Menu terloops
In Onderhoude [24 Nov 2023]

‘Devil’s Peak’: Dís die regte Suid-Afrika, meen regisseur Jozua Malherbe


Die regisseur van ‘Devil’s Peak’, Jozua Malherbe, is vasbeslote om ʼn eg-Suid-Afrikaanse identiteit met plaaslike reekse en flieks te ontgin en te ontwikkel en om saam met sy tydgenote in die bedryf, ʼn unieke stem vir plaaslike projekte te laat ontwikkel wat internasionaal herkenbaar is.

Deur Riëtte van der Wat

Stroom aanlyn

‘Devil’s Peak’: Dís die regte Suid-Afrika, meen regisseur Jozua Malherbe
Kyk lokprent

As hoërskoolkind in Kaapstad se Suidelike voorstede in die neëntigs, het die regisseur en vervaardiger Jozua Malherbe Vrydae-middae op die trein geklim Cavendish toe en gaan fliek.

“Baie keer sommer een movie méér as een keer,” sê Jozua, die regisseur van flieks soos die bekroonde Griekwastad. Hy het ook die regie gedoen van die M-Net-reeks Devil’s Peak (Sondae-aande 20:00).

Destyds al, as skoolseun, het hy baie aanklank by die riller-genre gevind.

“Die ding wat ek daarvan geniet, is dat baie vryheid is om binne die genre rond te beweeg. Jy kan drama doen; of misterie; iets wat meer plot driven is; of aksie. Die geraamde genre gee jou baie vryheid, veral as jy gemaklik is daarin.”

Jozua Malherbe
Jozua Malherbe se werk, dikwels donker en kompleks, vind altyd ʼn gehoor. Foto: Verskaf

Feit en fiksie

Hy wil in die eerste plek flieks en reekse maak wat baie mense wil kyk.

“Tweedens is dit lekker om vir mense iets te gee wat iets heeltemal anders is as wat hulle gedink het dit gaan wees,” sê hy.

Daar was “baie angs en donker” in sy reeks Bloedbroers, wat tussen 1914 en 1948 in Suid-Afrika afspeel, en die fliek Griekwastad, oor ’n ware gesinsmoord in 2012 op ʼn afgeleë plaas.

“Die draaiboeke van daardie werk was baie spesifiek. En om eerlik te wees ek nie nou op soek na nog ʼn Griekwastad, nie – ek sal nie vinnig weer so ʼn real life traumastorie aangryp nie. En dit is waarom en Devil’s Peak vir my interessant was. Dit was in my lyn: ek kon die medium op my baie spesifieke manier gebruik, met byvoorbeeld baie hand held skote. Ek kon my spesifieke visuele palet gebruik om die storie te vertel, maar ek kon my regte-wêreld ervaring toepas op fiksie, met die wete dat ek dit nie in die konteks hoef te sit van régte mense wat nóú lewe nie.”

Ons het van die begin af daai gesprek gehad dat ons net gou real moet raak oor mense in Suid-Afrika. En ons wou dit nie ʼn cop show noem nie, want dan sou ons doodgewoon True Detectives of Seven met Suid-Afrikaanse akteurs in ʼn Amerikaanse storie kon maak. Die reeks is ʼn manier om ʼn gesprek te voer oor wie óns is.

Jozua Malherbe

Wie is ons?

Met Devil’s Peak wou hy van die begin af ʼn storie vertel met ʼn régte Suid-Afrikaanse gevoel. Iets “real”, wat meer is as mooi skote van Tafelberg en Kaapse strande.

“Ek wou iets maak wat vír en ván hier is. So daarom het ek die art director en die hoof van elke ander departement gevra om vir my foto’s te bring van hulle tannies en ooms en bure. Ons het gaan aandete eet by mense se familie; gekyk hoe leef régte Suid-Afrikaners… 

“Ons het van die begin af daai gesprek gehad dat ons net gou real moet raak oor mense in Suid-Afrika. En ons wou dit nie ʼn cop show noem nie, want dan sou ons doodgewoon True Detectives of Seven met Suid-Afrikaanse akteurs in ʼn Amerikaanse storie kon maak. Die reeks is ʼn manier om ʼn gesprek te voer oor wie óns is.”

Daarom is daar meer diversiteit oor kultuur- en klasgrense heen as wat dikwels in plaaslike stories gesien word.

“En natuurlik trek ons kritiek daaroor, maar ek wou wys Kaapstad is nie homogeen nie. Dis diversiteit. En om diversiteit te wys sonder dat dit soos ʼn Smartieboks lyk, was baie moeilik.”

Alles moes outentiek lyk en dit was nie eenvoudig nie, vertel hy.

“Om die teenoorgestelde te doen van wat Wes Anderson in sy flieks doen is nét so moeilik. Van die vuil vensters tot die kar wat nie skoon is nie… alles in elke raam is gebou vir die reeks. Tot die polisiestasie is gebou van scratch af.”

Dit wás baie bevrydend om ʼn behoorlike begroting vir die projek te hê.

“In een toneel spring Bennie van ʼn drie verdieping-gebou af en dit voel só real. Maar daar’s eintlik ʼn enorme hyskraan oor daai woonstelblok, sodat iemand met kabels daar kan afspring.”

Eerlike stories

Jozua Malherbe

Sy werk, dikwels donker en kompleks, vind altyd ʼn gehoor.

“Ek maak nie die ‘breedste’ werk, soos komedie, nie, maar omdat my werk uit ʼn plek van emosionele waarheid kom, bly dit gewild. Die mense wat my werk kyk, is nie genotkykers nie, hulle is kieskeurig. Hulle is invested in televisie en flieks.

Hy glo die karakters waartoe hy aangetrokke is, dra by daartoe om mense se nuuskierigheid te prikkel, soos dié in Devil’s Peak.

“Dis karakters in wie jy kan glo en wie se stories duidelik is, sodat kykers hopelik weer volgende week sal inskakel. Die vervaardigers van Devil’s Peak het Griekwastad gesien en my na aanleiding daarvan gekontak om by Devil’s Peak betrokke te raak,” sê Jozua, wat dadelik opgewonde was oor die projek.

“Ek en Deon Meyer kom al ʼn lang pad saam. Ek het saam geskryf aan die reeks Trackers.

Deon het die fliekregte vir Griekwastad gekoop, wat gegrond is op die boek Die Griekwastad-moorde, deur die joernalis Jacques Steenkamp. Hy was ook een van die fliek se vervaardigers.

“Deon is baie hands off – hy is betrokke op ʼn armlengte en hy geniet dit, maar hy is heeltyd deel van die gesprek.”

Ook oor hoe sy karakters en stories aangepas en verander word om meer relevant te wees vir ʼn hedendaagse gehoor.

Relevant vir vandag

Devil's Peak, Jozua Malherbe, Hilton Pelser
Hilton Pelser vertolk die rol van Bennie in Devil’s Peak. Foto: Verskaf

Die Bennie wat kykers in dié weergawe van Devil’s Peak ontmoet, is jonger as die een wat lesers in Meyer se boeke leer ken het. Hy is in ʼn multikulturele huwelik. Hy kom ook uit ʼn ander generasie polisiemanne, anders as boek-Bennie.

“Dit was iets wat die vervaardigers van die begin af wou doen en hulle het my betrek by hoe ons dit sou benader. Ek was eers huiwerig, want ek het ʼn idee gehad van wie Bennie moet wees, maar ons het net aangehou met die gesprek, totdat ons uitgekom het by ʼn moderne Bennie aan die begin van sy storie.

“Nes ek ʼn kontemporêre Kaapstad wou wys, wou ek ʼn kontemporêre karakter wys, wat nie die gewig van die vorige regime op sy skouers dra nie. Iemand wat ék en jy is. Iemand na wie gehore wêreldwyd kan kyk. Ek wou nie nóg ʼn apartheid-storie vertel, waar alles ʼn rasse-kwessie word nie. Dit moes meer relevant wees. Daarom het ek meer belanggestel in hierdie ou met die drankprobleem wat dit nie wil erken nie.”

Die reeks belig dus ander kompleksiteite as die boek, wat oorspronklik in 2004 gepubliseer is. 

“Die wêreld wat ons in die reeks, in 2023 wys, het ander kompleksiteite as in die boek. Maar die universele temas in die boek is steeds vandag relevant en kompleks – ras, geweld, mensehandel… ek wou ondersoek hoe lyk dié plek waarin ons lewe en hoe dinge uitspeel.”

Toe hy onlangs weer ʼn paar episodes van The Wire gekyk het, het dit hom bygeval hoe soortgelyk dit aan Devil’s Peak is.

The Wire wys ʼn baie spesifieke wêreld van Detroit cops, wat geskryf is deur mans wat van Detroit af gekom het en daai gegewe so goed kon vasvang. En hier het ons vir Deon Meyer, wat ons gegewe so goed vasvang.”

Menslikheid en kompleksiteit

Sisanda Henna speel Thobela, wat sy seun se dood wreek.
Sisanda Henna speel Thobela, wat sy seun se dood wreek. Foto: Verskaf

Hy wou akteurs kies om die storie te vertel, wat ʼn menslikheid uitbeeld. 

“Die akteurs in Devil’s Peak is ongelooflik. Dis mense empatie in hulle oë; met warmte.”

Sisanda Henna speel Thobela, wat sy seun se dood wreek.

“Ek en Sisanda het al voorheen saamgewerk aan Donkerland en later Griekwastad. Daar is baie ander maniere om sy karakter te speel, maar ek wou in die eerste plek iemand hê wat ʼn great pa is. Sisanda is self die pa van twee seuns en hy het soveel empatie in sy oë. 

