Om ná bykans 11 jaar in Amerika weer in Afrikaans te kon werk, was vir die aktrise Angelique Pretorius ’n “absolute treat”. Sy was vroeër vanjaar terug op tuisbodem vir die verfilming van die vyfde seisoen van die gewilde kykNET-spanningsdrama Spoorloos, wat einde-Augustus op kykNET begin het.
In Spoorloos: Losprys, vertolk Angelique die rol van Lynette de Villiers. Haar dogter, Karla (Lienke Vermeulen) word ontvoer en haar man, Willem (Neels Clasen), word boonop van moord aangekla. Lynette se enigste hoop is haar voormalige minnaar Frank (Laudo Liebenberg), ’n voormalige speurder.
Angelique sê dit was maklik om ja te sê vir die rol van Lynette. “Dit het alles begin met die briljante teks. My karakter is so mooi geskryf. Daar was nie ’n manier hoe ek hierdie geleentheid van die hand sou wys nie!
“Lynette is ’n wonderlike, komplekse en driedimensionele karakter met baie fasette aan haar persoonlikheid, geskiedenis en omstandighede. Sy het krag, kwesbaarheid, frustrasie, hartseer, woede en moet skokkende gebeure verwerk. Om as akteur al daai emosies te kon speel, was regtig ’n wonderlike geleentheid,” vertel Angelique vanuit Los Angeles, waar sy sedert 2014 woon.
“Om weer in Suid-Afrika te kon speel, ín Afrikaans, en om saam met mý mense iets kreatiefs te kon skep, was ’n voorreg.”
Niks om voor terug te staan
Ten spyte van soveel jaar in die buiteland en haar ervaring op internasionale produksies soos Black Sails, trek Angelique nie haar neus vir plaaslike produksies op nie. Inteendeel, die plaaslike bedryf het niks om voor terug te staan nie, meen sy. “Ja, kleiner begrotings het hul uitdagings, maar om op die Spoorloos-stel te kon sien hoe almal, uit verskillende agtergronde, saamgewerk het; om die spanpoging te beleef en ook om te sien hoeveel respek almal vir mekaar getoon het en hoe toegewyd almal was om die béste moontlike produk te skep, was só inspirerend en roerend.

“Ek het gereeld op stel drukkies uitgedeel, veral vir die hair and makeup en die wardrobe-departemente, met wie ons as akteurs so baie saamwerk. As vervaardiger het ek ’n ander tipe waardering vir die mense op stel gehad, want ek weet wat dit verg.
“Ja, in Amerika is daar dalk groter stelle, meer skietdae en meer mense op stel, maar in terme van professionaliteit en die gehalte van talent en vervaardiging in die plaaslike bedryf, is Suid-Afrika 100% vergelykbaar met Amerika,” meen sy.
“Die kinematograaf, Gavin Pincus, was uitstekend; Francois Coetzee en Ilse van Hemert se regie was briljant,” sê sy. “Dit was ’n bonus dat Francois een van die regisseurs was. Ons twee het jare gelede saamgewerk toe ek in my eerste sepie, Villa Rosa, gespeel het. Dit het soos ’n volsirkel-oomblik gevoel dat ons albei hier, in groter rolle, betrokke kon wees.”
Frustrasies en verwyte
Angelique sê die toneelspeltalent is vergelykbaar met enige professionele produksie ter wêreld. Vir haar mede-spelers Neels Clasen en Laudo Liebenberg het sy net lof.

“My en Laudo se karakters het ’n ongewone dinamika. Daar is soveel subteks met gevoelens wat nie gewys mag word nie. Daar is ’n push en pull tussen hierdie karakters wat nie uiting aan hul ware emosies kan gee nie. Daar is soveel spanning, maar ook soveel liefde en hartseer, omdat ons karakters nie die verhouding kan hê wat hulle graag sou wou nie.”
Lynette se interaksie met haar man Willem, staan in kontras hiermee. “Die karakters bevind hulle in ’n huwelik waar daar nooit ’n ware konneksie was nie. Daar is verwyte en frustrasies en tog moet hulle saamstaan. Daai verhouding is soos ’n live wire wat jou sal skok as jy aan die verkeerde plek raak.”

Altyd Afrikaans, ook in Amerika
Sy sal altyd lief wees vir haar land en haar taal, sê sy. “Die feit dat ek nie hier Afrikaans kan praat, of deel is van die Afrikaanse kultuur nie, was iets wat ek moes rou toe ek Amerika toe getrek het. Die Afrikaanse gemeenskap is baie na aan my hart. Dit was absoluut magical om weer vir so paar maande deel daarvan te wees.
“Dis soms moeilik om vatplek aan mense te kry in Amerika. Jy sien hulle op TV en in flieks en jy dink jy verstaan hulle. Maar wanneer jy in persoon met Amerikaners te doen het, besef jy dat jy nie ’n gemeenskaplike geskiedenis het nie. Dat jy nie altyd argetipes kan identifiseer nie en nie noodwendig die nuanses van die kultuur verstaan nie. Dit het lank gevat, maar nou het ek goeie vriende hier vir wie ek baie lief is. Heelparty nié Amerikaans nie.”
Om eerlik te wees voel ek soos ’n upgraded weergawe van myself: Angie 2.0.
Angelique Pretorius
En tog, hoewel sy haar nie as ’n Amerikaner sal beskou nie, is sy ná 11 jaar behoorlik ingeburger in Amerika en beskryf sy haarself wel as ’n ‘Angelino’. “Ek voel nou, ná soveel jaar, dat ek hier mag wees net soveel soos enigiemand anders. Veral omdat die stad bestaan uit soveel transplants van reg oor Amerika en ander plekke ter wêreld. Ons almal deel hierdie ruimte en vorm nuwe gemeenskappe en vind só ons weg deur die loop van die proses. So ek voel asof hierdie my huis is en dat ek hier hoort. Ek wéét dat ek die regte besluit gemaak het om hierheen te kom.”
Om te emigreer, is egter nie vir sissies nie, voeg sy laggend by. “Alles is nuut. Dis so ’n overload van nuwe inligting en boonop is jy homesick. Ek was hartgebroke ook nog, so dit was ’n ongelooflike uitdagende tyd in my lewe.”
’n Alleen-droom
Om ’n akteursloopbaan in Amerika oop te kap, was ’n eensame reis. Vandat sy haar voete op Amerikaanse grond gesit het, het Angelique so hard as moontlik gewerk om haar drome van ’n internasionale akteursloopbaan te verwesenlik. “Dit is soos om in te skryf vir die Olimpiese Spele van die vermaakbedryf. Daar’s vrees, omdat die odds teen jou is. Daar’s pyn, omdat jy soveel gee en bitter min terugkry. Ek het dosyne en dosyne oudisies gedoen met baie flou resultate.
“Daar is ’n gesegde wat sê, ‘If you’re talented, Hollywood will find you’, maar dis nie altyd so maklik nie. En terselfdertyd kan jy nie kla nie, want jy’t dit aan jouself gedoen. Jy het dit self gekies. Maar, nes ’n diamant wat sterker en mooier word onder druk, kan ’n mens met die regte benadering ongelooflik baie groei en leer deur moeilike tye. Veral as jy buite jou gemaksone is.
“Wat ék geleer het, is geduld, deursettingsvermoë, hoe om my gedagtes en gevoelens te bemeester, hoe om my gesondheid ’n prioriteit te maak en om te besef hoe sterk en dapper ek eintlik is. Ek dink die belangrikste is dat ek oor my imposter syndrome gekom het. Nou voel ek dat ek, net soos enigiemand anders, hier mág wees. Ek het my passie en vaardighede in ander fasette van filmmaak ontdek en verfyn en besef ek mag my stories vertel. Om eerlik te wees voel ek soos ’n upgraded weergawe van myself: Angie 2.0.”
Internasionale rolle in Afrika
Ironies genoeg was twee van haar groot deurbrake in Amerikaanse produksies wat in Suid-Afrika verfilm is. In die reeks Black Sails het sy die prostituut, Charlotte, vertolk en in Darrell Roodt se rolprent Winnie Mandela, was sy Marcia.
Dit was ’n “absolute voorreg” om op daai stelle te werk, sê Angelique. “Met Black Sails het hulle ’n hele stad uit die 1800’s in die Bahamas, op ’n studio lot gebou. Ek het eendag gekyk na ’n groot eikeboom op die stel en opgemerk dat dit nogal ’n gelukskoot was dat hierdie boom, van 6m, gebruik kon word vir die stel. Toe sê iemand my hulle daai boom spesiaal oorgeplant die doel! Elke liewe steentjie is van scratch af gebou en die kostuums en props het dit laat voel of ’n mens regtig op ’n seerower-eiland is.”
Om te sien hoe ’n aktrise soos Jennifer Hudson, wat die titelrol in die Winnie Mandela-prent vertolk het, te werk gaan, was ook interessant. “Sy het in daai stadium ’n klein babatjie gehad wat nie saam met haar Suid-Afrika toe kon vlieg nie en sy het elke geleentheid wat sy kon, teruggevlieg Amerika toe. Dit het my insig gegee oor wat dit verg om op daai vlak aan internasionale produksies te werk en het my gewys dis nie altyd glansryk nie. Dié fliek was ’n hoogtepunt in my loopbaan.”
Meer as net toneelspeel
Met die fiek Mind Thief het Angelique haarself die bul by die horings gegryp. Sy het dié fliek, wat as ’n indie wetenskapfiksie-, komedie- en speurverhaal beskryf word, saam met haar produksievennoot Matt Steinhauer geskryf. Sy het ook die vervaardiging behartig én die hoofrol gespeel. Die draaiboek en fliek het etlike toekennings by rolprentfeeste ingepalm, en Angelique het in 2023 die toekenning as beste aktrise in ’n riller by Film Invasion L.A. gewen.
Wat ék geleer het, is geduld, deursettingsvermoë, hoe om my gedagtes en gevoelens te bemeester, hoe om my gesondheid ’n prioriteit te maak en om te besef hoe sterk en dapper ek eintlik is. Ek dink die belangrikste is dat ek oor my imposter syndrome gekom het…
Angelique Pretorius
“Mind Thief is geskep uit noodsaaklikheid. Ja, ek het gedink ek sou eendag vervaardig, maar ek het gehoop dat ek eers ’n sekere mate van sukses as akteur sou behaal voor dit gebeur. Dit het toe anders uitgewerk. Ek het besef die enigste manier hoe ek werklik gaan deelneem aan die bedryf hier, is om self werk te skep. Ek het nie ’n clue gehad waarvoor ek myself inlaat nie, maar dis dalk maar beter so. In die proses het ek ongelooflik baie geleer en het my liefde en passie vir flieks en stories vertel geblom.”
Die storie gaan oor ’n skrywer, Christine Wilde (Angelique) wat agterkom haar bure is onder die invloed van onbekende magte. “Die idee het ontstaan na ek altyd my buurman, Matt Steinauer, in en uit sien gaan het by sy woonstel, oorkant myne. Ons het eendag ontmoet en besef ons het altwee die behoefte en energie om werk te skep. Sy passie vir rolprentmaak het my aangesteek en ons het saam aan Mind Thief begin skryf.
Sy en Matt het deesdae hul eie produksiehuis, Electric Boots Entertainment. Sy het boonop verlede jaar vir die eerste keer die regie van ’n kortfliek gedoen.

“Dis ’n baie opwindende tydperk vir my, met verskeie produksies in die pyplyn,” sê Angelique. “ ’n Groot deel van wat ek doen is voorbereiding vir die regte tyd, wanneer dinge in plek val. ’n Boom se wortels skiet baie dieper as wat jy bogronds sien. Dis daai wortels wat eintlik die werk doen voor jy die boom sien groei.
“Alles gaan oor voorbereiding vir ‘daai’ oomblikke wat vir jou momentum gee. Daar is gelukkig reeds lewensveranderende dinge om die draai vir my. Ek het baie om na uit te sien en is opreg dankbaar!”
Spoorloos: Losprys is van Dinsdag 26 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. Die vorige vier seisoene van Spoorloos is op Showmax beskikbaar.