Menu terloops
In Onderhoude [13 Aug 2025]

‘Mense gaan óf mal daaroor wees, óf dit haat’, sê stoute ‘Khaki Fever’ se regisseur


Broekies so kort dis meer soos bikini’s, ’n groepswoeps met ’n leeu as getuie, dáái blou pilletjies en vuilpraatjies wat jou óf gaan laat bloos óf gaan laat skater. Die bekroonde filmmaker Brett Michael Innes vertel meer oor sy gewaagde komedie, ‘Khaki Fever’.

Deur Rozanne Els
‘Mense gaan óf mal daaroor wees, óf dit haat’, sê stoute ‘Khaki Fever’ se regisseur
Kyk lokprent

Met Khaki Fever, wat by vanjaar se Silwerskermfees première, is daar geen pretensies oor presies wat die film wil wees nie: pure pret. Só sê die Safta-bekroonde filmmaker Brett Michael Innes.

Terwyl Brett die regie en vervaardiging behartig het, het sy man, Nick Ahlers, die draaiboek saam met hom geskryf.

Khaki Fever is oor 18 dae verfilm met die akteurs meestal in die kortste kortbroeke denkbaar. Die fliek, wat nogal ’n streng ouderdomsperk van 18SNT ontvang het, draai om ’n groep wildbewaarders wat kompetisie hou om te sien wie die meeste toeriste tydens die seisoen in die kooi kan kry. Natuurlik loop dinge skeef… (of té regop…)

“Ek dink mense gaan óf mal daaroor wees, óf dit haat. En dis vir my goed!” deel Brett. “Die humor is nie noodwendig almal se koppie tee nie. Ek sien uit daarna om mense se reaksies waar te neem. Dit is die soort prent vir mense wat hou van stout komedie met ’n hart. Hulle sal binne die eerste 30 sekondes weet of dit in hulle smaak val of nie.”

Khaki Fever
Daai broekies kan wraggies nie korter nie… Foto: Verskaf

Los eers die tranetrekkers

Brett, wat bekend is vir aangrypende dramatiese flieks soos Fiela se kind en Sink, sê hoewel hy sy nis gevind het met films wat ernstige sosiale kommentaar lewer, het die gehoor deesdae min kapasiteit vir swaar temas. “As kykers lag en voel hulle het saam met vriende gekuier, is dit vir my soos ’n geskenk,” meen hy. 

Die storie het sy wortels in Nick se liefde vir die bosveld, vertel Brett. “Elke keer as ons saam met familie vakansie hou, is dit in ’n wildreservaat. Ons maak dan grappies oor ‘kakiekoors’ wanneer ons die wildbewaarders in hul kort ‘boere-kini’s’ sien.” So oor die jare heen het Brett en Nick stories versamel van al die wildbewaarders wat hulle raakgeloop en leer ken het en nou as hulle vir wildbewaarders van die film vertel, is hul reaksie: “Julle slaan die spyker op die kop!”

Buiten ’n groepswoeps in die bos, is daar talle sekstonele en naaktheid in die film te sien – volgens Brett het hulle die net wyd gespan om akteurs te vind wat gemaklik met dié vereistes was. 

“Dit was eerlikwaar een van die moeilikste dinge om die rolle toe te ken. Dis hoekom ons van Christa Schamberger gebruik gemaak het – sy is een van die beste in die land. Maar ons het die film se uiteensetting oral uitgestuur en was van die begin af eerlik oor die inhoud. Ons het nie enigiemand probeer mislei nie. Ons het dit baie duidelik gemaak watter soort film dit is, en dat daar intimiteitskoördinering en heelwat naaktheid op stel sou wees.

