Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die Kokkkedoor-tafel kom sit en oor die jare het nog familielede van die reeks (Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie) geurryke vermaak verskaf.
Vir Kokkedoor Vuur & Vlam, waarvan die eerste seisoen in 2023 uitgesaai is, gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei.
Die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha is oor die loop van 13 episodes op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. ’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos. Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.
ONTHOUBRAAIERS
Godfrey Davids (41), Paarl
Wat is jou beroep?
Ek is die afgelope twee jaar ’n tegniese klerk by die Mediclinic in Paarl.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het ’n passie vir kosmaak en terselfdertyd is ek ook baie kompeterend. Ek wil vir mense van my plek en my woonbuurt wys niks is onmoontlik nie. As jy ’n doel het, fokus daarop, ongeag jou omstandighede. Volg jou drome en maak die beste van jou situasie. Jy kan ’n rolmodel wees vir ander wat te bang is om ’n geleentheid aan te gryp.
Jay Maan (51), Pretoria
Wat is jou beroep?
Oopvuursjef
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Daar is verskeie redes. Ek is twee keer gekies vir ander braaiprogramme, maar ek moes van beide onttrek. Toe ek Kokkedoor Vuur & Vlam op die skerm gesien het, het ek geweet dis wat ek wil doen.
Ek’t ook gedink as “Mr Braai Guy” kan dit nie net ’n goeie uitdaging en leerskool vir my wees nie, maar ook goeie publisiteit.
Benjie Benjamin (39), Kimberley
Wat is jou beroep?
Ek werk meer as 12 jaar by Eskom en is ’n hoogspanningselektrisiën by die maatskappy. Ons doen instandhouding van lewendige toevoerlyne.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Almal sê altyd vir my ek braai lekker, en toe moedig my skoonma my ook aan om vir Kokkedoor Vuur & Vlam in te skryf. Ek het ook by myself gedink: Kom ons sien wat Bertus en Kobus van my braaivernuf dink.
Suzie Wandrag (47), Strand
Wat is jou beroep?
Ek is ’n smaakmaker en inhoudskepper vir my eie handelsmerk, Women Fire Food. Ek is ook ’n regsassistent, maar praktiseer nie tans nie.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek wou meer mense, veral vroue, bewus maak van kos op vuur voorberei.
Deur Women Fire Food wil ek vir vroue leer om te braai en ook kos te rook en hulle te laat besef dat dit oukei is om te braai en goed te wees daarmee. Daar is baie vroue wat braai, maar ons sien dit min. Braai is immers nie net ’n sport vir mans nie.
Ek wou ook aan myself bewys dat ek goed genoeg is om aan so ’n groot kompetisie deel te neem.
Ferdi Uys (45), Struisbaai
Wat is jou beroep?
Produksie-adviseur in die mynbedryf.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek hou van ’n uitdaging.
Martin Steyn (53), Stellenbosch
Wat is jou beroep?
Ek is ’n dominee.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Vir die braai. Hierdie is so deel van ons kultuur, maar tog ’n nuwe soort uitdaging. Iets wat my buite my gemaksone sou vat.
Nelia Lombard (46), Bellville
Wat is jou beroep?
Ek doen op die oomblik vryskutwerk in die filmbedryf. Ek werk in die kunsdepartement as set dresser, art department assistant, props master.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Nadat ek die eerste seisoen van Kokkedoor Vuur & Vlam gekyk het, het ek eers gewik en geweeg om in te skryf. Die idee het wel by my bly spook vir ’n paar weke en op die dag voor die inskrywings sou sluit, het ek besluit om in te skryf.
Ek was van twee goed seker: dat lekker kos, braai en onthaal my happy place is én dat hierdie ’n groot en heerlike avontuur gaan wees, een waarvan ek deel wou wees.
Johan van der Watt (46), Bellville
Wat is jou beroep?
