Menu terloops
In Sepies [25 Aug 2025]

Aktrise Kay Smith oor dapper vroue, selfwaarde en haar nuwe rol op ‘Suidooster’


Van haar deurbraakrolle in ‘7de Laan’ en ‘Projek Dina’, tot haar onvergeetlike vertolking as Debra in ‘Arendsvlei’ – Kay Smith het oor die jare een van die mees geliefde aktrises op plaaslike televisie geword. Maar haar nuwe rol as Shandy op ‘Suidooster’ het sommer gou kykers se wenkbroue laat lig…

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk 'Suidooster' op DStv Stream

Aktrise Kay Smith oor dapper vroue, selfwaarde en haar nuwe rol op ‘Suidooster’

Vir Kay Smith was die vertolking van vroue se stories nog altyd oor meer as blote vermaak. Dit gaan daaroor om iets te weerspieël aan die samelewing, om ’n spieël op te hou sodat kykers hulself kan sien, en dalk selfs te leer hoe om meer deernis te hê. “Dit is ’n voorreg om deel te wees van stories wat diep by gehore aanklank vind,” sê sy.

“Ons hoop altyd iemand word geraak, ontroer, vermaak of wat ook al die projek se bedoeling was. Vir my is dit diep roerend om die persoon te wees wat die spieël ophou en dan te sien hoe die wêreld reageer op dit wat hulle in die weerkaatsing sien.”

Kay Smith, Suidooster
Kay Smith as Shandy in Suidooster. Foto: Skermgreep

Lesse van ingewikkelde vroue

Oor die jare het Kay ’n loopbaan opgebou met karakters wat nooit eendimensioneel is nie. Sy het vroue gespeel wat gebroke maar sterk is, kwesbaar, tog veerkragtig. Vroue wat daarop aandring dat kykers vir hulle in volle kleur moet sien. Vir Kay gaan toneelspel immers nie oor oordeel nie, maar oor begrip. “Om sterk, ingewikkelde vroue te speel, het my ’n dieper sin van compassion en empatie geleer,” verduidelik sy.

“Veral in ’n wêreld waar ons so graag na ander wil vinger wys. Dit is ’n herinnering aan die genuanseerde ervaring van om beide mens en vrou te wees. Elke karakter leer my om genade met myself te hê, en in dié proses ook met ander.”

Inspirasie vir ander vroue

Verteenwoordiging maak saak, en Kay is baie bewus van die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan as jy ’n sigbare vrou in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf is. Sy hoop haar werk inspireer jonger vroue om hul plek onbeskaamd in te neem. “Ek dink wat ek graag wil hê jong vroue moet wegneem uit die karakters wat ek gespeel het, is om jouself regtig te leer ken,” sê sy.

“Jy moet ’n morele kompas hê. Ken jou skaduwee en maak dit jou vriend. As jy jouself ken, kan niemand anders vir jou sê wie jy is nie. Gee jouself toestemming om enigiets te wees.”

Dit is raad wat veral toepaslik voel in ’n era van sosiale media-filters en eindelose vergelykings. Kay hou ook haar privaatlewe weg van die kollig, en kies om vrede bo druk te prioritiseer. “Ek voel die meeste tuis waar ek veilig voel,” sê sy.

“Om gegrond te bly in só ’n veeleisende bedryf is uitdagend. Daarom het ek stelsels in plek om my vrede en privaatheid te prioritiseer. Jy moet eerlik wees met jouself oor wat jou voed en wat jou uitput. Vul jou lewe met dit wat jou voed. Dit help om my te anker.”

Ontmoet Shandy

SHANDY, SUIDOOSTER, KAY SMITH
Sommige Suidooster-kykers sien Kay Smith se Shandy as ’n kansvatter, terwyl ander glo dat sy ’n tweede kans verdien. Foto: Gys Loubser

In Suidooster vertolk Kay die rol van Shandy, die ouer suster van Laylla, die vorige karakter wat sy in dié sepie gespeel het. Laylla, die groot liefde van Nazeem (Irvine van der Merwe) se lewe, het destyds tragies gesterf. Anders as die sagte Laylla, is Shandy ’n firecracker, ’n stripper wat Nazeem se wêreld betree en daarmee trauma oopkrap, emosies roer en boonop sy rou pyn uitbuit in ’n poging om hom haar sugar daddy te maak.

Kykers was vinnig omgekrap. Sommige sien Shandy as ’n kansvatter, terwyl ander glo dat sy ’n tweede kans verdien. Kay geniet dié kompleksiteit. “Dit is presies omdat Shandy dapper, deurmekaar, ingewikkeld en real is, dat sy my opgewonde maak. Veral in ’n wêreld waar realiteite gebou word op filters en likes. Dit was interessant om Shandy se ‘hoekoms’ te ondersoek, en ook net sy te wees en pret met haar te hê.”

Vir Kay is die lyn tussen survivor en opportunis ’n fassinerende een om te verken. “Ek benader daardie dun lyn met eerlikheid en nuuskierigheid, want ek ken ’n paar van die Shandy’s van die wêreld,” sê sy.

“Ek hanteer hulle met liefde en waardigheid. Jy begin om soveel kante van hulle te sien en hopelik te verstaan waarom hulle iets doen, selfs al sou jy self nooit nie. Dit maak dit nie reg nie, maar dit gee jou begrip.”

Verlossing, selfwaarde en tweede kanse

Kykers mag verskil oor of Shandy ’n kans verdien, maar Kay glo die temas in haar storie is universeel. “Selfwaarde is so ’n belangrike ding, en dit is dikwels die eerste ding wat afgebreek word in vroue met ’n moeilike verlede,” meen sy.

“En die gebrek daaraan word ook die kryptonite wat jou in jou omstandighede hou. Verlossing is soms die moeilikste ding in die lewe. Die moeite werd, maar ook moeilik. Ek glo ook dat vroue met ’n moeilike verlede ’n tweede kans verdien. Soms het jy net ’n bietjie geluk nodig.”

Om Shandy te vertolk is natuurlik nie altyd maklik nie. Die karakter vra dat Kay swaar trauma moet balanseer met ligter, pret oomblikke… ’n emosionele rit!

Dit is haar empatiese perspektief wat ons herinner waarom Kay se karakters dikwels lank ná die credits rol, ons bybly.

’n Nalatenskap van waardigheid en deernis

As sy terugkyk op haar loopbaan, sê Kay sy het nooit voorheen daaraan gedink oor hoe sy onthou wil word nie… tot nou. “Ek sou graag wou hê dat ek die tipe vroue wat ek op die skerm uitgebeeld het, die Shandy’s, Charlie’s en Tarryn’s van die wêreld, bekragtig het,” sê sy dan.

“Ek hoop dat die vroue wat ek vertolk het, waardig hanteer word en dat mense hulle selfs begin verstaan het. En hopelik sal die gehoor hul eie wêrelde met meer deernis betree omdat hulle hierdie karakters ervaar het.”


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies