Menu terloops
In Recaps & Resensies [4 Nov 2024]

‘Devil’s Peak’ nou op Showmax: Reeks se vertelling is tasbaar, toneelspel briljant


Jozua Malherbe se omskepping van Deon Meyer se boek, ‘Devil’s Peak’, speel af in die smerige, skurwe kant van Kaapstad, waar ’n rou-geteisterde pa ’n bloedspoor laat wat speurder Bennie Griessel moet volg. Dié reeks, wat aanvanklik op M-Net uitgesaai is, is nou op Showmax beskikbaar om te stroom.

Deur Rozanne Els

Stroom nou

‘Devil’s Peak’ nou op Showmax: Reeks se vertelling is tasbaar, toneelspel briljant
Kyk lokprent

In die openingstonele van regisseur Jozua Malherbe se Devil’s Peak, is Hilton Pelser se Bennie Griessel ’n hygende, bewerige gemors. Angs het ’n huis onder sy vel gemaak, só oorvloedig dit drup saam met die sweet langs die slape van sy gesig af. Neffens dié oppervlak, kom ’n geoefende, geveinsde beheer na vore. Dis genoeg om asem te skep, sy bene te versterk, sy skouers ’n ewewig te help vind, sy hande ferm om sy vuurwapen te grendel. Genoeg om te onthou hy is die jagter. Ongelukkig, ook van homself. 

Malherbe se omskepping van die skrywer Deon Meyer se boek – Devil’s Peak is die Engelse vertaling van Infanta wat dit voorafgegaan het – is iets waarop ’n mens gierig wens as ’n boek na ’n ander formaat verwerk word. Malherbe se forte is immers storie – die vertel daarvan, die inkleur daarvan, die bestaan en begrip daarvan as iets lewend; iets wat allermooi én allerverskrikliks terselfdertyd is. Dis veral in sy regie van Griekwastad waar ’n mens sy kuns kan sien sing. Maar só ook dan hier in sy vertelling van Meyer se verhaal en die pynlik menslike karakters waarmee ons kan vereenselwig. Daar is deurgaans ’n ondertoon van anticipation, aangevuur deur ratse redigering, skote van ’n toegeslikte, smerige Kaapstad, en die bloedbedrupte oorblyfsels van dolle geweld. 

In Meyer en Malherbe se tapisserie word drie verweefde storielyne ontgin. Daar is Griessel, ’n afwesige man en pa wat toevlug in alkohol vind. Dan Thobela (Sisanda Henna), ’n assegaai-moordenaar op ’n vigilante wraaktog nadat sy seun vermoor word en die polisie hande gevou sit. Daar is ook Christine (Tarryn Wyngaard), ’n call-girl wat enigiets, maar enigiets sal doen om haar kind te beskerm… Selfs vir Griessel help om ’n strik te stel. 

Devils Peak, Sisanda Henna
Sisanda Henna. Foto: Verskaf

Henna se vertolking is ’n kragtoer met die wisselwerking tussen emosie en logika, hart en kop, wat uitloop op intieme rou en weerstand: wraak. Waar Pelser se Griessel, as protoganis, veronderstel is om ten spyte van sy tekortkominge die kyker se guns te wen, is Henna se ontroosbare pa, vas in die kloue van ’n amper primitiewe woede eie aan ’n ouer wat ’n kind verloor, ook ’n onwaarskynlike held. Ja, hy moor. Ja, two wrongs don’t make a right. Maar Henna speel sy antagonis so dat jou empatie wyd strek vir dié man. Wyd, wyd, wyd. 

Soli Philander se spel as ’n fopdosser spring – genadiglik – die clichès van dié soort karakter vry. Sy tonele saam met Pelser is ’n barmhartige seën in die walms van swaarmoedigheid wat om Griessel hang. 

Tog bly die reeks, bestaande uit vyf episodes, verteerbaar. Dit wyk weg van enigiets té, maar is terselfdertyd getrou aan die realisme van die bende- en geweldgeteisterde wêreld waarin die storie afspeel. Dié balans is moeilik bekombaar, maar nodig om tot ’n Suid-Afrikaanse gehoor te kan spreek. Een wat dié tipe geweld en boosheid self ken en daarmee kan identifiseer, terwyl hulle ook die gemak en afstand van storie, van fiksie wat nét onrealisties en realisties genoeg is, vereis. Hiermee dan Devil’s Peak, ’n prysenswaardige, amper tasbare misdaadriller met briljante toneelspel wat die uitnemendheid van die boek gestand doen. 


Devil’s Peak is vanaf Maandag, 4 November 2024, op Showmax beskikbaar om te stroom.


Die oorspronklike weergawe van hierdie resensie het op 30 Oktober 2023 verskyn met die reeks se aanvanklike première op M-Net. Die resensie is aangepas met die reeks se nuwe uitsaaibesonderhede.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies