Menu terloops
In Wat om te kyk [14 Jan 2025]

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien


‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Deur Rozanne Els
Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

As kykers kon ons dit dalk nie aan ons eie basse voel nie, maar die impak van 2023 se stakings in Hollywood was iets wat ons beslis oor die loop van 2024 kon sien. Die TV-spyskaart was nou nie leeg nie, maar – relatief tot vorige jare – was die borde aan ons etenstafels effe treurig. En boonop was min van dié disse sappig. Die gevolge van die historiese skrywersstakings op uitsaaiskedules – beide stroomdienste en tradisionele, lineêre uitsaaiers het gebuk gegaan – het al duideliker geword soos die jaar aangeploeter het. En met die eerste vier maande van 2025 se skedules wat min of meer uitgeplot is, blyk die verskil selfs meer skreiend. Veral as ’n mens in ag neem dat nogal min oor die tweede helfde van 2025 se programme bekend is – ek het ’n gevoel daar wag nog ’n paar lekker verrassende aankondigings. 

Dit wat ons wel van weet, gee genoeg rede om opgewonde te raak. Dis ’n storie-feesmaal hierdie. Met sommige reekse het ons lank vir ’n nuwe seisoen gewag; ander is weer nuwe stories met skitterende rolverdelings. 

Hier is my keur van reekse waarna ek in 2025 uitsien. (Neem asseblief kennis dat uitsaaidatums en -tye kan verander.)

1

White Lotus S3

Vanaf 17 Februarie 2025 om 03:00 (gelyktydige uitsending as Amerika) op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101) asook ’n latere uitsending om 9pm. Ook op Showmax.

Die derde seisoen sien weer hoe ’n klompie té ryk en bedorwe Amerikaners by ’n luukse White Lotus-oord aandoen – hierdie keer in Thailand. Natasha Rothwell is die enigste lid van die rolverdeling wat ons al ontmoet het – jy sal haar onthou van die eerste seisoen as die spabestuurder in Hawaii. Die res van die spelers sluit in die magiese en bekroonde Carrie Coon (The Gilded Age, The Leftovers), Michelle Monaghan (True Detective), Leslie Bibb (Palm Royale), Parker Posey (Lost in Space), Aimee Lou Wood (Sex Education), Walton Goggins (Fallout) en Jason Isaacs (Lucius Malfoy van Harry Potter-faam), 

Die vorige twee seisoene se mengsel van skerp sosiale kommentaar en satire het vir die reeks reeds 15 Emmy-beeldjies besorg.

2

The Last of Us S2

Vanaf 14 April 2025 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101) en Showmax, Express from the US.

Ná sowat twee jaar keer The Last of Us terug met die storie van Ellie (Bella Ramsey) en Joel (Pedro Pascal). Dié seisoen speel sowat vyf jaar ná die gebeure van die eerste seisoen af. Daarin moet beide Joel en Ellie met gebeure uit die verlede stoei wat hulle nie net teen mekaar opsaal nie, maar ook binne ’n wêreld stuur wat selfs meer gevaarlik is as die een waaruit hulle gevlug het.

Die gewildheid van The Last of Us, ’n verwerking van die gelyknamige treffer-videospeletjie, se eerste seisoen, was onverwags bloot omdat soveel vorige pogings om videospeletjies na TV-stories te omskep te dikwels geflop het. Maar The Last of Us is ’n sonderlinge suksesverhaal. Baie daarvan het te make met Pascal en Ramsey se spel en chemie as pseudo- pa en dogter. Maar ook die vertelling – van die visuele uitbeelding en teks, die stelle en die veelvlakkige, ryk karakters, asook die eerbetoon aan die oorsprongmateriaal – verhewe dit tot aangrypende televisie. 

Die rolverdeling kry ’n rits nuwe name by, waaronder Kaitlyn Dever, wat ook in ’n ander inskrywing op dié lys, Apple Cider Vinegar, te sien is. Dever se karakter, Abby, speel ’n jong vrou wat Joel verkwalik vir wat hy in die eerste seisoen gedoen het.

3

Suits: LA

Suits L.A. TV-reekse
Stephen Amell as Ted Black. Foto: David Astorga/NBC

Vanaf 24 Februarie 2023 om 08:00 (gelyktydige uitsending as Amerika) op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101) asook ’n latere uitsending om 7pm. Ook op Showmax.

Hoewel ons, danksy ’n tergende Instagram-foto, weet dat ons weer vir die suave en onstuitbare Harvey Spector gaan sien, is Suits L.A., ’n spin-off van NBC se regsdrama Suits, nie rondom dié ikoniese karakter gesentreer nie. Eerder as wat al die ou karakters en spelers – wat Megan Markle en Gabriel Macht as Spector insluit – vir nog ’n rondte terugkeer, is die fokus eerder op ’n nuwe “Harvey”, oftewel Ted Black, vertolk deur Arrow-alum Stephen Amell. Ted is ’n voormalige New Yorkse staatsaanklaer (nes Harvey was) wat na Los Angeles verhuis het om daar sy eie regspraktyk te begin. Nou verteenwoordig hy die cream van die Hollywood crop… Soos die storie ontwikkel vind ons meer uit oor hoekom Ted die een kus vir die ander verruil het – en só almal en alles agtergelaat het.

Macht, wat in drie episodes van Suits L.A. te sien gaan wees, het met Suits se oorspronklike debuut op TV in 2011 Spector gespeel as ’n sjarmante, tog problematiese karakter wat in die grys areas van die reg – en etiek – dobber. Die reeks was destyds suksesvol, ja, maar toe dit in 2023 op Netflix beskikbaar geword het, het kykertalle die hoogte in geskiet. Skielik was die reeks, wat ná nege seisoene in 2019 ten einde geloop het, weer op almal se lippe.

Ek wonder egter of die helse interessante en lekker dinamiek wat destyds tussen Suits se hoofkarakters, Spector en Mike Ross (Patrick J. Adams), bestaan het, in ’n ander gedaante in Suits L.A. gestalte gaan vind. Daai push-and-pull tussen hul karakters (en Donna! Geliewe Donna!) was immers ’n reuse-deel van wat die storie so meesleurend gemaak het. 

Ook in die rolverdeling tel Lex Scott Davis, Josh McDermitt en Bryan Greenberg.

4

Zero Day

Vanaf 20 Februarie 2025 op Netflix.

Met dié politieke riller maak die veteraanakteur en Oscarwenner Robert De Niro sy debuut in ’n TV-reeks as voormalige Amerikaanse president George Mullen wat gevra word om ’n ondersoek na ’n vernietigende kuberaanval op die land te lei. Ook in die rolverdeling tel Angela Bassett as die huidige president wat by Mullen vir hulp aanklop soos hulle die wêreldwye implikasies van die aanval probeer beredder. 

Ook met Jesse Plemons, Lizzy Caplan en Connie Britton in die rolverdeling. 

5

The Studio

Vanaf 26 Maart 2025 op Apple TV+.

Dié komediereeks, met die briljante Seth Rogen as medeskepper, regisseur én in die hoofrol, draai om ene Matt Remick (Rogen), wat pas as die baas van die fiktiewe Continental Studios aangestel is. Hy sukkel nie net om tred te hou met dié alewige veranderende wêreld nie, maar ook om sy idealistiese drome van flieks maak met die realiteite van onder meer erg moeilike akteurs en korporatiewe vereistes te balanseer. Dit blyk haas onmoontlik te wees… selfs vir iemand soos Matt wie se hele lewe om sy liefde vir flieks draai. 

Die reeks het ’n skitterende rolverdeling wat  Catherine O’Hara, Kathryn Hahn, Ike Barinholtz en Chase Sui Wonders insluit.  

6

Your Friends & Neighbors

Vanaf 11 April 2025 op Apple TV+. 

Jon Hamm, wat in onlangse jare vir sy rol op Fargo benoem is, en ook geskitter het teenoor Jennifer Aniston op The Morning Show, speel in dié dramareeks as ’n geskeide man wie loopbaan as beleggingsbestuurder in skande geëindig het. As hy dan begin om die huise van al sy ryk bure te beroof, ontdek hy ook ’n klomp verborge geheime.

Die reeks is reeds vir ’n tweede seisoen hernu… Al is ’n enkele episode nog nie uitgesaai nie! Die studio execs moet dus baie beïndruk wees met die eerste edits wat hulle al onder oë gehad het… 

Ook in die rolverdeling tel onder andere Amanda Peet, Olivia Munn, Hoon Lee, Mark Tallman, Lena Hall en Aimee Carrero.

7

The Residence

Vanaf 20 Maart 2024 op Netflix. 

Hoewel dié reeks se konsep deur Kate Andersen Brower se boek, The Residence: Inside the Private World of the White House, geïnspireer is, word die verhaal hier as meesleurende raaiseldrama aangebied. Met ’n heerlike rolverdeling wat fantastiese spelers soos Uzo Aduba, Susan Kelechi Watson, Giancarlo Esposito, Randall Park, Ken Marino en Eliza Coupe insluit, draai The Residence om ’n fiktiewe moordskandaal wat in die Withuis afspeel. Adubo is die eksentrieke speurder wat die moord (nogal tydens ’n staatsete!) moet ondersoek. Daar is sowat 160 verdagtes, almal met hul eie stories – en só kom etlike konflikte en geheime dan op die lappe. 

Dis soos Cluedo – net op TV-steroïedes…

8

The Handmaid’s Tale S6

Laat-2025 op Hulu. Plaaslike uitsaaier nog onbekend. 

Daar is nog min bekend oor wat die sesde – en finale – seisoen van dié veelbekroonde distopiese nagmerrie-reeks gaan inhou, maar glo het die reeks se showrunner, Bruce Miller, al van dag een af geweet hoe June Osbourne (Elisabeth Moss) en Gilead se storie sou afsluit. 

Miller werk ook tans aan ’n spinoff, The Testaments. Dis sy tweede Margaret Atwood-verwerking en gegrond op haar gelyknamige boek en die vervolgverhaal tot The Handmaid’s Tale

Die vyfde seisoen het in tragedie geëindig toe June en haar man, Luke (O-T Fagbenle), wéér van mekaar geskei is nadat Luke homself opgeoffer het sodat June met haar dogter kon ontsnap.

Met die stand van sake tans in die wêreld, is die gebeure in The Handmaid’s Tale dikwels meer pseudo-realisties as fiktief. Briljante televisie, ja, maar moeilik om aan te sluk soos vryhede en verdraagsaamheid kwyn en haat toeneem.

9

The Pitt

Na verwagting op M-Net en Showmax, datum onbekend.

In The Pitt volg ons dr. Robby (ER se Noah Wyle) oor die verloop van ’n 15 uur lange skof in die noodeenheid van ’n hospitaal in Pittsburg. Elkeen van die reeks se 15 episodes vertel oor ’n enkele uur tydens dié skof. 

Hoewel John Wells, die destydse showrunner van ER, steeds een van die beste mediese TV-dramas nog, ook hier die storie lei, is die premis en aanslag van The Pitt dramaties anders. Met die storie se nougesette fokus, word die klem op die hedendaagse uitdagings van gesondheidswerkers geplaas, asook die onmiddellikheid van besluite en omstandighede wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken. 

10

Apple Cider Vinegar

Netflix, uitsaaidatum nog onbekend. 

Ek is maar ’n sucker vir ’n scam-storie. Of eerder, ’n scam-storie waar die scammers uitgevang en ontbloot word soos met The Tinder Swindler, Inventing Anna of The Bad Surgeon.

Apple Cider Vinegar is gegrond op ’n minder bekende ware verhaal waarin daar oor Belle Gibson, ’n influencer van Australië, vertel word. Kaitlyn Dever is hier te sien as Gibson, wat haar influencer-roem verwerf het met bewerings dat sy haarself met pseudo-wetenskap (soos om apple cider vinegar te drink…) van terminale breinkanker genees het. Dis net dat… Belle het eintlik nooit breinkanker gehad nie. En dit was maar net die begin van haar liegstories.

Ons sien ook uit na:

  • Stranger Things S5, Netflix, datum onbekend.
Stranger Things, TV-reekse
Van links: Noah Schnapp, Millie Bobby Brown, David Harbour, Winona Ryder, Cara Buono, Joe Keery, Amybeth McNulty, Charlie Heaton, Brett Gelman, Maya Hawke, Natalia Dyer, Jamie Campbell Bower, Priah Ferguson, Linda Hamilton, Gaten Matarazzo, Caleb McLaughlin, Ross Duffer, Matt Duffer, Finn Wolfhard, en Sadie Sink op die stel van Stranger Things. Foto: Atsushi Nishijima/Netflix
  • American Primeval, Netflix vanaf 9 Januarie 2025.
  • Severance S2, Apple TV+ vanaf 17 Januarie 2025
  • Task, na verwagting op M-Net en Showmax, datum onbekend.
  • All Her Fault, na verwagting op M-Net en Showmax, datum onbekend.
  • A Knight of the Seven Kingdoms, na verwagting op M-Net en Showmax, datum onbekend.
  • Yellowjackets S3, Showmax, vanaf 15 Februarie 2025.
  • Wednesday S2, Netflix, datum onbekend, na verwagting laat-2025.
  • Daredevil: Born Again, Disney+, vanaf 4 Maart 2025.
  • Golf, Netflix, datum onbekend.
  • The Four Seasons, Netflix, datum onbekend.
  • Down Cemetery Road, Apple TV+, datum onbekend.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

As jy hou van kosprogramme
0

Afrikaans kook groot! 10+ Afrikaanse kosprogramme om op DStv en Showmax te kyk

Ons is maar net mense, ons dink met ons pense... En daar is wraggies baie kosprogramme – in Afrikaans – waarin lipafleklekker geregte opgedis word.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer
Sien alle opsies