’n Televisie-onderhoud met Charlize Theron waarin hulle ʼn eerlike gesprek voer oor Afrikaans en Suid-Afrika. Hiérvan droom die televisie-aanbieder Marciel Hopkins, wat onlangs aangestel is as die nuutste aanbieder van kykNET se leefstylprogram Bravo!.
“Charlize is ʼn ikoon en ek sal graag by haar wil leer,” sê Marciel. “Ek glo ʼn mens moet met ervare mense gesels oor die slaggate van ons bedryf én oor die groen vlae. Dit sal so cool wees vir my om ʼn real talk met haar te hê waarin ons die misverstande oor haar en Suid-Afrika kan uitstryk…”
Marciel was tot onlangs te sien as aanbieder van die vyftiende seisoen van Boer soek ʼn vrou. Kort daarna het sy gehoor sy is gekies as aanbieder van Bravo!.
“Die sprong na Bravo! is heerlik. Ek lag en sê dit voel of ek ʼn promotion gekry het wat my klerekas betref. Vir Boer trek jy ʼn praktiese vellie en ʼn hemp aan. Vir Bravo! ʼn hakkie en ʼn rok.”
Luister en leer
Dis ook vir haar lekker om te kan diversifiseer as aanbieder.
“Boer soek ʼn vrou is meer narratief – ons volg mense se stories oor ses maande. Met Bravo! skiet ons net ʼn dag saam met iemand. Dit is vir my lekker om hierdie ander tipe aanbiedingstyl te kan leer.
“Ek was ook so bevoorreg om so vinnig weer in ʼn aanbiedersrol te kon instap. Boonop word ek betaal om nuuskierig te wees! Ek love mense – om belang te stel in ander mense se stories, kom vir my natuurlik,” sê Marciel, wat ʼn honneursgraad in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Sy is ook ʼn gekwalifiseerde lewensafrigter wat elke dag kliënte sien. Dit speel ʼn groot rol in hoe sy haar aanbiedersrol aanpak.
“Die groot ding wat coaching jou leer, is om opreg belang te stel en te luister. Goeie opvolgvrae kan net gebore word uit iemand wat régtig luister, anders gaan jy die geleentheid mis.
“Jy moet ook gemaklik wees met ander mense se emosies – ek het al geleer om kalm in ander se emosies te sit, hetsy hulle hartseer of bly is.”
Sy glo haar gemak in onderhoude het baie te doen met haar ervaring as lewensafrigter.
“Dit is deel van my roetine om kliënte te coach. Selfs op die pad met Boer soek ʼn vrou het ek kliënte tussendeur aanlyn gesien.”
Die mense wat by haar aanklop vir lewensafrigting is divers – van CEO’s wat heelwat ouer is as sy, tot jongmense met sterre in hul oë. Die uiteenlopendheid van mense met wie sy in dié veld te doen kry, gee haar ʼn verdere hupstoot as aanbieder van ʼn program soos Bravo!.
“In die vermaakbedryf kan ek nie geïntimideer wees wanneer ek met iemand ʼn onderhoud moet doen nie. My uitkyk was nog altyd om vir almal hul plekkie in die son te gee. If you celebrate others, it will come back to you.”
‘Find your tribe’
Sterk, suksesvolle vroue in die vermaakbedryf het Marciel immers onder die vlerk geneem om haar te mentor en te lei.
“Iemand by wie ek baie wysheid leer, is Anna-Mart van der Merwe. Sy en haar man is goeie vriende van my ouers. Ná ek deelgeneem het aan mej. Suid-Afrika, het gesprekke oor koffie met haar my baie gehelp. Dit is ongelooflik hoe sy haar kennis deel.”
In die vermaakbedryf kan ek nie geïntimideer wees wanneer ek met iemand ʼn onderhoud moet doen nie. My uitkyk was nog altyd om vir almal hul plekkie in die son te gee. If you celebrate others, it will come back to you.
Marciel Hopkins
Daar is ook Donnalee Roberts, wat haar gereeld genooi het om saam aan praatjies deel te neem, en die model en aktrise Tanya van Graan, wat Marciel onder haar vlerk geneem het. Sό ʼn netwerk van vroue wat mekaar ondersteun is ongelooflik belangrik, sê sy.
“Party van die vroue in my lewe is ook in die vermaakbedryf, maar ander is nie. My twee beste vriendinne van skool is onderwysers en die oomblik wat ek dink ek is baie oulik, sal hulle my vinnig afbring aarde toe. Ek kan nogal vulnerable voel as ek nie so selfversekerd is nie.”
Sy erken nie almal in die klein Suid-Afrikaanse vermaakbedryf gun mekaar iets nie, maar dis okei.
“You have to find your tribe. Ek het vir Tanya van Graan gesê ek kan haar nooit vergoed vir alles wat ek by haar geleer het nie. But I can pay it forward. Daarom coach ek nog elke jaar meisies wat wil inskryf vir Mej. Suid-Afrika en na my toe uitreik.”
Sy sal graag wil toneel speel en slyp haar vaardighede om haarself vir nuwe geleenthede voor te berei. Sy het byvoorbeeld ʼn jaar lank klas geloop om ʼn Amerikaanse aksent te vervolmaak. Maar vir nou is haar rol as aanbieder presies waar sy moet wees, sê Marciel.
“Ek glo die aanbiedingswerk is nou my roeping. As geleenthede oopgaan vir jou, is dit ʼn teken dat jy is waar jy nόú moet wees. As aanbieder het ek die vermoë om ʼn positiewe impak op mense se lewe te hê. As daar eers oor ʼn jaar of twee geleenthede opkom vir acting, is dit reg met my.”
Uit en tuis
ʼn Groot voordeel van haar nuwe werk by Bravo! is dat sy (byna) elke aan in haar eie bed kan slaap.
“Ek was verlede jaar vir meer as vyftien weke weg van die huis af. Ek het letterlik vir so lank nie in my eie bed geslaap nie,” sê Marciel.
“Daar is uitskieterjare in jou loopbaan en lewe wat sulke opofferinge van jou sal vereis, maar ek en my man het albei gesê dit moenie die norm word nie. Laasjaar was ons in die momentum, maar ʼn mens moet versigtig wees dat jy nie te onafhanklik begin operate nie.”
Sy en Handré Lourens het onlangs hul eerste huweliksherdenking gevier en die grootste bederf vir haar is dat hulle twee deesdae veel meer gereeld saam kan kosmaak en met hulle katte op die bank kan lê en fliek kyk.
“Mense verstaan dalk nie dat mens nie altyd wil opdress vir ʼn event nie. Dit verg nogal baie output, al is dit lekker. Ek geniet die grimering en die opdress en alles wat daarmee saamgaan, maar noudat ek 30 is, het ek geleer om nee te sê. Daar was byvoorbeeld onlangs ʼn fabulous event waarheen ek genooi is, maar ek het gekies om tuis te bly en Boer te kyk! Toe ek die foto’s van die event sien, het ek glad nie FOMO gehad nie…
“Ek vlieg hierdie week vir ʼn aand Johannesburg toe vir ʼn Dior-partytjie, maar ek het geleer om dan nie die volgende aand nog iets te reël nie. Hierdie jaar is die langste tyd wat ek en Handré nie bymekaar gaan wees nie twaalf dae en dis ligte vrugte vir ons.”
Opwinding en inspirasie
Ten tyde van ons gesprek het Marciel nog net vier insetsels vir Bravo! verfilm.
“Ek het die premiere van die Real Housewives van die Wynlande baie geniet – die rooitapyt, die glans en die opwinding. Maar daar was ook ʼn onderhoud met die akteur Adriaan Havenga wat twee Fiësta-toekennings gewen het. Hy is so jonk en so talentvol.
“Elke onderhoud wat ek doen, laat my ongelooflik geïnspireerd voel. Ek het regtig die voorreg om nuwe dinge te probeer en met talentvolle mense te gesels wat my laat wonder hoe ek self kan groei en myself kan bly uitdaag.”
En as Charlize Theron vir haar en die Bravo!-span sou uitnooi Amerika toe vir ʼn onderhoud, gaan sy verseker nie daarvoor nee sê nie.
Bravo! saai Sondae-aande om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Online) uit.