Nee, ’n tweede seisoen van M-Net se raaiselreeks Recipes for Love and Murder was aanvanklik nie op skrif ’n gegewe nie, maar, vertel Maria Doyle Kennedy, sy het sommer net geweet dat sy tot dié rol sou terugkeer.
Maria is veral bekend vir haar spel op die uiters gewilde dramareeks Outlander, The Tudors en die sci-fi-fenomeen, Orphan Black.

In Recipes for Love and Murder is haar karakter, Tannie Maria, ’n Skotse vrou wat ʼn plaashuis in die Karoo geërf het en die dorpskoerant se kosskrywer- en biegtannie is. Die eerste seisoen het gedraai om die moordondersoek van een van Tannie Maria se korrespondente. Sy het kragte met ’n rookie-joernalis, Jessie September (Kylie Fisher), saamgespan om dié moord op te los… En terselfdertyd vir Khaya (Tony Kgoroge), die speurder wat die polisie se ondersoek gelei het, haas rasend gemaak.
Die storie keer terug sowat drie jaar sedert die reeks, gegrond op Sally Andrew se gewilde Tannie Maria-raaiselboeke, se eerste uittog op die kassie. Die bekroonde Jozua Malberbe (Devil’s Peak, Griekwastad) deel die regie-leisels met Jeynes terwyl akteurs soos Kylie Fischer en Tony Kgoroge weer saamspeel. Ook dié keer deel van die rolverdeling tel Wynand Ferreira (Moffie, Mooiweer en Warm, Wyfie), Gerard Rudolph (Devil’s Peak) en Hlubi Mboya (Blood Psalms, I Am All Girls).
Die tweede seisoen begin met ’n brand wat die klein dorpie Eden verswelg en ’n noodlottige kettingreaksie ontlok. Tannie Maria, Jessie en Khaya word dan by ’n moordondersoek betrek. Boonop kom die dorp se donkerste geheime op die lappe.
‘Sag en lieflik’
“Toe ek die draaiboek vir die eerste keer gelees het, het ek pas klaar aan ’n ander reeks verfilm en ek was besig om ’n klomp draaiboeke te lees wat byna almal oor reeksmoordenaars en die verskillende maniere hoe hulle vroue vermoor gegaan het. Dit het my so ontstel; dit het my eintlik nogal kwaad gemaak. En toe kry ek die draaiboek vir hierdie reeks en dit was so sag en lieflik…
“Daar is so baie mooi daarin, veral die natuurskoon, die kos, die mense – alles wat dit so eg Suid-Afrikaans maak. Die storie was vir my so pragtig; iets wat ek self sou geniet om te kyk, waarskynlik op ’n reënerige Sondagmiddag in Ierland. Maar ek het ook gedink dat dit iets is wat ek saam met kinders of my ma kan kyk, so ek was oortuig daarvan dat dit een van daai reekse is wat net aan en aan en aan kan gaan,” verduidelik sy.
“Dis soms so ’n bietjie soos Miss Marple (Agatha Christie’s Marple). Soms is dit ’n bietjie soos Vera. Ander kere weer soos Julia. Maar dit het sy eie spesiale gevoel en toon. Ek het glad nie getwyfel dat daar ’n tweede seisoen sou wees nie. En ja, ek is redelik seker dat daar ook ’n derde en vierde seisoen gaan wees,” sê sy laggend.
“Toe ek die teks vir die tweede seisoen gekry het, het ek nagedink oor als wat Tannie Maria in die eerste seisoen ervaar het. Veral oor hoe dit haar kon verander het. So, sy is anders as ’n mens haar nou weer sien. Sy’s ’n bietjie meer dapper ná als wat gebeur het. Sy het ’n sterker houvas op wie sy as mens is. Sy het besef sy is tot meer in staat as wat sy gedink het. Sy begin dus amper van ’n nuwe plek af soos sy meer oor haarself ontdek en dieper delf,” verduidelik die aktrise.
Dié selfondersoek maak ’n groot deel van haar karakter se storie in die nuwe seisoen, voeg sy by.
’n Ander wêreld
Die verfilming van Recipes for Love and Murder se eerste seisoen in 2021 was die aktrise se kennismaking met Suid-Afrika. Maar die Covid-19-beperkinge het beteken dat sy nie haarself ten volle in die plaaslike omgewing kon dompel nie. Dié keer kon sy egter die bul by die horings pak en boonop het haar familie saamgekom.
“Ek was al ’n paar keer by die teater en ons kan almal saamkuier. Ek kan tyd met my medespelers spandeer. Dit voel ook nou meer bekend,” sê sy. “En die kos! Die ongelooflike, ongelooflike kos hier. O genade! Dis fantasties! En ons het gaan swem in Simonstad en almal sê vir ons ons is mal want dit is te koud. Maar as Iere swem ons gereeld in die Atlantiese Oseaan.
“Suid-Afrika is ’n baie spesiale plek.”
Sy skryf so tussendeur ook plaaslike sêgoed neer soos sy meer oor die land en sy mense leer, vertel sy. “Ek het ’n lys op my foon,” deel sy en begin dan dié sêgoed op haar vingers lys: “ ‘Howzit‘, ‘issit?’, ‘as well‘, ‘hectic’, ‘shêm’, ‘now-now‘…”
En haar gunsteling Afrikaanse woord? Sy lag eers lekker en antwoord dan: “Jammerlappie!”
Die tweede seisoen van Recipes for Love & Murder saai weekliks vanaf Donderdag, 23 Januarie 2025, om 20:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101) uit. Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.