Ek is ’n argitek wat spesialiseer in die konstruksiegedeelte van die bouproses. Ek is baie lief vir ontwerp en teken, maar verkies die fisiese konstruksie-aspek. Dis nou waar die werklikheid intree en jy nie kan wegkruip agter ’n uitveër nie.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het ingeskryf om nuwe resepte, bykosse en braaivernuf aan te leer, asook om my eie tegniek en braaistyl met my mededeelnemers te deel. Dit was vir my ’n groot toets teen myself om uit te vind hoe goed ek werklik is en of my ondervinding en tegniek kan saamgesels met die ander deelnemers om die braaivuur.
Johan de Villiers (30), Durbanville
Wat is jou beroep?
Ek is die operasionele bestuurder van ons familieplaas, Klein Roosboom, net buite Durbanville.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Dit was vir my ’n geleentheid om my vaardighede te toets, nuwe tegnieke te leer en natuurlik blootstelling vir ons plaas te kry. Boonop het ek die kans gekry om kos langs die see te maak en nuwe mense te ontmoet – wat beter kan ’n mens voor vra?
Liz Nass (44), Pretoria
Wat is jou beroep?
Ek het in Junie 2024 uit die korporatiewe wêreld getree, waar ek in uitvoerende posisies was. Ek het van ’n berg afgespring en my vlerke gesprei. Tans is ek ’n entrepreneur en doen waarvoor ek “Liz” is. Ek lewer motiveringspraatjies (“Liz vir praat”), leer tieners kook (“Liz vir kook”), kook vir mense by hulle huise (“Liz vir huiskos”) en kook vir partytjies (“Liz vir partytjie”).
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het ingeskryf oor ek Liz is. Ek is “Liz” vir braai, kook, bak en kos. My ouma het as kind nie vir my stories nie, maar resepte gelees en my verbeelding geprikkel met moontlikhede vir die kombinasie van bestanddele.
Ek het ’n inherente passie vir goeie, mooi kos. Na ’n hoë-intensiteitwerkdag kook en bak ek my flou of lees ’n resep of kostydskrif. Ek het geglo Kokkedoor Vuur & Vlam sal my passies bymekaarbring en my die geleentheid bied om te wys hoe lief ek vir kookkuns is.
KINKELBRAAIERS
Lorianne Heyns (44), Milnerton
Wat is jou beroep?
Ek is ’n professionele kok en die uitvoerende sjef by Jéan Restaurant op die Klein Roosboom-wynlandgoed.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het besluit om myself ’n bietjie uit te daag en om buite my gemaksone sonder my span iets aan te pak. Om iets vir myself doen. En die eerste seisoen het na baie pret gelyk.
Charlotte Minnaar (43), Centurion
Wat is jou beroep?
Ek is ’n entrepreneur en my spysenieringsonderneming se naam is Charlotte’s. Ek kook heerlike tuisgemaakte kookkos en het in 2002 as ’n sjef by Boland College Paarl gekwalifiseer. Net daarna het ek op safari-trokke begin werk as ’n boskok.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ná ’n leeftyd van toere doen en met mense werk om vir hulle die beste vakansie van hulle lewe te help ervaar, het ek en my gesin in Maun, Botswana, gaan woon. Dit was ’n ongelooflike bos-ervaring met al ons vriende, maar vanweë Covid moes ons na Suid-Afrika terugkeer.
In my hele lewe van in ander lande bly, het ek nooit gedink dat ek ooit in Pretoria sou opeindig nie. Skielik was ek en my familie in hierdie betonoerwoud, en ek het myself begin verloor. Depressie het deel begin word van my elke dag, want waar begin mens nou weer op 42 ’n nuwe werkslewe in Suid-Afrika? Toe Kokkedoor Vuur & Vlam se inskrywings oopgemaak het, het ek besluit dis dalk net wat ek nodig het.
Francois Binneman (35), Port Elizabeth
Wat is jou beroep?
Ek is ’n professionele sjef en mede-eienaar van Food with Thought, ’n spysenieringsonderneming wat daarop fokus om mense bymekaar te bring deur onvergeetlike kulinêre ervarings.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het ingeskryf omdat ek hou van uitdagings wat my vermoë as sjef toets en my kans gee om kreatief te wees.
Suid-Afrikaanse kos en kosmaak op die vuur is vir my ’n passie, en ek wil ons tradisies na nuwe hoogtes neem. Ek hoop ook om deur hierdie platform ander te inspireer met ons land se ongelooflike kulinêre rykdom.
De Wet Visser (37), Welgelegen
Wat is jou beroep?
Ek is ’n verkoopsverteenwoordiger vir Cape Deli.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het so ’n groot liefde vir kosmaak. Ek wil graag die groot prysgeld wen en al my drome najaag.
Hantie Jansen (44), Windhoek
Wat is jou beroep?
Ek besit ’n spysenieringsonderneming genaamd Sage by Hantie in Windhoek, Namibië.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
’n Vriendin het my aangemoedig, en toe dink ek by myself: Hoekom nie? Ek wou kyk of ek iets sal regkry – iets wat heeltemal buite my gemaksone is.
Vendi Klaushofer (40), Pretoria
Wat is jou beroep?
Ek is ’n gekwalifiseerde sjef, maar is tans die operasionele bestuurder van ons familierestaurant, Adler’s, in Heidelberg, Gauteng.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het nog nooit deelgeneem aan enige TV-kompetisie nie en het letterlik die dag voor die sluiting van die aansoeke, my aansoek ingedien.
Ek was nogal nuuskierig oor wat werklik agter die kameras gebeur, en ek was lus vir ’n nuwe uitdaging wat ’n bietjie buite my gemaksone was. Om eerlik te wees, ek het nooit in my wildste drome kon dink dat ek gekeur sou word as een van die finaliste nie.
Lourens Engelbrecht (37), Pretoria
Wat is jou beroep?
Vryskutsjef.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het gevoel dis die regte tyd om aan myself te bewys dat ek “nog kan” en dat ek “meer is as net dit”. As student het ek aan baie kookkompetisies deelgeneem, en dit was vir my so lekker om dit te doen. Ek hou van die tydsdruk wat met so ’n kompetisie gepaard gaan. Ek werk op my beste as daar so ’n bietjie druk in die mix is.
Ek was nog altyd ’n baie kompeterende mens, en dit het my gedryf om elke dag beter te wees as gister en die lat hoër te stel vir môre. Ek het gevoel Kokkedoor Vuur & Vlam sal die platform wees waar ek weer kan kompeteer. Wat is nou beter as ’n braaikompetisie? Dis mos in ons Suid-Afrikaners se bloed om te braai. Min het ek geweet Kokkedoor Vuur & Vlam is baie meer as dit.
Mike van Rooyen (37), Johannesburg
Wat is jou beroep?
Ek is ’n konsulterende sjef.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek was deel van die Marble-restaurant in Johannesburg se span waar ons op vuur gekook het.
Dis hier waar ek my kennis van vuur-kosmaak na ’n hoër vlak geneem het. Deur vir Kokkedoor Vuur & Vlam in te skryf, wou ek vir myself ’n naam in die kosbedryf maak.
Nelda Buhr (57), Malmesbury
Wat is jou beroep?
Ek is ’n kunstenaar, en ek gebruik verskeie kunsvorme en mediums soos olieverf, klei, hout, blomme, grond en deeg. Ek skep kunswerke uit bestanddele en vars produkte.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het gevoel dis ’n goeie platform om myself uit te daag. Dis so ’n kreatiewe avontuur.
Kokkedoor Vuur & Vlam gaan vir my oor baie meer as net kook. Ek is baie lief vir geskiedenis, en ek is altyd nuuskierig oor verskillende produkte en kookmetodes en oor waar goed vandaan kom. Die hele voorbereiding vir die kompetisie was so opwindend en leersaam.
Stefan Weitz (36), Observatory
Wat is jou beroep?
Ek is ’n voltydse sjef by ’n restaurant.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het ingeskryf om te sien hoe goed ek kan doen en uit te vind of ek dit in my het om die groot prys te wen. Ek het gehoop dat my tipe styl van kosmaak en die feit dat ek amper elke dag met vuur werk, iets anders na die kompetisie sal bring. Ek wou myself uitdaag en in die proses ook meer leer.
Kokkedoor Vuur & Vlam S2 begin Donderdag, 6 Februarie 2025, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.