As aktrise is sy veral bekend vir hoe sy met grimering verouder word om Magda Louw in dié gelyknamige reeks te speel – ’n rol waarvoor sy twee agtereenvolgende Silwerskermtoekennings as beste aktrise in ’n komedie gewen het. Desiré Gardner is egter ook ’n draaiboekskrywer van dié reeks, en vir ’n Safta-toekenning vir haar Magda Louw-skryfwerk benoem. Dis dan dié skryftalent wat Desiré na die wêreld van Reënboogrant, ’n nuwe Showmax-telenovela, bring.
Dié Afrikaanse coming-of-age-storie is vanaf Woensdag, 15 Januarie 2025 op Showmax beskikbaar. Dubbel-episodes word weekliks uitgesaai.
Reënboogrant is geïnspireer deur Louise van Niekerk se topverkoperboeke vir jong volwassenes wat in die negentigerjare gepubliseer is. Dié tienerreeks speel in Tshwane af en draai om die Brink-gesin. Minke Marais (Mooiweer en Warm, Nuwejaar en Summertide) en Mila de Villiers (Wyfie) vertolk die graad 10-susters Shani en Sunette, met Paul Strydom (Spooksoeker) as hul ouer broer, Dolf, ’n matriekleerder.
Diepe Waters se Righard van Jaarsveld en Johnny Potsanyane tel ook onder die tienerspelers.
André Velts staan aan die hoof van die regiespan met Sonvelt Media as vervaardigers. Sonvelt Media het in 2024 die Safta-toekenning vir beste TV-fliek vir ’n Tyd van Waterpere gewen.
Ons het met Desiré oor haar rol as hoofskrywer van dié Showmax-verwerking gesels.
Het jy reeds die boeke gelees toe André en Soné (Combrink, vervaardiger) jou genader het?
“Ek het geweet van die boeke toe ek jonger was, maar ek het dit nie gelees nie. Baie jongmense het destyds die boeke gelees vir ontvlugting. So, bloot net die titel wek reeds ’n mate van nostalgie. Toe ek aanvanklik genader is, het ek al die boeke gekry en gelees. En ek moet sê, dit was vir my asof ek skielik weer ’n kind was. Ek het in die 90s grootgeword, so dit was vir my so eie aan die tyd waarin ek ’n kind was, en dit het amper gevoel asof ek dit as ’n kind lees. Ek het aande deurgesit en gesê, ‘Ek gaan nou ophou lees, ek gaan nou ophou lees…’ En dan hou ek net aan. Dit was vir my so lekker en ek het gedink, ‘Ek wens ek het dit gelees toe ek in standerd 5 en standerd 6 (graad 7 en 8) was’.”
Wat is vir jou so spesiaal oor die storie van Reënboogrant?
“Dit is boeke wat jou onkant vang in terme van hoe goed dit geskryf is. Jy sien die huis in die boek. Jy ruik die kamers. Jy kan jou oë toemaak en jy is in Reënboogrant.
“Selfs al is dit hoeveel jaar terug geskryf, is dit vandag steeds verfrissend. Daar is brawe storievertelling, brawe stories, brawe karakters wat jou partymaal onkant vang. Hulle gaan jou soms so ontstel en kwaad maak, maar jy gaan aanhou lees want jy gaan wil weet wat gebeur. Dit is baie vermaaklik.
“Veral die hoofkarakters doen onverwagse goed. Byvoorbeeld, Shani neem nie altyd die regte besluit nie en sy neem ook baie onverwagse besluite. Jy verwag Shani gaan een ding doen en dan doen sy iets heeltemal anders. Daai dapperheid in storievertel, is iets wat ek vreeslik geniet en maak die karakters vir my so interessant en drie-dimensioneel.”
Die oorspronklike materiaal is daar vir ons as ’n wegspringplek. Jy wil die boek eer, maar ook hedendaags genoeg maak sodat kykers kan glo dit speel nou af. Jy weet wat jy het en jy eer dit en respekteer die materiaal wat jy het, maar jy vat jou uitveer en jy verander ’n bietjie hier en daar en dan vat jy weer ’n ander potlood en sit ’n bietjie by en so aan.
Desiré Gardner
Speel die reeks, soos die boeke, ook in die 90s af?
“Showmax wou ’n moderne weergawe van Reënboogrant hê, so die reeks gebruik die boeke as inspirasie maar het meer van ’n hedendaagse aanslag.”
Hoeveel moes jy skuur en skaaf om genoegsaam getrou te bly aan die oorspronklike materiaal, maar steeds geloofwaardig aan die realiteite van die hedendaagse kyker?
“Die oorspronklike materiaal is daar vir ons as ’n wegspringplek. Jy wil die boek eer, maar ook hedendaags genoeg maak sodat kykers kan glo dit speel nou af. Jy weet wat jy het en jy eer dit en respekteer die materiaal wat jy het, maar jy vat jou uitveer en jy verander ’n bietjie hier en daar en dan vat jy weer ’n ander potlood en sit ’n bietjie by en so aan.
“Daar was ook baie van die storielyne wat ons nuut geskep het of verander het om dit hedendaags te maak, maar baie van ons liefdesstories is soos wat dit in die boek gebeur het, met net klein goedjies wat verander het. Hulle is tieners en hulle is verlief en as jy mos as ’n tiener verlief is, is dit net vlinders waar jy kyk!
