Tino is nie net nóg ’n TV-rol vir Cole Wessels nie. Dit is eerder ’n liefdesbrief meen hy. Een gerig aan die mag wat daarin lê om jouself uit te druk, verteenwoordiging en die mense wat hom gevorm het, veral sy ma, Jenny, en uiteenlopende karakters uit sy eie gemeenskap in Paarl.
“Onder my en my klein groepie vriende was ons gagged, soos ons sou sê,” vertel Cole laggend oor die eerste keer wat hy die Suidooster-draaiboek met Tino se storielyn gelees het.
“Ek was so bly dat ek iets lees waarmee ek kon identifiseer. Hulle was baie spesifiek oor die karakter se styl. Dat die klere nie hóm dra nie, maar dat hý die klere dra, en dat dit sy vorm van selfuitdrukking is. Ek kon daarmee vereenselwig.”

Egtheid gedryf deur lewenservaring
Dié interaksie tussen egtheid en identiteit is iets wat Cole goed verstaan. “Ek het onmiddellik baie senuweeagtig geraak. Ek beweeg deur die wêreld as ’n gay man in 2025, ja, maar saam met ander mense wat nie altyd so aanvaardend is nie,” verduidelik hy.
“Ek het dus reeds daardie lewenservaring; dat nie almal met jou keuses of manier van lewe saamstem nie, en dat mense soms haatdraende dinge sê. Ek het dus niks anders vir hierdie karakter verwag nie. Veral nie in ’n sepie soos Suidooster wat nog nie so iets gesien het nie.”
Om die rol van Tino te vertolk, het beide opgewondenheid en ’n diep gevoel van verantwoordelikheid by hom gewek. “My bekommernis was ook dat ek die queer-gemeenskap wou trots maak met my vertolking. Ek wou nie die stigmas rondom ons queer mense versterk nie,” sê hy.
Karakter bied hoop
“As ek terugdink aan wat dit vir my sou beteken het om ’n karakter soos Tino op die skerm te sien toe ek nog op skool en geboelie was, en onseker was of dit oukei is om myself te wees, dan weet ek hierdie karakter bied hoop. Hoop vir queer kinders en mense van alle ouderdomme wat soms twyfel of daar ’n plek vir hulle in die wêreld is. Ek wil vir mense die kans gee om hulself in Tino te sien en te besef daar ís ’n wêreld vir hulle. ’n Wêreld waar hulle vriende kan hê, ’n werk, tot die samelewing kan bydra, hul gesinne kan onderhou… Dít is wat hierdie rol vir my beteken.”

Dis daardie emosionele kern wat Tino só ’n uitstaande karakter in die Suidooster-heelal maak. Deur komedie en opregtheid in balans weer te gee, gee Cole lewe aan die karakter se kompleksiteit – van hoe selfversekerd hy uiterlik vertoon, tot sy innerlike kwesbaarhede. “Tino is lae-op-lae. Ek weet hoe dit voel om ge-profile te word. Vir my was dit belangrik dat hierdie karakter nie net daar is vir komiese verligting nie,” verduidelik Cole.
“Hy het swaarkry beleef, maar het besluit om die lewe te omhels. Hy kry dit nie elke dag reg nie. Hy maak nie altyd goeie besluite nie. Maar hy bly ’n mens met goeie bedoelings. Hy neem wat ander as swakheid sien, en gebruik dit dan as sy wapenrusting. Ek vereenselwig so baie daarmee; as mens en as Cole wat na Tino kyk.”
Behalwe vir die emosie, het Cole ook groot pret gehad met Tino se gebruik van Gayle, ’n geheimtaal wat in die 1950’s deur gay bruin mans in Kaapstad geskep is. “Toe ek ingestap het, het ek al ’n goeie kennis van Gayle gehad. My vriende en ek gebruik dit gereeld in gesprek,” sê hy met ’n glimlag.
“Maar ek het besef die Suidooster-draaiboek is beïnvloed deur verskillende generasies se weergawes van Gayle. Daar was beslis woorde wat ek nie geken het nie of wat ander betekenisse gehad het. Dit was pragtig om te sien hoe die taal, soos die mense wat dit geskep het, groei en ontwikkel.”

Geleefde ervaring
Buite Suidooster bou Cole steeds aan ’n indrukwekkende loopbaan op verhoog en skerm wat individualiteit en storievertelling vier. Kykers sal hom onthou as Jared in Mince Jou Hare (op Showmax), ’n rol wat humor en hart verbind het deur die bande van vriendskap tussen vroue te ondersoek, veral binne die veilige ruimte van ’n haarsalon.
“Vir my ma was die haarsalon, van so lank as wat ek kan onthou, haar plek van terapie, selfvertroue en selfversorging. Ons ken almal daardie anties in die gemeenskap met die haarsalon in hul garage of wat van die huis af werk. Ons ken daardie formaat, die karakters wat daar instap en wat dit vir ons beteken,” sê Cole.
“Soos ons leer in Veronique Jeptha se teaterproduksie My kroon se krank, is dit die kroon van ons persoonlikheid, kultuur en erfenis. Jy moet daai wela perm girl, sodat jy sterk kan uitstap. ‘Jy laat nie jou vlag sak nie,’ het my ma altyd gesê. Dis só ’n bemagtigende ruimte vol liefde en waardering. Daarom was Mince Jou Hare vir my so ’n belangrike produksie; omdat dit vroue soos my ma, en vroue in die algemeen, vier.”
Op die skerm weerspieël Tino se toewyding aan sy ma dieselfde sorg en liefde wat Cole in die regte lewe vir sy eie ma het. Dit is duidelik dat familie, beide gekies en biologies, bydra tot Cole se fondasie as mens. Daarom voel sy vertolking van Tino so eg. Dis nooit ’n karikatuur nie, dis geleefde ervaring.
Veerkragtigheid en verteenwoordiging
Vir Cole is Tino gelyktydig kuns én aktivisme. Hy sien die karakter as ’n lewende viering van veerkragtigheid en as ’n herinnering dat verteenwoordiging belangrik is; nie net vir vermaak nie, maar vir identiteit en belonging.

Met Tino vermaak Cole Wessels nie net nie, hy maak harte oop. En as jy ooit verlore voel en nie heeltemal Tino se gebruk van Gayle verstaan nie, hier is Cole se cheat sheet:
Tino se Gayle-woordeboek
- Beaul – beautiful (mooi)
- Bag – man
- Stunnel – stunning (pragtig)
- Clora – bruin mens
- Vis – vrou
- Vast – opwindend of intens (goed of sleg)
- Munchies/monibas/clock – geld
- Your pram – jou motor
- My lodge – my huis
- Dora – ’n drankie
- Dungi – dans
- Patsy – partytjie
- Sonja – son
- Singapore – sing (karaoke)
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.