Menu terloops
In Onderhoude [18 Sep 2025]

Carmen Maarman oor vroue se stories op die skerm, kwesbaarheid, en haar nuwe hoofstuk in ‘Skemergrond’


Die aktrise Carmen Maarman vertolk al vir byna twee dekades kragtige en onvergeetlike vroue op die verhoog en op die skerm. Maar sy is veral trots op haar ‘Skemergrond’-karakter, Hazel, wat oor die volgende paar weke van dié telenovela in ’n hele paar emosionele storms vasgevang gaan wees.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk 'Skemergrond' op DStv Stream

Carmen Maarman oor vroue se stories op die skerm, kwesbaarheid, en haar nuwe hoofstuk in ‘Skemergrond’

Vir byna twee dekades is Carmen Maarman ’n bekende naam in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf. Van die verhoog by die Baxter-teater tot televisieskerms regoor die land, het sy vroue van elke vorm, kleur en storie uitgebeeld. Tog erken Carmen, soos sy nader aan 50 beweeg, dat haar eie groei en lewenservaring nie net haar lewe verander het nie, maar ook hoe sy die vroue wat op ons skerms verskyn, vertolk.

“Daar is iets so kragtig aan hoe vroue se stories oor die jare verander het,” sê Carmen.

“Toe ek jonger was, sou ek sekere karakters heeltemal anders gespeel het. Nou is ek meer geïnteresseerd daarin om vroue as multi-dimensioneel te wys, want dit is wie ons is. Ons is sterk, ja, maar ons is ook menslik. En vir my maak daardie menslikheid, daardie lae, deesdae soveel meer saak.”

Carmen Maarman, Hazel, Skemergrond
Carmen het oor die jare ’n wye verskeidenheid vroue uitgebeeld, maar sy sê haar vertolking het verdiep namate sy ouer geword het. Ook só vir haar vertolking van Hazel in Skemergrond. Foto’s: Skermgrepe

Van verhoog tot skerm 

Teater, sê sy, sal altyd haar eerste liefde wees. “Daar gebeur altyd iets in teater,” sê sy.

“Ek glo daarin om vir mense hul blomme te gee terwyl hulle nog leef en daarom het dit so baie vir my beteken om deel te wees van die David Kramer se tribute show.”

Maar in onlangse jare het gehore Carmen meer op televisie as op die verhoog gesien. Die rede? Telenovelas en sepie-rolle bring dikwels intense skedules en lang kontrakte wat min tyd vir verhoogproduksies laat.

“My hart bloei, want teater sal altyd my eerste liefde wees,” erken sy, “maar ek is dankbaar om te kan werk. ’n Akteur is nie net een ding nie, ons doen TV, verhoog, radio en stemwerk. Ons vertel stories in elke medium en ek is mal daaroor dat ek na al die jare nog steeds kan doen waarvoor ek lief is.”

Die vroue wat sy speel en die vroue wat sy ken

Carmen het oor die jare ’n wye verskeidenheid vroue uitgebeeld, maar sy sê haar vertolking het verdiep namate sy ouer geword het. “Ek is amper 50 en jy leer om karakters anders te vertolk omdat jy self verander,” verduidelik sy.

“Op Skemergrond is ek trots om Hazel te speel, ’n vroue-karakter wat gehore nog nie regtig gesien het nie. Sy bestuur ’n groot familieplaas, sy is ’n vrou, ’n ma en gerig op haar loopbaan. Sy is nie die tipiese gebroke vrou wat uit mishandeling of verslawing kom nie. Sy het haar eie foute en uitdagings, maar sy is op ’n ander manier sterk. En dan is sy ook menslik.”

Dit is juis hierdie menslikheid waarmee Carmen wil hê gehore moet aanklank vind. “Wanneer jy soveel rolle as ’n vrou vervul, is dit maklik om te vergeet dat jy ook mens is,” sê sy.

“Hazel wys daardie kwesbaarheid. Sy is modern, layered en onvolmaak. As akteurs het ons ’n verantwoordelikheid om vroue se stories outentiek te vertel, om mense te laat voel. Wanneer iemand jou kom bedank vir ’n storielyn, maak dit alles die moeite werd.”

Stories wat die lens verskuif

Carmen se gesig straal as sy praat oor hoe die narratief rondom vroue verander. “Ons sien uiteindelik stories wat nie net oor vroue se stryd gaan nie,” sê sy. “Vir so lank was ’n sterk vrou net op een manier uitgebeeld, jy moes ’n sekere manier lyk of optree. Maar vroue bring mans in die wêreld, hoe sterk is ons dan nie! Daar is soveel maniere om sterk te wees. En nou vertel ons daardie stories.

“En soms beteken sterkte om te erken jy is moeg. Dat jy ’n breek nodig het. Dat jy nie altyd 100% kan gee nie. As vroue gee ons soveel vir ons gesinne, ons werk, ons gemeenskappe. Soms is die dapperste ding wat jy kan doen om vir jouself tyd te gee.”

Hazel se volgende groot kinkel

Carmen Maarman, Hazel, Skemergrond
Watter kinkels wat op Carmen Maarman se Hazel in Skemergrond?

Wat Hazel betref, kan Skemergrond-aanhangers groot drama in die komende paar weke verwag. Sonder om te veel te verklap, laat Carmen bietjie deurskemer dat daar emosionele storms op pad is vir haar karakter.

“Ek hoop gehore is vriendelik teenoor haar wanneer dit afspeel. Sy is altyd daar vir almal, gee altyd, maar wanneer jy overlooked of verwerp voel, kan dit jou lei om keuses te maak wat jy dalk nie normaalweg sou maak nie. Ons is almal menslik. Party dae gee jy 30% en iemand anders moet dan 70% gee. Dis die lewe.”

Gemaklik in haar eie vel

Op 46 straal Carmen dankbaarheid en selfvertroue uit. “Ek is so bly ek het gekry wat ek in my 40’s gekry het,” sê sy. “Toe ek jonger was, het ek gebid en gehuil en gewonder wanneer die volgende werk sou kom. Nou kan ek terugkyk en die seëninge sien. Ek waardeer dit alles nou soveel meer.”

En al is sy lief vir haar werk, het sy ook die waarde van grense en balans geleer. “Ek kry elke dag die kans om saam met my vriende te werk en te speel, en ek is mal daaroor,” vertel sy.

“Maar ná ’n lang dag geniet ek dit net soveel om huis toe te kom na stilte en vrede. Ek is in ’n fase van my lewe waar ek die stilte waardeer, die tyd om weer krag op te bou. Om ouer te word is ’n geskenk en ek wil dit teen volle benut.”


Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies