Die tydsberekening vir die vrystelling van Wyfie, ʼn opwindende nuwe universiteitsdrama nou op Showmax, het ʼn ironiese nuuswaardigheid.
Dié reeks, oor ʼn groep universiteitsvriendinne, speel af by die Pantera-koshuis van die denkbeeldige Eike Universiteit, maar soos nou al algemene kennis is, het daar so ʼn paar weke gelede ʼn storm losgebars oor omstrede koshuisrituele by ʼn bekende (berugte?) manskoshuis by ʼn régte universiteit met eikelanings. (Afrikaanse) koshuiskultuur- en tradisies is opnuut in die kollig.
Wyfie verdien egter aandag in eie reg, want dit is, soos die persverklaring belowe (en te oordeel aan die eerste drie episodes), ʼn grensverskuiwende Afrikaanse reeks. Die reeksregisseur, Johan Cronjé, wat saam met Eva du Preez en Emily Badenhorst deel is van die regisseurspan, het glo regdeur die vervaardigingsproses gesê Wyfie is ʼn storie wat nie skaam mag wees nie en wat dinge moet wys nes dit is. Ten spyte van soortgelyke oorsese dramareekse, is dit ʼn fantastiese eerste in Afrikaans.
Die onlangse regte lewensdrama oor geheime kamers en ontgroening het immers bewys ʼn universiteit en koshuis is ʼn onuitputbare bron vir stories. Soos een van die hoofkarakter, Amanda (Celeste Loots), vroeg in die eerste episode al sê, jou universiteits- en koshuisdae is soos ʼn “microcosm wat jy nooit weer in jou lewe gaan beleef nie. Dis ʼn memory machine.”
Marcel Spaumer, die hoofskrywer, sê hy en die res van die skryfspan het 100% inspirasie geput uit hulle eie herinneringe van die koshuislewe.
Amanda en Shay (Beata Bena Green) is die tweemanskap om wie die reeks draai. Dis die einde van hul eerste jaar in Pantera, die eerstejaars se inwyding (“breinspoel?” vra Shay) is agter die rug.
Die twee ken mekaar al van hulle laerskooldae af. Dan beland hulle (min of meer deur hul eie toedoen) in ʼn gruwelike nuwe koshuiskamer saam met die konserwatiewe Kyla (Kristen Raath) en wild child Mia (Mienke Ehlers). Hulle sou nooit uit eie keuse saamgebly het nie, maar hier is hulle nou. En dis Pantera, so die naels kan nie anders as uitkom nie en die hare waai beslis.
Met dié vier karakters skep die skrywers, en die regisseur, ʼn interessante kookpot van identiteitskrisisse: is enigiemand régtig wie hulle voorgee om te wees, of wie hulle dink hulle is?
Beata (ook in Arendsvlei en 7de Laan) en Celeste (ook in Trompoppie) skep al van die eerste episode af ʼn energie wat sê “Amanda en Shay is al jare lank vriende, ons ken mekaar beter as enigiemand anders, ons sal deur vuur loop vir mekaar”.
En tog bieg Shay teenoor die kyker dat mense meestal ʼn lyn in die sand trek vir die mense wat hulle lief het: probeer my verstaan, maar net tot hier. Moenie oor die lyn trap nie, want wat ander kant die lyn lê, gaan jou wegjaag.
Celeste vertolk Amanda se rebelse, aweregsheid baie goed, terwyl sy ook ʼn fyn lyn van kwesbaarheid loop en ʼn mens laat wonder waarom sy daai deel van haarself vir ander mense wil wegsteek.
Shay is die meer gematigde een van die twee, maar sy is alles behalwe eendimensioneel. Anders as Amanda, wat ten spyte van haar beste bedoelings opgesweep raak in die Pantera-kultuur, is Shay sinies en teruggetrokke. Die koshuislewe irriteer haar. Was dit nie vir Amanda nie, het sy weggebreek uit die klein politiek van die koshuisgange.
Die kyker ontmoet ook gou vir Kyla, vir wie dit belangriker was om die regte universiteitskerk as koshuis te kies en vir Mia, wat definitief met ʼn donker geheim rondloop en elke aand ʼn klein orgie in haar koshuiskamer het. Die rolverdeling is fantasties. Veral Kristen speel lekker met die idee van ʼn ontluikende identiteit en seksuele ontwaking.
Marguerite van Eeden is Pantera se prim en propper primaria en sy is fantasties in dié rol van ʼn meisie wat hou van haar eie mag en die implikasies daarvan vir haar identiteit.
Dan is daar ook die eerstejaars se verhoudings met hul uiteenlopende ma’s, vertolk deur Jana Strydom, Dorette Potgieter en Therese Bam. Die skrywers gaan sensitief te werk met die kompleksiteit van die eerstejaars se veranderende verhouding met hul ouers – aan die een kant maak jy jouself as student los van jou ouers; aan die ander kant is jy steeds van hulle afhanklik. Dít is ʼn belangrike skakel in daai hele soeke na jou eie identiteit en dit word subtiel, maar doeltreffend, in Wyfie bygeklits.
Wat veral verfrissend is van Wyfie, is dat dit ʼn vrou-gedrewe storie is. Hier is nie ʼn sexy/ slim/sportiewe man om alles in ʼn kits beter te maak nie. Inteendeel, die mans wat in Die Grot toegelaat word, is daar omdat ʼn vrou vir hulle gesê het om daar te wees. Die feit dat die ‘ma-en-dogter’-verhoudings op die voorgrond is, eerder as die studente se verhoudings met hul pa’s, dra ook by tot daai dinamika en hoewel dit dalk nog kan verander namate die reeks vorder, is dit ʼn goeie wegspringplek.
Cronje, die Safta-bekroonde regisseur van Wonderlus en Nêrens, Noord-Kaap, skep met beligting, klank en kameraskote ʼn atmosfeer wat baie emosie ontlok. Peach van Pletzen doen dieselfde met die klankbaan, ʼn huldeblyk aan die kletsrymer Angie Oeh, wat verlede jaar oorlede is. Haar liedjie “Dis jou wyfie”, het die reekstitel (en die naam van die eerstejaars in Pantera) geïnspireer – ʼn “temalied vir misfits”, soos Peach dit beskryf. Angie se stem klink spookagtig regdeur die reeks op.
Dit sê baie van die kreatiewe span wat by Wyfie betrokke was dat kykers reeds binne drie episodes van skaars 23 minute elk, ʼn sterk idee het van wat die belangrike rolspelers dryf, sonder dat hul geheime al hoegenaamd uitgelap is. Elke toneel en interaksie vervul ʼn rol om die kyker binne-in die storie te plaas en jou sonder huiwering daai ‘Play Next Episode’-knoppie te laat druk.
Twee nuwe episodes van Wyfie word elke Dinsdag op Showmax uitgereik.