“Jy wil ook nuwe storielyne inweef sonder om enigiemand te vervreem – nie die mense wat in die 90s daai boeke gelees en liefgehad het nie, en ook nie vandag se tieners nie.
“My droom is dat ’n 16-jarige tiener wat dit kyk dit moet dit geniet en kan vereenselwig daarmee, terwyl die ma van 40 wat destyds die boeke gelees het, ook lekker saamkyk, ook sug en gaan, ‘Ai, Shani!’ Of vir hul tiener kan vertel hoe hulle ’n Shani of ’n Sunette of ’n Ans was. Dít is die droom – dat beide die nuwe én die ou ‘Shani’s’ daarmee kan vereenselwig.”
Watter tipe aanpassings was nodig om die storie in die hedendaags te kon plaas?
“Wanneer jy iets wil skryf wat hedendaags is dan moet jy kyk na wat tussen daardie tyd en vandag verander het. Een van die groot goed is dat sosiale media en tegnologie ingekom het en speel nou ’n baie groot rol. Sosiale media het ’n baie groot impak op kinders in skool – selfs op die kinders wat nie sosiale media het nie. Die leemte van dit nie hê nie het ook ’n groot impak op hulle, want dit word deel van wie jy is, deel van jou identiteit. Deesdae daag ons ook nie net by iemand se huis op nie – ons stuur eers ’n WhatsApp.
“Op emosionele vlak en die kollektiewe bewussyn – ’n mens moet daai veranderinge ook in ag neem. Geestesgesondheid is byvoorbeeld vandag ’n groter prioriteit, of minstens ’n meer alledaagse prioriteit. Mense is nou meer oop om te praat oor dinge wat pla. Daar is ’n groter begrip van onsself, onder jongmense veral. Jongmense is definitief meer bewus van die dinge wat hulle ervaar en voel.
“So dit was nie net van verander die fiets in die storie na ’n kar toe nie. Dit is iets wat deurbloei na elke aspek van die karakters se lewens.”
Sonder om enigiets te verklap – oor watter temas of storielyne in die reeks is jy besonders opgewonde?
“Selfs die karakters met wie jy nie noodwendig saamstem nie, gaan so diep in jou hart in en onder jou vel inkruip dat jy tog uiteindelik vir hulle gaan wil veg. Wat vir my veral interessant is, is hoe die antagonis stelselmatig onder jou vel inkruip en voor jy jou kan kry, wil jy eintlik hê dit moet met hulle goed gaan, jy wil hê hulle moet verander, jy vouch vir hulle. Jy kan nie kwaad bly vir hierde karakters nie.
My droom is dat ’n 16-jarige tiener wat dit kyk dit moet dit geniet en kan vereenselwig daarmee, terwyl die ma van 40 wat destyds die boeke gelees het, ook lekker saamkyk… Dít is die droom.
Desiré Gardner
“Ek dink as ons kykers vir ons karakters kan kwaad raak en sê, ‘Ag, nee, man!’ of, ‘Hoekom nou dit?’ of, ‘Dit maak mos nou glad nie sin dat sy daai sal doen nie!’ is dit ’n goeie teken. Daai storielyne maak my opgewonde.
“Dan raak ons aan die temas waarmee tieners sukkel, die temas wat groot is in tieners se lewens vandag. Drome wat nie waar word nie. Liefde wat nie wedersyds is nie; daai wat jy smoorverlief is op iemand en jy kan hulle nie kry nie. Daar is tieners wat voel hul stemme word nie gehoor nie en hoe hulle dan op verskillende maniere uiting aan daai frustrasie gee.
“Ek is ook opgewonde oor ons nuutgeskepte storielyne, veral tussen die ouers, Maryna en Herman. Hul drie oudste kinders is al in die hoërskool, maar hulle bevind hulself steeds met struikelblokke, veral ten opsigte van hoe hulle situasies met hul kinders moet hanteer.”
Julle skiet nog, maar wat was tot dusver vir jou ’n hoogtepunt of eenkeer-in-’n-leeftyd-oomblik van die projek?
“Daai oomblik kom nog vir my, want hulle gaan dit nog skiet. Later in die reeks is daar ’n spesifieke episode, waarin ’n tragiese situasie en tema aangepak word. Ek wil nou nie te veel daaroor verklap nie, maar dit is min wat ’n mens hoendervel oor jou hele lyf kry terwyl jy iets skryf.
“Kuns is ’n belangrike medium wat gebruik kan word om mense bewus te maak van dinge in die wêreld, ook hul eie, kleiner wêrelde. As draaiboekskrywer kry ’n mens partykeer geleenthede om moeilike temas aan te raak. Dan kan jy hopelik iets belangrik en iets goeds daardeur bereik.”
Hoekom moet mense Reënboogrant kyk?
“Mense moet dit kyk om net ’n bietjie realiteit te ontvlug. Om lief te raak vir die karakters en saam met hulle deur hierdie ongelooflike reis te gaan. Dis ook lekker as ’n mens aan die begin van ’n reeks weet dat jy nogal ’n lang pad stap saam met hierdie mense gaan stap, en dít is opwindend.”
Gaan ons jou ook in Reënboogrant sien speel?
“Nee, slegs agter die skerms. Maar ek het dit so geniet. Dit was vir my regtig ongelooflik.”
Kyk Reënboogrant vanaf Woensdag, 15 Januarie 2025 op Showmax. Dubbel-episodes word weekliks uitgesaai.