Vyf mans, 50 eerste ontmoetings en net ’n paar kosbare minute om te bepaal of daar ’n vonk is. In die komende episode van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou ontmoet elkeen van die top-5 boere sy tien pasmaats tydens die blitsafsprake.
Hoewel hul lewens en persoonlikhede verskil, is hulle dit eens dat blywende liefde meer as blote aantrekkingskrag vereis. Dit sluit ook gedeelde waardes, eerlikheid en ’n maat wat saam met hulle wil groei, in.
Vir Arno (28), ’n bosbouboer van Tzaneen in Limpopo, begin ’n verhouding by geloof. Hy soek ’n vrou met ’n sagte, liefdevolle hart wat God eerste stel, opreg en lojaal is en saam met hom in geloof en liefde wil groei. Sy ideale maat sal ook die natuur en die eenvoudige dinge in die lewe waardeer. Arno beskou homself as romanties op ’n egte, ongekunstelde manier: liefde lê vir hom in klein dade wat wys sy maat is vir hom belangrik.

Francois (34), ’n natuurbewaarder van Hoedspruit in Mpumalanga, het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer ná drie jaar se natuurbewaringswerk in Suid-Soedan. Sy werk en leefomstandighede vra ’n besondere soort vennoot. Hy hoop om ’n onafhanklike, intelligente en aktiewe vrou te ontmoet wat bereid is om in afsondering te woon, maar terselfdertyd ook haar eie loopbaan en identiteit behou. Net so belangrik is iemand wat hom laat lag en by wie hy gemaklik kan wees. Vir Francois beteken ’n gesonde verhouding dat niemand enigsins wie hulle werklik is hoef prys te gee nie.

By Reitz in die Vrystaat is JD (28) diep gewortel in sy familieplaas. As vierdegeslagboer sien hy boerdery nie bloot as ’n beroep nie, maar as sy roeping, passie en tuiste. Daarom soek hy ’n sterk vrou met ’n sagte hart. Iemand met geloof wat op die plaas kan aard, liefde kan gee én ontvang en hom deur goeie en moeilike seisoene sal ondersteun. Sy moet die plaas, die diere en die stilte van die platteland uit eie keuse liefhê en gereed wees om saam met hom ’n gesin te begin.

Jack (30), ’n appel- en peerboer van Hermanus in die Wes-Kaap, soek meer as net ’n lewensmaat. Hy wil saam met sy beste vriendin homself op ’n nuwe plaas vestig. Spreuke 27:17 vat sy wens die beste saam. Hy wil ’n vrou ontmoet wat hom uitdaag en saam met hom groei, maar ook haar eie stempel kan afdruk. Sy ideale pasmaat is sportief, slim en geniet lag, dans, uitdagings en tussendeur ook ’n bietjie kattekwaad. Jack glo ook dat hul waardes, leefstyl, kultuur en geloof mekaar moet aanvul en dat ’n sterk maat eerlike, selfs moeilike, gesprekke kan voer.

Willie (37), ’n bees- en mielieboer van Harrismith in die Vrystaat, is gereed om die lewe wat hy opgebou het, met iemand te deel. Hy soek ’n Godvresende, goedversorgde en stabiele vrou wat passievol is oor haar eie werk en belangstellings. Sy hoef nie noodwendig op die plaas te woon of te werk nie. Vir Willie is haar eie dryfkrag juis aantreklik. Hy wil openlik en eerlik kan kommunikeer met iemand wat bereid is om aan te pas, maar steeds haarself bly. Spontaneïteit, ’n goeie sin vir humor en ’n liefde vir mense sal haar laat uitstaan.

Die blitsafsprake bied nou die eerste toets: kan Arno se sagte hart, Francois se avontuurlus, JD se plaasdroom, Jack se speelsheid en Willie se spontane geaardheid binne minute die regte pasmaat se aandag trek? En watter eerste gesprekke sal sterk genoeg wees om die volgende tree op die liefdespad te verdien?
Boer soek ’n vrou S18 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.