In die wêreld van Afrikaanse televisie is daar aktrises wat rolle speel en dan is daar vroue soos Reandi Grey wat haar rolle lééf. Reandi, bekend vir haar rol as Anja in Diepe Waters, en tans ook die blinkoog-aanbieder van Boer Soek ’n Vrou, bring nie net geloofwaardigheid na die projekte wat sy aanpak nie, maar ook haar hele hart.
Reandi het onlangs na die sepie teruggekeer nadat sy ’n ruk weg was terwyl sy haar rol as die die nuwe aanbieder van Boer Soek ’n Vrou vervul het. “Dit voel soos om ’n ou vriendin weer te sien, iemand wat jy goed ken, maar wat jou telkens verras. Ek het baie gegroei sedert ek haar laas vertolk het, en dit voel asof sy ook saam met my gegroei het. Dis ’n voorreg om weer daardie emosies en ervarings met haar te beleef en saam met die span nuwe lae tot haar storie by te voeg.”

jou telkens verras,” oor haar terugkeer na Diepe Waters nadat sy vir ’n tyd weg was om Boer soek ’n Vrou op te neem. Foto: Skermgreep
Ná haar afwesigheid is Reandi ook vol lof vir haar Diepe Waters-kollegas: “Soms is dit goed om ’n breek van ’n karakter te vat. Maar om ’n breek te vat van my mede-akteurs was moeilik. Ek het hulle vreeslik gemis. Ek het nog selde so lekker saam met iemand gespeel soos met Nadia Valvekens. Dis soos ’n dans om saam met haar tonele te doen.”
Emosies in real-time
Reandi sê dit was wel vir haar iets besonders om haar rol as aktrise te ruil vir dié van aanbieder. Waar sy as aktrise gereed moet wees om iemand anders se verhaal met waarheid en respek te vertel, bring Boer Soek ’n Vrou ’n totaal ander uitdaging en geleentheid. “ ’n Aanbieder werk met eerstehandse emosies. Dit is regte, rou, onverwagte oomblikke. Dis die lekkerste ding. Jy moet mooi luister, op jou tone wees, en regtig in die oomblik leef.”
Hierdie varsheid en menslikheid bring haar nader aan die vroue wie se hande sy letterlik en figuurlik vashou. Dié wat op nasionale televisie liefde soek, maar ook bloot hul harte oopmaak.

Vroue wat haar dra
Soos die vroue wat sy ondersteun op die plaaspaadjies van Boer Soek ’n Vrou, het Reandi ook haar eie stam vroue agter haar – en hulle is nie liggewigte nie.
“My ma, my sussie, my vriendinne… hulle is klein firecrackers! Hulle sal saam met my lag, huil, bid… En hulle sal ’n bul vir jou platvee as dit moet. Ek is regtig geseënd.”
Hierdie netwerk het haar in staat gestel om nie net een van die land se gewildste realiteitsreekse met selfvertroue aan te pak en die land vol te reis nie, maar sy het ook rustigheid gehad dat haar kinders, Lente (3) en Heidi (6), en haar man Dewald, vir ’n ruk sonder haar sou kon regkom – veral met haar ma wat net af in die straat woon.
’n Skermstem met impak
In Diepe Waters is Anja ’n kampvegter vir die vroue om haar en Reandi bring dié gees ook na haar eie lewe.
“Ek is verskriklik lief vir vroue. Ek glo ons is gemaak van ’n spesiale stukkie lap. Ons is warriors én sag, sterk met empatie. Dis wat vroue uniek maak.”
Sy glo in die krag van ’n kompliment, die waarde van ondersteuning en die noodsaaklikheid van susterlike cheerleaders, selfs in ’n mededingende bedryf.
“As ek oudisie-inligting kry, stuur ek dit vir my vriendinne aan. Wie dit moet kry, sal dit kry. Die Here sorg daarvoor! Daar’s plek vir almal en almal verdien ’n geleentheid, ” sê sy. “En wanneer jy kan, gee vir mense ’n kompliment. As hulle iets vir jou doen, sê, lekker ruik, iets mooi dra… gee vir hulle ’n kompliment. Jy sal nooit weet hoe baie daai vir iemand kan beteken nie.”
Vriendelikheid as fondasie
Vir Reandi begin haar houding teenoor ander by haar ma, Elza Schutte; ’n vrou wat haar geleer het om altyd sag en vriendelik te wees, ongeag wie jy voor jou het. “Of hulle oud of jonk is, wit of swart, man of vrou, wees net altyd mooi met mense. As jou kos nie lekker is nie, moenie dit terugstuur nie, dis nie die waiter se skuld nie.”
Dis hierdie waardes wat haar dryf om veilige ruimtes vir vroue te skep, op die stel, op die pad en in die lewe.
Van modder tot mode
Reandi was nie altyd “net een van die girls” nie. As kind was sy ’n selferkende tomboy. “Ek het bomme geklim, in die grond gespeel en wou jag en visvang. My sussie wou met Barbies speel, want sy is ’n girly girl. Ons was so anders.”

Nou, as ma van twee dogtertjies, een ’n tomboy en een ’n girly girl, sien sy eerstehands hoe uniek elke meisie is. “Ek wou nooit dogtertjies hê nie, want ek het mense in ’n boksie geplaas. En toe kry ek twee verskillende meisies, maar maak nie saak hoe rof hulle is nie, kan ek hulle steeds in oulike uitrustings plaas. Dit het my laat besef meisies is die full package. Hulle kan álles wees.”
Hierdie insig gee haar ’n nog dieper liefde vir vrouwees.
’n Girl’s girl met flair
As sy dink aan inspirerende flieks oor vroue, bly The Devil Wears Prada vir Reandi altyd ’n gunsteling, veral omdat sy self so mal oor mode is en haar eie modereeks, Grey Creations, het. “Ek’s mal oor mode, maar ook oor die fierce boss lady in daai film, en hoe sy leer om vir haarself op te staan. Dit wys hoe jy kan groei en verander met die regte mense om jou.”
En Reandi is presies daardie soort vrou, een wat groei, verander, ander optel, en met flair leef.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.
Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.