Menu terloops
In Onderhoude [25 Mei 2023]

Kylie Fisher van ‘Recipes for Love and Murder’: Plaaslike meisie met ʼn wêreld-blik


Die aktrise Kylie Fisher is ʼn fonds vir die Suid-Afrikaanse TV-bedryf. Sy het met terloops gesels oor haar rol as Jessie September in die reeks ‘Recipes for Love and Murder’ en oor hoe kulturele diversiteit haar as aktrise geslyp het.


Deur Riëtte van der Wat

Kyk nou

Kylie Fisher van ‘Recipes for Love and Murder’: Plaaslike meisie met ʼn wêreld-blik
Kyk lokprent

Suid-Afrikaners kan gemeenskappe opbou en probleme kan regmaak, solank as wat ons dit saam doen. Dít is een van die dinge wat die reeks Recipes for Love and Murder, nou op Showmax beskikbaar, vir die aktrise Kylie Fisher geleer het. Kylie vertolk die rol van Jessie September, ʼn vurige jong joernalis in hierdie reeks wat op Sally Andrew se gelyknamige boeke gegrond is.

“In die nadraai van die pandemie en die isolasie wat dit meegebring het, wys ʼn reeks soos hierdie vir ons dat ons nie sonder ʼn gemeenskap kan leef nie,” sê Kylie. “Ek hoop die reeks spoor mense aan om moeilike gesprekke te begin en herinner hulle aan hoe belangrik gemeenskap is. Ook aan hoe ryk ons is te danke aan ons kulturele verskille.”

Kylie Fisher is Jessie September in Recipes for Love and Murder. Foto: Verskaf
Kylie Fisher is Jessie September in Recipes for Love and Murder. Foto: Verskaf

Wêreldburger

Al was sy skaars een jaar oud toe haar gesin Dubai toe verhuis het, het Kylie in haar hart Suid-Afrikaans gebly.

“My pa is ʼn ingenieur en sy firma het hom daarheen verplaas. Ek was in die laer- en hoërskool in Dubai,” sê Kylie. “My ouers wou hê ons moes ons verbintenis met ons familie en ons Suid-Afrikaanse wortels behou en daarom het ons een keer per jaar vir familie in Johannesburg kom kuier.”

As wêreldburger het ek simpatie met karakters uit diverse agtergronde. Ek is ook nie so geheg aan een spesifieke kulturele identiteit nie, wat beteken ek is ʼn bietjie meer buigbaar.

Kylie Fisher

Kylie en haar suster beskryf hulself as “twee kultuur-kinders. Ons waardeer waar ons vandaan kom, maar ook wat ons in ons nuwe land geleer het. My hele wese is Suid-Afrikaans, maar my karakter is in Dubai ontwikkel.”

Haar blootstelling aan verskillende kulture hier én in Dubai was ʼn hupstoot vir haar loopbaan as aktrise, glo sy.

“As wêreldburger het ek simpatie met karakters uit diverse agtergronde. Ek is ook nie so geheg aan een spesifieke kulturele identiteit nie, wat beteken ek is ʼn bietjie meer buigbaar. Drama was groot by my skool in Dubai en ons is daar blootgestel aan die hele wêreld van teater en drama, van die Ooste tot Europa. En op nog ʼn praktiese vlak is ek van kleins af aan baie aksente blootgestel. Ek was in ʼn Britse skool en kan maklik aksentverskille raak-hoor en inoefen.”

Geloofsprong

Dit was ’n geloofsprong om stoksielalleen Kaapstad toe te trek – eers vir haar studies en later om ’n loopbaan in die land op te bou. Sy het niemand in Kaapstad geken nie.

“Die Universiteit van Kaapstad was my een en enigste keuse vir my dramastudies. Toe ek op die vliegtuig geklim het vir die oudisie, het ek regtig vir die beste gehoop. Dinge het darem heeltemal volgens plan verloop. Gelukkig is Suid-Afrikaners so warm en liefdevol. ’n Mens hoef net te vra, dan help iemand jou.”

Die taalgrens is soms nogal ’n uitdaging: “My ouers het tuis met mekaar Afrikaans gepraat, maar Engels met ons kinders. So ek kan ’n bietjie Afrikaans verstaan, maar nie genoeg nie. Dis nogal jammer, ek sou graag in Afrikaans wou werk!

“Xhosa was ook nogal ’n uitdaging in Kaapstad; ook die blootstelling aan kulture wat ek nie voorheen geken het nie. Dit is lekker om met ’n oop hart te leer en gelukkig is Suid-Afrikaners hartlik genoeg om ’n mens geduldig touwys te maak.”

Haar studies was vir Kylie, ʼn topstudent, ʼn ongelooflike ervaring: “Van die dosente tot die netwerk van vriende in die bedryf wat ek opgebou het, was net onbeskryflik. ʼn Mens is by die UK deel van strome kundigheid en kennis.”

Droomrol

Kylie Fisher in Recipes for love and Murder
Kylie Fisher as Jessie in Recipes for Love and Murder op Showmax. Foto: Verskaf

Die rol van Jessie September in Recipes for Love and Murder, was ʼn droom wat bewaarheid is. Jessie is ʼn passievolle joernalis en werk by die Karoo Gazette, waar sy ongeregtigheid wil ontbloot (terwyl sy ook oor die plaaslike talentkompetisie moet skryf).

“Ek het vir my vriende bly sê ek wag vir ʼn rol wat vir my bedoel is; ʼn stérk karakter. Jessie is regtig ongelooflik – ek is mal oor hoe sterk sy is. Jessie is nie ʼn slagoffer van haar omstandighede nie en ek respekteer haar daarvoor. Ek het ook simpatie met haar strewe om perfek te wees. As immigrante-kind is daar maar altyd onbewustelik druk om die beste te wees. In Jessie se geval, is daar druk omdat sy die oudste is.

“Jessie het nie tyd om kwesbaar te wees nie – sy wil so gou as moontlik by die hart van ʼn saak uitkom. Sy is feisty en sy is nie bang om gesag uit te daag nie.”

Dié kant van Jessie se persoonlikheid, sê baie van haar generasie, meen Kylie. “Jessie respekteer gesag, maar sy daag dit uit wanneer dit nodig is. Sy is bemagtig en verteenwoordig op ʼn manier ʼn nuwe Suid-Afrika.”

Haar karakter is egter in sekere opsigte steeds naïef en Kylie het baie deernis daarvoor.

“Sy sukkel met ʼn paar dinge, soos die liefde, maar gelukkig is Tannie Maria daar om haar te help. Dis lekker om te sien hoe Jessie haar tweede vel begin afskud met ander se hulp.”

Wie nie waag nie, droom net

Nes Jessie, voel Kylie oor sekere dinge baie sterk.

“Ek glo almal moet weet wat moontlik is; dat dit belangrik is om te probeer as jy ʼn droom wil uitleef. My generasie is so bevoorreg met tegnologie soos TikTok en Instagram, want of jy nou resepte wil deel, wil dans of oor flieks wil praat, jy het die platform.

“Ek glo so baie mense se lewens kan verander as hulle kanse waag – ja, in sommige gevalle weldeurdagte kanse, soos toe ek Kaapstad toe gekom het vir my studies. Dit was nie maklik nie, maar dinge het so goed uitgewerk en as ek nie probeer het nie, sou ek nooit geweet het nie…”

‘Wow, net wow’

Oor haar mede-spelers in Recipes for Love and Murder raak Kylie liries.

“Jy moet verstaan dit was my eerste groot rol hierdie en toe ek uitvind wie my mede-spelers sou wees, het ek bietjie uitgefreak,” sê Kylie.

“Maria Doyle Kennedy wat Tannie Maria speel is die mees vrygewige, saggeaarde mens wat ek al ooit ontmoet het. Sy skep ruimte vir haar mede-spelers en het keer op keer grasie vir jou in elke toneel. Ek het baie by haar geleer – voor die kamera en agter die skerms – en dit was ʼn reuse-voorreg.”

Kylie het op universiteit ʼn projek gedoen waarin sy oor Jennifer Steyn geskryf het. Jennifer vertolk die rol van Hattie Wilson, die redakteur van die Karoo Gazette.

“Toe ek uitvind ek gaan teenoor haar speel, het ek ʼn redelike groot fan girl-oomblik gehad. Jennifer ís Hattie – sy het perfekte komiese tydsberekening.”

Jessie se ma, Charlene September, word deur Khadija Heeger vertolk en oor haar sê Kylie sonder skroom “wow”. Auntie Khadija se teenwoordigheid dwing fokus af tydens ʼn toneel, maar ook agter die skerms. Wanneer sy praat, luister jy. As sy met Jessie raas, weet jy daai meisiekind is in die moeilikheid.”
Een van my tonele saam met haar, ʼn ernstige gesprek tussen ma en dogter in die kombuis, is een van my gunstelinge van die reeks.

“Hul verhouding weerspieël so baie van die ma en dogter-verhouding, maar dit word genuanseerd uitgebeeld. Dit was opwindend om saam met Khadija, wat self ʼn  ma is, op hierdie reis te kon gaan.”

Maria Doyle-Kennedy en Kylie Fisher in Recipes for Love and Murder. Foto: Verskaf
Maria Doyle-Kennedy en Kylie Fisher in Recipes for Love and Murder. Foto: Verskaf

Pret, tips & tricks

Saam met Arno Greeff, wat die rol van die polisieman Regardt Snyman vertolk, het sy baie pret gehad op stel. Regardt het die skoot hoog deur vir Jessie en hul interaksie onthul van Jessie se kwesbaarhede.

“Arno is ʼn goofball, in die beste sin van die woord. Hy is so ʼn geduldige, vrygewige akteur. Ek het nog nooit iemand op kamera gesoen nie. Ons moes so ʼn toneel skiet en ek het hom oomblikke voor die tyd eers gesê dis ʼn nuwe ervaring vir my. Hy het my gerusgestel en ek is so bly ek kon die ervaring met hόm deel – ek het baie veilig gevoel.”

Die regisseur, Christiaan Olwagen, is ʼn akteur se droom, sê Kylie.

“Omdat dit my eerste hoofrol was, was ek redelik besorg oor hoe om dit aan te pak. Maar hy weet presies wat hy wil hê en praat jou daardeur. Hy weet ook waartoe almal in staat is en moedig jou aan om verskillende goed te probeer. Alle akteurs het maar hulle gewoontetjies en met Christiaan se hulp kon ek as aktrise ontwikkel. Hy het soveel ervaring en het sy tips en tricks maklik gedeel. Om te sien hoe sy kop werk en hoe hy die regte dinge uit ʼn situasie kry, was ʼn belewenis.”

Vat ʼn hap

In Prins Albert, die Karoo-dorp waar die reeks verfilm is (dit staan as Eden bekend op die skerm), het Kylie vir die eerste keer die bekoring van kleindorpse Suid-Afrika ervaar.

Behalwe vir al die dieper boodskappe wat mense in Recipes for Love and Murder kan inlees, meen Kylie die reeks, wat as “sonskyn noir” beskryf word, is ook pure ontsnapping.

“Dit was so stil, ek kon myself hoor dink. En die mense was baie warm en verwelkomend, al het ʼn televisiespan van oor die 100 mense op die dorp toegesak vir amper drie maande,” sê sy. “Ons kon ook eerstehands die sin van gemeenskap ervaar in so ʼn klein dorp. Dan is die mense ook nog groot op volhoubaarheid én dis mooi. Dit wys hoe baie ons land het om te bied.”

Behalwe vir al die dieper boodskappe wat mense in Recipes for Love and Murder kan inlees, meen Kylie die reeks, wat as “sonskyn noir” beskryf word, is ook pure ontsnapping.

“Dit wys hoe lekker local regtig is en hoe belangrik dit is dat ons ons eie mense moet ondersteun.”


Vanaf Donderdag, 25 Mei 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies