In die negentigs, toe ek op laerskool was, het my ma op Vrydae-aande steak en tjips gemaak. Dan eet ons aandete op skinkborde voor die TV en kyk hoe MacGyver die slegte ouens laat les opsê. Plan B, kykNET se nuwe aksie-, drama- en komediebelaaide reeks, is ook so ʼn ‘steak-en-tjips-op-ʼn-Vrydag-aand’-tipe reeks – al wys dit dan ook op Dinsdae-aande (van hierdie week af om 20:00). Dis gelukkig ook myle beter as wat MacGyver ooit was en ek sou nie my laerskoolkind daarna laat kyk nie.
Die reeks, wat gegrond is op karakters wat Deon Meyer in die 1990’s geskep het, is egter geïnspireer deur old school-aksiereekse van die 1970’s en 1980’s: Magnum PI (Tom Selleck met daai onweerstaanbare snor), die twee odd ball polisiemanne van Starsky and Hutch en die sexy Hawaii Five-0.
Cobus van den Bergh, een van die vervaardigers, sê hulle wou ʼn stewige skeut nostalgie en onskuld, nes in dié reekse, deel van Plan B maak.
“Dis reekse wat aksie en spanning het en ernstige sake aanspreek, maar altyd pret is om te kyk,” sê Cobus, van Scene23, in ʼn persverklaring.
Dis amper ʼn verligting om vir ʼn slag ʼn reeks in Afrikaans te kan kyk wat nie óf ʼn komediereeks, óf ʼn drama met ernstige temas is nie. Want nes Cobus belowe, is Plan B ʼn aksiebelaaide wipwarit met ʼn lekker storielyn en sterk karakters wat jou van die eerste episode af vasgenael hou. Die reeks, wat uit vyf episodes bestaan (hoekom so min?), is pure gesofistikeerde ontspanningskykstof. Dis ʼn glansryke misdaadkomedie op sy beste, met uitstekende akteurs wat heerlik speel met Tertius
Kapp se draaiboek, onder leiding van Jozua Malherbe as regisseur.
Volgens Malherbe het hulle op stel van “sonskyn en sjampanje gepraat” en deurlopend probeer om ʼn reeks te skep wat lig en lewendig moes wees. Die eerste twee episodes wys hulle het dit lag-lag reggekry. Die plekke, mense, motors en huise is alles mooi.
Met die slim gebruik van musiek (soms net ʼn enkele viool vir spanning, ander kere die catchy temamusiek), springende nabyskote en tonele wat op slim visuele maniere van mekaar onderskei word (ook met ‘hoofstuktitels’ in Wes Anderson-geel), word die old school-gevoel versterk.
Plan B het ook glibberige, aantreklike skelms, met Armand Aucamp wat die voortou neem as die glyjakkals Joshua Lansky. Aucamp laat ʼn mens gril tot in jou sokkies vir die sjarmante swendelaar met die gladde bek. Sy pa is die mafiabaas Zeev Lansky (André Jacobs met ʼn verspotte brilraam so reg uit die 70’s). Rolanda Marais speel Joshua se lover, die eksentrieke kunstenaar Margot Law.
Daar is natuurlik ook die galante, gesofistikeerde goeie ouens, wat op die spantou tussen wettige en onwettige bedrywighede balanseer. Die enigmatiese Paul Schmidt word gespeel deur Arnold Vosloo en dis ooglopend dat dié Hollywood-akteur sy karakter en dié se quirks baie geniet het. Schmidt was betrokke by die land se intelligensie-eenheid, maar gebruik nou sy talente en vaardighede om privaatkliënte te help. Hy rangskik ook graag blomme (dit was glo Vosloo se idee), dra onderbaadjies en sy-rose op sy lapel en ry ʼn parmantige blou Citroën Palas. En al het hy ʼn skerp intellek en die woordeskat wat daarby pas, is hy nie arrogant nie.
Met Plan B sit Vosloo sy verhouding met die produksiemaatskappy Scene23 se
Van den Bergh en Tim Theron, asook met Jozua Malherbe voort – hulle het voorheen saamgewerk aan die rolprent Griekwastad en Vosloo beskryf sy kollegas as “broers”. Hy is glo eers die rol van Zeev Lansky aangebied, maar het dit van die hand gewys omdat hy al te veel sulke karakters gespeel het. Schmidt het vir hom na ʼn meer interessante karakter gelyk en hy laat jou regtig glo dié man sal maklik met die slegte ouens kan afreken.
Schmidt se vennoot is Ivan Malan, wat gespeel word deur Tim Theron. Hy het ʼn militêre agtergrond; volg graag eerder sy eie kop as Schmidt se raad en koes vir koeëls terwyl kwinkslae oor sjokolade-melkies van sy tong afrol. Maar daar steek meer aan hom agter die humor en die grappies is net ʼn skans. Sy ryding is pure Hawaii Five-0; ʼn blinkrooi Jeep. Theron speel dié tipe karakter met groot gemak en hy’s perfek vir die rol. Met sy rolnektrui en karamelkleurige leerbaadjie, is hy die aantreklike 70’s-aksieheld uitgeknip.
Theron en Vosloo het ʼn natuurlike chemie op kamera en die tonele waar hulle karakters se bromance op die voorgrond tree, is van die eerste twee episodes se bestes. Schmidt beskuldig Ivan in een toneel van ʼn “hormonale opwelling” en die twee wil met deadpan gesigte by mekaar weet “waarom is jy só?”, terwyl jy eintlik weet hulle sal enigiets vir mekaar doen.
Dis by hulle wat Ragel Bergh (Amalia Uys) aanklop nadat sy deur Joshua Lansky uit haar erfgeld geswendel word. Ragel is ʼn boekwinkeleienaar wat hou van die fyner dinge in die lewe. Maar sy is ook ʼn tawwe koekie en wanneer sy besef Joshua het haar vir ʼn vuile gevang, staan sy nie terug nie. Kapp sê dit was belangrik vir hom om die vroue in die reeks anders aan te pak as hoe vroue-karakters in die 90’s aksie-reekse uitgebeeld is.
In Plan B laat Ragel nie haar lot suiwer aan Ivan en Schmidt oor nie, sy is deel van die projek om Joshua aan die pen te laat ry en vorm ʼn soort Oceans Eleven-band met die mans. Schmidt dra, in Ivan se woorde, vir haar “comfort koekies” en tee aan om haar aan die praat te kry oor die “olievlek in ʼn aandpak” wat haar besteel het en dis nog een van die sterkste tonele in die tweede episode.
Uys is natuurlik beeldskoon en sexy, maar sy speel Ragel met ʼn goeie skoot sinisme en ʼn kyk in haar oë wat dit duidelik maak dat “hell hath no fury like a woman scorned”. Namate Ragel die legkaartstukkies inmekaarpas oor die feit dat sy geflous is, breek die woede in Uys se oë subtiel los. Dit was seker ook nie toeval dat sy ʼn rooikop is en dat ʼn Vermeer-skildery met die naam “Vlammemeisie”, miljoene Euro werd, die oorsaak van al haar probleme is nie.
Die enigste deel van die storielyn wat ek moeilik koop, is dat Ragel se pa sy fortuine met ʼn handvol vissersbote gemaak het. Of dalk speel Ragel ook nog nie al haar kaarte nie. Sy is baie gemakliker met ʼn skerplem-vissersmes in haar hand as die gemiddelde boekwinkeleienaar, of hoe?
Nog een van die reeks se fantastiese vroue-karakters is die rekenaar-wonderkind, Kate (Wanda Banda). Banda is ʼn vonds met haar vonkelende oë en pittige spel waaragter haar karakter se vrees wegkruip. Kate is Schmidt-hulle se rekenaargenie wat agter die skerms tegniese toutjies trek. Sy steek heerlik met Ivan die draak.
Anders as die goth-tipe rekenaar-foendi’s wat dikwels in sulke reekse te sien is, is Kate se styl kleurvol en vars: sy dra helder oogskadu, speelse wit grimeerkolletjies oor haar neus en helder pienk oorfone.
Die tonele met Dorette Potgieter as die kuns-waardeerder Hildegard is te yl gesaai – mens wil meer van dié slim vrou sien. Anrich Herbst maak ook ʼn draai as die onbeholpe speurder, Boef, wat met sy swak Engelse aksent oortuig is die “voshaarnooi” Ragel, lyk Engels.
Nuwe episodes van Plan B word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) asook DStv Stream uitgesaai. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.