die aanvanklike ongemak beweeg – daar is oefeninge om daarmee te help – gaan dit alles oor storievertelling, nie naaktheid nie. Wat ek van hul metodes waardeer, is dat dit op die sielkunde agter die spel fokus. Dít laat jou toe om die karakter volledig te beliggaam, maar dit tog ook alles weer aan die einde van die dag by die deur te los.
“In die intieme tonele is daar eintlik baie padding en kleiner afgeblaasde joga-balle, sodat daar nooit fisieke kontak tussen die akteurs is nie. Wanneer almal veilig voel en alles reg is, is daar geen huiwering om te doen wat van die karakter verwag word nie.”
En wat het jy oor jouself of jou toneelspel geleer wat jy vorentoe kan toepas?
“Wel, hierdie fliek is beslis buite my gemaksone, en enigiemand wat dit langer as 30 sekondes kyk, sal verstaan hoekom! So, veerkragtigheid. En om nooit ’n boek aan sy buiteblad te beoordeel nie. Dis dinge wat ek nog altyd geweet het, maar dis goed om so nou en dan daaraan herinner te word.”
Hoe was dit om saam met ’n bekroonde regisseur soos Brett te werk, wat al twee keer die Safta vir beste fliek gewen het?
“Brett is ’n fors. Hy het so ’n duidelike visie, maar laat steeds ruimte vir akteurs om te verken. Daardie tipe vertroue is skaars. Hy het ons veilig laat voel, maar ook gedruk om risiko’s te neem. Jy het altyd geweet hy staan agter jou en dat hy stilweg uitkyk vir daardie weerlig-in-’n-bottel oomblikke. Hy maak goeie flieks omdat hy almal se vertroue wen. Brett is ’n legende en ’n broer.”
Hoekom moet mense Khaki Fever kyk?
“Omdat dit wild is. Dis snaaks, sexy, stout, en soms onverwags teer. Die toon van die projek, en hoe dit hanteer is, is dapper, onbeskaamd, en vol hart. Dit is nie te ernstig nie, maar dit is ook nie ligsinnig nie. Jy gaan lag, ineenkrimp, en waarskynlik ná die tyd ‘wildbewaarder-werksgeleenthede in Suid-Afrika’ op Google soek! Hierdie een is vir die bosveld-seuns, die toeriste, en enigiemand wat al ooit verlief geraak het op ’n wildbewaarder in ’n kort broekie.”
Kyk Khaki Fever op Showmax vanaf 5 September 2025.