Menu terloops
In Recaps & Resensies [4 Nov 2024]

‘Devil’s Peak’: Reeks se vertelling is tasbaar, toneelspel briljant


Jozua Malherbe se omskepping van Deon Meyer se boek, ‘Devil’s Peak’, speel af in die smerige, skurwe kant van Kaapstad, waar ’n rou-geteisterde pa ’n bloedspoor laat wat speurder Bennie Griessel moet volg. Dié reeks, wat aanvanklik op M-Net uitgesaai is, is nou op Showmax beskikbaar om te stroom.

Deur Rozanne Els

Stroom nou

‘Devil’s Peak’: Reeks se vertelling is tasbaar, toneelspel briljant
Kyk lokprent

In die openingstonele van regisseur Jozua Malherbe se Devil’s Peak, is Hilton Pelser se Bennie Griessel ’n hygende, bewerige gemors. Angs het ’n huis onder sy vel gemaak, só oorvloedig dit drup saam met die sweet langs die slape van sy gesig af. Neffens dié oppervlak, kom ’n geoefende, geveinsde beheer na vore. Dis genoeg om asem te skep, sy bene te versterk, sy skouers ’n ewewig te help vind, sy hande ferm om sy vuurwapen te grendel. Genoeg om te onthou hy is die jagter. Ongelukkig, ook van homself. 

Malherbe se omskepping van die skrywer Deon Meyer se boek – Devil’s Peak is die Engelse vertaling van Infanta wat dit voorafgegaan het – is iets waarop ’n mens gierig wens as ’n boek na ’n ander formaat verwerk word. Malherbe se forte is immers storie – die vertel daarvan, die inkleur daarvan, die bestaan en begrip daarvan as iets lewend; iets wat allermooi én allerverskrikliks terselfdertyd is. Dis veral in sy regie van Griekwastad waar ’n mens sy kuns kan sien sing. Maar só ook dan hier in sy vertelling van Meyer se verhaal en die pynlik menslike karakters waarmee ons kan vereenselwig. Daar is deurgaans ’n ondertoon van anticipation, aangevuur deur ratse redigering, skote van ’n toegeslikte, smerige Kaapstad, en die bloedbedrupte oorblyfsels van dolle geweld. 

In Meyer en Malherbe se tapisserie word drie verweefde storielyne ontgin. Daar is Griessel, ’n afwesige man en pa wat toevlug in alkohol vind. Dan Thobela (Sisanda Henna), ’n assegaai-moordenaar op ’n vigilante wraaktog nadat sy seun vermoor word en die polisie hande gevou sit. Daar is ook Christine (Tarryn Wyngaard), ’n call-girl wat enigiets, maar enigiets sal doen om haar kind te beskerm… Selfs vir Griessel help om ’n strik te stel. 

Devils Peak, Sisanda Henna
Sisanda Henna. Foto: Verskaf

Henna se vertolking is ’n kragtoer met die wisselwerking tussen emosie en logika, hart en kop, wat uitloop op intieme rou en weerstand: wraak. Waar Pelser se Griessel, as protoganis, veronderstel is om ten spyte van sy tekortkominge die kyker se guns te wen, is Henna se ontroosbare pa, vas in die kloue van ’n amper primitiewe woede eie aan ’n ouer wat ’n kind verloor, ook ’n onwaarskynlike held. Ja, hy moor. Ja, two wrongs don’t make a right. Maar Henna speel sy antagonis so dat jou empatie wyd strek vir dié man. Wyd, wyd, wyd. 

Soli Philander se spel as ’n fopdosser spring – genadiglik – die clichès van dié soort karakter vry. Sy tonele saam met Pelser is ’n barmhartige seën in die walms van swaarmoedigheid wat om Griessel hang. 

Tog bly die reeks, bestaande uit vyf episodes, verteerbaar. Dit wyk weg van enigiets té, maar is terselfdertyd getrou aan die realisme van die bende- en geweldgeteisterde wêreld waarin die storie afspeel. Dié balans is moeilik bekombaar, maar nodig om tot ’n Suid-Afrikaanse gehoor te kan spreek. Een wat dié tipe geweld en boosheid self ken en daarmee kan identifiseer, terwyl hulle ook die gemak en afstand van storie, van fiksie wat nét onrealisties en realisties genoeg is, vereis. Hiermee dan Devil’s Peak, ’n prysenswaardige, amper tasbare misdaadriller met briljante toneelspel wat die uitnemendheid van die boek gestand doen. 


Devil’s Peak is vanaf Maandag, 4 November 2024, op Showmax beskikbaar om te stroom.


Die oorspronklike weergawe van hierdie resensie het op 30 Oktober 2023 verskyn met die reeks se aanvanklike première op M-Net. Die resensie is aangepas met die reeks se nuwe uitsaaibesonderhede.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies