Sedert haar eerste verskyning in Binnelanders vroeër vanjaar, het Laura-Lee Mostert se Amor vinnig verander. Eers was sy skynbaar Delia (Odelle de Wet) se nuwe bestie, maar kort voor lank het sy vir Conrad (Hykie Berg) met ’n seksuele teisteringsklag probeer saboteer. Toe vind ons boonop uit dat sy die meesterbrein agter ’n kuberaanval op Binneland se IT-stelsel was. Sy’t ook vir Annetjie oorreed om haar bondgenoot te wees en nou is die arme, kwesbare Riaan (Erik Holm) ook in haar visier. Kyk – Amor is nie net nog ’n karakter nie; sy’s ’n storm wat deur die gange van Binneland woed.
En tog, ten spyte van haar karakter se twyfelagtige besluite, bring Laura-Lee as aktrise ’n sagtheid en opregtheid na die rol. Sy maak dit vir kykers moeilik om vir Amor af te skryf. Want is Amor werklik boos, of eerder net gebreek?

Droomrol ná lang gewag
Amor is Laura-Lee se eerste sepierol en een waarin sy só gemaklik en natuurlik speel dat dit moeilik is om te glo dis haar debuut in dié genre. “Dis my eerste keer op ’n sepie-stel, en ek was aanvanklik baie geïntimideer,” deel Laura-Lee. “Binnelanders is ’n ongelooflike goed-geoliede masjien en ek wou nie die een wees wat dinge vertraag of mense laat wag nie. Maar die span was fantasties. Sodra jy gewoond raak aan die tempo en formaat, is dit regtig ’n droomwerk.”
Laura-Lee is 32 en geniet nou uiteindelik die vrugte van jare se harde werk. Ná haar studies aan die Universiteit van Kaapstad se dramadepartement in 2018, het sy vir jare rolle in kleiner produksies vertolk soos Driena in Pronk Primêr, Barbara in Dinge van ’n Kind, en Liné in die rolprent Die Kwiksilwers. Meestal het sy tussendeur werk gesoek as kelnerin, kroegmeisie en in verskeie ander poste gewerk.
“Party mense kry vinnig hul kans, of dit nou oor hul voorkoms, tydsberekening of netwerk is. My pad het anders gelyk,” erken sy eerlik. “Maar ek’s dankbaar vir wat ek oor die jare geleer het. Dit laat my hierdie oomblik nog meer waardeer.”

Toneelspel was nog altyd haar droomloopbaan, deel sy later. “Ek het nooit getwyfel dat ek ’n akteur wil wees nie. Ek het een of twee keer gedink ek wil dalk forensies doen oor ek te veel CSI gekyk het, of ’n argeoloog wees soos Indiana Jones. Maar toe besef ek dis eintlik net omdat ek in daardie stories wil speel, nie die werk self wil doen nie!” vertel sy laggend.
Engel, skurk, of albei?
Wat Amor vir haar só besonders maak, is die kompleksiteit van die karakter. “Vroue word so maklik in boksies geplaas. Jy is óf die engel, óf die skurk. Maar Amor is albei… en ook nie een van die twee nie. Sy’s kompleks en manipulerend, maar ook snaaks, sag, kwesbaar én sterk. Dít is wat haar eg maak. Ons as mense is nooit net een ding nie en ek geniet dit om ál die fasette van haar te verken.”
Die rol toets haar toneelspel daagliks, veral as dit kom by kwesbaarheid. Tot kykers se verrassing, sê Laura-Lee dat emosies soos liefde en romanse vir haar moeiliker is om te vertolk as hartseer of vrees.
Party mense kry vinnig hul kans, of dit nou oor hul voorkoms, tydsberekening of netwerk is. My pad het anders gelyk… Maar ek’s dankbaar vir wat ek oor die jare geleer het. Dit laat my hierdie oomblik nog meer waardeer.
Laura-Lee Mostert
“Daardie emosies is baie persoonlik vir my. Ek is van nature privaat en ’n introvert. As ek sê ek is lief vir iemand, dan bedoel ek dit. Ek raak nie sommer net verlief nie. So dit verg baie van my om daardie deel voor die kamera te ontbloot. Komedie is ook tricky. As dit nie land nie, is dit net ongemaklik,” sê sy laggend.
Dankbaar en nederig
Sy skryf baie van haar sukses aan haar opleiding toe. “Ek’s so dankbaar vir my drama-agtergrond. Jy kry ’n gereedskapkissie as akteur met tegnieke wat jou help om te huil op stel of om intieme tonele te speel. Jy hoef nie altyd aan trauma te dink om trane op te roep nie. En daardie tegnieke het my al baie gehelp.”
Laura-Lee prys ook haar mede-akteur Erik Holm, wat Riaan vertolk, vir sy professionaliteit. “Erik is ’n regte gentleman. Hy en die hele span was ongelooflik respekvol. Ek weet nie alle aktrises kry daardie ondersteuning nie, so ek waardeer dit vreeslik baie.”

Ten spyte van haar eie bekendheid, bly sy nederig. Sy het grootgeword in ’n klein dorpie en weet hoe passievol Suid-Afrikaners oor hul sepies is. Maar sy’t eers besef hóé ernstig dit is, toe sy in Binnelanders begin speel het. “My ma en ouma bel my elke week om te sê wat ’n tannie of oom nou weer by die winkel oor Amor gesê het! Dis eintlik snaaks hoe intens mense die karakter beleef. Ek probeer wegbly van sosiale media af, maar my familie hou my op die hoogte!”
Terwyl Amor aanhou om chaos in Binnelanders te veroorsaak, begin Laura-Lee Mostert uiteindelik haar eie storie van sukses en aanvaarding te leef. Aanhouer wen.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.