“Maar aanvanklik sou akteurs se agente vir Christa bel (nadat hulle die uiteensetting ontvang het) en vra of dit pornografie is!” vertel Brett laggend. “Die aard van die film het natuurlik beteken dat baie akteurs uit die staanspoor nie wou oudisie nie. Ek dink as dit my eerste film was, sou my gevoelens seergemaak gewees het, maar ek was eerder dankbaar daarvoor omdat dit die ruimte geskep het vir ander akteurs wat dalk nou ’n groot oomblik in hul loopbaan gaan beleef.” 

Rolverdeling wat oortref

Die Safta-benoemde Top Billing-aanbieder Christopher Jaftha staan aan die hoof van die rolverdeling as Daniel. Hy speel teenoor vier akteurs wat vir die vanjaar se Silwerskermtoekennings vir Film en TV benoem is: Anja Taljaard en Trix Vivier (albei Juffrou X), Liam Bosman (Een Keer Om Die Son), en Ilse Klink (Nêrens, Noord-Kaap). Ook die sanger Abel Knobel, Francois Jacobs (óftewel Kaalgat Karel) en Sean Brebnor (Getroud Met Rugby) verskyn as veldwagters.

Khaki Fever
Abel Knobel en Christopher Jaftha. Foto: Verskaf

“Vir sommige akteurs was dit hul eerste keer in ’n film van hierdie aard, soos Sean Brebnor. En dan sien mens ook vir Liam Bosman, so sjarmant en snaaks, in ’n heeltemal nuwe lig,” meen Brett.

“Liam en Francois Jacobs het die snaaksste improvisasiespel gelewer. En selfs Trix Vivier – niemand verwag om Trix in ’n film soos te sien nie. Ek dink sy het groot geloofwaardigheid aan haar karakter gebring, en sy was mal daaroor! Elke keer as ons dit saam kyk, sê sy net: ‘Wat de hel, dis gek!’ En Ilse Klink is ongelooflik! Sy het haarself oortref. Sy is briljant.”

Die dialoog se blitsige pas is te danke aan Brett se besluit om improvisasie die grondslag van die film te maak. “Gewoonlik hou ek as regisseur die leisels styf vas, maar met Khaki Fever wou ons ’n storie skep met baie ruimte vir improvisasie. Ons wou ’n draaiboek skryf met ’n kompakte storielyn en one-liners wat in Afrikaans werk. Maar met ’n Engelsman en ’n Amerikaner wat ’n boerekomedie skryf, het ons geweet die dialoog moet uit die akteurs se monde kom.”

Khaki Fever
Trix Vivier. Foto: Verskaf

Al die akteurs het vooraf geweet dat improvisasie ’n moet is en dat hulle sou moes flink dink, vertel Brett. “Soos met Bridesmaids, het hulle verskeie weergawes van tonele gespeel. Dit was vir ons belangrik dat die akteurs verskillende idees kon uittoets en vryelik kon eksperimenteer. Só kon ons iets spesiaal te skep. Mens moet net gereed wees om die weerlig te vang wanneer dit slaan,” sê hy. 

Daar is iets soos té snaaks…

Maar hoewel dié aanslag tot talle skaterlag-oomblikke in die fliek gelei het, was dit nie sonder uitdagings nie. “Die moeilikste deel vir my as regisseur was wanneer hulle al die akteurs bymekaar was, want hulle het so goed met mekaar oor die weg gekom. Hulle het mekaar aangehits en dan sommer snaakser geword as wat die karakters eintlik moes wees, so ek moes hulle gereeld terugbring na wie hul karakters werklik is,” verduidelik hy. 

Die eerste weergawe van die fliek was ook aansienlik langer as gevolg van al dié “speel”, sê Brett. Só ook het die fliek aanvanklik baie meer naaktheid en seks ingesluit met van die akteurs wat alles – van voor af – gewys het. “Ons het egter gevind dat hoe meer extreme ons gegaan het, hoe minder snaaks het dit geword. Net omdat jy kan, beteken nie jy moet iets te doen of dat dit die beste keuse nie,” voeg hy by. 


Stroom Khaki Fever op Showmax vanaf Vrydag 5 September.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies