Ons sepies en telenovelas herinner ons daaraan dat hierdie verhale nie net geskrewe dramas is nie, dit is weerspieëlings van werklike lewens, van vroue wat ná verlies weer opbou, wat hul stem laat hoor in onveilige ruimtes, hulself herdefinieer en mekaar staande hou. Met dié dat dit Vrouemaand is, het ons met die vroue van Suidooster, Diepe Waters, Binnelanders en Skemergrond gesels om te hoor wat vrouwees vir hulle beteken. Van veterane wat dekades se stories dra, tot nuwe sterre wat nog hul stem vind – saam vier hulle stories die krag, kompleksiteit en skoonheid van vrouwees in vandag se Suid-Afrika.
Wat het die vertolking van jou karakter vir jou geleer oor liefde en selfwaarde? En hoe sou jy ander vroue aanmoedig om hulself meer vreesloos lief te hê?
Char Carrie (Angie in Suidooster): “My karakter het my baie geleer oor vrouwees, maar ook net myself wees. Ek dink voorheen was ek baie bang vir wie ek was, om myself te wees en om vir mense te wys wie ek regtig is. Maar Angie het my geleer om nie so te wees nie. Sy is so unapologetically haarself. Sy gee nie om wie haar nie waardeer of van haar hou nie, want sy is bewus daarvan dat daar wel mense is wat haar liefhet vir wie sy is. En sy omring haarself met daardie soort mense. Ek dink sy gee haarself ook genoeg liefde, of dit nou van binne of buite is.”
Talia Davis (Amber in Skemergrond): “My karakter het my geleer om jouself lief te hê, te respekteer en te aanvaar wie jy is. Sodra jy leer om jouself lief te hê, sal jy die vermoë hê om ander te kan lief hê.”
Sandi Schultz (Zelda in Diepe Waters): “Zelda het my in sekere opsigte geleer om nie soos sy te wees nie. Ek dink dis reg om alleen te wees, om myself uit te neem vir ete, om op self-sorg te fokus, en om myself lief te hê presies soos ek is.”

Wat is die grootste les wat die lewe jou geleer het oor vrouwees?
Lorraine Burger (Annetjie in Binnelanders): “Vroue is ongelooflik sterk. Ons het die vermoë om na ander om te sien, ons wêrelde te laat funksioneer én genot te put uit die lewe… selfs wanneer dit nie altyd wonderlik gaan nie.”
Daniélle Swanepoel (Karla in Diepe Waters): “Vrouwees beteken nie jy moet alles vat en net glimlag nie. Jy kan kies hoe dit jou definieer en hoe jy dit hanteer. Ons mag verander en onsself herdefinieer sonder om onsself te verloor.”
Char Carrie: “Daar is baie oordeel teenoor vroue, van hoe ons aantrek tot of ons kinders het of nie. Om sterk te wees beteken nie om nie kwesbaar te wees nie; dit beteken om saam met jou kwesbaarheid te beweeg.”
As jy nou met ’n vrou kon praat wat onsigbaar of onderskat voel, wat sou jy sê?
Khadija Heeger (Jasmine in Skemergrond): “Ek sien jou, suster. Jy is hier omdat jy nodig is.”
Annelisa Weiland (Kate in Suidooster): “Moet nie uit jou pad uit gaan om ander tevrede te stel nie. Stel eers jouself tevrede.”
Megan Troskie (Thalia in Binnelanders): “Jy is nie onsigbaar nie. Al voel dit soms of niemand jou raaksien of jou waarde erken nie, beteken dit nie dat jy minder is nie. Jy dra unieke lig en jy is geskep met ’n doel wat nie van mense se erkenning afhanklik is nie.”
Daniélle Swanepoel: “God sien jou waarde en dit is al aan wie jy dit hoef te bewys. Jou storie is geldig, jou lig is nodig.”
Hoe het jy in jou loopbaan die moed gevind om jou stem te gebruik, en hoe kan meer vroue dieselfde doen?
Sandi Schultz: “Ek dink ek is redelik uitgesproke en in my loopbaan pleit ek vir myself en die karakters wat ek speel, maar ek het ook my stem gebruik om op te staan as ’n survivor van bloedskande en verkragting en om te pleit dat survivors die stilte verbreek. Ongelukkig voel nie alle vroue veilig genoeg om te praat nie, maar as jy kan, vind iemand wat jy vertrou en vertel jou storie.”
Megan Troskie: “Vir my het moed nie oornag gekom nie. Dit het begin deur kleinstappies byvoorbeeld om my opinie in ’n gesprek te gee of om nee te sê wanneer ek wou. Ek het besef my stem het waarde, al is dit nog stil en onseker.”
Talia Davis: “Leer uit vorige ervarings, wat jy dan kan gebruik om ander te motiveer.”
Annelisa Weiland: “Uithouvermoë!”
Watter storielyn of oomblik in jou loopbaan het vir jou die ware krag van vroue uitgebeeld?
Khadija Heeger: “Jasmine is lief vir beide Hendrick en JP. Sy voel vir Christine ten spyte van alles, maar sy sal haar vernietig om haar familie te red. Ware krag is om uit baie hoeke te kan kyk sonder om jouself te verraai.”
Char Carrie: “Angie se storielyn waar sy die man wat sy gedink het haar trouman gaan wees (Wade) verloor het, maar steeds aangegaan het met werk, die lewe en rekeninge. Soms moet vroue verlies trotseer en steeds die volgende dag opstaan en aangaan. Dit was moeilik om te vertolk dat alles oraait gaan wees, maar dit vir my wys die ware krag van vroue.”
Lorraine Burger: “In my eie loopbaan, en in Annetjie se lewe, is dit die vriendskappe tussen vroue wat ons dra. Dis hierdie verhoudings wat ons laat floreer.”

Wat beteken dit vandag vir jou om ’n vrou te wees, en hoe het daardie betekenis oor tyd verander?
Annelisa Weiland: “Ek was nog altyd ’n afhanklike, hardwerkende vrou… die verskil is, ek is nou ’n OU afhanklike, hardwerkende vrou.”
Daniélle Swanepoel: “Toe ek jonger was, het ek gedink ek moet altyd mooi wees en rustig wees. Nou weet ek dis kragtig om opinies te hê en om op te staan vir wat jy glo reg is.”
Khadija Heeger: “Ek is mal daaroor om 59 te wees, dit is die beste perspective wat ek nog ooit gehad het. Ek voel meer tuis in my liggaam as ooit tevore.”
Megan Troskie: “Ek het altyd gedink vrouwees gaan oor hoe jy lyk of hoe jy presteer. Maar hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dis ’n innerlike reis om jou waarde te ken.”