“Hilton Pelser, wat Bennie speel, het daai selfde striking oë. Dit was sy eerste hoofrol in ʼn reeks en hy het homself ten volle daarin gewerp. Jy sien die persoonlike verplettering daarin, selfs al is dit net ʼn close up van hom wat niks doen nie. Ek dink die meeste van die akteurs in die reeks het daai gevoel gebring.”

Dit was vir Jozua interessant om gehore se moontlike komplekse verhouding met dié twee karakters te ontgin.

“Thobela is die anti-held, die antagonis, maar jy hou so baie van hom. Jy weet wat hy doen is verkeerd, maar jy wonder tog of jy nie dieselfde sou doen nie. How often do you get to root for the bad guy? In Suid-Afrika is daar in elk geval ʼn baie fyn lyn tussen die goeie en die slegte ouens…

“En Bennie is die polisieman en al probeer hy die regte ding doen, doen hy dalk eintlik iets sleg, so ons hou nie altyd baie van hom nie. Daardie spanning tussen die protagonis en antagonis werk baie lekker.”

Plaaslike stem

Die gesprek draai by waarna Jozua as die “breër vraag” oor die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf en oor identiteit verwys.

“Want wat ís ons identiteit? Toe ek Wolwedans in 2011 direct het, was ek en die ouens wat Bakgat gedoen het die jongste directors in die bedryf. Daar was daai tyd so ʼn klein ou groepie wat movies gemaak het en dit is waarom daar die afgelope dekade ʼn movement was waardeur ons Suid-Afrikaanse flieks en TV kon reinvent.

Die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf was die afgelope dekade soos ʼn leë woestynlandskap waarin ʼn nuwe generasie filmmakers van nuuts af moet begin.

Jozua Malherbe

“Toe ek Wolwedans gedoen het, was my aanslag doelbewus baie stilisties, omdat ek groot wou gaan met die impuls wat ek wou aanspreek oor waar ons as jong Suid-Afrikaanse filmmakers ons bevind het; oor waarvoor ons staan en hoe ons flieks wil maak met ʼn Suid-Afrikaanse identiteit.

“Dis maklik om ʼn Amerikaanse fliek te identifiseer, maar waar lê ons, as Suid-Afrikaanse rolprentmakers, in daai gesprek? Want vir lank het die Amerikanse movies baie van ons werk hier eintlik oorgeneem – ons het bloot Amerikaanse stories vertel met Suid-Afrikaanse akteurs.”

Dinge het egter reeds dramaties begin verander, sê hy.

“Deesdae is daar ouens soos Corné van Rooyen, John Trengrove, Christiaan Olwagen… ouens wat regtig uitstekend is. Maar dit het vir ons lank gevat om hier te kom.”

Die woestyn blom

Die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf was die afgelope dekade soos ʼn leë woestynlandskap waarin ʼn nuwe generasie filmmakers van nuuts af moet begin, sê hy.

“Daar was ʼn tyd toe mense weggekyk het van Suid-Afrikaanse stories en projekte. Die landskap was leeg,” sê Jozua. 

“Ons moes grawe en als oorplant en ons naels vuilmaak. Dis nie ʼn deel van die storie wat mense wil sien nie. Hulle wil deur die botaniese tuin stap. En ek dink die tuin begin nou weer floreer en daar’s baie meer diversiteit – gehore kan, net soos op die rugby, trots voel oor die Suid-Afrikaanse filmbedryf.”

Dis verblydend dat toekennings soos die Safta’s (Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisietoekennings) toenemend erkenning aan eg-Suid-Afrikaanse, en ook Afrikaanse, stories, gee, sê hy.

“Die Saftas doen fantastiese werk om uitstekende stemme uit te lig, soos dié van Nico Scheepers (Nêrens, Noord-Kaap). Produksies soos Gaia (van Jaco Bouwer), wat met klein begrotings teen groot Netflix-produksies meeding, is erken. Dis ʼn goeie teken dat dié toekennings erkenning gee aan stemme teenoor budgets.”

Jozua het onlangs die regie gedoen van Plan B, nog ʼn reeks wat losweg op Deon Meyer se eerste boek, Wie met vuur speel, gegrond is. Tertius Kapp het die draaiboek geskryf en akteurs soos Arnold Vosloo, Tim Theron en Amalia Uys is in die rolverdeling.

“Dis die verste van my storm-en-drang-temas nog; baie ligter en met meer komiese elemente. I wanted to lean into it – dit was baie lekker.”

Dié reeks sal in 2024 uitgesaai word.

As hy internasionale geleenthede kry, sal hy dit aangryp, maar Jozua se visie is in die eerste plek om hier, in Suid-Afrika, te aanhou bou aan ’n unieke Suid-Afrikaanse film-identiteit, wat net so herkenbaar is soos ʼn Europese- of Koreaanse-filmidentiteit en gemaklik met die reuse van die rolprentwêreld kan skouer skuur.


Devil’s Peak is op DStv Stream (kanaal 101) en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies